Uncategorized

Bamjee wenner van Ingrid Jonker-prys

Monday, July 13th, 2020

 

 

 

Mediavrystelling

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Engelse debuutdigbundels wat in 2018 en 2019 gepubliseer is, is pas aangekondig. Dit is Saleeha Idrees Bamjee se bundel Zikr.

Volgens ‘n beoordelaarsverslag dig Bamjee op aangrypende wyse oor verlange en verlies. Die vroulike liggaam – haar eie en dié van ander – word beskryf, terwyl sy die problematiek van Moslem-wees verken, met ‘n viering en verering van haar geloof en die Arabiese taal.

Volgens Bamjee se uitgewer, Nick Mulgrew van uHlanga Press, was hy onmiddellik beïndruk deur die tekstuur van Bamjee se gedigte, haar fotografiese instink vir beelde en haar bedaarde ingesteldheid by die beskrywing van hartverskeurende ondervindings.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings aan ‘n Afrikaanse en ‘n Engelse digbundel toegeken – die twee tale waarin Jonker geskryf het. Elf inskrywings is vanjaar ontvang en die kompetisie was straf. Die ander bundels op die kortlys was All the Places deur Musawenkosi Khanyile, Everything is a Deathly Flower deur Maneo Mohale en Skeptical Erections deur Mxolisi Dolla Sapeta.

Bamjee is ‘n fotograaf en skrywer van Johannesburg. Sy het ‘n MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit Rhodes behaal. In 2014 was sy die wenner van die Writivism-kortverhaalkompetisie.

Bamjee sal prysgeld van R10 000 ontvang, geskenk deur die Pirogue Collective.

Volgens die reglement moet die beoordelaars almal gepubliseerde digters wees, aangesien dit ‘n prys van digters aan digters is.Vanjaar was die beoordelaars Vonani Bila, Sindiswa Busuku en Wendy Woodward.

Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-pryskomitee. Finuala Dowling is die konvenor van die Engelse prys. Die ander komiteelede is Marius Crous, Kobus Moolman en Vincent Oliphant. ‘n Voormalige voorsitter, Danie Marais, tree as raadgewer vir die komitee op.

 

Media-vrystelling. Ingrid Jonker-prys vir Engelse debuutdigbundels: Kortlys 2020

Friday, July 3rd, 2020

 Die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir Engelse debuutdigbundels wat in 2018 en 2019 verskyn het, is pas bekend gemaak. Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.

Elf inskrywings is deur die komitee ontvang vir vanjaar se prys. Daar is vier bundels op die kortlys, in alfabetiese volgorde volgens die titels: All the Places deur Musawenkosi Khanyile, Everything is a Deathly Flower deur Maneo Mohale, Skeptical Erections deur Mxolisi Dolla Sapeta en Zikr deur Saaleha Idrees Bamjee.

Die wenner sal op Maandag 13 Julie aangekondig word. Die prysgeld beloop R10 000.

Volgens die reglement moet die beoordelaars almal gepubliseerde digters wees, aangesien dit ’n prys van digters aan digters is. Vanjaar was die beoordelaars Vonani Bila, Sindiswa Busuku en Wendy Woodward.

Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-pryskomitee. Finuala Dowling is die konvenor van die Engelse prys. Die ander komiteelede is Marius Crous, Kobus Moolman en Vincent Oliphant. Danie Marais, voormalige voorsitter, tree as raadgewer vir die komitee op.

Navrae:

Finuala Dowling: finuala.dowling@uct.ac.za

Ronel de Goede: rf@sun.ac.za

Kontakbesonderhede van die kortlysdigters:

Saaleha Idrees Bamjee <saaleha@gmail.com> 0828859333

Musawenkosi Khanyile <mckhanyile@gmail.com> 0630810188

Maneo Mohale <maneo@repolla.org> 0836773315

Mxolisi Dolla Sapeta <dollasapeta@gmail.com> 083 2413887

Versindaba advertensies

Tuesday, June 30th, 2020

Versindaba akkommodeer ‘n beperkte aantal advertensies op die tuisblad. Advertensies is onderhewig aan keuring deur die Inhoudsbestuurder. Die volgende kostes is van toepassing:

  1. Advertensie/logo sigbaar op die tuisblad – kolom regs, bolangs: R1200 per maand, R350 per week, bv. enige feeste waar digters optree, ander feeste, wyne, boeke behalwe digbundels.
  2. Advertensie/logo onderaan tuisblad – kolom regs: R1000 per maand, R300 per week.
  3. Animasie-advertensie met tot drie verskillende grafika wat afwisselend flits of draai: R1500 per maand op tuisblad onderaan, R500 per week.
  4. Aankondiging op die tuisblad R300 – R1000 (bespreek vooraf).

