Artikels, essays, e.a.

Charl-Pierre Naudé. Die ‘klein moment’ vs die ‘groot temas’

Wednesday, September 16th, 2020

In ’n paar vorige blogs het ek geskryf oor die tema van die geding met God, soos dit bekendstaan. Ek het dit gedoen met verwysing na die digter N.P. van Wyk Louw, wie se 50ste sterwensjaar dit hierdie jaar in 2020 is. Vir Louw was daardie tema dikwels aanwesig.

Ek wil graag die reeksie afsluit op ’n teenstellende noot. Hier onder gaan dit oor ’n welbekende “postmoderne” tema, my eie siening daarvan uiteraard, die “groot” temas versus die “klein momente” in die letterkunde.

Ek wil twee gedigte, een deur Rainer Maria Rilke en die ander een deur Raymond Carver plaas. Die een is emblematies van die hantering van ’n “groot tema”, en die ander een emblematies van die hantering van die “klein moment versus die groot tema”.

Die tema van die geding-met-God is ’n voorbeeld van eersgenoemde. In die sogenaamde groot temas, so lyk dit vir my, is daar heel dikwels ’n strewe na groter “sekerheid” of groter beheer oor die lot van die mens.

Die “groot” temas kom nie slegs in die letterkunde voor nie. Die groot geskiedskrywings van die Weste is deel daarvan. Dit beskryf ook redelik goed die wetenskap se selfopvatting. Die sielkunde van die vroeër Freud, wat ’n definitiewe raamwerk daar wou stel om die ontsporing van die gees te benader, is ook deel daarvan. Die latere Freud het afgesien van die vaste raamwerk en gekies vir die verskuiwings van narratief in die terapie.

Die groot geografiese ekspedisies, soos gelei deur Livingstone en andere, wat die wêreld probeer kaart het in sy “volheid”, is miskien ook deel van hierdie geheelbeeldstrewe van die moderne. Dis ’n “volledige” kartering wat nooit so plaasgevind het nie omdat alle karterings noodwendig vanuit ’n bepaalde hoek gedoen word en dus nie volledig kan wees nie. Word daar nie steeds klein eilande ontdek nie? En nuwe “nasies” in afgeleë bergreekse binne die “bekende” kontinente nie? Die kartering bly onvolledig.

In die postmoderne gewrig waarin die mens sigself bevind, het die geheelbeeldstrewe ‘’n minder dwingende betekenis. Dit word voorlopig “tussen hakies geplaas”. Dit word benader met humor, twyfel en groter vrede. Daar is ’n sterker besef van die subjektiewe oogpunt van die digter.

Die gedig van Rilke (1875 – 1926), wat ek uit Duits vertaal het, is al in sy vertaalde vorm op my Facebook geplaas. Ek plaas die Duits reg onder die Afrikaans.

Dié gedig is die gebed van ’n Ordotokse monnik en Rilke het hom hoor bid. As moderne meester van die digkuns, net soos Van Wyk Louw ook in laasgenoemde se kleiner kosmos van Afrikaans, is sekere sterk simpatieë met die groot temas af te lees.

Ter sprake in die Amerikaanse digter Raymond Carver (1938 – 1988) se gedig is ene Hamid Ramouz, ’n onbekende “Arabiese” ontdekker. Nie soos Livingstone of Sir Richard Burton of een van die “groot” Westerlinge nie.

Carver kom op die naam af in sy soeke na inligting oor “Raleigh”, wat so bekend is as ’n ontdekker in die Westerse kanon van geskiedskrywing dat hy nie verdere bekendstelling nodig het nie. [Sir Walter Raleigh (1552 of 1554 – 1618)].

Ek kan geen inskrywing vind oor die ongelukkige en onbekende Hamid Ramouz nie. As tipiese proto-Westerling verstout ek my om te wonder of hy ooit gelewe het.

Die leser kan duidelik die ironiese opstapeling tussen “groot” en “klein” tema in Carver se gedig waarneem. Merk gerus die swyende verwysing na die invloedryke instelling van die huwelik. In gedigte wat handel oor die klein temas val die simpatie gewoonlik uit aan die kant van die klein tema, die verbrokkelde aard, en die groot tema, “Raleigh” in hierdie geval, word effens ironies voorgestel.

Hier is die twee gedigte: Rilke s’n en dan Carver se gedig.

[Die Rilke-gedig kom uit my eie bundel Al die lieflike dade, 2014, Tafelberg. Dit het oorspronklik in Rilke se digbundel Die boek van die ure (1905), verskyn. Die Carver-gedig is geneem van die internet, maar is ook in verskeie versamelings opgeneem.]

 

“Hulle, almal, wat Jou soek …”

Hulle, almal, wat Jou soek

is vir Jou ʼn versoeking.

En wie Jou ook al vind

bind Jou met beelde en gebare.

 

Maar ek wil Jou begryp

soos wat die aarde Jou begryp;

met my rypheid

groei jou koninkryk.

 

Ek verlang geen ydelheid van Jou

dat Jy Jou aan my moet bewys nie.

Goed weet ek dat die tyd

ʼn ander naam

het as Jy.

 

Doen geen wondere

om my onthalwe nie.

Laat jou wette net gewoonweg werk,

en van verwekking tot verwekking

sigbaarder vertoon.

 

[“Alle, welche dich suchen, versuchen dich”

Alle, welche dich suchen, versuchen dich.

Und die, so dich finden, binden dich

an Bild und Gebärde.

 

Ich aber will dich begreifen

wie dich die Erde begreift

mit meinem Reifen

reift

dein Reich.

 

Ich will von dir keine Eitelkeit,

die dich beweist.

Ich weiß, dass die Zeit

anders heißt

als du.

 

Tu mir kein Wunder zulieb.

Gib deinen Gesetzen recht,

die von Geschlecht zu Geschlecht

sichtbarer sind.]

 

 

Hamid Ramouz (1818 – 1906)

This morning I began a poem on Hamid Ramouz –

soldier, scholar, desert explorer –

who died by his own hand, gunshot, at eighty-eight.

 

I had tried to read the dictionary entry on that curious man

to my son – we were after something on Raleigh –

but he was impatient, and rightly so.

 

It happened months ago, the boy is with his mother now,

but I remembered the name: Ramouz –

and a poem began to take shape.

 

All morning I sat at the table.

Hands moving back and forth over limitless waste,

as I tried to recall that strange life.

 

Charl-Pierre Naudé. N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie

Tuesday, August 25th, 2020

 

N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie

 

Ons bevind ons in die 50ste doodsjaar van N.P. Van Wyk Louw. Geen ander digter in Afrikaans is méér sinoniem nie met die idee van ’n wroeging oor God en sy relevansie vir die moderne mens as juis hierdie digter.

’n Onderafdeling van die Godsgeding in die digkuns, soos dit bekendstaan, is die teodisee-idee in die leterkunde (my beskrywing). Laasgenoemde kom in verskeie vorme voor oor die hele spektrum van digkuns, soms net as ’n flikkering binne ’n reël, soms as ’n strofe, soms as hele gedig.

Terloops, die feit dat “God” in “Godsgeding” of “geding met God”, met ’n hoofletter gespel word is al klaar ’n afsluiting tot deelversameling van die gesprek wat hier moontlik is …

Die impuls om te wil aansluit by hierdie genoemde refleks in die moderne letterkunde, in watter vorm ook al – om die noodsaak vir teodisee te bevraagteken óf om dit te bevestig –is by ons veral deur Louw gevestig.

Hier is ’n “teodisee-flikkering”, lukraak gehaal, en dit uit ’n gedig: “Dat pyn bestaan is onnodig, Heer/ ’n blom het nie tande nie.” Die digter is Breyten Breytenbach, uit Die ysterkoei moet sweet (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1964). En hy roep ’n kwatryn deur N.P. van Wyk Louw voor die gees, wat min of meer ’n teodisee-gedig is, “Ignatius Loyola bid vir sy orde” (Nuwe verse, 1954).

En so kan mens voortgaan met jou kartering van hierdie refleks in ons leterkunde.

Daar is teodisee-momente in die gedigte van Johan Myburg, Nini Bennett, Louis Esterhuizen, en die en daai en dalk bykans álle Afrikaanse digters se werk.

