Alwyn Roux. Aardsgodin
Wednesday, August 11th, 2021
Aardsgodin
Jou rug is ’n pad
wat lei na verre berge
deur valleie heen.
© Alwyn Roux, 2021
DigstringAlwyn Roux. AardsgodinWednesday, August 11th, 2021
Aardsgodin
Jou rug is ’n pad wat lei na verre berge deur valleie heen.
© Alwyn Roux, 2021
Kwatrynkompetisie (141)Thursday, April 29th, 2021
Kom vier die hede. Skuif die pandemie na die verlede. Want die druif is gepars en bied vrolikheid en vrede.
© Driekie Grobler, 2021
Kwatrynkompetisie (128)Wednesday, April 21st, 2021
isse Kôwit hier en ‘n Kôwit daar nou speel ek op my laaste snaar ‘n derde golf en die berg onner vuur maggie rooiwyn tog iets ligters baar
© Helize Janse van Vuuren, 2021
Kwatrynkompetisie (98)Wednesday, April 7th, 2021
Tydlyn
2019 vra n sjinees ‘wat skort?’ 2020 is toe sonder sport 2021 bring min wyn, dan baie 2022 ho’ nou! die lewe is kort
© Elzbé Viljoen, 2021
Joan Hambidge. DigstringWednesday, October 21st, 2020
Gesprek met NP van Wyk Louw
Ek gee tans aanlynklas o.a. oor Louw. Vir my studente laat weet ek: daar is drie Bybels in my huis, te wete die ou Afrikaanse een, die Tibettaanse Boek van lewe en Dood en natuurlik: Tristia. So het ek indertyds die beroemde “Vroegherfs” geparodieer:
Vroegherfs
Die jaar word ryp in wrede ontnugtering in woede wat verkil, en bitter idees wat daglank deur my nuwe minagting uitgespoel word; alle idees word reëls, tot selfs die slustes; en die eerste beelde val so stilweg in my donker depressiewe drome uit sodat die dendriete in my brein al teen elke ligte môre ooreis, ópspruit. O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan: laat alles val wat poësie of stilte verbreek of cliché is, en vér was van die pyn: laat ryp word, muses, laat jul verwoesting nimmer taan, vir ewig, tot al my demone afgebreek word in relevante, tydgebonde skyn.
uit: Tachycardia. JutaLit, 1990. Tans werk en wroet ek aan ‘n bundel wat heet Nomadiese sterre. Ek het reageer op talle gedigte van Louw – in opdrag van Ronél Johl en Ina Gräbe vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe-huldigingsnommer oor Louw. Johl en Gräbe het as teoretici aan my die uitdaging gerig en palinodes, parodieë en pastiches is geplaas. Selfs gerinkink met gedig nommer X uit Tristia. Daardie verbluffende liefdesgesig word dan getransporteer as ‘n Derrideaanse sous rature of deurkruising van die (eks)(ge)liefde.
Hierdie is nie ‘n liefdesvers nie
Hierdie is geen liefdesvers nie, dis ‘n gedig oor ‘n X wat geen silwer herberg bewoon in die sneeu nie, maar ewigdurend sous rature bly in die aanwesigheid, my deurkruising ten spyt.
En ja, spyt kom altyd te vroeg met die eerste voëlgekletter, die Katolieke kerk se klokkespel, ‘n muezzin se roep na Mekka en my oggendgebed vergeef-my- sondes-en-almal-wat- gesterf het.
Hierdie is nie ‘n vers vir Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Dit behoef ‘n dubbel-negatief, ‘n minaret waarop ek staan-waar-ek-staan roepend na jou, my gedig nommer X, my afskryfvers: onoorspronklik, ‘n spel.
Toe vra Ina Gräbe in ‘n e-pos dat ek moet reageer op “Cartesiaan” en hier is my probeerslag:
Cartesiaan VWL
Ek is net lyf en gees, niks tussenin: niks van die kerk se “siel”, die leë droom. Net boom en grond. Die dryfsand se sin is iewers wel slinks en slu bedroom deur Freud en Lacan – die gode van drieë. Hulle dink aan skakels: aan oorgange soos ego, id, superego, nes bedrieë: verbeelde, simboliese, Reële vir dié drange. Lyf: sy! die eerste wat ek ken! vol van groot hobbels, eis haar weg na die eis van volmaaktheid as volheid. Gees: die knope van die onbewuste ren aan my in drome vreemd, só verontreg ‘n inbeweeg tot hierdie parodie: ‘n kilheid.
