NUUSVRYSTELLING: TUIN VAN DIGTERS 2020 SE PROGRAM
__________________________________________________
Kom sluit oop die grendels en slotte by die Tuin van Digters in Wellington op 27, 28 en 29 November 2020
__________________________________________________
Die huldiging van die Afrikaanse digter en vertaler Daniel Hugo, die voortsetting van die impak van Ampie Coetzee op die Afrikaanse letterkunde, die belangrikheid van vertaling van Afrikaanse digbundels, gesprekke met nuwe jong opkomende digters, die inspirerende kombinasie van Afrikaanse poësie en musiek, die bekendstelling van en gesprekke met nog onontdekte digters in Afrikaans, en ’n stylvolle haikoebundel en die Ingrid Jonker-pryswenner.
Dit is wat onder meer wag op liefhebbers van die Afrikaanse digkuns wanneer die negende Tuin van Digters-fees, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, op 27, 28 en 29 November 2020 in samewerking met NB Uitgewers en met Dagbreek Tust as die hoofborg by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind.
Tuin van Digters 2020 sou op 18 en 19 September plaasvind, maar is weens die coronavirus se regulasies uitgestel.
Afhangende van die Covid-regulasies wat moontlik kan geld, sal sekere programitems moontlik virtueel aangebied word en aanlyn gevolg kan word, of opgeneem word en later aanlyn beskikbaar wees. Besonderhede daaroor sal op die Breytenbach Sentrum se Facebookblad en webblad aangekondig word.
Die tema van Tuin van Digters 2020 is grendels slotte sleutels na aanleiding van die coronaregulasies en met verwysing na NP van Wyk Louw se woorde in sy eerste reël van Tristia, XIVb: “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:”
Ontgrendel. Soek die sin. Die sleutel vir jou slot. In woorde. In die natuur. In die kuns. In musiek. In wyn. In saamwees. In saamklink. In saampraat. In jou kop. In ’n anderkop. In diepdink. In saamdink. In digdink. In hiér wees. In die woorde van Breyten Breytenbach: “In die moment van nou”.
Daar is meer as 20 items in die program wat die volgende insluit:
- Die huldiging van Daniel Hugo, digter, woordmeester, vertaler, redakteur, keurder, proefleser en vele meer, wat op 26 Februarie sy 65ste verjaardag gevier het en reeds meer as 40 jaar deel van die Afrikaanse literêre wêreld is. Dit vind Vrydag 27 November om 19:00 plaas.
- Die Ingrid Jonker-prys – is dit ‘n belemmering of ’n aanmoediging vir debuutdigters?
- ‘n Gesprek deur Finuala Dowling , ‘n vorige wenner van die prys, met Saaleha Idrees Bamjee, wat vanjaar die Ingrid Jonker-prys vir Engelse poësie ontvang het.
- ‘n Gesprek deur Andries Bezuidenhout met Churchil Naudé oor sy nuwe digbundel, Drol inni drinkwater.
- Twee nuwelinge wat vanjaar gedebuteer het, Lynthia Julius (uit die kroes) en Ryan Pedro (pienk ceramic-hondjies) en Jolyn Phillips wie se tweede bundel (bientang) ook vanjaar verskyn het, gesels met Alfred Schaffer.
- Die bekendstelling van Stipstaar, die haikoebundel van Gerard Scholtz, skrywer, boekeredakteur van Dekat, televisie-aanbieder en wêreldreisiger,
- Die amptelike bekendstelling van Ons Klyntji, ’n alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer.
- Voorlesings deur protesdigter Diana Ferrus se kreatiewe Mengelmoesdigters, wat by die Breytenbach Sentrum ontstaan het, sowel as die bekendmaking van die Moedertong-projek wat in die inperkingstyd ‘n kreatiewe platform vir opkomende nuwe skrywers en digters geskep het.
- Die musiekgroep Tribal Echo Trio vertolk verskeie van Daniel Hugo se gedigte met nuwe toonsettings wat deur Frazer Barry geskep is.
- Kom kyk en luister hoe verse vir laerskoolkinders interaktief ‘n wonderwêreld kan ontsluit.
- ‘n Uitstalling deur NB Uitgewers van ‘n aantal digbundels en ander publikasies wat in Kaaps-Afrikaans verskyn het.
- Feeskunstenaar Estelle Marais se landskapskilderye van die wye Groot Karoo, met die ander kunstenaars Sandra Hanekom, Joubert Stander en Jacques Dhont. Die groepuitstalling word Vrydag 27 November om 18:00 deur die kunsskrywer en kunshistorikus, Elza Miles, in die Breytenbach Galery geopen.
Die doel van die Breytenbach Sentrum, in samewerking met deelnemende digters, uitgewers, ’n gevestigde skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans, ’n borg soos die Dagbreek Trust en ondersteuning die vogende drie jaar deur NB Uitgewers, bly steeds om die Tuin van Digters die geleentheid te maak waar Afrikaanse digkuns en digters op allerlei wyses en vorme en op alle vlakke gekoester word. Terselfdertyd ook ’n plek waar elkeen en almal van alle tale en groepe welkom is om binne hierdie konteks by mekaar en vir mekaar te leer en blootstelling te kry aan dit wat nuut en anders en die toekoms van die taal is.
Die volledige program en besonderhede oor Tuin van Digters 2020 is op die Breytenbach Sentrum se webblad (www.breytenbachsentrum.co.za) en die Facebookblad beskikbaar.
‘n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar en kan bespreek word by Jeanne-Mari Gerber by 021 873 2786, 073 435 1022 of besprekings@breytenbachsentrum.co.za.
Toegangskaartjies kos R150 per persoon vir Vrydag 27 November, R250 vir Saterdag 28 Februarie en R120 per persoon vir Sondag 29 November. ‘n Tweedagpakket vir Vrydag en Saterdag kos R320 per persoon. Studente met ‘n geldige studentekaart betaal R60 per persoon en opbetaalde lede van PEN Afrikaans het gratis toegang.
UITGEREIK DEUR:
Francois Lötter
Uitvoerende direkteur en feesorganiseerder
Breytenbach Kultuursentrum
francois@breytenbachsentrum.co.za
021 873 2786 of 083 408 1902
Uitgereik 6 November 2020: