I
In 1970 was daar toevallig drie leerlinge saam in St. V aan die Primêre Skool Harrismith, en later ook aan Hoërskool Harrismith, wat elkeen uiteindelik minstens een digbundel sou publiseer. Ons Afrikaans-onderwyser was mnr. Boer Odendaal, wat ons geïnteresseerd gemaak het in die letterkunde, en veral in die lees van enkelgedigte. (Kyk ook my artikel “Die vergete dr. Z.J. Pretorius” op Versindaba, 7 Augustus 2009.)
Werner Vermeulen, ’n topleerling, tennisster en lewenslange vriend, kon Eugène N. Marais se “Winternag” reeds in die eerste kwartaal vlot voordra. Ek het instinktief aangevoel dat ek met groot poësie te doen het en dit het ’n vroeë waardering vir die genre by my gewek. Costa Georghiou, daarenteen, het by die huis die Hammond-elektriese orrel en Yamaha-vleuelklavier met fyn aanvoeling bespeel en sy tekeninge in die kunsklas het my eweneens beïndruk.
In St. VI het mev. Suzette van Niekerk ons Afrikaans onderrig, terwyl mev. E.R. (El) Bedford suster van die skrywer sir Laurens van der Post en moeder van die Springbokrugbyspeler Tommy Bedford was. (Kyk LitNet, 12 Februarie 2009.)
Werner en ek het voor in mev. Van Niekerk se klas gesit en haar, met haar kort rokkies en mooi bene, met bewondering dopgehou. Haar man, dr. Mike van Niekerk, was die distriksgeneesheer en het by verskeie geleenthede swart werkers op ons plaas kom behandel.
Enkele paragrawe wat ek onder mev. Van Niekerk se vier oë na aanleiding van P.J. Schoeman se jeugroman Jetwa – die buffelbul (1965) geskryf het en wat haar goedkeuring weggedra het, het my belangstelling in skryfwerk verder gestimuleer.
Werner het my aangemoedig om meer te lees en my woordeskat uit te brei. Ek het gevolglik gereeld die Carnegie-biblioteek langs die stadsaal in die middedorp begin besoek. Later sou Costa, met wie ek in St. VII goed bevriend geraak het, my aanmoedig om meer van die Sestigers se romans en digbundels te lees.
II
My eerste digbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), het redelik kort ná skool by Human & Rousseau verskyn. Verwysings na my jeugjare en die Noordoos-Vrystaat sou ’n deurlopende onderdeel van my skryfwerk bly, veral in bundels soos Palimpses (1987), Veldboek (2020) en Rietspruit (2025), en ek hoop om nog gedigte, prosa en niefiksie oor die Noordoos-Vrystaat te publiseer.
III
Ek en Costa André Georghiou het op skool ’n hegte vriendskap gehad. Ek het dikwels by hul “huis van die vier winde” in Greylingstraat op Harrismith gekom, waar daar altyd ’n gestadigde toevloei van besoekers was. Daar is ek aan hul Grieks-Cipriotiese leefwyse, kos en musiek blootgestel (kyk my gedig “Sondag” in Die somer is ’n dag oud). Deur Costa se toedoen het ek meer oor die Sestigers begin lees en kennis gemaak met Darwinisme en die evolusieteorie.

Costa se debuutbundel, Oblivium: A Journal of Love and Loss (2018), het by Naledi onder die skrywersnaam Constantine Georghiou verskyn. As diplomaat in die voormalige Departement van Buitelandse Sake het hy Suid-Afrika by missies in Hongkong, Griekeland en Suid-Korea verteenwoordig.
Ná jare as dosent in Internasionale Politiek aan die Vista-kampus in Soweto en later die Universiteit van Johannesburg het hy afgetree en woon hy tans weer op Harrismith. Ons mees onlangse ontmoeting was by die At Brooks-klubhuis van die rolbalklub op Harrismith, waar Costa rugby op die grootskerm kom kyk het.
In Oblivium skryf Costa oor die ervarings van ’n leeftyd, waarvan baie hul oorsprong, en as ’t ware ook hul finale bestemming, in Harrismith het.
Die bundel bestaan uit drie netjies geordende afdelings, naamlik “Juventus”, “Interregnum” en “Senectus”. In die eerste afdeling bring hy in “General Dealer” hulde aan sy vader, wat hom respek geleer het:
to give
the correct change
always show respect
never complain or forget
who gave us our daily bread
In “Longing” neem hy afskeid van sy moeder:
my leather pocket book lists your name
and the disconnected number I still call
In “Snapshots of Harrismith” kom verwysings na bekende plekke, mense en aktiwiteite in die dorp voor. Die jeugherinneringe bied egter geen nostalgiese blik nie en word getemper deur die ontdekking sowel as die verlies van liefde, asook die onontkombare werklikheid van die dood.
