![]() Bibi Slippers is in Bloemfontein gebore en het in die noorde van KwaZulu Natal grootgeword. Sy studeer BA Beeldende Kunste en BA Tale (met drama en filmkunde as tweede hoofvak) by Tukkies. Sy spesialiseer in installasiekuns en skep hoofsaaklik teksgebaseerde werk. In 2008 verhuis sy na Nieu-Seeland waar sy advertensies skryf vir ‘n radio-netwerk, en daarna woon sy ook vir ‘n kort tyd in Brisbane, Australië, waar sy in die biblioteek boer. In 2010 keer sy terug na Suid-Afrika en begin ‘n nagraadse studie in Kreatiewe Skryfkunde aan die Stellenbosch Universiteit onder Marlene van Niekerk en Willem Anker. Sy werk in die Kaap as joernalis vir LitNet, Rapport se tydskrif MyTyd en VISI voordat sy na Johannesburg verhuis en in die TV-bedryf doenig raak. Enkele van haar verse word opgeneem in Nuwe Stemme 4. In 2012 wen haar kortverhaal “Ikoon” die Nuwe Stories-kortverhaalkompetisie. Haar debuutbundel, Fotostaatmasjien, verskyn in 2016 en word vereer met die UJ Debuutprys, die Eugéne Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Sy is saam met Charl-Pierre Naudé die samesteller van Nuwe Stemme 6. |
.
Ons
Na Anne Carson
Ons is die illusie dat sommige dinge saamhoort,
jou trui, my toestand. Ek is ’n kenner van onse,
die honde hoor my. Om te verduidelik wat ek doen
is egter ietwat ingewikkeld. ’n Kenner is iemand
wat weet, maar wat weet ons nou eintlik? Die wis
en die onwis is in konstante wisselwerking, die wete
aanhoudend aan die beweeg soos ’n vervoerband
of trapmeul onder ons voete. Ek is die versteller
van die snelheid en gradiënt, ons stap opdraande
op een plek tot die weet ons aftap. Jy mag dalk dink
dat ek self die siklus aan die gang sit, maar dit
is ’n misverstand. Ek posisioneer myself eenvoudig
op die gegewe plek en wag vir aksie. Die wonderwerk,
en dit ís ’n wonderlike werklikheid, is dat alles altyd vanself
begin. Voordat daar eindes was, was daar baie beginne,
maar ’n mens kon nooit seker wees wat iets sou afskop nie.
Slaptjips? Dronkenskap? ’n Belangstelling in boeke?
Soms is dit beter om die aanvangs te omseil.
’n Kenner is iemand wat weet, maar nie noodwendig
wanneer om op te hou nie.
Dis die manier waarop dinge tussen onse verstrengel
raak wat alles moeilik maak. Kan jy jouself warm hou
met my toestand? Moet ek jou trui met my sielkundige
bespreek? Ons is gemengde metafore, opgeklitste idiome
en vrae wat antwoorde uitkanselleer: Wat weeg meer
as twee? Wat is die meervoud van my?
In die ons soos ek dit sien is die trui en die toestand
soms saam in die tuimeldroër en ander kere begin jy
iets bruikbaar brei wanneer ek uitrafel.
Maar wil jy deur hierdie versamelnaam kyk? Is jy reg
om kersies, pere en pyn saam met die appels
in jou oog te hê?
Daar is net soveel onsin as onse en dis soms moeilik
om ’n onderskeid te tref. Daar is gewone en ongewone
onse, onse wat gewond is, waterkarre vol onse, onse
wat weer en weer in die onthou opstaan. Daar is onse wat
niks uitrig nie en onse wat aanhou al is dit nutteloos.
Daar is onse wat met soveel geweld ont-ons dat die aardkors
daarvan sidder. Maar daar is geen onnodige onse nie,
net oorbodige kenners. So skoert.
.
[Uit: Fotostaatmasjien. Bibi Slippers, 2016)
.
.
halfhartige poging tot ’n oorspronklike liefdesgedig
dis so vervelig om lief te hê
die hele ding is al soveel maal gedoen
copy en paste die clichés
paarrym pampoen met soen
die enigste opwinding lê
in die fabrieksfoute
en flaterkodes
400 Bad Request
403 Forbidden
404 Not found
406 Not acceptable
409 Conflict
410 Gone
500 Internal server error
Sorry, something went wrong
A team of highly trained monkeys
have [sic] been dispatched to deal with this situation
(die Oneindige Aap-stelling sê
dat ’n aap wat lukraak die sleutels
van ’n tikmasjien oneindig slaan
byna sekerlik ’n teks sal voortbring
dalk die enkodering van YouTube
miskien die versamelde werk van Shakespeare
altemit ’n enkele oorspronklike liefdesgedig)[.]
© Bibi Slippers