I
Wind
Daar is geen geluid hier binne nie,
die geluid is alles buite.
Hier binne is net
die ontstuimige stomspel
van wintersonlig en skaduwees
wat wind mimeer teen ‘n muur.
So dig Sheila Cussons in Die woedende brood. Dit het in 1981 verskyn.
Die woord mimeer (uit die Frans mimer met ‘n akteur wat deur gebare kommunikeer).
Alle Kapenaars het die afgelope week ‘n windstorm beleef wat ongelooflike onrus en insomnia tot gevolg gehad het.
In hierdie klein gedig word die geluidloosheid van pyn beskryf: ontstuimige stomspel.
In hierdie storm week is daar ‘n gesprek met Dominique Botha oor haar boek Die huilende bruid & ander versinsels. Die Engelse weergawe se titel is The Crying Bride & Other Hallucinations. Uitgegee deur Painted Dog Press. Die gesprek met Dele Olojede was ‘n belewenis op meer as een vlak. Oor die skryf van so ‘n meesleurende boek wat verskillende tekste huisves oor jare. Sommige ken ons uit die Vrye Weekblad.
Herinneringsteks, weifelend tussen fiksie en werklikheid, die beskrywing van die plaaslewe in die Vrystaat teenoor ‘n bestaan in die Wes-Kaap.
Reise na ander streke ook.
Toe dit by vraetyd kom, maak ek my stem dik. Die geleentheid was só beeldskoon. Ons wil nie een of ander opdringerige (indringerige) vraag nou aanhoor nie. Dit sal alles net bederf.
II
Cussons se gedig sluit by Botha se belewenis van daardie stomspel.
Sowel Cussons as Botha het ‘n broer aan die dood afgestaan. Albei skryf vlot in Engels en Afrikaans.
In Donkerberg / Bloodwood (2021) is hierdie aangrypende lykdig gepubliseer:
die kind wat geen perke geken het nie
jou broertjies en susters was so hartseer
soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal
pa het in sy bakkie gesit en rook
ma het die goedkoopste kis gekies
om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie
jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïese vreugdes
onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil
op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm
het ons gelag vir die porra
die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oë
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword
die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het
met ’n mandje vol eiers en vere en skyt
om meel deur die sif te mors
niemand woon meer daar nie
die vlei fluister deur die gange
uile staan wag op niks
jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste
was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer
ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus
en dronk op jou graf gedans
’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte
wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil
ons strydros wat stotterend
weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep
*
Hierdie aangrypende treurvers het ook ‘n politieke dimensie met ‘n verwysing na die “volkies”. Dis hoe mense toé gepraat het en die Portugees is ‘n “porra” genoem. Hierdie outentisiteit maak die vers skerp.
Die volgende aktiveer die toestand van die eens idilliese plaaslewe teenoor die huidige bestel:
niemand woon meer daar nie
die vlei fluister deur die gange
uile staan wag op niks
Die beskrywing van die broer is eweneens tersaaklik:
die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oë
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword
Hý was die ster, die een wat gedigte geskryf het en sy dood is hierom ‘n enorme skok vir almal, ofskoon sy eksperimente met dwelms gevaarlik was.
Sy suster, Dominique, neem nou sy plek in as digter én romanskrywer. En in haar jongste versameling neem sy dit vérder waar sy skryf oor die skryfdaad in al die geledinge.
Dit weerspreek al die woekerye en kritiek dat haar teks te swoel en woordoordadig is.
Dit is hoe sy skryf. Valsrivier is en bly ‘n baken in die romankuns.
Hier is ‘n Engelse gedig:
northern orange free state
paul botha, july 1987
come with me
to the bareback veld
along numb horizons the wind has
blown for days blown
blackening the trees between
emptying mielie fields geese are
breaking white beating
a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing
of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing
erode the landscape into obscurity numbing
horizons as it combs the sand
across my huddled landscape:
come
come with me
to the bareback veld
where the wind will distilling, blow
you into me
me into you
https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=dominique+botha Besoek 6 September 2026
III
‘n Vers van Cussons in Engels en oorspronklik in Afrikaans:
Covered Nude
A blaze I bear
between my blood and the world
more mine, more uniquely me than anything
a sans-name
of which to shear
would be my slaughter:
oh unbearable, tender,
defenceless shirt of flame.
Hierdie vertaling van Cussons se gedig wys op ‘n belangrike aspek van haar digkuns. In Engels kry dit ‘n nuwe lewe. Hierdie leser verkies die Afrikaanse een.
Bedekte naak
‘n Gloed dra ek
tussen die wêreld en my bloed
meer myne, meer eie aan my as enigiets
‘n sonder-naam
wat, om te vernietig
sou wees vernietiging van my:
o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.
Onderaan hierdie gedig in die Versamelde gedigte van Cussons, staan hierdie vers vir haar broer:
Vir André
Dit is die eerste-Mei –
ek stut my arm op my knie
my boek pols in my hand
in daardie ander waarheid
land waarvan mý vol are my nog skei,
onverbeelbaar nou verjaar jy.
Ook ‘n gesprek met Van Wyk Louw in Tristia se “Mei-fees in Amsterdam”.
Uit: Die swart kombuis (1978).
Joan Hambidge
Kaapstad
7 September 2026