‘n Gedig is meer as ‘n gedig. ‘n Gedig dra eweneens ‘n tydsgees in sig en verklap ‘n manier van lees en skryf. So gesien, word dit ook ‘n stuk teorie. Louw loop regdeur my digkuns. As jong kind het ek Nuwe verse en Elisabeth Eybers se Balans gelees. Weinig verstaan hiervan in die skoolbiblioteek, maar jare later het Louw in Hartskrif, my digdebuut, hom aangemeld. In ‘n yskoue winter, tydens ‘n navorsingsvergunning aan Yale Universiteit, einde 1984, woon ek van Harold Bloom se seminare by. En The anxiety of influence begryp ek toe as iets wat nie negatief is nie, maar ‘n gedig wat reageer op ‘n meester ‘n antwoord of voltooiing mag word. Die suiwer wiskunde van Louw se digkuns kan ons maar net by benadering naboots. Maar in antwoorde erkenning gee aan sy ryk, geskakeerde digkuns. In Bloom se terme is my gedigte ‘n tessera of anti-tese.
Digstring: Die res is net seëlversameling (De Waal Venter)Monday, September 30th, 2019Digstring: Die res is net seëlversameling (De Waal Venter)
Die res is net seëlversameling (Uit “Oop sirkel” p. 78)
Die filatelis waad ’n ent deur die kolkende molekules. Uiteindelik gaan sit hy onder ’n boom en vee die sweet van sy voorkop.
Hy betrag ’n silikon-atoom met twee suurstof-atome wat aan die kante vasklou, en ’n swerm parmantige waterstof-atome om hulle.
Kry net ’n kalsium of twee plus ’n natriumpie en jy sal glas wees, dink die filatelis. Hy hou nogal van glas want sy vergrootglas kan lig in wyer hoeke buig vir hom sodat hy die fynere details op ou seëls kan uitmaak.
Daar is baie van julle kêrels hier rond, mompel die filatelis, en stoot met sy vinger aan ’n amper belaglik ingewikkelde string koolstof-atome met suurstowwe en waterstowwe, ysters, swaels, stikstowwe en selfs ’n koper of twee aangehak aan die trein. Dit lyk soos ’n kersboom wat ’n belastinggaarder aanmekaar gesit het sonder ’n greintjie styl of smaak.
Die filatelis herken die samestelling en glimlag – deel van ’n organiese molekule wat een keer deel was van ’n vriendelike bakterie wat op ’n menslike tong gelewe het.
Ek skat jy was deel van ’n woord, peins die filatelis, in die lug uitgeskiet en nou besig om te ontbind soos die waarheid.
Ons sal moet aanhou om jou weer aanmekaar te sit.
Die gedig het ontstaan ongeveer 06:30 op Maandag 9 Maart 2015 en is oorgetik om 12:12. (’n MS Word-dokument se ontstaantyd en datum word outomaties vasgelê wanneer dit geskep word.) Is dit nodig om so presies te wees? Ek dink wel so in hierdie geval. Hoekom? Die gedig leun in ’n taamlik speelse wyse aan by wetenskaplike begrippe en opvattinge. Akkuraatheid is van die uiterste belang in die wetenskap, al erken baie wetenskaplikes dan ook dat daar nie iets soos absolute akkuraatheid bestaan nie. Die titel van die gedig is ontleen aan iets wat toegeskryf word aan Sir Ernest Rutherford (30 Augustuds 1871 – 19 Oktober 1937), maar dit is nooit bewys dat hy dit gesê het nie. Hy word beskou as die “vader van kernfisika” en hy sou gesê het dat net fisika as wetenskap beskou kan word, ander “sogenaamde” wetenskappe is “net seëlversameling”. En toe kry hy die Nobelprys in 1908 vir Chemie, nie fisika nie! Dit verklaar ook gedeeltelik hoe die gedig ontstaan het. Ek lees graag oor die kenniswêrelde van die verskillende eietydse wetenskappe. My geamuseerdheid oor hierdie beweerde stelling van Rutherford het my laat dink aan ’n verbeelde filatelis wat verstommende insigte in die molekulêre strukture van stowwe kon hê en ook metafisies peins oor “waarheid”, waarmee die gedig dan afsluit. ’n Tweede verklaring van die ontstaan van die gedig is die opduiking (“emergence”) van die sentrale poëson van die gedig. (“Emergence” in die sin van die filosofies-wetenskaplike konsep wat deesdae druk bespreek en bedink word – bv. die ontstaan van lewe op aarde.) Uit hierdie poëson het ander gevloei en so deur die gang van die gedig verloop. Lees meer oor die “poëson” in vraag 4.
Op die MacGregor Poetry Festival in Augustus 2019 het die digter Brian Walter twee gedigte voorgelees. Die een het beskryf hoe vinnig en spontaan ’n gedig kan ontstaan, die ander hoe moeisaam en hoe hard daaraan gewerk moet word. Tussen hierdie twee uiterstes is daar ’n hele spektrum van digterlike werkwyses. My werkwyse grens aan die “spontane” kant van die spektrum. Ek skryf ’n gedig met die hand in een onafgebroke sessie. Ek mag hier en daar ’n klein verandering aanbring met die herlees. Dan word die gedig getik en dan mag daar nog klein wysigings kom. Maar die oorgrote meerderheid van my gedigte is amper identies aan hoe hulle vir die eerste keer uit die papier opgeskemer het.
Ek dink ek het hierdie vraag reeds gedeeltelik hierbo beantwoord. My begrip is dat die sentrale poëson (kyk vraag 4) opduik (emerge) uit die onbewuste. Die “onbewuste” is ’n baie ingewikkelde begrip, maar laat my toe om vir die doeleinde van hierdie gesprek te oorvereenvoudig: kom ons dink hier aan die “onbewuste” as die som van die mens se ervaringe, denke en uitinge. Om ’n metafoor te gebruik: die onbewuste is soos ’n oseaan, die bewuste denke is soos die laaste rimpeling van ’n brander wat uitstrek oor die strand. Bewuste denke is ’n manifestasie van ’n baie klein deeltjie van die onbewuste en verander, versterk en verswak van oomblik tot oomblik. Die sentrale poëson word dus gevorm in die onbewuste op ’n manier waarvan ek geen begrip het nie. Dit duik dan op sodra ek myself in ’n ontvanklike staat plaas. Al wat ek hiervan kan sê, is dat hierdie opduiking deels beïnvloed word deur ’n onlangse stimulus – iets waaraan ek gedink het, gelees het of ervaar het. Ek is dus in groot mate ’n “ontvanger” van die gedig en “wroeging” en “sweet” is vir my onbekende begrippe in hierdie verband. As ek sou wroeg en sweet met ’n gedig sou ek net met ’n koue lykie op my skoot bly sit het.
Toe alle digters vaste “ordeningsbeginsels” gehad het – sonnetvorm, kwatryn, villanelle, rymskema, ritmeskema, filosofiese en godsdienstige ondergrond, ens – was dit maklik om ’n gedig te skryf, en dit was moeilik. Dit was maklik omdat jy ’n skema gehad het om te volg, jy hoef nie ’n nuwe uit te dink nie. Dit was moeilik omdat sulke skemas en godsdienstige (e.a.) vereistes ’n digter ingeperk het en sy uiting die harnas ingejaag het. Ek skryf nie met enigeen van hierdie beginsels wat om my staan en kibitz en kvetz nie. Maar ek wend wel ’n beginsel aan – die poëson. Dit is ’n woord wat ek geskep het om my besondere werkwyse te kenmerk. Maar prosodiese elemente soos ritme, klankverwantskappe, selfs spontane binne- en eindryme partykeer, reëllengtes en strofe-indeling speel wel ’n belangrike rol in my skryfwerk. Dit is egter tegniese aspekte van die gedig, nie sentraal tot die ontstaan daarvan nie. Dalk moet ek hier nou iets meer oor die poëson sê. Wat is dit? Die poëson is ’n intuïtiewe konsep wat uit die onbewuste opduik. Dit is nie iets wat uitgespel staan in die gedig soos byvoorbeeld ’n sonnetvorm nie. Dit is ’n idee wat implisiet deur die gedig loop, wat vervleg is met ander, verwante, idees en wat deur assosiasie en sametrekking, konflatering, van soortgelyke (alhoewel dikwels oënskynlik anderse) gedagtes eenheid aan die gedig gee. Soos in bygaande gedig: molekules, woorde en waarheid”. ’n Voorbeeld? In die gedig hierby:
“Ek skat jy was deel van ’n woord, peins die filatelis, in die lug uitgeskiet en nou besig om te ontbind soos die waarheid.”
