Desembergedig
Daardie Desember
November nooi hy: “Kom saam.”
Hy het ’n halwe staanplek,
net groot genoeg vir twee tente,
darem onder ’n boom
in ’n oord in Hartenbos gekry.
Maar sonder elektrisiteit —
die waaier bly tuis.
Daardie jaar is die son ’n tiran,
ekstra woedend en geniepsig.
Tot die koerant skreeu: Rekordhitte!
Jy leef en slaap in die kloue van sweet
soos kleefplastiek om jou gedraai
en eet eers elfuur saans by lamplig —
die man is nie haastig nie.
Oujaarsaand neem hy ons na die strand
en skiet drie vuurpyle in die lug —
die een val amper op die Spur se dak.
Ons sluit Desember af met ’n verligte sug:
geen hartaanvalle of onbeplande brande nie.
© Marthé McLoud, 2025