In Myburg, wat pas die Hertzog-prys vir poësie toegeken is, gewaar ek ’n effense renons aan teologiese dogma en iets soos ’n volstaning by die blote misterie van die gewaarwording. By Esterhuizen lees ek ’n negatiewe gevoel, maar sulke afwysings is myns insiens ook alternatiewe “teodisee”-momente. By Bennett sien ek ’n aangryp van die twyfel as positiewe bydrae tot geloof.

Hierdie digters en hoe ek daar te lese gaan is lukrake voorbeelde vir die onderwerp van hierdie skrywe. Hulle val, op dese oomblik, bloot uit my vuis.

Baie interessant is dat die defininisie van “teodisee” wat in die nuutste HAT 6 (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) aangegee word verskil van die definisie in die vroeër HAT. Dit was eers: “Leer van die Godskennis volgens die natuurlike rede”.

In die HAT 6 staan: “Verdediging van die goedheid/ almag van God, gesien in die lig van die bestaan van die bose.” Myns insiens is die nuutste inskrywing enger en meer teologies as omvattend woordkundig gestel. Die nuutste Pharos woordeboek lys beide hierdie betekenisse in baie mooi definisies.

Godsopvattings in die Westerse tradisie (om nie eens te praat van in ander tradisies nie) is van velerlei aard. Daar is byvoorbeeld die monoteïsme (Geloof aan een God), die politeïsme  (oftewel geloof in die veelgodedom), en die afwesige, “God-niks” van die Boeddhisme, om maar net ’n paar te noem.

Interessant is hoe die politeïsme en die monoteïsme vir baie lank in die Westerse tradisie naas mekaar bestaan het, en dalk nog steeds naas mekaar bestaan. Die Griekse gode het nie met die Oud-Grieke verdwyn nie. Die groot Duitse skrywer Johann Wolfgang Goethe, byvoorbeeld, beskryf homself so laat as 1830 as ’n aanhanger van die politeïsme, en hierin was hy nie alleen nie!

As ek myself kan waag aan ’n beskrywing van wat ’n godsopvatting vir my is, sal ek sê:  Dis die beliggaming, in terme van subjektiewe omskrywing, as metafoor, van invoelings oor onbeskryfbare kragte.

In hierdie gees wil ek afsluit met ’n teodisee-gedig van my eie (nog ene, ja …) – hieronder – wat uit my bundel Al die lieflike dade (Tafelberg, 2014) kom. Ek dink die gedig kan dien as kantlyn-illustrasie by bogenoemde bespreking.

Ten slotte, ’n staaltjie: Ek sal nooit een van my grootste ontnugterings as kind, wat grootgeword het met die dogma van die Protestantse God, vergeet nie. Ek het ’n onderhoud in ’n vrouetydskrif met die aktrise, Mia Farrow, gelees. Sy is gevra wat sy die graagste in haar lewe nog sou wou vind. Haar antwoord: “’’n God wat by my behoeftes pas.”

Maar is daar dat meer as een God, was my eerste gedagte. Daar is mos God, en dan is daar die res, wat almal afgode is, dan nie? En is God dan nie die een by wie jy jou behoeftes aanpas nie, eerder as andersom?

Tik my destyds om met ’n veer! Maar deesdae, vele jare later, kan ek ’n agting bymekaarskraap vir wat sy bedoel het. En geldig lyk dit wel.

Graag dra ek my huidige plasing aan Van Wyk Louw op. Daar is geen beter manier vir ’n digter om ’n seminale voorganger te eer  nie as met sy of haar blote self nie.

 

’n Kraak in die pleister

Middellande, van Natal sowel as elders

 

Om oor God te dink

moet mens dalk vergeet

van die groot waarheidskoepel

of die omvattende wand wat alles omsluit.

 

Beter om te soek

na die wink

van ’n klein-klein skeur

in ’n rotsformasie of diep in die brein,

waardeur lig van binne af ánders deurskyn.

 

Die ligte

wat sonderling en oombliklik verdwyn op water

 

of die senuhaartjie in ’n binneoor,

een van die tallose

wat net-net nog lewe in ’n lyk

 

bevat dalk ’n soort ewigheid

wat groter as die heelal

en ánders goddelik

en bestaansgewys verwikkeld is

as die aardbol,

 

want binne sy eie matesis.

Élke flitswêreld het sy grootse katedrale.

 

Elke dwarrelbries dra sy blare

soos die matte van ’n ou beskawing.

 

Die singende luik wat oopmaak op onbevatlike teses

is die pas verbleikte verledetydkeuse.

 

Om (byvoorbeeld) te kies

vir die wonder

om met minder omring te word:

Dis jou verjaardag, en jou geskenk is

ʼn ding minus, wat die somtotaal

van een meer is.

Jy kan nie wág vir die herfs nie

as die bloeisels uit die knop breek;

en jy sien daarna uit dat niemand kom kuier nie

sodat dae wat onvergeetlik was, onbelangrik kan bly.

Om nie vooruit te gaan nie,

uit liefde daarvoor!

 

Die deurtjie wat verbloem

word agter die nog ongeskilderde skildery,

maak oop op ’n trapstel

wat oploop na ’n praalkamer waarin minder

as niks is, jy moet dit net vind –

wat daar is

net vir jóú om die rame op die veelkleurige mis

van molekules

(gasruimteskepe)

oop te gooi teen ’n onverwagte skuinshoek,

sodat protone en elektrone kan inswerm en plons

en aanklots soos vlermuise, soos waansinnige pluimballe

opgeskud uit die ademend deinende, vlooibespikkelde

vangnet-met-sterre buite jou venster.

En dis maar een

van vele heelalle uit die einderlose na binne

en buite werwelende patrone

 

op God se mou; nee ’n baie klein mougod sélf,

wat aankom uit die wapperende klusters pouoë

van wandelende Paisley

en kolkende wolkestelsels

 

in die domein van die ongedinkte.

 

Ek onthou nie meer

hoe ek deur die kier geglip het nie,

deur ’n kraak in die pleister;

of ’n wêreld deur rook gesien het, waarin alles seismies swem

soos van voor ons dit tot vastigheid gedink het –

 

kriewelklein is die mens

en sy vertolkings

op ’n handpalmgrootte stukkie eindeloosheid;

op ’n weerkaatste ruitjie

skaats hy deur die ruimte.

 

Ek stap toe deur ’n woud spierwit berke,

versteen in ’n tydlose winter;

en die enigste monoliet

wat nie groter as die ander was nie

en daarom die grootste,

is Niegod genoem;

 

al vier seisoene was gelyktydig aanwesig:

kaalkeiserskille, elkeen, wat eenselwig

en voortdurend in die weifelende lig vervang is

maar uniform die dooie aarde bedek het,

 

terwyl die sjibbolet – volstrek die enigste

(dus wat nie lote maak nie)

wat ’n gees tot hierdie namaals kan toelaat –

Takbok! is.

 

’n Waas muggies dans in die somerskemer op ’n stoep,

’n kolletjiesproei

wat homself in figure hekel;

 

daar hang dit oor die rietjiestoel

soos ’n ou man wat opstaan,

 

en daar oor die koel plaveisel stap dit

soos ’n jong ma wat haar babatjie sus.

Dit warrel in die gestalte van Ovidius,

 

en vervloei tot ’n boom, ’n voëltjie,

of ’n godheid met ’n boodskap.

 

Die muur met sy ingemesselde rivierklip

loop lui langs die mirt, soos die kolle van ’n luiperd.

 

God, mens, ding:

wolke, elkeen met sy eie spoed.

 

 

Bester Meyer. Voëls se Lewensmiddele?

Thursday, August 13th, 2020

The language is the property of the people. Each derives its unity from the other. For if language has a body and a system, they inhere in the people assembled and “bodily” united: “It is a people in a body that makes a language . . . . A people is thus the absolute master of the spoken language, and it is an empire they possess unawares.” To dispossess the people of their mastery of the language and thus of their self-mastery, one must suspend the spoken element in language. Writing is the very process of the dispersal of peoples unified as bodies and the beginning of their enslavement – “Of Grammatology”, Jacques Derrida.