Die tweede afdeling, “Interregnum”, laat die leser kennis maak met die spreker se uiteenlopende liefdeservarings, die geboorte van sy twee kinders en ervarings as diplomaat op sowel formele as informele vlak, veral in die Ooste. Byna deurgaans is die estetiese ervaring van liefde teenwoordig, maar ook teleurstelling en ontreddering. Die volgende kort gedig gee iets hiervan weer:
POMEGRANATES
because you liked pomegranates
I tried to plant you a grove
but in the end broke open only one
to feed you its wounded fruit
seed for seed, skin for skin
until my hands were bleeding
Die slotafdeling, “Senectus”, het ’n sterk elegiese karakter. Die gedigte bied ’n blik op die verlies van familielede, ’n lewensmaat, die proses van ouer word en die bewustheid van verganklikheid, soos in die gedig “I Tear Pages”:
Still working daily for a wanting wage
wishing for lost dreams that cannot be
as one would at my age
Die gedigte getuig ook van ’n sterk historiese bewussyn, soos in “Ancestral Linkage”:
my hallway is lined with pictures
fierce ancestors looking down at me
the first ones are dull sepia tints
but I keep them hanging nevertheless
as if they grant me permission
to live in this temporary abode
to pass through the passage
step by step, generation for generation
Die gedig en die taal self word ’n belangrike medium waardeur emosie en melancholie uitdrukking vind. Soos dit in “A Cosmic Leap” gestel word, leef die mens binne “the warm awkward universe/ of human language and verse/ about our eternal multiverse”. Vir lesers wat Harrismith ken, met sy kenmerkende oostewind soos beskryf in “East Wind”, en sy besinning oor sterflikheid in “Cemetery”, is die aanwesige en veronderstelde landskap besonder herkenbaar.
IV
Werner Vermeulen, wat sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Welkom voltooi het, was ’n sterleerling en het reeds op ’n vroeë ouderdom provinsiale kleure vir tennis verwerf. As senior dosent in Ondernemingsbestuur het hy aan die Universiteit van die Vrystaat klas gegee. Sedert sy aftrede woon hy steeds in Bloemfontein en speel hy nog graag tennis en padel.

Werner se debuutbundel is getiteld Uit vergange se dae (Malherbe Uitgewers, 2026), ’n titel wat herinner aan die gewilde radioprogram van jare gelede op die Afrikaanse Diens van die SAUK. Sy gedigte getuig van ’n sterk nostalgie na ’n vervloë era.
Die gedigte handel oor plekke, dinge en mense waarmee die digter oor baie jare heen kennis gemaak het. Interessant is die opmerking in die inleiding: “Die bundel is so saamgestel dat lesers op die oop bladsye hul eie aantekeninge, stories, ervarings en onthoue kan neerpen.” ’n Aantal foto’s dra verder by tot die besondere stemming van die bundel.
Die bundel bestaan uit ses afdelings, naamlik “Plekke”, “Mense”, “Emosies”, “Familie”, “Liefde” en “Denke”. In die openingsgedig, “Reisiger”, word die digter se liefde vir reis verwoord:
’n Reisiger verstaan:
jy moet eers verdwaal om jou weg te baan,
want die reis is nie net ’n pad of ’n spoor nie –
dis die groei van die gees in stilte en tyd.
Reise word na verskillende plekke in Suider-Afrika en Europa onderneem. Dit is egter Suid-Afrikaanse landskappe en herinneringe aan mense wat die hooffokus vorm. In “Kiekies” is dit ou foto’s wat herinneringe lewendig hou, met hul “vreugde, hartseer en emosie”. In “Jeugvriend” word die jeugwêreld opgeroep as “ons woning/ langs die rivier, waar die water kabbel/ en die berge vir ons ’n horison bring”. In die gedig “Jeugvriendin” word die meisie met haar “sagte oë” en “glimlag” onthou. Ek wonder onwillekeurig of dit dieselfde meisie is op wie ons destyds albei ’n oog gehad het!
Vir my is die gedig “Viool” besonder treffend en tegnies geslaagd. Daarin word ’n viooluitvoering gevoelvol en beeldend beskryf.
Die bundel beklemtoon in “Leef in die hede” en “Momente” die belangrikheid daarvan om in die oomblik te leef, want “die toekoms sal kom, maar vir nou/ wees hier, voluit en geluksalig”, al sal die verlange na die “dae van herinneringe” (“Verlange”) bly voortbestaan. Deur kennis, “die wêreld van wete en verstaan” (“Kennis”), word die wêreld vir ons ontsluit. Binne hierdie denkraamwerk kan die digter ook die afskeid van sy ouers, soos verwoord in “Erfenis van ’n vader” en “Moeder”, met berusting aanvaar.
Een van die laaste gedigte in die bundel, “Die misterie van God”, handel oor “die misterie van God,/ ’n onopgeloste raaisel wat altyd sal bly”. Die waarde van musiek word besing in die gelyknamige gedig “Musiek”, terwyl die slotgedig, “Nalatenskap”, die vraag stel waarvoor die spreker onthou sal word en watter betekenis sy lewe uiteindelik sal hê.
V
Drie leerlinge uit dieselfde St. V- en St. VI-klas aan die Primêre en Hoërskool Harrismith het later elk minstens een digbundel gepubliseer. Al drie se digwerk getuig van die vormende invloed van jeugervarings en van Harrismith as geestelike tuiste. Die bundels verken temas soos liefde, verlies, identiteit, geskiedenis en sterflikheid. Gesamentlik vorm hierdie drie digters se oeuvre ‘n literêre nalatenskap wat uit gedeelde skoolervarings gegroei het.
© Johann Lodewyk Marais, 2026
