
Oop gesprek – Joan Hambidge op 70
Nini Bennett-Moll:
Joan, baie dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud. Tydens jou sewentigste verjaardagvierige by die Tuin van Digters het Karen de Wet in haar huldigingsrede jou bydrae as gerekende intellektueel, akademikus, digter, skrywer, teoretikus en kritikus (die lys is lank en genuanseerd), in die kollig geplaas. Wat is jou belewenis van hierdie erkenning? https://www.litnet.co.za/oop-boek-joan-hambidge-op-70/
Joan Hambidge:
Dit was ‘n besondere geleentheid om Karen de Wet aan te hoor wat die keuse gemaak het uit Amberkamer. Nina Swart het die gedigte gelees en Laurinda Hofmeyr het twee verse getoonset en gespeel.
Hierdie konsert versoen alles: die digkuns, die stem en my liefde vir musiek (en opera).
Die Tuin van digters met André en Bibi Slippers se insette moet erken word.
Die konsert kan beluister word op Skrywers en Boeke.
Karen verdien ‘n Oscar.
NB-M:
En steeds op 70, met so ‘n enorme oeuvre as digter, skrywer, kritikus e.d.m. agter jou: hoe kyk jy terug op die matriks van so ’n produktiewe lewe? Wat voel jy is die rooi draad wat alles saambind?
JH:
Teorie voed die skryfproses. Die soeke na perfeksie, die soeke na die Onsigbare wat alles verbind en sluit.
NB-M:
“Amberkamer” bevat ’n keur uit jou 14 digbundels wat ná 2000 gepubliseer is, saamgestel deur Karen de Wet, en die bundel het ook onlangs verskyn as deel van jou verjaardagvieringe. Hoe voel jy oor die samestelling; hoe reflekteer dit byvoorbeeld op jou oeuvre, en dink jy dat daar ’n keur van jou gedigte wat voor 2000 verskyn het, in die pyplyn mog wees? Hoe vergelyk dit met vorige antologieë soos “Die buigsaamheid van verdriet: ’n honderd of wat gedigte van Joan Hambidge” (2004), en “The coroner’s wife: poems in translation” (2018)?
JH:
Karen se keuse is perfek. Sy het myns insiens daarop gewys dat die gedigte transformeer en wanneer dit in ‘n antologie beland, ander betekenisse oproep.
Die ars poetica is soms ekfrastiese vers; ander kere lykdig; dan weer reisgedig.
Elke antologie wys op ‘n tydvak en keuse van die bloemleser. Die buigsaamheid van verdriet was hoofsaaklik myne. The coroner’s wife met die insette van die vertalers en die uitgewer Michèle Betty van Dryad Press.
NB-M:
“Asindeton” het die AVBOB-Johann de Lange-prys ontvang (hartlik geluk hiermee). Wat beteken hierdie bundel vir jou binne die groter geheel van jou oeuvre? Sou jy die bundel (en bekroning) boekmerk as ’n soort bestekopname, ’n nuwe wending, of iets heeltemal anders?
JH:
Om die AVBOB-Johann de Lange-prys te ontvang is méér as ‘n bekroning.
Dit word ook ‘n erkenning aan Johann se werk as mentor, eindredakteur vir AVBOB se digkunsprojek, stipleser en briljante digter.
Ons het bundels deur die jare aan mekaar opgedra in ‘n durende gesprek oor die digkuns. Ons het oor vele aspekte van die lewe verskil, maar was eensgesind oor die digkuns en wat dit eis. Oor die belangrikheid van Tristia en Sheila Cussons steeds en hoe verdwene digters terugkeer en steeds met ons bly praat. Ek dink hier aan Olga Kirsch en hoe ‘n mens eers die werklike impak van ‘n mens en digter kan inskat ná die dood.
Ek is so dankbaar dat hý Asindeton gelees het voor sy dood.
In ‘n e-pos aan my:
From: Johann de Lange <johnnypanic666@gmail.com>
Sent: Wednesday, 18 December 2024 21:05
To: Joan Hambidge <joan.hambidge@uct.ac.za>
Joan, dit is een van jou mees gerealiseerde, argitektoniese bundels met fyn afgewerkte verse waarin jy verder en dieper in jou bekende temas inkyk en oordink. ’n Werklik pragtige werk wat mens met plesier lees. Laatwerk in die beste sin van die woord.
Veel liefs,
Jxxx
En dis wat hy was vir my: ‘n mentor.
Wederwoord
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, is die lewe grou.
‘n Matisse-afdruk in ‘n gastehuis ontvou
vele laatnag-gesprekke oor die ander oord.
Jy het weggegaan en bewoon ‘n herberg nou
tussen die vele sterre allengs deur jou verwoord.
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, bly die lewe grou.
In hierdie elegie klein besing ons steeds, veral ek:
jou as die meester uitsonderlik van die kriptiek.
