Gedigte

Willem M. Roggeman. Palimpsest

Monday, September 28th, 2020

 

Palimpsest

 

Hij spreekt met doorgestreepte woorden.

Hij schept ander leven uit een sterfputje.

De grenzen van de nacht knipt hij weg.

Zo merkt hij hoe de nieuwe dag wijkt,

verbluft, verwonderd en onachtzaam

voor de uren die overal heen rennen.

 

Dan valt ergens een lijk uit een kast.

Bleek geworden levert de ambtenaar

gul zijn niets verklarend commentaar.

Zijn gezicht is een open boek,

een gesloten systeem, een valkuil

voor een zeventigjarige minister,

tuk op tegenstellingen, kauwend

op zijn binnensmonds gemompel

want van spreken is voortaan

geen sprake meer.

 

Met één pennentrek schrapt hij dit alles

waardoor het de schijn aanneemt

van iets anders.

 

© Willem M. Roggeman, 2020

 

Daniel Hugo. Antwoord aan Yeats

Sunday, September 27th, 2020

 

Antwoord aan Yeats

 

God guard me from those thoughts men think

In the mind alone;

He that sings a lasting song

Thinks in a marrow bone.

(“A prayer for old age”)

 

God bewaar my van gedagtes wat kom

uit die brein alleen;

die lied wat duur word bedink

diep in murg en been.

 

Maar wat is die brein dan anders as murg

deur beenskelet omring?

Ek vrees blokman Yeats se saag

wat senutergend sing.

 

© Daniel Hugo, 2020

 

 

Twee nuwe Stemgrepe: René Bohnen & Alfred Schaffer

Wednesday, September 23rd, 2020

Alfred Schaffer. ik had de auto langs de weg geparkeerd. Uit: N.P. van Wyk Louw 50.

René Bohnen. Onvas. Uit: N.P. van Wyk Louw 50.

Bester Meyer. Rewolusie, Lalie?

Monday, September 21st, 2020

 

 

 

 

Revolusie, Lalie?

 

my land is my lied

my ode vir nou

al uit die suide –

 

my energie

die dans van my hande –

al dansende ballerina

van wonde –

 

ek pleeg in oorleg

die daad van die dode

tot lewen(s)terwens-dag

se moorde –

 

my ministers pryk

noord van die grense

soos die

al-magtiges al uit die noorde:

gebind in naam om die kwadrant

van lokale verdowing en

ideologiese uiting – opnuut –

te vervolmaak

 

sodat een plus een

een kan bly

en twee – uiteraard –

van bed en tafel geskei.

 

en wat van die revolusie?

vra sy

met gebalde vuisies –

energieke bolletjies wind

wat soos

ʼn suiwer – Suid – Afrika

noord – waarts – paradeer

pas–makeer, La – lie, dá – nie?

 

© Bester Meyer, 2020

 

(Foto: Confucius: The Great Digest & Unwobbling Pivot -translated by Ezra Pound, Peter Owen Limited)

 

 

Drie nuwe Stemgrepe: Joan Hambidge & Gerard Scharn

Monday, September 21st, 2020

Joan Hambidge. “Ignatia bid vir orde”. Uit: Nomadiese sterre, Onvoltooid. N.P. van Wyk Louw 50.

Joan Hambidge. “N.P. van Wyk Louw (1906 – 1970)”. Uit: Lykdigte, Tafelberg, 2000; herdig: 2020.

Gerard Scharn. “Taal ontmaskerd”. N.P. van Wyk Louw 50.

Breyten Breytenbach. Biebie skryf ‘n gedig vir sy 81ste

Wednesday, September 16th, 2020

 

Biebie skryf ‘n gedig vir sy 81ste

 

as dit so moet aanhou

is ek een van die dae vol mondig

genoeg om wettiglik ‘n vuurwapen te gebruik

en sommer so wild in die kol te preek :

die gedig is ‘n skietding

 

grootbek is ek al van toeka se tyd :

party mense vergelyk my tereg

al vererg ek my ook

met ‘n pampoen altyd paraat

vir ‘n skeutjie suiker en ‘n vraat vir soene

 

maar dis nie waar nie : my suikersiekte

laat dit gin toe en as ek so van monddig praat

is dit soos ‘n haas met lippe aan die slaap

wat kwylend toekyk hoe bobbejane die pampoenland verniel :

 

dis nie te sê nie

 

ek sê my ou kameraad da agter die baar :

hoe lykkit met nog ‘n paar

jaar se doppieklink daar ?

 

(en maakit vi my maa ‘n dubbelloop seblief…)

 

 

herfspampoenvooraand, Uitland 2020

 

 

Avbob Poësiekompetisie. Derde Prys (Afrikaans). Hannes Visser

Monday, September 14th, 2020

 

Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)

 

pa, ek verjaar vandag, twee en sestig jaar nadat

jy my geboortehuis in Curriestraat gekoop het

en twee en vyftig jaar nadat hulle jou daardie

Woensdagnag op ’n wit trollie uitgehaas het

 

ek het nog één foto van die huis met sy bont

stoeptralies en hekke van gekrulde yster wat jy

oor naweke op die myn gesweis het, maar die

swart en wit versteek die helder kleure van toe

 

ek kan bladsye vol gedigte skryf oor jou, maar

sukkel my dood om te onthou hoe jy lyk, want ma

het mos met haar tweede keer in die waan van trou

teatraal een Saterdag vuur gemaak met alles van jou

 

ja, ek verjaar vandag twee en vyftig jaar nadat jy

by jou stoeptralies en ysterhekke verby en onder

flitsende rooi ligte onomkeerbaar verdwyn het en

elke jaar is daar meer en meer wat ek jou nog wou vra

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

 

 

Daniel Hugo. Twintig-twintig

Friday, September 11th, 2020

 

Twintig-twintig

 

agter dun maskers en luike

hou mense hul koes

in die strate dwaal die virus

met ’n droë hoes

 

binne draal onvoorsien ’n reuk:

koors en diarree

die noodlot – blind, kort van asem –

het ons buurt betree

 

sy voetstappe eggo dag ná dag

in die statistiek

ons tel die geliefde lyke:

som van ons paniek

 

© Daniel Hugo, 2020

 

 

  •