Vertalings

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Saturday, January 11th, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vertaal deur Bester Meyer.

.

Ons was sonder ‘n Hede

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en lojale vriend.

laat ons op twee verskillende paaie saamgaan

laat ons afsonderlik gaan, en as een,

met niks wat ons seer maak nie.

nie die skeiding tussen duiwe;

of die koeltes tussen hande;

of die wind om die kerk,

wat uit die amandelbome fleur, was genoeg  nie.

so glimlag vir die amandels om selfs meer te blom

tussen die skoenlappers van twee kuiltjies

 

daar sal binnekort vir ons ‘n nuwe hede wees.

as jy terugkyk, sal jy slegs die ballingskap

van jou eie terugblik gewaar:

jou slaapkamer;

die binnehof-wilger;

die rivier agter die geboue van glas;

die kafee van ons afspraak…dit alles, alles

word voorberei om ballingskap in te gaan,

so laat ons dan goedhartig wees!

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n vriend lojaal aan haar fluite.

ons tyd was nie genoeg om saam oud te word nie;

om uitgeput na die teater toe te loop nie;

om ‘n einde aan Athene se oorlog met haar bure te aanskou,

en om die fees van vrede tussen Rome en Carthago te sien nader kruip nie.

Binnekort sal die voëls van een epos na ‘n ander verhuis:

was hierdie pad slegs stof in die vorm van betekenis?

het dit ons laat opmars soos ‘n verbygaande reis tussen twee mites?

soos die pad onafwendbaar is, netso is ons ook onafwendbaar

soos ‘n vreemdeling wat homself in die spieël van ‘n ander vreemdeling gewaar?

nee, hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie.

daar is geen kulture oplossings vir eksistensiële bekommernisse nie.

waar ook al jy is, is daar ‘n werklike hemel vir my.

wie is ek om jou die verlede se son en maan terug te besorg.

laat ons dan goedhartig wees…

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n geliefde, vry, en haar digter.

dit wat van Januarie se sneeu geval het was nie genoeg nie,

so glimlag, dat die sneeu gekam word soos katoen op die Christen se gebede.

in ‘n wyle sal ons terugkeer na ons môre, agter ons,

daar waar ons jonk was, in liefde se begin

soos Romeo en Juliet wat Shakespeare se taal leer ken…

skoenlappers het uit die slaap uit gefladder

as ‘n lugspieëling van ‘n vlugtige vrede -ons met twee sterre tooi-

en ons doodmaak in die stryd om ‘n naam tussen twee vensters.

so kom laat ons gaan,

en laat ons goedhartig wees.

 

laat ons gaan soos ons is:

‘n vrye vrou en ‘n lojale vriend.

laat ons gaan soos ons is.

ons het met die winde van Babilon af gekom,

en ons marsjeer straks na Babilon toe…

my reis was nie genoeg vir die denne

om in my voetstappe

‘n loflied te uiter vir hierdie suidelike plek nie.

hier is ons goedgesind.

ons wind is uit die noorde, ons liedere uit die suide.

is ek ‘n ander jy, en jy ‘n ander ek?

Hierdie is nie die pad na die land van vryheid toe nie.

hierdie is nie die pad na my liggaam toe nie,

en ek sal nie tweekeer ‘n “ek” wees nie.

nou dat my gister my môre geword het,

en ek in twee vroue verdeel het –

is ek nie van oos of van wes af nie.

ook is ek nie ‘n olyfboom

wat skadu gooi oor twee verse van die Koran nie.

laat ons dan gaan.

daar is geen kollektiewe oplossings vir persoonlike besware nie.

om saam te kon wees, was nie genoeg vir ons om saam te wees nie.

ons was sonder ‘n hede, om raak te kon sien waar ons was.

kom ons gaan soos ons is,

‘n vrye vrou en ‘n ou vriend.

laat ons op twee verskillende roetes saamgaan.

laat ons saam gaan,

en laat ons goedhartig wees…

 

 

Sonnet I

 

as jy die laaste is wat god vir my sou sê: wees die voornaamwoord

wat die verdubbeling van “ek” onthul. Geseënd is ons nou dat

amandelbome die voetspore van verbygangers verlig het,

hier op jou oewers, waar korhoenders en duiwe, bo jou, fladder

 

jy het die hemel met ‘n gasel se horings gesteek, en toe vloei woorde

soos dou deur die natuur se are. wat is die naam van ‘n gedig?

voor die dualiteit van skepping en waarheid, tussen ‘n afgeleë hemel

en jou sederbed, wanneer bloed smag na bloed, en marmer hunker?