 

Elke geskrewe woord dra ʼn deeltjie Godheid met hom saam. Iets wat anderkant die stilte

–anderkant die passasie– lewe gekry het, en nou ín ʼn nuwe teenwoordigheid kom koer van ʼn ander-se teenwoordigheid met die doel om ʼn waarheid daar te stel of oor te dra. ʼn Waarheid wat nie aan die woorde (bloot in hulle vorm as teken/s) van die geskrif kleef nie maar eerder aan hulle (eie) ding-heid. Ek dink dit is Antjie Krog wat êrens geskryf of gesê het om te lees is om te skryf (en vice versa, natuurlik óók). En derhalwe, soos wat ons stories en dit wat ons as gedigte beskou (of nie beskou nie) herskryf of herlees word; soos wat die geskrewe woord oorvertel of toegelig en/of vertaal word, vind daar in ʼn mindere of meerdere mate ʼn verdoeseling van oorsprong plaas, maar tog is dit dáár. Soms is daar egter ook vir die skrywer of vertaler of oorverteller of manipuleerder of digter (of hoe dit ook al sy) ʼn kennis-making met sy rol as verkleurmannetjie—om transformasie daar te stel. Hierdie transformatiewe stem word in die taal van woorde uitgedruk in ʼn poging om die in-kennige waarheid te simuleer of na te boots. Dít wat enige geskrif (letterkundig of andersins) sy skoonheid gee, lê gesetel: 1) in hierdie die waarheid; en 2) die suiwerheid van die nabootsing.

Soms is daar verskillende opinies en sienswyses oor wat hierdie waarheid of suiwerheid moet behels; waaruit dit moet bestaan; of wat dit moet voortbring om as ʼn goeie geskrif geag of geklassifiseer te kan word—óók, wanneer die geskrif waardig genoeg geag kan word om as letterkundig benadruk te word; of wanneer dit goed genoeg gepoleer en afgerond is om aan sekere styl- en stelreëls te voldoen. Reglemente. Reglemente. Dit is asof  ʼn mens tog net moet doodseker maak dat wanneer jy kom branderplank ry tussen die Kaapse branderplankryers, dat jou plank met die regte waks gepoets is— tóg ry almal dieselfde ou see se golwe. Maak opinies oor die waarhede of suiwerhede (of dan nie-suiwerhede) werklik saak? Is ʼn hiërargie vir die geskrewe woord se estetika werklik ʼn noodsaaklikheid?

Sekerlik is daar ʼn groter verantwoordelikheid op die digter of skrywer om die vraag van “wat is” en “waarom is” te beantwoord, en tot op die been toe oop te vlerk. Om op te staan vir die wat as gevolg van die dae gister –maar meer belangrik– nou, in lig van vandag se status quo, lafenis sal kan vind met die gespreek en/of spreuke van gevleuelde woorde – op watter wysie ook al – en om só ʼn tong te (kan) verleen aan die tonglose proletariaat, wie se kinders – soos gister – smag na nét ʼn bietjie vryheid. Nét ʼn bietjie gelykheid. Nét ʼn bietjie woorde om die lasposte wat hulle nessies bedreig vir nou, te bedwang. Voëls het óók hulle lewensmiddele, en saam met dít hulle verantwoordelikhede.

 

Stem van Barmhartigheid

(l’amour de soi —  l’amour-propre)

 

ek skryf vir jou sonder medelye

maar my stem reik uit na jou

om metafoor daar te stel –

 

in my stem hoor jy

die sagte stem van God –

dit wat Hy kom uitgraveer het

in die binne-kamers van my hart

 

mag ek tog nooit my liefde vir die self

verwar met self-liefde nie –

laat ek altyd eet neem en drink

uit die fontein van oorsprong –

dít wat hart se kamers voed

en in daardie klop

die vloei van medelye

as ʼn waarheid versin:

my vertikale verbinding met ʼn vader

wat hierdie menswoorde kan inhibeer

deur ʼn tweede-geboorte van liefde –

 

(Bester Meyer, 11 Augustus 2020)

 

 Voëls se Lewensmiddele – Magmoed Darwiesj

 

Saam met brood

is jou liefde aan my gegee

om aan die lewe te bly,

en solank ek naby jou is

gaan my lot my nie aan nie –

Neem daarom die woorde aan

as enige betekenis (wat jy wil)

neem dit saam met my of neem dit alleen –

want daar is geen huis nader

aan dit wat ek reg hier voel

in hierdie vlietende lente,

rondom die bome van ander nie.

 

Jy is aan my gegee

as moeder vader

vriend en broer vir die pad

en geen voël verduur meer as wat hy kan nie:

oorbodig is sy vere, sy hunkering

en ʼn koringkorrel vir die broodnodigheid van die lied.

– Wees – daarom in my hemel soos ek (dalk net) in joune is.

– Wees – jou vreemdeling van die muwashah:   myne

net soos ek joune is:   is my water joune

is my sout joune.

En my naam op jou naam

ʼn talisman wat ons bymekaar sal bring

naby die heuwels van Samarkand in die goue era.

 

Want ek en jy is onvermydelik.

En die ander is onvermydelik, want

dit laat ons die trompette van ons vorige broers hoor,

wanneer hulle hulle perde van enige kant af bestyg

om nooit weer terug te keer nie.

 

Vreemdeling    – wees –

die ander vreemdeling se vrede

in die wapenstilstand van die afgematte.

– Wees – haar dagdroom wanneer ook al

ʼn maan haar pynig op haar roete van Jerigo af terug.

 

Dít is die weg waarop godinne teruggekeer na die dromers

na die afloop van die oorlog, want elke daar is ʼn hier.

En ek hou nie daarvan om terug te keer na my ster toe nie –

Nie nou dat my wysheid ouer geword het nie.

Bring daarom dit wat afgeleë is na my tent toe

sodat ons dit kan bestyg

soos die takke van twee berkebome

op ander se mure om môre die ander te word.

Daar is geen tuiste nader as wat ek rég hier voel nie –

– Hier – terwyl ek swanger is met die vlietende lente (nie).

Ek het saam met brood voeding gegee aan jou liefde en

solank ek naby jou is, weet ek my lot gaan my nie aan nie.

Daarom wens ek ek het jou nooit liefgehad nie –

Ek wens ek het jou nooit liefgehad nie!

 

(Vertaal in Afrikaans deur die skrywer uit Fady Joudah se Engelse vertaling in “The Butterfly’s Burden”, Copper Canyon Press, 2007).

 

 Lied van Droefheid – Lucille Clifton

 

vir die oë van die kinders,

wat laaste is om te smelt,

wat laaste is om te verdamp,

vir die dralende

oë van die kinders – starend –

die oë van die kinders van

bucenwald,

van viët nam en johannesburg,

van nagasaki,

vir die oë van die kinders

van die middel-passaat,

vir cherokee-oë, ethiopiese-oë

russiese-oë, amerikaanse-oë

want al wat van die kinders oorbly,

is hulle oë,

wat na ons staar,

en met verwondering

die buitengewone boosheid

van gewone mense gadeslaan.

 

(Vertaal in Afrikaans deur die skrywer: Lucille Clifton, Next: New Poems, BOA Editions, 1987) 

 

 Vere en Vlerke

 

ek en jy

is anders

van mekaar

 

ek en jy

is die samelewing

die sisteem

waaruit alle boosheid

en goedheid voortvloei

 

ek reik uit

na my ander

maar weet nie

waar ek ophou

en hy begin nie

 

ek weet

binne my

is daar

(ten spyte

van my)

ʼn ander sy

wat uitreik

na die my –

saam-saam

beweeg ons

na die Hy

 

ek en jy

is anders

van mekaar

een in naam:

ingeselwers

in twee liggame –

voëls van een-derse vere

met twee ander-se vlerke

 

(Bester Meyer, “die Testament”, April 2020)

 

 Gedig as Tronksel

 

hierdie gedig

is ʼn tronksel

waarin ek

probeer opsluit

wat binne is

 

dit is ʼn tronksel

waarin nie

ek of jy leef nie:

net haar hartklop –

wat sy vir nou

geheim wil hou

 

hierdie gedig

verseg ʼn wêreld

waarin slaaf en

meester bestaan

 

my, wat dink jy is binne?

(Bester Meyer, “die Testament”, April 2020)

 

 But I say that any tongue with which one cannot make oneself understood to the people assembled is a slavish tongue. It is impossible for a people to remain free and speak that tongue – “The Essay on the Origin of Languages”, Jean-Jacques Rousseau.

 

Daniel Hugo. Karel, André en Ingrid

Monday, August 10th, 2020

Dit is bekend dat André P. Brink op ’n keer die romanskrywer Karel Schoeman getipeer het as ’n “ou tantetjie wat doilies hekel”. Dit het gebeur in sy resensie van Die noorderlig (1975) en slaan dan veral op Schoeman se “presieuse” vertelstyl en “selfbewuste estetisme”, terwyl hy glo net skynbaar betrokke is by die aktualiteite van sy tyd.

