Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Bibi Slippers

Bibi Slippers

Bibi Slippers is in Bloemfontein gebore en het in die noorde van KwaZulu Natal grootgeword. Sy studeer BA Beeldende Kunste en BA Tale (met drama en filmkunde as tweede hoofvak) by Tukkies. Sy spesialiseer in installasiekuns en skep hoofsaaklik teksgebaseerde werk. In 2008 verhuis sy na Nieu-Seeland waar sy advertensies skryf vir ‘n radio-netwerk, en daarna woon sy ook vir ‘n kort tyd in Brisbane, Australië, waar sy in die biblioteek boer. In 2010 keer sy terug na Suid-Afrika en begin ‘n nagraadse studie in Kreatiewe Skryfkunde aan die Stellenbosch Universiteit onder Marlene van Niekerk en Willem Anker. Sy werk in die Kaap as joernalis vir LitNet, Rapport se tydskrif MyTyd en VISI voordat sy na Johannesburg verhuis en in die TV-bedryf doenig raak. Enkele van haar verse word opgeneem in Nuwe Stemme 4. In 2012 wen haar kortverhaal “Ikoon” die Nuwe Stories-kortverhaalkompetisie. Haar debuutbundel, Fotostaatmasjien, verskyn in 2016 en word vereer met die UJ Debuutprys, die Eugéne Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Sy is saam met  Charl-Pierre Naudé die samesteller van Nuwe Stemme 6.

.

Ons

Na Anne Carson

 

 

Ons is die illusie dat sommige dinge saamhoort,

jou trui, my toestand. Ek is ’n kenner van onse,

die honde hoor my. Om te verduidelik wat ek doen

is egter ietwat ingewikkeld. ’n Kenner is iemand

wat weet, maar wat weet ons nou eintlik? Die wis

en die onwis is in konstante wisselwerking, die wete

aanhoudend aan die beweeg soos ’n vervoerband

of trapmeul onder ons voete. Ek is die versteller

van die snelheid en gradiënt, ons stap opdraande

op een plek tot die weet ons aftap. Jy mag dalk dink

dat ek self die siklus aan die gang sit, maar dit

is ’n misverstand. Ek posisioneer myself eenvoudig

op die gegewe plek en wag vir aksie. Die wonderwerk,

en dit ís ’n wonderlike werklikheid, is dat alles altyd vanself

begin. Voordat daar eindes was, was daar baie beginne,

maar ’n mens kon nooit seker wees wat iets sou afskop nie.

Slaptjips? Dronkenskap? ’n Belangstelling in boeke?

Soms is dit beter om die aanvangs te omseil.

 

’n Kenner is iemand wat weet, maar nie noodwendig

wanneer om op te hou nie.

 

Dis die manier waarop dinge tussen onse verstrengel

raak wat alles moeilik maak. Kan jy jouself warm hou

met my toestand? Moet ek jou trui met my sielkundige

bespreek? Ons is gemengde metafore, opgeklitste idiome

en vrae wat antwoorde uitkanselleer: Wat weeg meer

as twee? Wat is die meervoud van my?

 

In die ons soos ek dit sien is die trui en die toestand

soms saam in die tuimeldroër en ander kere begin jy

iets bruikbaar brei wanneer ek uitrafel.

Maar wil jy deur hierdie versamelnaam kyk? Is jy reg

om kersies, pere en pyn saam met die appels

in jou oog te hê?

 

Daar is net soveel onsin as onse en dis soms moeilik

om ’n onderskeid te tref. Daar is gewone en ongewone

onse, onse wat gewond is, waterkarre vol onse, onse

wat weer en weer in die onthou opstaan. Daar is onse wat

niks uitrig nie en onse wat aanhou al is dit nutteloos.

Daar is onse wat met soveel geweld ont-ons dat die aardkors

daarvan sidder. Maar daar is geen onnodige onse nie,

net oorbodige kenners. So skoert.

.

[Uit: Fotostaatmasjien. Bibi Slippers, 2016)

.

.

 

halfhartige poging tot ’n oorspronklike liefdesgedig

 

dis so vervelig om lief te hê

die hele ding is al soveel maal gedoen

copy en paste die clichés

paarrym pampoen met soen

die enigste opwinding lê

in die fabrieksfoute

en flaterkodes

400 Bad Request

403 Forbidden

404 Not found

406 Not acceptable

409 Conflict

410 Gone

500 Internal server error

Sorry, something went wrong

A team of highly trained monkeys

have [sic] been dispatched to deal with this situation

(die Oneindige Aap-stelling sê

dat ’n aap wat lukraak die sleutels

van ’n tikmasjien oneindig slaan

byna sekerlik ’n teks sal voortbring

dalk die enkodering van YouTube

miskien die versamelde werk van Shakespeare

altemit ’n enkele oorspronklike liefdesgedig)[.]

 

© Bibi Slippers

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d