Een van die opwindenste projekte in Brittanje is die jaarlikse publikasie van The Forward book of poetry wat as oogmerk het om die beste gedigte wat in ‘n bepaalde jaar in Engels verskyn het, byeen te bring. So het die 2010-uitgawe enkele weke gelede in die boekwinkels gearriveer en inderdaad is dit ‘n besonderse publikasie aangesien verlede jaar beslis ‘n blomjaar vir die Britse digkuns was. Gedigte van hul vernaamste digters, sowel as nuwelingdigters, is hierin opgeneem.
Die beoordelaars vir die drie Forward-pryse, wat dus ook die samestellers van dié publikasie is, het die bloemlesing soos met vorige uitgawes ingedeel volgens die kategorieë waarin die beoordeling plaasgevind het, naamlik beste digbundel van die jaar, beste debuutbundel en beste gedig, gevolg deur 70 “hoogs aanbevole” gedigte deur ‘n verskeidenheid digters.
As sulks is The Forward book of poetry waarskynlik die suiwerste aanduiding van die stand van Britse digkuns wat jy te lese kan kry.
Onder die digters wat vir die beste bundel van die jaar genomineer is, tel literêre reuse soos Don Paterson (wat uiteindelik as wenner aangekondig is), asook Glyn Maxwell, Sharon Olds, Peter Porter, Chrisopher Reid (wat intussen die Costa-prys vir poësie gewen het) en Hugo Williams.
As toegif plaas ek vanoggend die titelgedig uit Don Paterson se bekroonde bundel Rain (2009: Faber & Faber) heel onder.
Die besonderhede van die boek is soos volg:
TITEL: The Forward book of poetry, 2010
SAMESTELLERS: Josephine Hart, et al
UITGEWER: Forward, London
ISBN: 978 0571 2536 30
PRYS: R150.00
***
Vanoggend lê die eerste wisselkaart, wat deur Luuk Gruwez gespeel is, op die tafel. Hierdie eerste aflewering van ons nuwe projek is ‘n bespreking van Leo Vroman se nuutste digbundel, Soms is alles eeuwig. Verdermeer kan jy Ian Raper se toespraak, wat verlede jaar tydens die bekendstelling van Lucie Möller se bundel, Watermerke, gelewer is, lees. In die vertaalkamers is daar verskeie toevoegings soos die heerlike gedig van Peter Holvoet-Hanssen wat deur Charl-Pierre Naudé vertaal is, asook gedigte van Yannis Ritsos en Sylvia Plath wat deur Johann de Lange vertaal is.
***
Dan is dit vandag Hans du Plessis se verjaarsdag. Hans is uiteraard bekend vir sy gedigte wat geskryf is in die Griekwa-dialek en as sulks een van die mees geliefde en gewaardeerde digters in Afrikaans. Veels geluk, Hans. Mag dié jaar vir jou ‘n blomjaar wees.
Nou ja, toe. Die naweek is op hande. Gebruik dus die geleentheid om ietsie oor jou eerste swig voor die sjarme van poësie te skryf en na die Brieweboks te stuur. Die tyd raak min, want volgende maand is daar ‘n nuwe tema met nog ‘n kompetisie wat wag …
Geniet die naweek. Nuuswekker hervat Maandag weer.
Mooi bly.
LE
Rain
Don Patterson
I love all films that start with rain:
rain, braiding a windowpane
or darkening a hung-out dress
or streaming down her upturned face;
one long thundering downpour
right through the empty script and score
before the act, before the blame,
before the lens pulls through the frame
to where the woman sits alone
beside a silent telephone
or the dress lies ruined on the grass
or the girl walks off the overpass,
and all things flow out from that source
along their fatal watercourse.
However bad or overlong
such a film can do no wrong,
so when his native twang shows through
or when the boom dips into view
or when her speech starts to betray
its adaptation from the play,
I think to when we opened cold
on a rain-dark gutter, running gold
with the neon of a drugstore sign,
and I’d read into its blazing line:
forget the ink, the milk, the blood-
all was washed clean with the flood
we rose up from the falling waters
the fallen rain’s own sons and daughters
and none of this, none of this matters.
(c) Don Paterson (Uit: Rain, 2009: Faber & Faber)