Stemgrepe

Louis Esterhuizen. Die glasblaser (Stemgreep)

Wednesday, October 21st, 2020

Die glasblaser

Voor ’n hoogoond staan hy, bring

die blaaspyp se mondstuk stadig na sy lippe –

speel met ’n oeroue geduld die eerste note

van ’n melodie sonder klank. In die oond vonk

 

’n sterrestelsel uiteen en kyk hy op, gewaar hy

die heelal van lank gelede: die trae lig

van ’n ander leeftyd wat nou neerslag vind

in ’n hulsel sonder vorm.

 

Hy weet hierdie is tyd se geskenk, die lig

wat smelt om stilte op te vang as iets

breekbaar, dog leeg.

 

Soos ’n gedig, die refrein

sonder geluid

 

of beweging. Tydsaam draai hy

die glastrompet

om en om, blaas, draai. Om en om, tuit –

die wêreld gaan hom verby,

blaas, asof

hy nog daar is.

 

[Uit: Louis Esterhuizen. Die gladde stiltes in glas. Protea Boekhuis, 2020]

 

Twee nuwe Stemgrepe: Heilna du Plooy

Tuesday, October 6th, 2020

Heilna du Plooy. “Ná-gepraat” en “Onbeperk ingeperk”. N.P. van Wyk Louw 50.

Twee nuwe Stemgrepe: Lynthia Julius & Helize van Vuuren

Tuesday, September 29th, 2020

Lynthia Julius. “Namakwalanddorp: someraand”. Uit die kroes, Kwela, 2020.

Helize van Vuuren. “Greeting in Brown”& “She will never come”. N.P van Wyk Louw-verse deur Heilize van Vuuren vertaal.

Twee nuwe Stemgrepe: René Bohnen & Alfred Schaffer

Wednesday, September 23rd, 2020

Alfred Schaffer. ik had de auto langs de weg geparkeerd. Uit: N.P. van Wyk Louw 50.

René Bohnen. Onvas. Uit: N.P. van Wyk Louw 50.

Drie nuwe Stemgrepe: Joan Hambidge & Gerard Scharn

Monday, September 21st, 2020

Joan Hambidge. “Ignatia bid vir orde”. Uit: Nomadiese sterre, Onvoltooid. N.P. van Wyk Louw 50.

Joan Hambidge. “N.P. van Wyk Louw (1906 – 1970)”. Uit: Lykdigte, Tafelberg, 2000; herdig: 2020.

Gerard Scharn. “Taal ontmaskerd”. N.P. van Wyk Louw 50.

Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)

Wednesday, September 16th, 2020

Psalm 121

Ek slat my twee oge op,
my kyk vang die verste kop.
Wavanaf sal my hulp nou kom?
My hulp is vannie Jirre, van Hom,
Hy’t nou die jimmel en Prieska gekom maak.
Sonner lat jou voete klipperse raak,
is hy skoene agterrie skaap,
Hy dink nooit nie eers oor slaap.
Sontyd is Hy hoed op jou kop,
innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas,
jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas.
Gan jy nou in of gan jy nou yt,
Hy’s oor jou, vi ewig en vi altyd.

[Uit: Hans du Plessis. Innie skylte van die Jirre. Lapa, 2008]

 

Heilna du Plooy. Seesuite

Thursday, September 10th, 2020

 

Seesuite

2020

 

Ná-gepraat

Vir/na N.P. van Wyk Louw

 

ons’t weggegaan en ons bewoon
’n windvervulde huis reg langs die see

ons vensters kyk nou elke dag

met wye oë na oop-eindigheid:

 

deurskynend, alles onder hierdie son,

al ons liefdes en letsels ylheid en lig

in saffier en diep toermalyn

in akwamaryn en groen mosagaat

die vlekke en strepe bollende skuim

soos moeite, verdriet wit uitgemeet

teen die swart en blou skaduwee

van elke naggrou stormsee:

 

die see is water en wind en water

en wind en wind

en elke dag voer ons die meeue

weer en weer krummels teen die wind

 

 

Reënboog

 

Ons is nog steeds verwonderd en bykans

oorbluf  dat  oNs Bly op hierdie plek

waar die reËn en stapels wOlke speel in

’n arEna van wind en vog en sOnlig totdat

Raaiselagtige boë kleurvol gloei teen die luG:

 

weer en weer as ons ’n reënboog sien is ons

hartgrondiglik teen onbehaaglikheid verskans.

 

 

Golf

(overgesetsynde ’n wanhopige akademiese gedig oor die see)

 

Ek wil so graag ’n gedig skryf oor die see wat meer is as die blote woorde

wat die see beskryf want die see se oorweldigende aanwesigheid

vereis veel meer as die noukeurigste referensialiteit

en my klein belewenis van hierdie grootsheid

met al die metafore wat ek ken en uitdink

is ontoereikend vir ’n transformasie

’n oopeindige representasie

in adekwate akkoorde

vir die majesteit

van die see.

Die see.

 

 

Onbeperk ingeperk

 

In die angstige tyd – verskraal, verkap, afgeskaal –

is alles kosbaar van tydelikheid.

 

In die louter niks van tyd – onsigbaar, onhoorbaar –

om ons, in die om-vattende afwesigheid

 

is ons, soos ’n slak sonder skulp op die strand,

nogtans deurskynend bewus van ontvanklikheid:

 

daar is soveel lig in die lug rondom ons

en deurentyd is ons in geluid ingesluit:

 

in formasie vlieg honderd flaminke uit oor die see,

asof saamgeweef sweef meer as ’n duisend klein spreeus,

duik, vou en flap soos ’n gespikkelde soepel stuk lap,

en voor die son sak steek spierwit egrette teen die rooi af;

 

die see lispel en sis en borrel klein golfies

glad oor sy lip as die wind nog bly lê; met storm

en volmaan stoot kragtige deinings op uit ver dieptes

en berge van water stort donderend oor, die see is die see.

 

Alles te hoor en te sien gaan dadelik verby;

alles vergaan en ons klou om ’n vonk

te behou van wat vlietend vergly.

 

Die niks wat tyd is, is immers uiteindelik alles;

omdat ons hou en kan vashou is ons

in tyd niks en nogtans uiteindelik alles.

 

© Heilna du Plooy, 2020

 

 

 

Charl-Pierre Naudé. Alter ego (Stemgreep)

Tuesday, September 8th, 2020

ALTER EGO

Die trappe na die solder kan my nou nog verruk.
Waar rakke raaisels uit kindsdae span en die smal,
helder luik aan die ver ent se guillotine soms val
dat vere uit die skemer sak, en die skrik

als ’n oomblik laat skarrel, het ek weer
gestaan: geboë. Ou deure waardeur niemand stap
en verroeste rame wat nie sluit of klap nie
het eenkant gelê, kettings, reistasse wat verweer

in die geheue. Van nêrens het ’n bries gepluk
deur ’n jeugboek. By ’n vuurhoutjie se flenterlig
staar ’n skadu-gesig, vol skynroet, armoedig

na my terug uit ’n óú spieël, halfvergete.
‘Die solder spook,’ het Ma gesê. Ek moes so terugkeer
na onder, ’n half-swarte, vanuit die gewete.

[Uit: Charl-Pierre Naudé. Die nomadiese oomblik. Kaapstad: Tafelberg, 1995]

 

 

[Opname: Poetry International, Rotterdam 2000]

  •