Resensie: Swatland (Ashwin Arendse)

 

 

 

Swatland deur Ashwin Arendse. Kwela Boeke, 2021. ISBN: 978-0-7957-1007-0

Resensie: Louise Viljoen

 

Swatland is die opwindende pennevrug van debuutdigter Ashwin Arendse – en wat ’n absolute heerlike vonds is hy nie! Dié jongeling uit Malmesbury se geweste oorrompel lesers in sê-dit-soos-dit-is-Kaaps met ’n volronde skeut Swartlandse bry daarby. Hy gebruik dan ook die geromaniseerde ghaynsimbool (voorgestel as “ġ” in die teks) uit Arabiese Afrikaans om die lekker-op-die-oor bryklank skriftelik uit te beeld. Hierdie vernuwende aanslag verleen ’n geanimeerde effek aan die taal en ’n eiesoortige stem aan die verteller en sy karakters.

Arendse se gedigte ontplof in klank en kleur soos kortfilms. Hy neem nie net as toeskouer ruimtes en karakters fyn waar en verbeeld dit digterlik nie; hy is ook onlosmaaklik deel van die gebeure en verwoord grepe uit die lewe van die Swartlandse bruin gemeenskap waar hy grootgeword het deur beeldryke kontraste en vergelykings te skep. Die narratiewe struktuur van sy gedigte bied ruimte vir lang stories maak, maar hy skryf met ’n intuïtiewe aanvoeling vir spaarsamigheid – gestroop, ja, maar allermins terughoudend. Die gedigte sê wat dit moet en sóveel meer, maar altyd in ’n baldadige en bedrieglike eenvoud wat onverwags sekuur tref en die leser tegelyk asemloos en denkend laat. Hiérin lê die digter se sjarme – onskuld gemeng met die siniese en lakoniese, fyn galgehumor om pyn en onreg in voorgegeede ongeërgdheid te verpak en sosiale kommentaar wat die gewete uitdaag en die leser soms selfs ongemaklik laat.

Hierdie digter wéét waar sy wortels lê. Hy het my uit die staanspoor uit om sy pinkie gedraai met “Liberty Life”, die heel eerste gedig in dié bundel wat 27 verhalende gedigte en 63 bladsye beslaan. Hy skryf van sy versugting om sy “anties en uncles”, te help om skuldvry “innie black” te lewe. Hy reken hy sou dit kon doen as hy in sy slaap doodgaan – Sag en sône pyn, van natural causes. / Soedat ie polis ytbetaal en my tanie / narie funeġal mette smile bank toe kan stap. Hierdie gedig omsluit die band wat Arendse met sy mense het. “Ek sal met niks mee en niks minner deurie liewe wou gannie” (62), skryf hy in die Bedankings waar hy erkenning gee aan sy ma, oupa, oumas, Uncle Fanie, Franique en Nicole, en die famile.” In die laaste versreëls beklemtoon hy dié noue verbintenis en dus ondersteuningsnetwerk só: Met bġoes en sustes / op wie se skoue sy kan hyl / wanne sy oppe dag haa laitie mis.

In “Ndodas” (13) dig hy: Ek’t my befokste Quicksilver sweaters en / my witste Adidas in my blou Karrimor gepak. / Dai wassie pêtch, / soedat nieman kan suspect / dat ek ’n tôpie het wat somewhere ytgepass lê / mettie lollie langs hom ie. In hierdie gedig dien die handelsmerke as skans om agter te skuil en ’n front om voor te hou tydens ’n pa-en-seun-kamp. Maar in “Boerentwinnag” (19) skryf hy: Hy wys na my niewe Bad Boy T-shirt / wat my ma my gekoep het. / Hy sê, “Ons is broese, ek is ook ’n Bad Boy.”/ Hy voel vir ’n sekonde hys deel van ôs en vġa / of ôsie vi hom ’n vyf-randjie hettie. / Bentley isse dalarot soe hy jag ie man weg / soese hond, “March, jou stink ding!” Hier bied die handelsmerk duidelik nie dieselfde kamoeflering nie, want die man het “ytgebleikte witmanbiene” en Ienagge below-average wit mens wôd Whitey gedoep / as hy sy voet innie benk sit. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen “hulle” en “ons” en dit (die “hulle”) het my laat dink aan familielede wat soos kat en hond onderling baklei, maar onwrikbaar saamstaan wanneer een van hullle van buite bedreig word.