 

‘n mite sal rondom jou in die son moet baai.

hierdie menigte, hierdie gode van Egipte en Sumerië verander hulle rokke onder palmbome, verander hulle dae se name, en volvoer hulle reis tot rym se einde toe…

 

dit is nodig vir my lied om asem te haal: die digkuns is nie digkuns nie,

en prosa is nie prosa nie. ek het gedroom dat jy die laaste is wat god my vertel:

toe ek beide van julle in my slaap gesien het, en gevolglik was daar woorde…

 

Uit: die Bed van die Vreemdeling (1998) uit Arabies vertaal deur Fady Joudah (the Butterfly’s Burden, Copper Canyon Press 2007) Vertaal deur Bester Meyer

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Thursday, January 9th, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

Poëtiese Regulasies

 

die sterre het slegs een taak gehad:

hulle het my geleer om te lees –

dat ek ‘n taal in die hemel,

en nog een hier op aarde het:

wie ís ek?    –    wie ís ek?

ek wil nie nou al antwoord nie

 

mag ‘n ster inval op haarself.

en mag ‘n kastaiingboom-woud

opreis na die melkweg, saam met my

en mag dit sê:

jy moet híér bly!

 

die gedig is daarbo:

sy kan my wys maak net wat sy wil.

sy kan my leer om ‘n venster oop te maak –

om tussen legendes ‘n huishouding te bestuur –

sy kan my vir ‘n rukkie, in eg verbind aan myself

 

my vader is daaronder:

hy dra ‘n duisend jaar ou olyfboom

wat nòg van oos nòg van wes af is.

laat hom met rus –

weg van sy veroweraars vir ‘n ruk.

en wees tog net delikaat met my.

en versamel iris en lelie vir my

 

~

 

die gedig laat my staan

en vlug in die rigting van ‘n hawe

waar die matrose lief is vir wyn,

en nooit terugkeer na dieselfde vroue nie –

hulle het nie berou, of hunkering na enigiets nie

 

liefde het my nog nie gedood nie,

maar ‘n moeder sien die vrees wat angeliere

vir die blompot koester in die oë van haar seun.

sy huil om dinge af te weer voor hulle begin.

sy huil vir my om lewend terug te keer

van my bestemde pad en hier te lewe

 

die gedig is nie hier of daar nie.

en hy kan nagte verlig

met ‘n meisie se boesem.

met die gloed van ‘n appel,

maak hy twee liggame vol met lig.

met die katjie-piering se asem

kan hy ‘n vaderland laat herleef!

 

die gedig is in my hand –

ek kan stories deur haar hande laat vloei.

maar sedert ek die gedig aangryp,

is ek verkwistend met my siel,

en nou vra ek:

wie ís ek?    –    wie ís ek?

 

 

die Dromers kom van een Hemel na ‘n ander verby

 

…en ons het ons kinderjare oorgelaat aan die skoenlapper

toe ons ‘n paar druppels olyfolie op die trappe laat staan het.

maar ons het vergeet om die kruisement oral te groet.

ons het vergeet om ons môre in geheim te groet.

die ink van die middag was wit

as dit nie vir die skoenlapper se boek,

wat rondom ons bly fladder het, was nie

 

skoenlapper, suster van jouself!

wees- voor my hunkering, en daarna,

dít waarna jy smag.

maar laat my ‘n broeder van jou vlerk wees

sodat my waansin koorsig mag bly.

skoenlapper, jy gebore uit jouself,

moenie dat ander my lot bepaal nie,

en moet my nie agterlaat nie

 

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby –

die skoenlapper

se diensmeisies dra spieëls van water.

ons kan wees wat ons moet wees.

