Bont daisies
tydens jou sterwensuur
moes ek my seerkry sluk –
en ter wille van jou
‘n glimlag toor op my gesig
Stil luister hoe die biep
van masjiene verflou
terwyl skadu’s
dan in jou oë hurk
en jy vir oulaas
jou koebaai
in morsekode sein,
moes ek aan my
smart herkou
jou los om saam
met die engele
te wals
later sal ek my afskeid
in eensaamheid
daar in die woestyn
se duine toeverf
en weet ek vir seker
dat jou naam steeds
op helder sonskyndae
die horison
tussen bont daisies
sal vlek
© Anzé Bezuidenhout 2026

Ongelooflik hartseer en besonder mooi.
Baie dankie Christa ek waardeer jou saamvoel