Toe ek die resensie destyds in Rapport teëgekom het, was ek nogal verbaas oor Brink se venynige formulering. Tog was die kritiek só effektief dat ek die boek nooit gelees het nie. Tot onlangs. Ek kry ’n tweedehandse eksemplaar in die hande en lees dit gefassineer in een aand deur.

Die boek handel oor twee universiteitsvriende wat mekaar ná jare weer in Amsterdam ontmoet. Hulle begin gesels oor die derde lid van hulle intieme vriendekring van destyds: Estelle Naudé,  ’n jong digter met ’n politikus-pa wie se lewensuitkyk sy totaal verwerp. Sy raak in Kaapstad bevriend met bruin anti-apartheidsaktiviste en wit liberale – “Kleurlinge en Kommuniste” volgens haar pa (p. 110). Ten slotte pleeg sy selfmoord omdat sy magteloos voel teenoor die gewelddadige bestel wat gelei het tot die dood in polisie-aanhouding van haar bruin minnaar. Niemand kan dit mislees nie. Estelle Naudé is ’n gekamoefleerde Ingrid Jonker.

En tog swyg Brink soos die graf daaroor. Waarom? Omdat hy dan onvermydelik ook die aandag op homself sou moes vestig. Hy verskyn naamlik as die baie onsimpatieke karakter “Francois” in die verhaal. Hy was haar minnaar en die verhouding het skipbreuk gelei. Estelle beskryf hom soos volg: “Baie selfverseker, sjarmant, aantreklik; hy draai sy sjarme aan en af soos ’n kraan, en geen mens kan dit weerstaan nie – daardie kleinseuntjie-glimlag … Maar al waarin hy belangstel, is sy loopbaan. Hy’s heeltemal koelbloedig, hy sal oor lyke loop vir bevordering of publisiteit” (p. 73).

Dat die woord “koelbloedig” Brink kwaai moes gekwets het, blyk uit sy beskuldiging in die resensie dat Schoeman se boek “iets kils en bloedloos” bevat. Hy praat ook in verband met die herkenbare, aktuele gegewe van die novelle as “’n bietjie skimp-op-’n-veilige-afstand”.

Die derdepesoonsverteller, Paul, probeer aanvanklik wel om objektief te bly. By hulle eerste ontmoeting beskryf hy Francois as “lank en slank” met ’n elegansie wat “vaaglik Europees” is (p. 73). Ná Estelle se begrafnis ontmoet hy hom weer. Dié keer beskryf hy hom lig spottend. Francois maak naamlik sy verskyning “in die halwe rou van ’n liggrys pak en ligpers das” (p. 109).

Wat Brink die meeste moes gegrief het, is die verwysing na die “legende” wat ontstaan het en deur almal aanvaar is “dat Estelle haar om die lewe gebring het uit liefde vir Francois” (p. 111).

Die karakter Ina is nog veel afwysender tenoor die Brink-figuur. Sy praat byvoorbeeld van “daardie mislike Francois” (p. 46).

Schoeman is ook nie van bitsigheid vry te spreek nie. Hy noem die Jonker-figuur “Estelle” – die naam van Brink se eerste vrou met wie hy getroud was toe hy die verhouding met Jonker begin het.

Dit is nie net Brink wat in die roman krities beskou word nie. Paul se oud-professor word genadeloos gesatiriseer. Professor Dreyer het voor die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam studeer en sy spesialiteit is die Nederlandse Tagtigers: Gorter, Kloos en Perk. Dit is ’n verwysing na prof. W.J. Badenhorst wat vir Schoeman klas gegee het by die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein. (Schoeman het daar gestudeer van 1957 tot 1959. In sy outobiografie verwys Schoeman naamloos na hom slegs as “ons bejaarde dosent”.) Badenhorst se bynaam was “ou Tamatie” wat op sy rooierige gelaat geslaan het – vandaar sy bynaam “Bakkies” in die verhaal.

Selfs Ingrid Jonker kom nie skotvry uit die boek nie. Haar selfmoord word wel as iets sinvols beskou, as ’n finale verset teen die onregverdige bestel. Haar vriendin Ina stel dit soos volg: “(H)aar dood was ’n daad … dit was haar eie antwoord op alles, heeltemal besonne en oorwoë” (p. 106). Maar Schoeman het klaarblyklik nie groot bewondering vir haar digkuns nie. Die (fiktiewe) versreëls wat Paul kan onthou, is uiters onbenullig, byvoorbeeld: “Ek val / soos ’n blom: deur die duister …” (p. 47).

Professor Dreyer, wat ’n opdrag gekry het om ’n monografie oor haar te skryf, het ook sy bedenkings oor die waarde van haar skryfwerk: “Sy het ’n belangrike naam in ons letterkunde geword … belangriker miskien as wat haar werk regverdig. Sy het blykbaar die verbeelding van die jonger geslag beetgegryp – met haar poësie én haar tragiese dood – en sy het die afgelope jare as ’t ware ’n modefiguur geword: ’n kultusfiguur sou mens byna kan sê” (p. 22).

Die lewenskets gaan uitgegee word deur die professor se skoonseun, ene Koos, wat saam met ’n vriend ’n “uitgewerytjie” begin het (p. 14). Dit is ongewyfeld ’n skalkse verwysing na Schoeman se eie uitgewer, Koos Human, wat die uitgewery Human & Rousseau saam met Leon Rousseau in 1959 opgerig het.

Estelle se pa, Servaas Naudé, is natuurlik Abraham H. Jonker se dubbelganger in die boek. Hy word uitvoerig en hilaries deur sy dogter geparodieer. Die slotoordeel oor hom kom uit Ina se mond: “Servaas is deel van die hele stelsel wat skuldig is aan Estelle se dood …” (p. 104).

Dat André P. Brink in sy resensie nie die aandag op Ingrid Jonker, en by implikasie op homself, wou vestig nie, is verstaanbaar. Dit is egter verbasend dat J.C. Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis nie ’n woord daaroor rep nie. Dieselfde gebeur in G.A. Jooste en Chris N. Van der Merwe se artikel oor Karel Schoeman in Perspektief en Profiel. Deur die aktuele literêre verwysings van die boek te ignoreer, word die politieke en satiriese dimensie daarvan in ’n groot mate ontkrag. En is Brink se negatiewe reaksie onbegryplik: daardie verwysing na Schoeman as ’n ou tantetjie wat doilies hekel. Met die hekel-beeld erken Brink wel (onbedoeld?) die satiriese bedoeling van die verhaal.

Daniel Hugo

Bronne

André P. Brink: Voorlopige Rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig, Human & Rousseau, Kaapstad, 1976.

J.C. Kannemeyer: Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II, Academica, Pretoria, 1983.

Petrovna Metelerkamp: Ingrid Jonker. ’n Biografie, Penguin Books, Kaapstad, 2018.

Karel Schoeman: Die noorderlig, Human & Rousseau, 1975.

Karel Schoeman: Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge, Human & Rousseau, Kaapstad, 2002.

H.P. van Coller (red.): Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 3, Van Schaik Uitgewers, Pretoria, 2016.

Met dank aan Wium van Zyl en Jaap Steyn wat my op die spoor gesit het van prof. Badenhorst as model vir prof. Dreyer in die verhaal.

 

Daniel Hugo. Voëls en digters

Tuesday, August 4th, 2020

 

“Elke voël sing soos hy gebek is,” sê die spreekwoord. ’n Digter word eers gereken wanneer hy sy eie stem gevind het en nie meer klink soos bewonderde voorgangers of tydgenote nie. Daar is natuurlik ’n voël, die Hippolais icterina, wat ander voëls naboots. Maar hy (en sy) word afkeurend ’n spotvoël genoem. Terwyl hulle met ander spot, is hulle nie in staat om ’n eie, oorspronklike wysie voort te bring nie.

Nog so ’n nabootser is natuurlik die papegaai. S.J. Pretorius het sekerlik ook aan ’n selftwyfelende en soekende digter gedink toe hy die lang gedig “Die papagaai” (uit Die mummie en ander verse, 1963) geskryf het. Die openingsreëls gaan so:

 

Verlate in my kou

moet ek hier angstig klou;

onder ’n webgewelf

draai ek en soek myself.