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby –

 

die skoenlapper spin

haar bekleedsel

op ‘n naald van lig

om haar komedie te versier.

die skoenlapper is uit haarself gebore

en dans in die vlam van haar tragedie

 

~

 

halwe feniks

wat haar aangeraak het, raak ons ook aan,

en verberg die ooreenkomste tussen lig en vuur,

en die ooreenkomste tussen die twee roetes.

nee, ons liefde is nie dwaasheid of wysheid nie.

en gevolglik –

kom die dromers

van een hemel

na ‘n ander verby

en verby en verby

en vir ewig verby

 

die skoenlapper

is water wat hunker na vlug.

dit sypel van die sweet van jong meisies

en word langsaam ‘n wolk van herinnering.

die skoenlapper is wat die gedig nie sê nie.

haar absolute ligtheid breek woorde,

soos drome dromers breek

 

laat dit so wees!

laat môre se teenwoordigheid met ons wees.

laat gister se teenwoordigheid met ons wees.

laat vandag teenwoordig wees in hierdie feesdag

op-sy-gesit vir die skoenlapper se herdenking…

en,

laat die dromers

van een hemel

na ‘n ander verby kom

 

van een hemel

na ‘n ander

kom die dromers verby

 

Uit: Waarom het jy die Perd alleen gelaat? (1995) Vertaal deur Amira El-Zein en geredigeer deur Munir Akash en Carolyn Forché in Unfortunately, It was Paradise (2003) Vert. in Afrikaans deur Bester Meyer.

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Tuesday, January 7th, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertalings in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

die Nag van die Uil

 

daar is -hier- ‘n hede wat nie deur die verlede omvat (kan) word nie.

toe ons die laaste bome bereik het

het ons geweet dat dit onmoontlik

vir ons sou wees om daarop ag te slaan;

en toe ons na die skepe toe teruggekeer het,

het ons gesien hoe afwesigheid

sy gekose voorwerpe opstapel,

en sy ewige tent rondom ons opslaan

 

daar is -hier- ‘n hede wat nie deur die verlede omvat (kan) word nie.

‘n garingdraad van sy word uit die moerbeibome getrek

om briewe te skryf op die bladsy van die nag.

net die skoenlappers werp lig op ons durf

soos wat dit afduik

in die put van vreemde woorde:

was daardie veroordeelde man my pa?

miskien kan ek my lewe hier verduur.

miskien kan ek nou geboorte gee aan myself

en ander briewe kies vir my naam

 

daar is -hier- ‘n hede wat in ‘n leë kombuis sit en

staar na die spore van die wat die rivier op riete oorsteek.

‘n hede wat ons fluite poleer met sy winde

 

miskien kan spraak deursigtig word,

sodat ons oop vensters daarin kan gewaar.

en miskien kan tyd saam met ons vlieg

en ons toekoms in sy bagasie dra

 

daar is -hier- ‘n tydlose hede en niemand kan iemand hier vind nie.

niemand onthou hoe ons soos ‘n vlaag wind by die deur uitgegaan het,

en teen watter uur ons van gister geval het nie.

dit was toe dat gister in skerwe op die teëls versplinter het –

vir ander om opnuut bymekaar te kom in spieëls

om hulle beelde oor die van ons te reflekteer

 

daar is -hier- ‘n pleklose hede.

miskien kan ek (nou) my lewe verduur en uitroep -in die nag van die uil:

was hierdie veroordeelde man my pa, wat my met sy verlede belas?

miskien sal ek getransformeer word in my naam;

en my ma se woorde, en manier van lewe

– presies soos hulle moet wees- verkies.

tog kon sy my elke keer ompraat as sout my bloed aangeraak het,

en kos gee elke keer as ‘n nagtegaal my in die mond gebyt het

 

daar is -hier- ‘n verganklike hede.