Kontak Marlies Taljard by taljard.marlies@gmail.com

 

Elsa Joubert reis nie verder

Monday, June 15th, 2020

 

 

 

Die legendariese skrywer Elsa Joubert, outeur van ikoniese werke soos Ons wag op die kaptein, Die swerfjare van Poppie Nongena, Die reise van Isobelle, ‘n Wonderlike geweld en Spertyd, is op Sondag 14 Junie 2020 in die Mediclinic in Tuine, Kaapstad oorlede.

 

Die skrywer van Die swerfjare van Poppie Nongena se lewensreis het Sondagmiddag 13 Junie tot ‘n einde gekom. Elsa Joubert is gister, volgens haar seun, Prof. Nico Steytler, in die Mediclinic in Kaapstad aan Covid-19 oorlede. Dit nadat sy enkele weke gelede ʼn wyd gepubliseerde ope brief aan haar geneesheer, Hans Woerman, geskryf het waarin sy versoek dat die streng inperkingsmaatreëls wat in hierdie tye onder andere vir bejaardes geld om die Covid 19-virus te beperk, verlig word. Sy sê die besoeke van haar kinders is al waarna sy in die kort tyd wat sy nog het om te lewe, uitsien.

Elsa Joubert was met die skrywer Klaas Steytler getroud wat in 1997 oorlede is. Sy laat twee dogters en ʼn seun na, asook haar kleinkinders.

Elsabé Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy was veral bekend as ʼn Sestiger wat die politieke situasie in dié onrustige jare in haar vroeë romans en kortkuns uitbeeld. Ons wag op die Kaptein, wat in 1968 gepubliseer is, beeld die spanning in Angloa uit terwyl die bevolking wag op die koms van ʼn kaptein uit die Kongo. Dit is ʼn boek wat skok, verontrus en ontroer en die Afrikaanse lesersgehoor in die onbekende aktualiteit van die Afrika-problematiek intrek. Dit was een van die eerste Afrikaanse boeke wat prominent Afrika-problematiek en -politiek in die brandpunt stel en is in die Afrikaanse establishment met gemengde gevoelens begroet – veral skok en ongeloof vanuit konserwatiewe kringe.

In die Afrikaanse letterkunde is Elsa Joubert veral bekend om haar later werk wat as “betrokke literatuur” gekenmerk word. Hier dink ek veral aan Die swerfjare van Poppie Nongena wat in 13 tale vertaal is, maar as film en drama veral die aandag getrek het. Dié aangrypende roman, wat as een van die 100 beste romans van die twintigste eeu beskou word, vertel die verhaal van ʼn Ciskeise vrou wat ingevolge die “paswet” en die burokratiese toepassing van dié apartheidswet, nie in die stad mag werk nie, en uiteindelik daartoe lei dat sy haar in die Ciskei, ʼn land waar sy nog nooit vantevore was nie, moet gaan vestig – sonder ʼn inkomste om vir haar kinders te sorg.

Haar roman Die reise van Isobelle kan waarskynlik as die hoogtepunt van haar oeuvre beskou word. Tot ʼn mate is hierdie roman die kulminasie van Joubert se omvangryke reis-oeuvre. Dit kombineer die postkoloniale reismotief met die feministiese diskoers en ondermyn die koloniale weergawe van die reisverhaal soos dit vantevore deur haarself en ander Afrikaanse skrywers beoefen is op so ʼn subtiele wyse dat dit dikwels deur manlik-georiënteerde kritici en resensente misgelees is. Die roman, wat met die Herzogprys bekroon is, is inderdaad ʼn grootse familiekroniek wat bykans oor ʼn eeu strek. Dit lui ʼn tradisie van reisverhale in Afrikaans in wat vanuit die feministiese fokus geskryf is binne die postkoloniale/postmodernistiese tradisie.

Haar laatwerk, ʼn Wonderlike geweld en Spertyd is outobiografiese romans wat insiggewende lig werp op die skrywer as sodanig, maar ook op haar lewensfilosofie en haar fokus op ʼn tydperk wat vir die meeste lesers buite hulle ervaringswêreld val.