Ek het geen doel en strewe:

alles en niks my lewe.

Godsdiens en politiek

meng hier met jazzmusiek,

en erns met duiwelspot

gekurktrek uit my strot.

 

Eeue lank al word daar ’n ooreenkoms gesien tussen voëls en digters. Voëls self word meermale in die digkuns voorgestel as digters. Die beroemdste voorbeeld in Afrikaans is G.A. Watermeyer se wildekanarie in “Ballade van die bloeddorstige jagter” (uit Sekel en simbaal, 1948):

 

Ek kelk die sonlig in my keel

en rym die rondebessie ryp.

 

In sy opstel “Altyd moeiliker poësie” (Swaarte- en ligpunte, 1958)  noem N.P.van Wyk Louw die tweede versreël “’n meesterlike voorbeeldjie van ekonomiese taalgebruik”. Dit is ’n gedronge metafoor wat veel meer woorde in beslag neem wanneer jy al die betekenismoontlikhede daarvan wil uitlê. Hier is Louw se poging: “My lied is soos ’n gedig en dit klink die baie weke (of maande) lank wat die bessie nodig het om ryp te word; meer nog: die lied waarmee ek hierdie groeiproses begelei, is feitlik soos ’n koesterende warmte wat die rypwording help om plaas te vind.” Twee volle sinne in plaas van die digter se vyf woorde.

Leipoldt se “Sekretarisvoël” sou ’n mens kon lees as ’n metafoor vir die wêreldvreemde digter, die buitestaander wat as sekretaris of skriba van die samelewing optree. Hy het nie verniet penne agter sy ore nie:

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou penne agter die ore styf,

Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,

Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

 

Digters word soms ook as voëls uitgebeeld. D.J. Opperman praat byvoorbeeld van Totius se “tinktinkietaal” (“In memoriam” uit Blom en baaierd, 1956). In Totius se Versamelde gedigte (1988) is ’n onvoltooide, ongepubliseerde gedig opgeneem waarin die digter hom onteenseglik vereenselwig met ’n tinktinkie, daarom het dit die titel “My lewe”:

 

Êrens in die wêreld,

êrens in die tyd,

sit ’n klein tinktinkie,

en sy stemmetjie bewe

van sy sanggeluid.

 

En die mense wonder waarom sou

so ’n piepklein ding

dan ook ‘n lied wil sing.

 

Dit is dan stil weer

en geen voëltjie sing meer.

En die mense wonder waarom sou

so ’n piepklein ding

dan ook ’n lied wil sing.

 

Nêrens in die wêreld,

nêrens in die tyd

hoor mens meer sy sanggeluid.

 

Ek weet nie of Opperman van hierdie gedig bewus was nie, maar sy beskrywing van Totius se eenvoudige en opregte taalgebruik as “tinktinkietaal” is in die kol.

Die beroemdste gedig in die wêreldliteratuur oor hierdie onderwerp is waarskynlik Baudelaire se “L’Albatros”. Hier is Roy Campbell se vertaling in Engels, “The Albatross”:

 

Sometimes for sport the men of loafing crews

Snare the great albatrosses of the deep,

The indolent companions of their cruise

As through the bitter vastitudes they sweep.

 

Scarce have they fished aboard these airy kings

When helpless on such unaccustomed floors,

They piteously drop their huge white wings

And trail them at their sides like drifting oars.

 

How, comical, how ugly, and how meek

Appears this soarer of celestial snows!

One, with his pipe, teases the golden beak,

One limping, mocks the cripple as he goes.

 

The Poet, like this monarch of the clouds,

Despising archers, rides the storm elate.

But, stranded on the earth to jeering crowds,

The great wings of the giant baulk his gate.

(Uit Poems of Baudelaire, 1952)

 

Die gedig kan sekerlik ook gelees word as ’n klinkende dwarsklap na die digter se mundane kritici.

W.H. Auden het klaarblyklik met die volgende haikoe ook ’n digter (homself?) in gedagte gehad:

 

Like the redstart

He recalls but a formless fragment

Of his real tune.

(Uit “Symmetries & Asymmetries”, Collected Poems, 1976)

 

In my vertaling het ek, met Opperman se vers in my kop, van die “redstart” ’n tinktinkie gemaak en daarmee die konnotasie met ’n digter vir die Afrikaanse  leser versterk:

 

soos die tinktinkie

onthou hy net ’n fraksie

van sy ware lied.

(Uit Hanekraai, 2012)

 

Ek kon ek nie die versoeking weerstaan om myself en die tinktinkie by mekaar uit te bring in ’n ongepubliseerde kwatryn “Vir my kritici” nie:

 

waar vind ek ’n rusplek in die ruigte

om tinktink my gedagtes te beklink

voor die laksman my korpussie vere

flink vaspen en aan ’n doring laat stink.

 

By Breyten Breytenbach neem die digter/woordvoël die gedaante aan van ’n tronkvoël. Maar dit is ’n studie op sigself.

Voëls, veral ganse, het natuurlik eeue lank aan digters hul skryfinstrument verskaf: die veerpen. Boerneef gee in sy gedig “Die berggans het ’n veer laat val” ’n sjarmante kinkel aan dié gegewe. Die spreker in sy gedig wil vir sy geliefde ’n boodskap stuur, maar hy is klaarblyklik ongeletterd. In plaas van ’n brief stuur hy dan vir haar ’n veer, ’n ontroerende metafoor:

 

die berggans het ’n veer laat val

van die hoogste krans by Woeperdal

my hart staan tuit al meer en meer

ek stuur vir jou die berggansveer

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê.

 

Die berggansveer neem die plek in van die verlangde gevleuelde woorde.

Breyten Breytenbach gaan ’n stap verder – in plaas van net ’n voëlveer stuur hy vir sy geliefde ’n volledige duif:

 

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif

want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.

Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug

en ek weet al die jagters sal dink dis die son.

Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder

en waar hy vlieg daar skitter oseane

en bome word groen

en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel …

(Uit Ysterkoei-blues, 2001)

 

Breytenbach wend hier inderwaarheid ’n dubbele metafoor aan: die rooiborsduif verteenwoordig die digter-minnaar se boodskap aan sy geliefde en terselfdertyd word dit – vanweë die rooi kleur van die duif – die son.

D.J. Opperman maak in sy gedig “Paddas” (uit Blom en baaierd) ook van ’n dubbele metafoor gebruik. Hy noem die paddas “die tortels van die modder” en laat hulle “koer” in plaas van kwaak. Dit is die eerste metaforiese laag; die tweede laag word bygevoeg wanneer hy van die tortelende paddas ook digters maak, soos duidelik uit die slotstrofe blyk:

 

Ons wat uit die slym

berg en ster berym,

roep oor die borreling van die moeras

deur die eeue in ons sange

toesang en teensange

op Hom die groot hosannas.

 

Terug by elke voëlsoort wat uniek gebek is. Dit bly my verwonder hoedat ornitoloë daarin slaag om die taal van voëls weer te gee. Newman (Voëls van Suider-Afrika, 1991)  beskryf byvoorbeeld die geluide van die geelbekneushoringvoël, wat ek dikwels as kind in Namibië gehoor het, soos volg: “wurk, wurk, wurk, wurk, wurk, wukwukêk, wukwukêk, wukêk, wurk, wurk, wurk …” Hierop kan geen digter verbeter nie!

Ina Rousseau was klaarblyklik nie tevrede met Newman se ongeïnspireerde beskrywing van die Indiese spreeu se taaluitings as “kekkel-, kloek- en piepgeluide” nie. In haar gedig “Die plaag” (uit Kwiksilwersirkel, 1978) laat die digter hulle sommer Afrikaans praat. Hulle sê naamlik “lelike woorde” soos “smyt” en “skrou”.

Dieselfde gebeur in Rousseau se “Die laspos” (uit Heuningsteen, 1980) waar ’n duif se gekoer haar aan die woord “kroepoek” laat dink. Dit is ’n Nederlandse woord van Maleise oorsprong (“kerupuk”) en is die klanknabootsende benaming vir krakerige koekies van vis- of garnaalmeel. Die woord “kroepoek” kry in die gedig dus ’n tweede klanknabootsende funksie, naamlik om ook die duif se geluid weer te gee. Dit word dan versterk deur die oek-ryme en oe-assonansie wat dwarsdeur die vers volgehou word: boek, soek, skoert, spoedig, vloek. Verder allitereer “kroepoek” ook met die generiese benaming “kropduif”.