vreemdelinge hang hulle gewere hier aan olyftakke op

om hulle aandete haastig uit blikpotte voor te berei

en dan weer voort snel na hulle trokke toe

 

Uit: Waarom het jy die Perd alleen gelaat? (1995) Vertaal deur Amira El-Zein en geredigeer deur Munir Akash en Carolyn Forché in Unfortunately, It was Paradise (2003) In Afrikaans vert. deur Bester Meyer.

e.e. cummings.Vertaling in Afrikaans

Saturday, January 4th, 2020

e.e. cummings. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Daniel Hugo

 

Ballade van die seisoene

 

enigeen woon in ’n watmooi dorp

(met op en neer hoeveel klokke wat lui)

lente somer herfs winter

hy sing sy doen hy dans sy late

 

mans en vroue (spraaksaam en stom)

gee vir enigeen geensins om

hulle saai hul hier hulle maai hul nou

son maan sterre reën

 

kinders raai (net ’n paar wat weet

en heen hul vergeet soos weer hulle groei

herfs winter lente somer)

dat geeneen hom liefhet meer en meer

 

dag aan dag en blaar aan boom

sy lag sy lekker sy snik sy seer

spreeu op sneeu en wind op water

enigeen se enig word nou haar alles

 

sommige trou met hul een en almal

lag hul trane en dans hul dans

(slaap waak hoop en dan) hulle

bid hul nooit en hulle slaap hul ooit

 

sterre reën son maan

(en net die sneeu kan effe verklaar

hoe kinders so maklik vergeet van onthou

met op en neer hoeveel klokke wat lui)

 

op ’n dag gaan enigeen dood

(en geeneen buk om sy gelaat te soen)

besige mense begraaf hul sy aan sy

bietjie vir bietjie en nou vir toe

 

alles vir niks en eens vir altyd

en meer en meer slaap hul die droom

enigeen en geeneen in aprilse grond

wouwees langs gees en miskien langs ja

 

vroue en mans (klingel en klang)

somer herfs winter lente

maai hul saai en gaan hul gang

son maan sterre reën

( e.e. cummings: anyone lived in a pretty how town)

 

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Friday, January 3rd, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

die Aarde druk teen Ons

.

die aarde druk teen ons,

hou ons vasgevang in die finale gang,

om deurgang te vind

moet ons ons ledemate verloor –

die aarde knyp ons vas

 

as ons maar net koring was

sou ons dalk kon doodgaan

en tog bly lewe.

as sy maar ons moeder was

sou sy ons kon temper deur genade.

as ons maar prente van rotse was

behoue in ons drome soos spieëls…

 

ons werp ‘n blik na die gesigte

in hulle finale geveg vir die siel

van die wat dood gemaak sal word

deur tussen ons te bly.

ons betreur hulle kinders se fees

 

ons het die gesigte gesien

van die wat ons kinders sal uitgooi

uit die vensters van dié finale ruimte.

‘n ster poleer ons spieëls…

 

waar moet ons heen gaan ná die laaste grens?

waar moet die voëls heen vlieg ná die laaste hemel?

waar moet die plante slaap ná die laaste teug van lug?

ons skryf ons name in die karmosyn mis.

ons eindig die loflied met ons vlees.

hier sal ons dood gaan

-hier- in die finale gang,

hier of daar,

ons bloed sal olyfbome plant…

.

 

Uit: Minder Rose (1986) soos vertaal uit Arabies deur Munir Akash en Carolyn Forché in

Unfortunately, It was Paradise (2003) In Afr. vertaal deur Bester Meyer.

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Thursday, January 2nd, 2020

Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer.

.

Identiteitskaart

.