Volgens my mening is Joubert se kortverhale egter haar sterkste nalatenskap. In Dansmaat val die klem in al die verhale op die lyding en smart wat mense van mekaar vervreem as gevolg van Suid-Afrika se politieke bestel. Hierdie bundel is vir my een van die beste illustrasies van wat in die letterkunde bekend staan as die New Journalism waarin feit en fiksie op ironiese en siniese wyse met mekaar vervleg word. Twee vroue fokus op die innerlike reis van twee vroue wat hulle in afgeleë dele van die wêreld bevind.

Altyd word Joubert se figure met deernis en diep menslike begrip geteken. Jouber was nie ʼn politieke feminis nie, haar vrouefigure het nooit propaganda-karikature geword nie, maar het ʼn eie aard gehad wat vantevore deur baie min, indien enige, Afrikaanse skrywers uitgebeeld is. In dié opsig toon Joubert se karakters ooreenkoms met dié van ME Rootman. Joubert was, soos MER, haar tyd ver vooruit, veral wat betref die fokus op vrouefigure en die wêreld van die vrou.

In haar leeftyd ontvang Elsa Joubert talryke pryse vir haar werk, onder andere die Herzogprys en die orde van Ikhamanga in Silver vir haar hoogstaande literêre prestasies en bydrae tot die joernalistiek in Suid-Afrika.

Joubert se intellek was verstommend en haar algemene kennis het, sonder dat dit opgedring is, haar werk verryk. Met haar helder, betogende skryfstyl het sy daarin geslaag om Afrikaners se insigte in die politieke situasie van Suid-Afrika te verryk en betrokke te kry. Sy het ʼn gedagtewêreld oopgeskryf wat my as leser met agting en verwondering vervul. Sy het ʼn besondere bydrae gelewer ten opsigte van vernuwing van styl, tematiek en teoretiese onderbou in die Afrikaanse prosa. Haar stories was aangrypend, ontroerend, nuut en soms skokkend. Dikwels eksoties. Regte mense kan met haar karakters identifiseer. Soos sy haarself as buitestander uitbeeld in haar outobiografiese werk, is haar karakters ook buitestanders wat denkend die wêreld verken – hulle is dikwels vroue wat hulle identiteit stadig en pynlik ontdek. In Die reise van Isobelle word soos volg oor een van die vrouefigure berig: “Sy vind haar liggaam ʼn vreemde las wat sy met haarself moet saamdra. (…) Maar die las van haar verhouding met haar sigbare self is onverwerkbaar.”

Elsa Joubert se afsterwe laat ʼn groot leemte in die Afrikaanse literêre gemeenskap. Al was sy nie meer aktief skrywend nie, was haar teenwoordigheid, haar aura, voelbaar. Haar spore lê in die literêre artefakte van haar opvolgers en haar teenwoordigheid sal nog lank deel bly van die kollektiewe geheue waaruit die Afrikaanse literêre sisteem gevoed word.

In hierdie tye het ek so dikwels aan Elsa Joubert, die klein, brose vroutjie, gedink, en aan die brief wat sy ʼn paar weke gelede aan haar dokter geskryf het. Sy skryf oor die verbintenis tussen ouer en kind wat deur die isolasie verlore gaan. Sy sê sy kwyn daaronder, dat telefoonoproppe, skype en whatsapp nie dieselfde is as ʼn persoonlike kontak met jou kind nie. Sy skryf namens alle mense in ouetehuise wat nie besoekers mag ontvang nie.

En nou het Elsa Joubert, een van die laaste Sestigers, se swerfjare tot ʼn einde gekom. Haar reise op aarde is voltooi. Maar haar voetspore lê diep ingebed in die Afrikaanse literêre sisteem en in die harte van haar lesers.

 

(Marlies Taljard 15 Junie 2020)

Nuwe Bundel. Jacobus van der Riet: Die heimlike heiligdom

Saturday, June 13th, 2020

Jacobus van der Riet

Die heimlike heiligdom

Omslag

Soos sy debuutbundel, Die heimlike heiligdom, in 2012 uitgegee deur Protea Boekhuis, bevat Die heimlike heiligdom ’n vyftigtal bepeinsende sonnette oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is, sowel as bykomende biografiese aantekeninge wat inligting oor die meer onbekende heiliges verskaf. Hierdie publikasie sluit wat inhoud en vorm betref dus nouliks aan by Die onsienlike son, en die twee bundels kan dus gesien word as ’n eenheid wat saam klem plaas op ritualistiese en meditatiewe gemeenskap met heiliges. Hierdie is diep besinnende, maar ook toeganklike verse wat die leser uitnooi om sy of haar geloofswêreld te verbreed.