Die digter ontmoet die lastige, bedelende duif in die Kompanjiestuin in Kaapstad. Dit is baie gepas dat die duif in dié omgewing, met sy VOC-geskiedenis en die nabygeleë Maleier-buurt, hierdie Nederlandse woord van Oosterse herkoms uiter:

 

Uit die niet

kom staan voor my ’n kropduif

wat probeer om my blik van my boek

te lok. En sodra ek wonder

wat in liefdesnaam hy by my soek,

begin hy iets by my te bedel

wat ek sweerlik self ontbeer:

Hy vra vir my kroepoek.

En as ek vir hom sê skoert,

herhaal hy maar weer kroepoek.

So: kroepoek kroepoek kroepoek.

Pleitend eers, maar spoedig

bot, asof hy op my vloek.

 

Rousseau sou waarskynlik met Auden se gedig “Bird-language” saamgestem het. Voëls is net soos mense in staat om komplekse emosies en gewaarwordings te verklank, sê hy:

 

Trying to understand the words

Uttered on all sides by birds,

I recognize in what I hear

Noises that betoken fear.

 

Though some of them, I’m certain, must

Stand for rage, bravado, lust,

All other notes that birds employ

Sound like synonyms for joy.

(Uit Collected Poems, 1976)

 

In talle kulture word voëls se klanke in mensetaal omgesit. Dit lyk asof dit veral duiwe is wat tot die mensdom spreek. In Newman se voëlgids doen selfs die ornitoloog mee. Volgens hom sê die wydverspreide tortelduif: werk stadig, werk stadig …” In Engels sê die duif presies die teenoorgestelde: work harder, work harder …”

Hier is die Suid-Afrikaanse digter Anthony Delius se Engelse weergawe van wat Xhosa-mense die groenvlekduifie hoor sê:

 

The Xhosa say

When the emerald dove

Sits sobbing in the bush

She is thinking of the terrible wars

And she cries

My father is dead

My mother is dead

My sisters are dead

My brothers are all dead

And my heart goes

Doem Doem

Doem doem doem doem

doem

doem.

 

In Edward FitzGerald se vertaling van ‘n kwatryn van die Persiese digter Omar Khajjam (1048-1131) word die geroep van die ringnekduifie as “coo, coo, coo” aangedui. Dit lyk op die oog af na blote klanknabootsing, maar in werklikheid is dit ’n intertalige woordspel. Die Persiese woord “kú” beteken “waar?”. Die duifie vra dus oor en oor wat van die eens magtige konings geword het.

 

The Palace that to Heav’n his pillars threw,

And Kings the forehead on his threshold drew–

I saw the solitary Ringdove there,

And “Coo, coo, coo,” she cried; and “Coo, coo, coo.”

 

Hoewel daar volgens Newman duiwe is wat in Afrikaans “koee”-geluide maak, het ek in my vertaling van dié Khajjam-kwatryn van die ringnekduif ’n lagduifie gemaak, en  ter wille van die rym die woord “koeroek” in haar bek gelê. Die Engelse “laughing dove” is in Afrikaans eintlik die rooiborsduifie (Breytenbach!) of lemoenduifie. Met “koeroek” laat ek my duifie byna dieselfde geluid maak as die “kroepoek” van Rousseau se kropduif:

 

Daardie paleis met torings wat die hemel soek

waar sultans daagliks gebid het en soms moes vloek –

ek het ’n lagduifie daar alleen sien sit

en “koeroek, koeroek,” roep sy, “koeroek, koeroek”.

(Uit Die roebaijat van Omar Khajjam, 2014)

 

Hoe dit ook al sy, digters voel hulle verwant aan voëls en skryf graag oor hulle. Soms neem dié belangstelling selfs ’n perverse vorm aan, soos in die vers “Aspekte van die liefde” van Barend J. Toerien (uit 39 Gedigte, 1963):

 

My hans, ’n stadsduif, is gepaar met my hand,

’n onvanpaste paramour. Dog hul bereik

eenwording met hoog-seldsame volkomenheid.

Hy hoef alleen hom uit te strek bo haar

of sy buk honger voor haar heer,

soek en soen sy vingers en plat

gee haar geheel en al oor, word tot niet.

My hand se hanswors dus? Inteendeel;

soos hy haar streel, sy vyf vingers sluit

om haar trots skoenlapper nek, en sy klein kreetjies stoot,

voel hy die fyn stuip-trekkinge, leer ’n hand se doel.

 

Ek kon nie anders as om op hierdie gedig te reageer nie, veral toe ek Toerien in die 1990’s persoonlik leer ken het en met my eie oë die gedoemde duif op sy balkon in Tamboerskloof, Kaapstad, gesien het. Dit is die derde gedig in ’n reeksie met die titel “Onrusbarend” (uit Openbare domein, 2018):

 

hy het ’n kransduif op sy balkon

makgemaak met sonneblomsaad

haar inskiklik leer paar met sy hand

 

tot hy moeg was vir die rumoer

van die duif wat boonop sy balkon

beskyt, haar toe met die ander hand nek-

 

omgedraai, die een waarmee hy

liefdevolle voëlgedigte skryf.

 

Ten slotte ’n gedig waarin voël en digter onherroeplik verstrengel raak. Dit is P.W. Buys se “Groenspreeu” (uit Van sigbare en onsigbare dinge, 1998). Boaan die vers staan die volgende aanhaling van Jean Cocteau: “Die digter is ’n leuenaar wat altyd die waarheid praat”:

 

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,

hy lieg die aarde pimpelblou.

 

Hy fluit die hemel lowergroen,

paljas ‘n pruim tot perlemoen.

 

Hy tierelier die suring soet,

die katjiepiering swart soos roet.

 

Hy vonkel, konkel, toor die son

tot ’n ranonkelrooi ballon.

 

Die groenspreeu is ’n kunstenaar –

soms lieg hy selfs die waarheid waar.

 

Daniel Hugo

Julie 2020

 

M.M. Walters ter nagedagtenis, 1929 – 2020

Wednesday, July 29th, 2020

 

 

 

Met die oorlye van M. M. Walters op 28 Julie 2020 het die Afrikaanse letterkunde `n belangrike kritiese stem en `n beduidende digter verloor.

Walters het graag die storie van sy oupa vertel, ook M. M. Walters, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as die skoolmeester in Moorreesburg deur die Britse owerheid in hegtenis geneem is nadat hy Britse soldate ernstig tereggewys het omdat hulle in die NG Kerksaal gefuif en rumoer het. Hy is skuldig bevind aan inmenging met Haar Majesteit se troepe en na die strafkamp vir “Enemy Undesirables” by Matjiesfontein in die Karoo gestuur. Min het die skoolmeester tóe besef dat sy kleinseun op sy eie manier die status van `n ongewenste persoon sou verwerf en deur baie van sy eie mense byna as `n vyand beskou sou word.

Aan die begin van 2020, toe hy al oor die negentig jaar oud was, het hy `n vers aan my gewys wat in sy bedrieglike eenvoud `n hele verhaal vertel. Dit moet een van sy laaste gedigte gewees het:

 

Elke voëltjie

het sy lied    –

selfs die seevoël

en die kokkewiet.

Of dit nou fraai

of goor of gek is,

elkeen sing maar

soos hy gebek is.

 

Hy self, Matthys Michielse Walters, het deurentyd sy eie lied gesing soos hy “gebek is”, en dit was nie om ander te bekoor of te behaag nie, nóg om by modes of nuwerwetse rigtings aan of in te pas. Hy was van vroeg af aan wars van die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde se dikwelse saamkloekery in groepe en klieke. Toe ek hom op `n dag in die jare tagtig vra of hy van voornemens is om die Skrywersgilde se beraad (in Gordonsbaai, as ek dit nie mis het nie) by te woon, het hy plegtig verklaar: “Ek het my ma op haar sterfbed belowe dat ek nooit `n skrywersberaad sal bywoon nie.”

