Geskil
Die vrou pluk ‘n pampoen
in haar groentetuin, kaalvoet.
Agter haar lê haar man
in die bodem van die aarde
onder ’n vars hoop grond.
’n Nuut geplante boom
by sy kop.
Die vrou pluk ‘n boepens pampoen
vol broeiende pitte. So rondryp,
so geswel, dink sy,
terwyl haar drie kinders
tussen die pampoenkleurmure
van die plaashuis speel.
Sy sit die soliede pampoen
in haar motor en laai dit
by die witgekalkte huisie
teen die draai af.
Met ’n latere verbyrit
lê die pampoen grimmig
in stukke gekap
in die plaaspad
soos ’n oranje son
op die horison.
Sy kyk na haar horlosie.
16 September.
Haar grond
nog op haar naam.
© Marthé McLoud, 2026