Vir liefhebbers van religieuse poësie, soos bv. die werk van Sheila Cussons. Die bundel kan ook vir meditatiewe en besinnende doeleindes gebruik word.

Oor die outeur

Jacobus van der Riet is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Hy is in Stellenbosch gebore waar hy ook skoolgegaan en studeer het. Hy het grade in Teologie en Klassieke Tale en ’n Ph.D. by Wits oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria met werk as bibliotekaris in Johannesburg.

Protea Boekhuis 2020. PRYS: R200.00. FORMAAT: Sagteband 137 x 213 mm, ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1022-8.

Nuwe bundel. Eunice Basson: By die dag

Saturday, June 13th, 2020

Eunice Basson

By die dag

Omslag

Eunice Basson se tweede bundel staan in die tradisie van haar liriese en suggestieryke debuut Leiboom, in 2014 deur Queillerie gepubliseer. By die dag handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van die kleine moment. Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit – klein stillewes en portretstudies van stadstuine, voëls, ’n Life Esidimeni-slagoffer, Dimitri Tsafendas, ’n transitorooftog, Poppie van der Merwe, en kring wyer uit na die honde van Delhi, die papawerbruid van Afghanistan en Alan Kurdi. Soos te verwagte van ’n kunshistorikus tree die digter ook op natuurlike wyse met die beeldende kunste in gesprek. Elke gedig is gestroop maar dawer nog lank by die leser na.

Oor die outeur

Eunice Basson is ’n kunshistorikus en voormalige dosent aan UP en Unisa. In 2011 behaal sy die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP. Sy debuteer einde 2014 met die digbundel Leiboom en in 2015 behaal dié bundel die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys.  In 2018 is haar gedig getiteld Almanak een van die drie wenners in Litnet se Tyd- Skryfkompetisie.

.

Protea Boekhuis 2020. PRYS: R200.00. FORMAAT: Sagteband 137 x 213 mm. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1117-1

Oproep om bydraes. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans

Friday, June 12th, 2020

 

Huldenummer TN&A (2020-2) DANIEL HUGO

 

Ter gelegenheid van zijn vijfenzestigste verjaardag wordt aan Daniel Hugo (1955) een huldenummer aangeboden. Hugo is behalve dichter, met meer dan vijftien dichtbundels, bloemlezer, literatuurcriticus en vertaler uit het Nederlands en het Engels. Meer dan vijftig titels vertaalde hij uit de Nederlandstalige literatuur (proza en poëzie), onder anderen Herman de Coninck, Stefan Hertmans, Gerrit Komrij, Tom Lanoye, Harry Mulisch, Adriaan van Dis, Miriam Van hee en Dimitri Verhulst. Recent verscheen Die verdriet van België (Protea Boekhuis) van Hugo Claus. Hugo behaalde aan de Universiteit van die Vrystaat in 1989 de doctorstitel met het proefschrift Die digter en sy middele: ’n Ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans. In 2018 was hij “vertaler op campus” aan de Universiteit Gent. Hij ontving in 2015 en 2017 de prestigieuze SA Akademieprijs voor vertaling (Sprakeloos van Tom Lanoye en Oorlog en terpentijn van Stefan Hertmans). Zijn stem is al vier decennia goed hoorbaar in de Afrikaanse letteren.

Het liber amicorum (TN&A 2020-2) bevat academische bijdragen (6000 tot 9000 woorden) over diverse facetten van Daniel Hugo’s literaire activiteiten. De wetenschappelijke artikelen zijn onderworpen aan blind peer review. Alwyn Roux en Yves T’Sjoen zijn de samenstellers van het nummer. De kopijdatum is 1 oktober 2020. Voorstellen kunnen worden voorgelegd aan beide gastredacteurs (erouxap@unisa.ac.za en Yves.TSjoen@UGent.be). Hier vindt u de kopijrichtlijnen: https://www.suiderafrikaanseverenigingvirneerlandistiek.org/tn-a2

 

Huldigingsnommer TN&A (2020-2) DANIEL HUGO

 