Hy het deurgaans eenkant gestaan, en die literatuurwetenskaplikes kon ook nie geredelik `n plek vir hom vind by hulle pogings tot netjiese indelings en periodisering nie. In sy omvattende verslag oor “Die poësie van Sestig” wat as `n eerste verantwoorde bestekopname oor dié tema beskou kan word, noem Ampie Coetzee byvoorbeeld `n rits name van digters op wat wél, en ander wat nié tot die kategorie “Sestiger” behoort nie.[1] Ook dié wat in die jare sestig gedebuteer het, is volgens Coetzee nie noodwendig deel van die groep nie; hy noem “debutante van Sestig soos George Weideman, M.M. Walters, P.W.G. Grobbelaar” wat “nie heeltemal as Sestigers beskou kan word nie” en herhaal met nadruk: “veral nie M.M. Walters nie.” (1973: 51)

Walters was `n private, stil  persoon en het `n broertjie dood gehad aan pretensies en geveinsdhede, grootpraterigheid en eiewaan. Hy, wat in so baie opsigte `n egte Swartlander uit die ou boeregemeenskap aan die Weskus was, het maar min respek gehad vir die Afrikaner se kultuurinstellings, van kerkbasare en skoonheidskompetisies tot bombastiese politici en dweperige dominees, van grootdoenerige kultuurleiers tot organisasies soos die FAK, die Nasionale Party of die Broederbond, en les bes die NG Kerk. Ook sy kollegas in die onderwys- en akademiese wêreld, ja selfs en vernaamlik mede-skrywers moes dikwels sy spot verduur.

Hy kon met reg aanspraak maak daarop dat hy miskien die belangrikste satiriese digter in Afrikaans was.

Met die inploffing van Afrikaner-hegemonie het hy een van sy belangrikste teikens verloor. Hy het wel magsmisbruik en verwaandhede van die nuwe bedeling ná 1990/1994 ook gegésel, maar die angel van sy kritiek was nie meer so skerp nie. In sy latere bundels het hy toenemend algemene stommiteite en menslike swakhede uitgelig, soos in die bundel Braille-briewe (2011). Sy skeptisisme met betrekking tot die gevestigde kerk en religieuse kwessies het hy egter tot die einde behou, soos byvoorbeeld in die bundels Sprekende van God of Satan ter sprake, al is die dae toe hy swaarde gekruis het met dr. Koot Vorster of die Kerkbode ook al lank verby. Nietemin sal ek die plesier wat Adam Small se “woera-warra” van die predikant op die kansel vir hom gegee het, nie maklik vergeet nie.

 

Ja, vroeër of later sterf die gode. Vroeër of later

word die brandende bos net as,

word die bulderende stem gewoon donderweer

skrik niemand meer vir die preekstoel se dreigende

so-sê-die here nie, vlieg die wit duif

wat heilige gees was, weg in mites en legendes …

(Uit “In memoriam”, Satan ter sprake: 74)

 

Benewens `n paar bundels satiriese opstelle het Walters ook enkele verhoogstukke met `n satiriese strekking gepubliseer. Hy het ook met die redaksie van vertaalde gedigte uit ander streke, Poësie uit Verre Lande,  asook met sy eie vertalings, byvoorbeeld die pragtige “liedereboek” Shih-Ching (uit die Chinees) gehelp om die wêreldletterkunde aan Afrikaanse lesers voor te stel en sodoende bygedra tot die verruiming van die Afrikaanse poësieskat.

In `n laat gedig, “In die begin was die woord”, wat `n mens m.i. as Walters se poëtiese credo kan beskou, praat hy oor al die verskillende gode (en afgode) wat hy in sy lewe gevolg en gedien     –    en verwerp het. Wat oorbly is die hoogagting vir die poëtiese woord, alhoewel, ironies genoeg, die religieuse dimensie van dié opvatting nie misgekyk kan word nie:

 

[…]

So met die jare voortgesweef deur doolhowe

van gelowe, oorvertellings, mistifikasies,

tot in die mens se miteparadys van saligmakers,

verlossers, heilande wat herrys    –   maar altyd

was dit die woord en die woord alleen wat lei.

Slegs dáárin vind die Groot Verhaal vervulling.

Sy dit op tafels van klip, Babelse gebakte klei,

Egiptiese papirus, perkament,  of selfs onheilige papier,

gevorm met die beitelpunt, griffel, pen of veer    –

dit is die wóórd wat ek as god

bo alle ander gode eer.

(Satan ter sprake: 82)

 

 

Gunther Pakendorf

28 Julie 2020

gunpak@telkomsa.net

 

 

[1] Die artikel is gebaseer op `n lesing is tydens die “Sestigerberaad” by die UK: A.J. Coetzee: “Die poësie van Sestig”, in: J. Polley (red.), Verslag van die Simposium oor die Sestigers. Gehou deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, 12-16 Februarie 1973. Kaapstad en Pretoria: Human &Rousseau, 1973: 50-78.

Charl-Pierre Naudé. Die plek van die tragiese

Monday, July 27th, 2020

Volgens die filosoof Hans Blumenberg (1920–96)  het Johann Wolgang von Goethe, net bekend as Goethe (1749–1832), die groot Duitse skrywer, dit kort voor sy dood in 1832 betreur dat die denkkategorie van “politieke lot” die plek van die antieke Griekse denkkategorie van “die tragiese” ingeneem het.

Volgens Blumenberg het die ontkenning van die tragiese as kategorie van die denke die heerskappy van twee nuwe kategorieë in die hand gewerk: die delusie van  politieke vryheid en die noodlottigheid van menslike skuld.

Volgens hom speel Napoleon en Augustinus die belangrikste rolle in die “herinvulling”van die antieke kategorie van “die tragiese”. In ’n term van die eietyd sou mens bykans kon sê die katagorie van die “tragiese” was gekaap.

Napoleon se veel aangehaalde oproep aan die mensdom was: Politiek is jou lotsbestemming, mens!” Hy het dit in die gees van die Franse revolusie bedoel van “Maak jouself vry!” Ons weet egter wat Napoleon in effek gedoen het: Veel meer onvryheid as vryheid. Hy het die kategorie van die tragiese – waarmee Blumenberg verwys na die kragte waaroor die mens geen beheer het of selfs kan hê nie – vervang met die kategorie van “die politieke lot”, en self die slagoffer van die tragiese geword.

Napoleon dien as ’n voorbeeld van die mens se strewe om die onbeheerbare, wat dikwels onderwerping van die mens beteken, te onderwerp. Maar toe faal hy. Sy tragedie het later ook die tragedie van die Marxisme-Leninisme geword …

Die krag van die tragiese moet nie onderskat word nie. Veral nie wanneer die geskiedenis vertolk word nie.

Sedert die Christelike teoloog Augustinus die kategorie van die mens se vryheid van denke en keuse ingevoer het, volg “menslike skuld” onvermydelik as die verklaring vir alles wat verkeerd loop. Die tragiese – die geskiedenis as onbeheerbare meester wat menslike vryheid inperk en selfs uitwis – word insgelyks hierdeur na die kantlyn uitgeskuif.

Maar dit beteken nié die tragiese het opgehou gebeur nie. Dit, volgens Blumenberg, en ook volgens Goethe.

Die bevrydingsdenke van die 20ste eeu, met inbegrip die stryd teen kolonialisme en die verdrukkings oraloor, reëel sowel as gewaan, is juis gebou op dié twee “nuwe” kategorieë: politiek as lotsbestemming en menslike skuld.

As iets verkeerd loop, soos in lelik verkeerd, is iemand of iets by verstek skuldig. Want die mens is sedert Augustinus kwansuis vry om die regte besluit te kon geneem het.

Skuld is weliswaar nie ontersaaklik slegs omdat die tragiese ontken word nie.  Neem apartheid as voorbeeld. Was daar skuldiges? Wel, ja. Van hulle het in die tronk beland. Maar die meeste agente sowel as deelnemers is veel meer tragies as skuldig, as mens kyk na die kragte van daardie tye.

Dieselfde geld óók endemiese korrupsie en die vergrype die ANC. Want, glo dit of nie, die tragiese is hier ook weldeeglik aan die werk …  (Die mate waarin die tragiese in hierdie toedrag van sake ’n rol speel, is oop vir ontleding en is ’n onderwerp op sy eie. Ek praat nie van staatskaping nie, wat ’n onverdunde misdaad is.)

Skuld, aandadigheid, tragedie. In trappe van belangrikheid. Maar die grootste hiervan is die tragedie.

Het jy vandag al die gode gedenk? Ek weet, oom Wyk, ek weet: sonder ’n glasie wyn is dit moeilik …

Op ’n ligter maar steeds tersaaklike noot deel ek graag ’n gedig hieronder deur Miroslav Holub, uit Tsjeggies vertaal in Engels.

