Honderd van die bestes: Vertalings van ’n keur uit 20ste-eeuse Duitse gedigte
in Afrikaans vertaal deur Bernard Odendaal en Robert Schall
Inleidende opmerkings
’n Halfeeu gelede kon nog daarop gereken word dat heelparty Afrikaanse poësieliefhebbers ’n gangbare leesvaardigheid in Duits het. ʼn Mens kon selfs verwag dat hulle minstens enkele gedigte van veral ouer digters in dié taal ken: Goethe, Schiller, Hölderlin, Von Eichendorff, Heine, Mörike, ensovoorts. Ook, moontlik, iets aangaande enkele vroeg twintigste-eeuse meesters soos Else Lasker-Schüler, Rainer Maria Rilke, Bertolt Brecht en Paul Celan.
Sedertdien het die aanbod van Duits as vakkeuse aan Suid-Afrikaanse hoërskole dramaties afgeneem – en derhalwe ook die aantal universiteitstudente wat dié taal en sy letterkunde as graadvak kies. Met die uitsondering van enkele van die name hier bo vermeld, het die meerderheid van die voortreflikste Duitstalige digters uit die twintigste eeu grootliks onbekend gebly hier te lande.
Vanaf ongeveer 1990 verskyn daar wel ’n handvol bloemlesings met Afrikaanse vertalings van (hoofsaaklik) twintigste-eeuse Duitse gedigte. ʼn Mens dink hier aan die publikasies Brecht sing Afrikaans. ’n Berthold Brecht-song-boek (saamgestel deur Arnold Blumer; Tafelberg-Uitgewers, 1989), Woorde soos pluimsaad. Duitse gedigte uit agt eeue (vertaal deur Gunther Pakendorf; Perskor-Uitgewers, 1990), Christian Morgenstern: Houtjies van die galg. ’n Keur uit Galgenlieder (vertaal deur Barend J. Toerien; Tafelberg-Uitgewers, 1997), Rainer Maria Rilke: Duino-elegieë (vertaal deur H.J. Pieterse; Protea Boekhuis, 2007) en Jan Wagner: Wat ek van klippe weet. Gedigte (vertaal deur Robert Schall; Naledi, 2021). Eietydse verskunsliefhebbers hier by ons is sodoende meer bewus gemaak van wat misgeloop is en steeds word.
Die omvang van dié gemis word nóg duideliker as ’n mens ’n oorsigtelik twintigste-eeuse bloemlesing uit die Duitse digkuns, soos die een saamgestel deur Marcel Reich-Ranicki, met Hundert Gedichte des Jahrhunderts as titel (Insel Verlag, eerste uitgawe 2000), onder oë neem. Dit bevat ’n honderd Duitse gedigte uit die vorige eeu, telkens vergesel van verhelderende agtergrondinligting oor en interpretasies van die verse deur gerekende poësiekenners. Voeg hierby die treffendheid van ’n versameling van die gewildste Duitse gedigte soos Die Lieblingsgedichte der Deutschen (Piper Verlag, eerste uitgawe 2003), en die drang om méér van die beste twintigste-eeuse Duitse verskuns vir Afrikaanse lesers toeganklik te maak, word selfs sterker.
Op die spoor van die genoemde bloemlesing deur Reich-Ranicki het ons derhalwe besluit om ’n volle honderd sulke gedigte te kies vir die onderhawige vertaalprojek. Verreweg die meeste daarvan is juis gehaal uit Reich-Ranicki se keur. Om die honderdtal-mylpaal te haal, is ’n bykomende aantal gekies uit die vermelde Lieblingsgedichte-versameling en uit enkele ander bronne. Anders as aangaande die keuses uit die Reich-Ranicki-bloemlesing, sal in sulke gevalle na die betrokke bronpublikasies verwys word by die plasings daarvan wat hierna volg.