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

my identiteitsnommer: vyftig duisend

ek het agt kinders

en ‘n negende een oppad na die somer.

sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

werksaam saam my mede-werkers by die steengroef.

ek het agt kinders,

ek breek vir hulle brood, klere en boeke

vanaf die rotse…

ek smeek nie vir aalmoese by jou deure nie

en kruip nie rond op jou drempel nie

so, sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

ek het ‘n naam sonder titel

geduldig in ‘n land

waar my mense grimmig is.

my wortels hier ingegrawe voor die geboorte van tyd.

voor die opening van tyd se kringe,

voor die denne- en olyfbome,

voor die gras begin spruit het.

my vader is van die arbeidsklas,

hy het geen adellike afkoms nie

en my oupa was ‘n kleinboer

sonder indrukwekkende stamboom.

ek is die glorie van die son geleer

voor ek geleer het om te lees.

my huis is soos die hut van ‘n wagter,

gebou met takke en met riet.

is jy tevrede met my status?

ek het ‘n naam sonder titel.

 

Skryf neer!

ek’s ‘n Arabier,

haarkleur: houtskool-swart

oogkleur: bruin

kenmerke: ‘n koord rondom die koufiyah op my kop;

my handpalms hard soos klip-

dít krap die wat dit aanraak

adres: ‘n lank vergete -verlate- dorpie;

sy strate naamloos;

sy mense in die veld of by die steengroef.

sal dít jou kwaad maak?

 

Skryf neer!

ek is ‘n Arabier,

jy het die boorde van my voorvaders

en die land wat ek bewerk het gesteel

saam met my kinders

en niks behalwe hierdie klippe

vir ons oorgehou nie.

so sal die Staat dít dan ook wegneem

soos wat daar gesê word?

Daarom:

Skryf dit neer aan die begin van die eerste bladsy:

ek haat geen mens,

en is nie ‘n indringer nie

maar as ek honger word

sal die vlees van die tiran my honger stil!

Pas op…pas op…vir my hunkering

en my gramskap

.

Identiteitskaart – Uit Blare van Olyf (1964) soos vertaal uit Arabies deur Salman Masalha en Vivian Eden. In Afrikaans vert. deur Bester Meyer.

WG Sebald, uit “Wie der Schnee auf den Alpen” (Vertaal deur Helize van Vuuren)

Monday, December 23rd, 2019

VIII

 

Met die skilder te perd,

dikwels ook met die kar

heelbo sit ‘n negejaar-oue kind,

sy eie, soos hy met verwondering

bedink, in die eg met Anna verwek.

Dis ‘n baie mooi pad, hierdie laaste,

in September van die jaar 1527, al langs die water

deur die dale. Die lug roer die lig

tussen die bome se blare, en van die hoogtes

kyk hul af op die reg-rondom wydstrekkende land.

By die uitspanning leunend teen rotse,

gewaar Grünewald in hom sy ongelukkigheid

en dié van die waterkunstenaar in Halle.

Soos spreeus dryf die wind ons

op vlug as die skaduwees

val. Wat bly tot die laaste,

is die opdrag-werk. In diens van die familie

Erbach in Erbach in Odenwald wy die skilder

die oorblywende jare aan ‘n altaarwerk,

nogmaals kruisiging en bewéning,

die vervorming van lewe gaan stadigaan

voort, en steeds tussen die blik

van die oog en die ophef van die kwas

maak Grünewald nou ‘n verre

reis terug, onderbreek ook veel meer

as wat hy gewoond is, die vloei van sy kuns,

om sy kind na sy hand te leer

in die werkplek en daarbuite in groen velde.

Wat hyself daaruit leer, is nêrens oor berig,

net dat die kind op ouderdom veertien

weens onbekende oorsaak skielik

gesterf het en dat die skilder hom

nie lank oorleef het nie. Tuur stip vooruit,

daar sien jy in die grou van die aand

die verre windmeulens wat draai.

Die woud wyk terug, waarlik,

so ver en wyd, dat mens niks meer herken,

vanwaar dit ooit was, en die yshuis

gaan op, en die ryp verteken die veld

tot ‘n kleurlose beeld van die aarde.

So word, as die kyksenu

skeur, in lugruim se stilte,

dit wit soos die sneeu

op die Alpe.

– WG Sebald, uit “Wie der Schnee auf den Alpen”,

Nach der Natur. Ein Elementargedicht

[“Soos die sneeu op die Alpe”, Na die natuur. ‘n Elementale gedig, 1988:32-33]

©Afrikaanse vertaling Helize van Vuuren, 21 Desember 2019

Octavio Paz. Essay: Vertalings in Afrikaans. (De Waal Venter)

Wednesday, December 18th, 2019

Die Meksikaanse Nobelpryswenner (1990  ) Octavio Paz, is gebore in 1914 en het geleef tot 1998. Hy het ’n wêreldwye reputasie verwerf as voortreflike digter en essayis.

Jascha Kessler, skrywer verbonde aan die Los Angeles Times, het Paz beskryf as “waarlik internasionaal”. Manuel Duran van World Literature Today het gesê: “Paz’s exploration of Mexican existential values permitted him to open a door to an understanding of other countries and other cultures”. Duran het verder gesê dat Paz universele aanklank gevind het sonder om sy unieke eienskappe prys te gee.

Die Nobelprys in Letterkunde 1990 is aan Paz toegeken vir: “Impassioned writing with wide horizons, characterized by sensuous intelligence and humanistic integrity.” (Poetry Foundation)

In poets.org word die volgende gesê: ” His later work shows an ever-deepening intelligence and complexity as it investigates the intersection of philosophy, religion, art, politics, and the role of the individual. ‘Wouldn’t it be better to turn life into poetry rather than to make poetry from life?’ Paz asks. ‘And cannot poetry have as its primary objective, rather than the creation of poems, the creation of poetic moments?’”

In feitlik al sy werk vind mens die versmelting van teenoorgesteldes. Magte wat mekaar teenwerk word in sy gedigte vereenselwig. Die bundel “Air Born/Hijos del Aire” is byvoorbeeld in Engels en Spaans geskryf. Dit is ’n tweetalige reeks sonnette wat Paz saam met die digter en vertaler Charles Tomlinson geskryf het.

Indien ’n gedig nasionale en linguistiese grense wil oorskry, moet dit heen en weer oor die grense kan “vloei”. Paz en Tomlinson het geïllustreer hoe dit gedoen kan word met die skryf van ’n gedig “House”. Tomlinson het die eerste vers in Engels geskryf wat toe deur Paz vertaal is. Paz het die tweede vers in Spaans geskryf en dit4 is deur Tomlinson vertaal.

’n Gedig in Spaans en Engels

 Hier is die eerste deel van die gedig:1

La casa se construye con lo ahí encontramos           One builds a house with what is there

(con crin ligaban la argamasa – había caballos)         (horsehair bonded the plaster when horses                                                                                                    were)

y con lo que traemos (la rima anda escondida):        and of what one brings (the rhyme concealed):

para su tiempo, espacio – tiempo para su                  space into its time, time to its space

espacio.

Mas nacemos en casa que no hicimos.                     Yet we are born in houses we did not make.

(Terloops, ek vind die tweede Engelse reël ’n bietjie onsamehangend. Ek sou dit vertaal het as: “Die pleister is met perdehare gebind – daar was perde”)

Volgens ’n medewerker van World Literature Today, Frances Chiles, het Paz probeer om ’n gevoel van “gemeenskap” te bewerkstellig in sy gedigte, iets wat hy gemis het in die hedendaagse wêreld. Paz het die Neustadtprys in 1982  ontvang. In sy ontvangstoespraak het hy sy beklemtoning van botsende gedagtes soos volg verduidelik: “Pluraliteit is Universaliteit, en Universaliteit is die erkenning van die bewonderenswaardige diversiteit van die mens en sy werke … Om die verskeidenheid visies en benaderings te erken, is om die rykdom van die lewe te bewaar en sodoende dit te laat voortleef.”