© Joan Hambidge
NB-M:
Joan, jy het 5 jaar gelede afgetree, maar is steeds aktief as buitengewone professor by die Universiteit van Kaapstad; ook beskik jy oor ’n besondere werksvermoë. Die reeks aktiwiteite waarmee jy besig is, is verbysterend: resensies, openbare optredes, nuwe publikasies, soos ’n roman en digbundel wat later vanjaar verskyn, om enkeles te noem. Jy het byvoorbeeld reeds 165 aflewerings in jou reeks literêre artikels op “Versindaba” gepubliseer. Vertel ons gerus meer?
JH:
Ek dink ‘n mens lewer jou beste werk ná 60. In die VSA en Rusland, o.a. tree professore nie af nie. Hulle bly werk en lewer insette.
Ek begelei tans aan die Universiteit van Stellenbosch 3 PhD’s in kreatiewe skryfwerk. Uitsonderlike romanskrywers wat my weer terugneem na die klassieke romans van Nabokov, Fowles, Bellow, Roth, Byatt, o.a.
Ook is ek die studieleier vir ‘n akademiese PhD oor ontydigheid in die letterkunde. Eugène N. Marais, Peter Blum, Etienne Leroux, Marlene van Niekerk.
Al vier hierdie briljante en uiteenlopende studente hou my op my tone met vrae en weeklikse toesendings. Deur hulle bydraes en vrae word ek jonk gehou.
Ek probeer vir elkeen gee wat hy of sy behoef. ‘n Film, ‘n boek, ‘n roman, of watookal.
Jy skryf ook wanneer jy nie skryf nie, is my mantra.
NB-M:
Jou vriendskap met die digter, Johann de Lange was welbekend, en talle gedigte tussen jou en JdL getuig dan ook van die simbiose van twee digterlike bewussyne wat mekaar voed, op mekaar inspeel, ensovoort. Wat se effek het Johann se vertrek op jou digterskap?
JH:
Die dood van ‘n mentor, vriend, gespreksgenoot is enorm. Ek en Johann Lodewyk Marais het hierom In memoriam Johann de Lange gepubliseer om die digkuns en lewe van JdL op te som. In my gedigte kan die impak gesien word.
NB-M:
Jy dra twee horlosies en kan ’n vreemdeling se karakter in ’n japtrap opsom deur so ‘n persoon se hande te bekyk. Wat se ander, tipiese, persoonlike Hambidge-idiosinkrasieë is daar waarvan die lesers nie bewus is nie? Vertel asseblief meer.
JH:
Ek het ‘n versameling horlosies ja, en die twee horlosies is gewoon om my te herinner aan die kortstondigheid van die lewe. Op die voorblad van Asindeton staan daar ook ‘n horlosie.
Alles staan opgeteken in hande. Ek het ‘n hele versameling boeke oor hande en met ‘n besoek aan Harvard een gekoop by ‘n boekwinkel.
Persoonlike Hambidge-idiosinkrasieë?
Ek is ‘n opera-liefhebber. Sangstemme bekoor my. Anne-Sofie von Otter, Fritz Wunderlich, Marilyn Horne …
Drink goeie whisky’s. Kyk goeie films: Bergman, Pasolini, Fellini, Kubrick, Hitchcock … ek het meer as 500 films in my besit.
En ek gaan gym toe.
‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde sin vir humor, nie waar nie?
NB-M:
Sedert jou geboorte op 11 September 1956: die nuuskierige leerder wat gewigtige tekste in die biblioteek gelees het; die akademiese uitskieter op skool en US – ook deel van Opperman se Letterkundige Laboratorium; die jong hoogleraar en latere vise-dekaan, akademikus, digter, literator, e.dm: vir ’n buitestander lyk dit of die sterre so belyn was en die weg gebaan het vir die mens en fenomeen, Joan Hambidge. Dalk (o.m) ’n soort trajek van predestinasie, en uiteraard meer; die nomadiese sterre het só byeen gekom. Wat is jou kommentaar hierop – en waar sien jy jouself oor 10, 20, of meer jaar?
JH:
Hierop kan ek nie antwoord nie. Behalwe dat ek my ouers bedank vir hul sorg. My moeder wat my elke oggend uit die bed gehaal en Duitse huiswerk laat doen het. Ek was ‘n kindjie met ‘n sterk verbeelding en sy moes my in toom hou. En dan ook my sibbe en my familie met wie ek steeds verbind is.
Ek hoop ek het oor tien jaar Italiaans en Spaans onder die knie.
Ek lees elke dag grammatika-boeke. Soos tale verander (en transformeer), verander ons ook.
NB-M:
As jy moet kies: wat is die een ding wat jy graag wil hê lesers (en veral jonger digters) moet onthou of saamneem uit jou oeuvre en jou voorbeeld as skrywer?
JH:
Daar is geen digters nie, net ‘n digkuns. Die proses is groter as jy. So het Neruda en Cussons ons geleer.
NB-M:
Jy is al dekades lank ’n skerp literêre kritikus en mentor. Hoe sien jy die toestand van die Afrikaanse letterkunde vandag – en watter rol speel kritiek en mentorskap steeds in jou lewe?
JH:
Ons staan nog steeds te na aan die nou.
Dis goed dat daar soveel nuwe digters gepubliseer word.
Ek mentor vele jong digters. Gee ook raad agter die skerms.
Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Joan!