Die interessante wisselwerking tussen bruin en wit verwoord hy ook in verdere gedigte. In “Blou ġobot” (10) skryf hy só oor ’n wit bergie: Ek sallie stġy nie, ek’t nog nooit soe / ’n hartsee gevrietjie gesienie. […] En: As ek soe ’n wasted wit liewe sien, / sien ek nette mens / wat KFC koep / en ees ie Colonel / se hele secret recipe aftġek / en weggooi voo hy die hoene iet. / Ek sien ieman wat tyd het om vel te mos. En in “Swatland” (28), die gedig waaraan die titel van die bundel ontneem is, dig hy oor “laities” wat op ’n “Sondagmarrag” afsit “narie public pool toe”. Op pad terug … gooi ôs man-man / ’n paa klippe oppie wit mense se dakke / om sieke te maak hulle hoefie heeldag / verveeld te sit onnerie aircon ie. / As hulle ytkô, slat ôse gat terwyl hulle ġaas en skġie dat ôs / tġug moet fokof na ôs kant vannie bġug toe. Hulle is genoodsaak om dan ’n “anne route vir nex wiek” te beplan, want, en hy sluit die gedig af: … wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie / en vegiewe oekie maklik ie.

Arendse skroom nie om diep te delf en oor persoonlike sake te dig nie. Hy skryf moeiteloos afstandelik én intiem sonder om in sentimentaliteit te verval. Hy dig in “Chocolat” (44): “Ôs ammel wiet ôs lieg vi mekaar, / maa asse mens reg lyste / na ’n laitie se kakpġaat kan jy sien / watte mens hy innie toekoms gat wies.” Dan dig hy in “Ytġafel” (47): “Ek dink hoe die kakpġaat wat man soe lat lag / nie so funny is as jy by jouself sittie” en “Jy besef jy skommel te veel. / Is miskien hoekô jy so lieg voel.” In “Is altyd lente in Stellenbosch” (52) staan: “Ek deal met disappointment dieselle way ek deal / met as ek innie kak tġap met my niewe tekkies. / Ek gan staan oppie gġoen gġassies / en vie my tekkie skoon, en dan dink ekkie vêder oorit ie.”

Hy dig oor die alledaagse (bv. ’n rugbyderby, ’n krieketwedstryd, ’n dag alleen by die huis) maar ook oor sosiale en maatskaplike kwessies in sy gemeenskap soos armoede, drank- en dwelmmisbruik, geweld en permissiwiteit, ens. Hier lig hy weer eens dít wat hy waarneem uit – bv. twee oumense wat in die straat baklei oor ’n SASSA-kaart, ’n seun wat ’n onderwyser aanrand in die klas, ’n meisie wat hoop dat ten minste een van haar drie kinders se pa’s dié maand onderhoud sal betaal.

Daar is sóveel meer in die diep kuil wat Swatland is te ontdek as net die oppervlakte wat ek hier bo so effens laat rimpel het. Arendse se verhalende verse oor bv. seks en verhoudings (intiem en andersins), die dinamika (of gebrek daaraan) tussen wit en swart, sy ervaringe as student – ál hierdie temas en nog meer verdien ’n nadere kyk. Dis ’n bundel wat meer as een keer se lees eis. Dis ’n bundel gepen deur ’n jong man wat na die lewe kyk deur die oë van ’n ou, ontnugterde siel wat al alles gesien (en moontlik ervaar) het.

Meer oor die digter: Ashwin Arendse is ’n digter, akteur en dramaturg. Hy het in Malmesbury grootgeword, gematrikuleer by Schoonspruit Sekondêre Skool, en daarna drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch. In 2020 het hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfkuns met ’n fokus op Kaaps aan Rhodes behaal.

 

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.