Wat die honderdtal-ideaal voorts aangedryf het, was die behoefte om aansluiting te vind by die Afrikaans 100-vieringe van vanjaar, en veral soos dit op 8 Mei 2025 ’n hoogtepunt bereik – die datum waarop afgeskop word met hierdie reeks plasings op Versindaba. Kortom, ons wou streef om “honderd van die bestes” uit die Duitse digkuns van die vorige eeu ook hul versgestaltes ten beste te laat kry in Afrikaans – die amptelike landstaal wat pas ’n eeu lank dié status in ons land geniet.
Soos in Reich-Ranicki se bloemlesing word die gedigte, wat almal in die twintigste eeu die eerste publikasielig gesien het, in kronologiese volgorde volgens die geboortedatums van die digters geplaas, vergesel van ons Afrikaanse omdigtings. Vandaar ook dat plasings, wat weekliks sal geskied, meestal verse van een digter sal bevat; soms, indien slegs enkelgedigte van bepaalde digters gekeur is, sal ʼn aflewering meer as een digter se werk insluit.
Daar sal telkens aangedui word wie van ons twee opgetree het as die primêre vertaler van bepaalde gedigte. Tydens beplanning van die projek is naamlik ooreengekom wie die vertaalverantwoordelikheid vir watter gedigte sou neem. Terselfdertyd is besluit om die vertaalpogings daarna aan mekaar voor te lê vir kommentaar en redigeringsvoorstelle – ʼn proses wat verskeie kere herhaal is om die bes moontlike omdigtingpogings te probeer verseker.
Die versvergestaltings – vorm, leestekengebruik, tipografie – was vir ons by vertaling en redigering ʼn ewe belangrike oorweging as die betekenisinhoude/-strekkings van die oorspronklike gedigte. Daar is deurgaans gepoog om, in beide verbande, getrou aan die oorspronklike te bly. In die proses was die gedigbesprekings in Hundert Gedichte des Jahrhunderts, in verskeie gevalle ook ontledings op internetpodia, van rigtende belang en waarde.
Onder meer vanweë versvormgewing-, ritmiese en klankoorwegings kon die talige omsetting derhalwe nie altyd letterlik geskied nie; enkele sosiokulturele en ruimtelike verwysings is ook aangepas om toeganklikheid vir die doeltaalleser te bevorder. ʼn Guitig toepaslike Franse gesegde in hierdie verband, een wat Uys Krige in die voorwoord tot sy bundel vertalings Verse van Lorca (Human & Rousseau, 1987) aanhaal en vertaal, lui: “Wanneer sy mooi is, is sy nie getrou nie. En wanneer sy getrou is, is sy nie mooi nie.”
Ons identifiseer met die slotsom waartoe Krige dan kom:
Getrouheid, letterlike getrouheid, aan die oorspronklike is onmoontlik vir die vertaler as hy self poësie wil skep. Maar ʼn ander soort getrouheid […] is wel moontlik – getrouheid aan die gees, sfeer, stemming, wese van die gedig wat so kwaai by jou kom spook het dat jy van dié beswering ontslae kon raak slegs deur die gedig in jou eie taal te verwerk.
By van die onderskeie gedigplasings sal, vir lesers wat belangstel om dieper te delf, internetskakels verskaf word waar agtergrondinligting oor en/of ontledings asook voordragte van die betrokke gedigte nagespeur kan word.
Ons vertrou dat Versindaba-besoekers wat dié “Honderd van die Bestes”-leeservaring met ons gaan meemaak, ewe verruk gaan word daardeur as ons, die vertalers.
Bernard Odendaal & Robert Schall
April 2025
___________________________________________________________________________________________________________________________
Lys van digters (kronologies volgens geboortedatums gerangskik)
1864-1947
Hoe het die skoonheid so volbring in jou geword (Wo hast du all die schönheit hergenommen)
1868–1933
Die meester van die eiland (Der Herr der Insel)
Ongetiteld
Ons wandel op en af (Wir schreiten auf und ab)
1869-1945
‘n Liefdeslied (Ein Liebeslied)
My blou klavier (Mein Blaues Klavier)
‘n Lied (Ein Lied)