Octavio Paz in Afrikaans

Hier volg ’n paar gedigte van Paz wat ek uit Spaans vertaal het. In die eerste gedig merk mens duidelik die teenstrydighede en botsende idees wat hy in sy poësie met mekaar versoen. Byvoorbeeld:

“Alles is sigbaar en alles is ontwykend,

alles is naby en alles is onaanraakbaar.”

Uit: “Árbol adrento”

 Entre irse y quedarse

 Entre irse y quedarse duda el día,

enamorado de su transparencia.

Tussen gaan en bly

 Tussen gaan en bly huiwer die dag,

verlief op sy deursigtigheid.

Die sirkelvormige namiddag is nou ’n baai:

waar die wêreld in stilte heen en weer wieg.

Alles is sigbaar en alles is ontwykend,

alles is naby en alles is onaanraakbaar.

Papier, ’n boek, ’n glas, ’n potlood

rus in die skadu van hulle name.

Die klopping van die tyd in my slape herhaal

dieselfde koppige sillabe van bloed.

Die lig verander die onverskillige muur

in ’n spookagtige teater van weerkaatsings.

Ek bevind myself in die middel van ’n oog;

hy sien my nie, ek sien my in sy staring.

Die oomblik verdwyn. Roerloos,

Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.

In die gedig word dit duidelik dat die digter die werklikheid  as een groot geheel sien. Die mens is deel van die natuur en die aarde en alles wat daarin is. Die mens is selfs een met die tyd:

“Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.”

Franse invloed

 Paz het baie geleer by Franse digters soos Arthur Rimbaud en André Breton. Paz het gemeen dat die kern van Breton se poëtika daarin geleë was dat Breton gedink het dat “die natuur taal is”. Om hierdie taal te herwin, moet ons terugkeer na die natuur, voor die val en die geskiedenis. “Volver a la naturaleza, antes de la caída y de la historia.”

In Breton se geskrif “Alchimie du verbe” stel hy dit dat poëtiese visie direk oorgedra moet word, nie beskryf word nie. “Le poète devra faire sentir, palper, écouter ses inventions …cette langue sera de l’âme, résumant tout, parfums, sons, couleurs”

“Die digter moet dit moontlik maak dat sy werk gevoel, gehoor kan word … hierdie taal is van siel tot siel, en dit verstaan alles – geure, klanke, kleure.”2

 Terloops, hierdie gedig hierbo is ook deur Joan Hambidge vertaal met die titel “Tussen gaan en bly.” Die gedig kan op haar blog “Woorde wat weeg” gelees word.

Die volgende gedig het ’n paar onderafdelings:

Uit: “Árbol adentro”

 Al vuelo (1)

 Naranja

Pequeño sol

quieto sobre le mesa,

fijo mediodía.

Algo le falta:

noche.

IN VLUG (1)

 Lemoen

 Klein son

stil op die tafel,

ewigdurende middag.

Iets kom kort:

nag.

Dagbreek

 Op die sand

voëlgeskrifte:

memoires van die wind.

Sterre en kriek

 Die ruimte is ontsaglik groot.

Daar bo is wêrelde gesaai.

Onversteurd,

sonder vrees vir soveel nag

die onversetlike kriek.

Non-visie

 Leë uur, reservoir

waar my gedagtes

hulleself drink.

Vir een geweldige oomblik

het ek my naam vergeet.

Bietjie vir bietjie raak ek ongebore,

deurskynende aankoms.

Kalmte

 Maan, horlosie van die sand:

die nag loop leeg,

die uur is verlig.

Treffend in hierdie gedig is die teenstellings wat versmelt word om nuwe konsepte te skep:

ewigdurende middag/nag

Die ruimte is ontsaglik groot/die onversetlike kriek

Bietjie vir bietjie raak ek ongebore

Paz het heelwat liefdesgedigte geskryf. Waar Pablo Neruda se liefdesgedigte vol vurige, byna onbeteuelde hartstog is, is Paz se hartstog verfynder en ietwat meer abstrak.

Uit Arbol adentro (Octavio Paz)

Noche, día, noche

 1.

 Chorro de luz: un pájaro

cantando en la terraza.