By die geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaardag word ’n huldigingsnommer aan Daniel Hugo (1955) voorgehou. Hugo is behalwe digter, met meer as vyftien digbundels, bloemleser, literatuurkritikus en vertaler uit Nederlands en Engels. Hy vertaal meer as vyftig titels uit die Nederlandstalige literatuur (prosa en poësie), waaronder Herman de Coninck, Stefan Hertmans, Gerrit Komrij, Tom Lanoye, Harry Mulisch, Adriaan van Dis, Miriam Van hee en Dimitri Verhulst. Onlangs verskyn Die verdriet van België (Protea Boekhuis) van Hugo Claus. Hugo behaal sy doktorsgraad in 1989 aan die Universiteit van die Vrystaat met die proefskrif Die digter en sy middele: ’n Ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans. In 2018 was hy “vertaler op kampus” aan die Universiteit Gent. In 2015 en 2017 ontvang hy die gesogte SA Akademieprys vir vertaling (Sprakeloos van Tom Lanoye en Oorlog en terpentijn van Stefan Hertmans). Sy stem is al vier dekades reeds vier dekades goed hoorbaar in die Afrikaanse lettere.

Die liber amicorum (TN&A 2020-2) bevat akademiese bydraes (6000 tot 9000 woorde) oor uiteenlopende fasette van Daniel Hugo se literêre aktiwiteite. Die wetenskaplike artikels is onderhewig aan ewekniebeoordeling. Alwyn Roux en Yves T’Sjoen is die samestellers van die nommer. Die keerdatum vir bydraes is 1 Oktober 2020. Voorstelle kan aan albei gasredakteurs voorgelê word (erouxap@unisa.ac.za en Yves.TSjoen@UGent.be). Hier is die stylriglyne: https://www.suiderafrikaanseverenigingvirneerlandistiek.org/tn-a2.

 

Skryf in vir 2020 kykNET-Rapport-resensiepryse

Monday, June 8th, 2020

Boekresensente word genooi om in te skryf vir die 2020 kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee uitnemende resensies in Afrikaans van Afrikaanse boeke bekroon word.

Met dié pryse word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en die leesgenot van boekliefhebbers bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.

Resensente word genooi om in te skryf in drie kategorieë:

  • Resensie: Afrikaanse fiksie (alle genres)
  • Resensie: Afrikaanse niefiksie (alle genres)
  • Langer resensie: 1 500 woorde of meer oor Afrikaanse fiksie of niefiksie

Met die derde prys vir langer literêre resensies word erkenning gegee aan resensente wat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde ook op hierdie vlak verhelder en verruim.

Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.

Die 2020-pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2019 en 31 Desember 2019 in die drukmedia en hoofstroom- aanlyn media verskyn het. Transkripsies van radioresensies word ook aanvaar. ’n Resensent mag ’n maksimum van drie resensies per kategorie inskryf.

Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie kom in aanmerking.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 26 Junie 2020.

’n Paneel van drie keurders met Bibi Slippers as sameroeper sal die wenners aanwys uit die resensies wat ingeskryf is.

Met die beoordeling van inskrywings sal die vernaamste kriteria wees dat resensies toeganklikheid vir hul waarskynlike lesers demonstreer en die leesplesier van Afrikaanse boeke bevorder. Daarbenewens sal die keurders op die uitkyk wees vir werk wat:

  • oorspronklike insigte weergee oor boeke wat waarde toevoeg tot die Afrikaanse letterkunde
  • ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon
  • ingeligte oordeel met goed gemotiveerde en opbouende kritiek weerspieël
  • lesers lus maak om te lees
  • nie op sensasie en afbrekende kritiek fokus nie, en
  • getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk.

Die keurders sal ruimtebeperkings in ag neem.

Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, maar boekeredakteurs en redakteurs word versoek om resensente aan te moedig om deel te neem.

Inskrywings word elektronies ingedien. Waar van toepassing moet inskrywings van gepubliseerde resensies vergesel wees van PDF-weergawes van die resensies soos dit oorspronklik verskyn het tensy vooraf anders ooreengekom met die administrateur van die pryse.

Die volledige regulasies, inskrywingsvorm en ander besonderhede is verkrygbaar by die administrateur, Anita van Zyl, by anita@vanzylpr.co.za. Rig telefoniese navrae aan haar by
083 709 6677.

Uitgereik deur:

Anita van Zyl

Administrateur: kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar

Selfoon: 083 709 6677

E-pos: anita@vanzylpr.co.za

 

  •