Doeblet
Vir Gerrit Olivier
Jy het graag in die messelaai vertoef:
aserbies, op die punt af, fyn stilis …
dít sou mens alles van jou kon sê.
In die laaste rubrieke in Binne+Land
keer jy terug na jou komvandaan:
‘n afskeid van die ruimtelike jeug.
Roerend skryf jy oor jou ou pa:
‘n dubbelloop-portret, ‘n stet?
Jungiaans, gelees, ek hoor jou lag,
besig met ‘n afskeid én vertrek.
Verlies vir algar aan ‘n polemis,
‘n woordskerpskutter, ‘n kritikus.
Op die deurpad na die anderkant,
sal ons deurtentyd, veral die uwe,
deurdronge kritieke nie verbrand.
© Joan Hambidge, 2026