En los valles y montes

de tu cuerpo amanece.

(Fragment)

Nag, dag, nag

 Stroom lig: ’n voël

singend op die terras.

In die valleie en berge

van jou liggaam ontwaak dit.

2.

Vuur slaap in die nag,

water wat laggend wakker word.

3.

Onder die blaredak

van jou hare

jou voorkop:

bome,

helderheid tussen die takke.

Ek dink aan tuine:

om ’n wind te wees wat ritsel deur jou herinneringe,

om die son te wees wat tussen jou fyn takkies deurbeweeg!

4.

Aan die voet van die palm,

lank soos ’n barbaar

golwend groen teen die aanvallende son

rus jy.

’n Poel

– water in die skadu’s – jou liggaam.

Stilte. Enorme namiddag klop

byna onopsigtelik.

Tussen jou bene vloei die koppige tyd.

5

’n Aar van sonlig, lewende goud,

gleuwe, kruise, spirale,

groen sterrestelsels:

die driehoekige insek

vorder deur die gras

drie of vier millimeter per uur.

Vir ’n oomblik het jy

dit in die palm van jou hand gehou

(waar die noodlot sy arabeske geheime afteken):

dit is ’n lewende juweel, ’n kreatuur

wat miskien uit Titania geval het

en jy laat dit met groot respek

teruggaan na die Groot Al.

6

Die dag, volkome blom,

brand uur na uur.

’n Ander blom, swart, ontvou.

Ongemerk steek jy

die skadu oor

en kom binne, dame van die nag.

Skaars ’n golf,

skaars ’n geur, wit,

strek jy uit op my bed.

En word weer ’n vrou.

7

Vlaktes van die laken

en nag van liggame,

gety van begeerte

en grot van drome.

8

Onder jou ooglede slaap

’n ontasbare dorp.

Gretige warrelwinde,

kinders van aanraking word beliggaam,

drink bloed, is die veranderende

vorms van begeerte

en is altyd dieselfde:

die opeenvolgende gesigte

van die lewe wat die dood is,

van die dood wat die lewe is.

Een van die temas wat Paz se werk kenmerk, is die idee van ’n rivier. Hy praat soms van die gedig as ’n rivier wat alles meevoer. Maar dit word ook aangewend om mense en menseverhoudings uit te beeld soos in die volgende gedig.

Antes del comienzo

 Ruidos confusos, claridad incierta.

Otro día comienza.

Voor die begin

 Verwarde geluide, onsekere helderheid.

Nog ’n dag begin.

Dis ’n halfverligte kamer

en twee liggame uitgestrek.

In my kop is ek verdwaal

op ’n vlakte sonder enigiemand.

Nou slyp die ure hulle knipmesse.

Maar langs my haal jy asem;

intiem en verwyder

vloei jy sonder om te beweeg.

Onbereikbaar as ek aan jou dink,

aan jou raak met my oë,

jou sien met my hande.

Drome skei ons

en bloed verenig ons:

ons is ’n rivier van polsslae.

Onder jou ooglede

word die saad van die son ryp.

Die aarde

is nog steeds nie werklik nie,

die tyd huiwer:

al wat seker is

is die warmte van jou vel.

In jou asemhaling hoor ek

die gety van bestaan,

die vergete sillabe van die Begin.

Samevattend

 Octavio Paz het diep spore getrap in die wêreldletterkunde en sy invloed word vandag nog baie sterk gevoel. Sy siening van die mens en sy plek in die natuur raak al hoe meer relevant in hierdie tyd dat ons besef dat ons gevaar loop om die omgewing waarin ons leef te vernietig, en onsself daarmee.

 Bronne

 1. Aangehaal in: Poetry Translation as Expert Action Process, priorities and networks, Francis R Jones, 2011. Newcastle University. John Benjamins Publishing, Company. Amsterdam:Philadelphia

2. Aangehaal in: “Octavio Paz: A Study of his Poetics”, Jason Wilson, 1979. Cambridge University Press.