Hier is die sentrale poëson die idee van organiese (en ander) molekules wat onstabiel is en maklik kan vergaan, soos alles in die fisiese wêreld, en trouens ook in die geesteswêreld. Dit word metafories van die woord wat die “waarheid” probeer vaslê, maar dit tog altyd verloor. Die begrip van die waarheid, soos met organiese molekules, moet voortdurend weer van vooraf saamgestel word.
My verse word in een onafgebroke sessie geskryf en in daardie tyd praat ek met niemand nie. Dit sou die gedig fataal verwond. Ek gebruik niemand as klankbord terwyl ek skryf nie. Soms wys ek ’n voltooide gedig aan my vrou of ’n goeie vriend of twee. Verder publiseer ek dikwels op my poësieblog waar enigiemand welkom is om kommentaar te lewer.
Die vers hierby is in 2015 geskryf en is onmiddellik op my poësieblog gepubliseer. Daarna is dit in my bundel “Oop sirkel” in 2017 gepubliseer.
Molekules bestaan uit groepies atome wat op bepaalde maniere aan mekaar vasklou weens sekere molekulêre, inter-atomiese kragte. Dit is ’n feit. Maar is dit? Dit is wat fisici en chemici aflei uit hulle waarnemings. Hulle stel modelle op en maak grafiese voorstellings van hoe molekules en atome sou lyk. Maar eintlik is dit fiksie. Niemand het hierdie verskynsels nog ooit werklik gesien soos mens ’n olifant kan sien nie. As iets waar is is dit “waar” – soos ’n koei, soos daar gesê word. Dit is ’n feit. Maar eintlik is dit fiksie. “Waarheid” word gedurig afgetakel en word dan van nuuts af weer aanmekaargesit. Die son draai om die aarde, nee, die aarde draai om die son. Alles in die heelal werk berekenbaar soos ’n masjien (klassieke Newtoniaanse fisika). Nee, die gedrag van sub-atomiese partikels is onvoorspelbaar – hulle kan selfs op twee plekke gelyktydig bestaan (Hedendaagse kwantumfisika). Demokrasie is ’n ideale en regverdige regeringstelsel. Nee, demokrasie is dwingelandy van die meerdere oor die mindere. Hierdie lukrake aard van “waarheid” is onder andere wat in die vers gelees kan word.
Soos hierbo gesê: waarheid vergaan voortdurend in die speeksel van die woord. Dan word ’n nuwe opgebou.
Ek lees graag oor die beginsels van “emergence (opduiking) en kompleksiteit et al in boeke van mense soos Douglas Hofstadter, Matt Ridley, Roger Penrose en Jay Gould. In die “Internet Encyclopedia of Philosophy” word “emergence” soos volg beskryf: “If we were pressed to give a definition of emergence, we could say that a property is emergent if it is a novel property of a system or an entity that arises when that system or entity has reached a certain level of complexity and that, even though it exists only insofar as the system or entity exists, it is distinct from the properties of the parts of the system from which it emerges.”
Nee, ek dink nie aan die potensiële leser wanneer ek skryf nie. Ek is te besig om die stuwing van gedagtes naastenby in ’n hanteerbare (en leesbare) vorm vas te lê.
Ek skryf in verskeie toonaarde. Hierdie gedig maak gebruik van ’n skeut humor om moeilike konsepte oor te dra. Daar is heelwat van my ander gedigte wat soortgelyk is. Maar ander neig weer in die rigting van magiese realisme, satire, liriek, filosofie, prosagedigte, ook die vaste vorm van die haikoe en ook liefdespoësie.
Ja, die molekules is Suid-Afrikaans, soos die vervlietende waarheid. Maar dan kry mens dit in ander wêrelddele ook?
Soos ek voorheen gesê het, ek begin skryf en maak dan klaar. Ek beplan nie ’n vers bewustelik nie. Sodra die primêre poëson by my opduik, begin ek skryf en is altyd verras oor hoe die vers eindig.
Ja, ek het nie reaksie op hierdie spesifieke vers gekry nie, maar die bundel het in die algemeen gunstige kommentaar opgelewer.