 

Napoleon

 

Children, when was

Napoleon Bonaparte born,

asks teacher.

 

A thousand years ago, the children say.

A hundred years ago, the children say.

Last year, the children say.

No one knows.

 

Children, what did

Napoleon Bonaparte do,

asks teacher.

 

Won a war, the children say.

Lost a war, the children say.

No one knows.

 

Our butcher had a dog

called Napoleon,

says Frantisek.

The butcher used to beat him and the dog died

of hunger

a year ago.

 

And all the children are now sorry

for Napoleon.

 

(Miroslav Holub)

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

Tuesday, July 14th, 2020

N.P. van Wyk Louw as sekondêre invloed

 

Een van die groot temas in N.P. van Wyk Louw se digkuns is die geding-met-God.

Binne die Duitse letterkundewêreld strek hierdie tema terug tot by die werk van die groot digter Friedrich Hölderlin (20 Maart 1770 – 7 Junie 1843), en veral met betrekking tot gesprekke wat hy met sy groot vriend, die filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel (27 Augustus 1770 – 14 November 1831) gehad het. Dis by hierdie tradisie waar Van Wyk Louw aansluit en wat hy oproep met sy grootse tema, wat in die bundel Tristia sy hoogtepunt vind.

Die Pools-talige digter Czesław Miłosz het binne die Slawiese tradisie ook met dié tema omgegaan, maar met heel ander klemplasings.  Lees sy gedig in Engels, vermoedelik deur homself vertaal, getitel “Theodicy”. Dis onder meer op die webblad Poem Hunter na te speur.

In my digbundel Al die lieflike dade (2014) verskyn ’n gedig wat met Miłosz in gesprek tree oor sy teodisee (sy Godsopvatting). Ek wil my verstout om dit in hierdie Van Wyk Louw-huldigingsreeks te deel, as dit nie te grasieloos van my sal wees om my gedig in die geselskap van hierdie here se werk te plaas nie.

Wat hier allereers van belang is, is Van Wyk Louw se tema as sekondêre, en nie primêre invloed nie. Die sekondêre invloede wat van ’n voorganger ondergaan word, is baie interessant, want dis spore wat dikwels liggies uitgevee vertoon. ʼn Mens moet harder daarna gaan soek. Ek dink die Van Wyk Louw-invloed is selfs in my eie gedig se toonaard af te lees? Ek weet nie, nie verseker nie; ek bespiegel ook maar, selfs oor my eie gedig. Die digkuns is ’n “absent-minded” proses, soos Ludwig Feuerbach (28 Julie 1804 – 13 September 1872) dit gestel het.

Toevallig het laasgenoemde dít in die konteks van sy eie toeligting oor God kwytgeraak. God, sê Feuerbach, skep die Skepping “agter sy eie rug”, terwyl hy soort van “self daarvan vergeet het”. Net soos digters gedigte skryf, meen hy. Feuerbach praat van die “digter-God” as die “absent-minded creator”.

T.T. Cloete het van iets soortgelyks gepraat. Het hy die bestempeling by Feuerbach gekry? Of stem hulle s’n toevallig ooreen? Is dit konsepte wat hoegenaamd oorvleuel? Invloede? Tradisie? Geheue?

Alles lieflike vraagstukke.

Het die digters en hul nasate die tema “die geding met God”, soos dit in Afrikaans bekendstaan, geskep? Natuurlik nie! Dis oud, so oud soos die berge, en daar bestaan ’n hele denkveld daarrondom: die teologie.

Wat Hölderlin, Miłosz en Van Wyk Louw se verestetiseerde verwoordings daarvan egter belangwekkend maak, is dat dit die tema onder die inwerkende invloedkragte van die moderne denke toon, onder meer van die spanninge teweeggebring deur moderne teorieë op die terreine van die wetenskap en die logiese denke.

Hier onder volg my eie gedig, geskryf in die vorm van ’n besinning, soos die gedig van Miłosz waarna dit verwys. Dis ’n vorm waarin sommige van Van Wyk Louw se gedigte ook gegiet is, hoewel ons hier praat van verskillende digters en dus verskillende style. Dié “besinnende” soort gedig kan onderskei word van gedigte wat mistieke en geloofservarings beskryf, soos te vinde is in byvoorbeeld die werk van Sheila Cussons.

 

God se klippe

Miłosz –

Pools maar nié ʼn Pool nie,

en digter van veral die teenstrydigheid –

 

pleit in sy oeuvre

dat God wel bestaan.

Maar dit doen hy nie sonder voorbehoud nie.

In der waarheid glo hy

in die Lewegéwende Afwesigheid.

 

Met die vermeende algoedheid van God

skort iets beduidends

– reken óók Czesław oor die teodisee –

want hoe versoen jy dié eienskap

met sy almag?

Die gestewelde en bonkige natuurteisterings

wat laggend verbygestap kom

en die beskawings soos nessies

met stokke uit die bome slaan …

’n God van liefde?

Die formule hou nie steek nie.

Miłosz sluit só sy rede, min of meer:

“Wee, o wee, my dierbare teoloë,

jul lieflike betoë haal nie die paal nie.”

 

Uit hierdie kuip

van die gees kon hy, en ander vraagstellers

voor hom (reeds skroot

en skelet onder die stekelrige kruipplant),

om die dood nie weer wegtrek nie.

 

En helaas is die antwoord onbevatlik.

Weens die kwessie van skaal (miskien):

die teer, nadenkende opslaggruis

van sterreweë en die planete

se sagte minneveeg

soos ’n veer teen die wang.

 

Indien komete,

die verbyflitsende onderdeeltjies,

 

kon stilstaan,

soos die oomblik in ’n foto

wat in die donkerkamer

uit ’n bak gelig en ontwikkel word –

 

of,

die tyd sy geweefde sardienloop

ten dele in die kil vierkant

van ’n opgehysde hok uit die see

laat opvang

 

terwyl dit van salpeter drup,

 

en één van die gevlerkte tintvissies

uit sy onderwatervlegwerk

in ʼn hand val en daarin verdof

soos ’n kleindood,

 

sou die mens dalk God aan ’n stertjie beetkry.

 

Ek meen dus die probleemstelling van Miłosz

het te doen met die aanvanklike skepping –

wat nooit nét aanvang was nie, maar steeds duur.

Te doen met dié verkeerde onderskeid:

tussen aarde-en-see en die mens.

Daar wás nooit ’n onderskeid nie –

tussen lewe en nielewe,

tussen chaos en ordening nie.

Ons is steeds by die eerste dag.

Daar ís net een dag.

 

Derhalwe: te make met die mens

se wolmussie, tyd.

Ons seemsleerpantoffeltjies –

tyd, ja,

geknip deur onsself

uit die slaggoed van iets stromend onbegrypbaars.

 

God het sy klippe lief,

o, lief het Hy hulle wel.

Eweneens sy atome,

poreuse wesentjies, liewe saamkoestertjies

oomblikliker as die oomblik

en tog nié,

wat mekaar so innig en gevaarlik omhels.

Myle ver soms sidder die lug.

 

Kyk hoe wag Hy

vir al die klipgevreetjies om wakker te word,

die vader wat Hy is.

Duisend maal duisend jaar lank.

Terwyl óns, die klipskimmel,

selfbekommerend verbleik.

 

As ons wyer as die tyd

se dwangbuis kyk –

daar róndom

en van buite,

nie vanuit nie –

 

sien ons Een wat soos ’n standbeeld

in beweging kom:

’n vinger wat lig;

dan ’n kuit wat strek.

 

Hy klim van sy voetstuk af

en hurk

langs ’n poeletjie wat weerkaats van koperbeslag.

 

Hy steek van bo uit die lug

sy vinger deur die beslaande museumdak

en roer die bewaring daar,

tot beierende kringelinge.

 

Dit is tyd dat die poppe wakkerskrik,

dat die hare rys

onder daardie dakglas:

die mondrooi anemone, die watergras …

 

Wie sou kon dink ’n boodskap

kom met soveel geklater deur ’n hemelkap?

Miskien was alles tot dusver te stil?

 

Naderhand glimlag Hy vir alles wat so Hy

blyk te wees, of nie van Hom nie,

en loop slaan Hy sy houding weer in op die voetstuk:

Daar is iets aan staande water

wat onnodig liefdeloos lyk.

 

  •