Ek kan dit nie meer onthou nie, dit is gehul in die Götterdämmerung van die verlede. Ek kan wel onthou dat ek as seun gesoek het na ’n verduideliking van wat poësie nou eintlik is. Maar ek kon niks kry nie, toe skryf ek maar soos wat ek gedink het dit moet wees. Ek het nooit formele akademiese “leiding” gekry nie, soos byvoorbeeld in ’n kreatiewe skryfkursus of studie vir ’n graad nie en het my eie werkwyse op die been gebring deur ’n handjievol dekades. Ek onthou nou ook dat ek in die vroeë sestigerjare verse gepubliseer het in Stiebeuel II, Standpunte, Sestiger en Tydskrif vir Letterkunde en natuurlik in Wurm, waarvan ek stigterslid en eerste redakteur was. In die Sestiger van Mei 1964 het ek vyf gedigte gepubliseer. Een met die Middelnederlandse titel “Mi lanct na di” begin so:
Die skoenlapper het ’n sagte murwerige pensie … . einde
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.
Digstring: Ons land (Hennie Nortjé)Wednesday, September 25th, 2019Digstring: Ons land (Hennie Nortjé) __________________________________________________________________
Ons land
Hulle sê ons land is ’n omgekeerde piering: die afgeplatte bokant alkant aan die afloop na die grou gedreun van see. Maar dit bly ’n bra verkapte beeld, want noordwaarts vloei ’n hoëveld, sonder veel afdraand, stewig met ’n donker kontinent aaneen. Boonop dateer ons land van lank-lank voor die tyd van breekgoed, boeretroos of tee. Dalk is ons land bloot ’n allemintig-groot amandelklip: voorlangs deur ’n ruwe hand geniepsig weggesplinter. En wie weet hoe lank die gebreek en geskuur nog sal duur?
Ek werk al sedert 2016 aan hierdie vers. Van tyd tot tyd tel ek amandelklippe op hier in die wingerde buite Stellenbosch. Die gespitste voorkant van hierdie oer-handbyle lyk nogal soos die kaart van Suid-Afrika. Die afgesplinterde rante stem boonop ooreen met ons land se topografie: ’n binnelandse plato weerskant skerp aan die afloop na die kus. Of soos ek destyds in aardrykskunde geleer het: ’n omgekeerde piering. Die voordurende geologiese verwering van ons sub-kontinent herinner boonop aan die algemene agteruitgang wat ons tans moet verduur – hoe als wat eens vas was, wegsplinter of oorsee emigreer.
Onderstaande is my eerste poging. Ek het die woorde en strofes wat mettertyd aan gekap sou word, onderstreep. My land Hulle sê my land is ‘n omgekeerde piering: ‘n verhewe, afgeplatte bokant alkant aan die afloop na die grou genadelose see. Maar dit blyk ‘n erg verkapte beeld, want noordwaarts vloei ‘n hoëveld, sonder veel afdraend, stewig in ‘n donker kontinent aaneen. Boonop dateer my land van lank-lank voor die tyd van breekgoed, boeretroos of tee. Dalk is my land bloot ‘n allemintig-groot amandelklip voorlangs deur ‘n ruwe hand reeds erg weggesplinter en vermoedelik word dag en nag nog steeds daaraan geskuur. Maar dan weer is my land deel van Afrika en waar kry mens na die oer-ou dae hier nog so ‘n flukse reus?
Die eerste poging was binne ure “klaar”. En ek was nogal in my noppies daarmee! Dit was dan tog so welluidend. En wat ’n pittige slot, wou ek myself op die skouer klop.
Soos bostaande.
My vrou, Lettie luister met uitermatige geduld na elke vers. Sonder haar regmerkies kom ek nêrens nie. Hester Carsten van Quellerie, was soos met my eerste bundel, die redaktrise van Kryt. Sy het die verandering in die titel van die gedig voorgestel en het ook uitgewys dat “verhewe” en “bokant” steurende herhalings is. Verder kon sy my welverdiend kapittel oor die woord “erg”, aanvanklik nogal twee keer gebruik! Louis Esterhuizen het my deurlopend en ononbeerlik as tekspraktisyn bygestaan met hierdie bundel. Hy het onder andere voorgestel dat ek drasties kap aan die slot. En so het ek maar soos ’n wafferse Homo erectus, aanhou hamer en skuur aan my handbylgedig.
So ’n week daarna, want Kryt moes klaar en dit was ’n sleutelgedig. Die “gebreekte” voorpunt pryk selfs op die agterplats (miskien ’n beter idee as ’n foto van die gehawende ou digter, of een of ander onverdiende aanprysing.)
Dis als die nare waarheid, veral die retoriese vraag ten slotte. Gelukkig is my Afrika-pessimisme darem nie altyd so volkome nie
Ek dink ek het dit grootliks reeds geantwoord: Dat ons land ’n omgekeerde piering is, is onlangse weer bevestig deur die vlaag van xenofobie – selfs die rondloperkatte word hulle lekseltjies melk ontneem, want elke drinkbak word soos vullisdromme omgesmyt en lê aan skerwe.
Hier digby ons woonplek, net voor die Adam Tasbrug buite die dorp, is die eerste bewys vir die aanwesigheid van prehistoriese mense in Suider-Afrika gevind. Dit word nou slegs gedenk deur ’n rots langs die Polkadraaipad, want die gedenkplaat is lankal reeds afgesteel; seker maar verkoop as skroot. Die inskripsie het glo gelui: “In a road makers borrow-pit here in 1899 Louis Peringuey made the first discovery of ‘Stellenbosch’ stone implements and thereby proved the great antiquity of man in Southern Africa.” (En vir dekades lank wou die Eurosentriese antropoloë, die arme Peringuey nie glo dat die mens se oorsprong in Afrika is nie!) Inderdaad is ons, die mensdom, al van die begin af hier, en behendige klipwerkers en vindingryke geweldenaars van meet af.
Nee. Politici dalk, maar dan weer: digbundels verkoop al reeds so swak.
Hierdie gedig is die eerste van drie verse in die eerste afdeling van Kryt wat handel oor die progressiewe bewapening van die mens : “Uit die amandelklip”en “Gaia” verbeeld vervolgens hoe ons “gevorder” het van die handbyl tot die atoombom.
Miskien die blywende humor te midde van al die negativisme?
‘n Mens is nooit 100% klaar nie.
Die eerste resensie oor Kryt onlangs deur Daniel Hugo was nogal positief. Ek het geen spesifieke terugvoering sover oor hierdie vers nie. Dis egter duidelik dat geen een van my kennisse weet wat vir ‘n ding ’n amandelklip is nie.
Ek was in standerd sewe. Ons Afrikaans-juffrou, Lorainne (nooiensvan?), toe pas verloof aan die befaamde uitgewer en digter Charles Fryer, het ons geïnspireer om gedigte te skryf. My eerste vers ooit was juis ook ’n klip, naamlik daardie ikoniese ou platte in Kaapstad se agterplaas – uitermatig patrioties moet ek sê: “eat yout heart out”, Jan F. Celliers! Tafelberg (Circa 1971) . Wie het jou kruin gelyk gemaak daar waar dit aan die blou lug raak?
Waar kom jou grou-grys rots vandaan daar waar dit bo die Kaapse Vlakte staan?
Dis die werk van ‘n Hoër Hand ver bo die die mens se klein verstand,
want jy’s geskape uit die niet geen mensekind kon dit gebied.
Hiervandaan is die beskawing heengedra vanaf Tafelberg, trots van heel Suid-Afrika.
(soos julle kan sien, het ek die laaste halfeeu weinig indien enigsins gevorder!) _________________________________________________________________ Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.
Digstring: Yskas (Bibi Slippers)Monday, November 6th, 2017Digstring Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig . 3. Yskas Let’s hear what you think of me now, but baby don’t look up / The sky is falling. – Tori Amos . haar oorlog teen die ys het op ’n sonskyndag begin
toe sy bruin oë skielik blou was
hulle yskas was meer wit meer teenwoordig en twee grade kouer
sy het ’n affodil-tattoo gekry en soms bedags by die huis begin bly om te voel hoe die kamers koeler word om ’n oog te hou op die yskas
haar oorlog teen die ys het op ’n sonskyndag begin
snags het sy die yskas hoor rammel en roggel ’n kil gekoggel waarvoor hy doof was met sy blou oë wat eers bruin was
sy kon nooit meer slaap nie toe brei sy maar serpe en hekel komberse die yskas het tergend aanhou snerp
haar oorlog teen die ys het op ’n sonskyndag begin en op ’n sondag geëindig
hy het haar op die vloer gekry halfverkluim en opgebaklei teen die ys teen die yskas
sy het afsydig vir hom geglimlag haar tande meer wit meer teenwoordig haar groen oë grys haar affodil-tattoo nou ysbeer
[© bibi slippers]
|