Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 August 202628 August 2026

Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)

 

 

Resensie: In memoriam, Johann de Lange, deur Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge. 2026. Gansbaai: Naledi.

Resensent: Dietloff van der Berg.

 

Johann de Lange is in 2020 reeds deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy 60ste verjaarsdag met ’n Festschrift vereer waarin hy deur kollegas, studente en vriende as een van ons belangrikste digters, skrywers, vertalers en bloemlesers gehuldig word. In antwoord op die vraag waarom hierdie soort huldigings bly voortbestaan en vermenigvuldig, skryf Irving Horowitz (1991) dit is omdat dié publikasies nie net retrospektief is nie, maar ook vooruitskouend ’n beroep doen op ’n voorsit van byvoorbeeld die gesprek rondom ’n kunstenaar se visie of intellektuele standpunt. Na aanleiding van die gedenkbundel Johann de Lange 60 stel Ronel Foster (2020) dan ook verdere uitbreiding voor, want die bundel, soos sy skryf, “laat nie reg geskied aan sy omvangryke digterskap nie – dit waarvoor hy die Hertzogprys ontvang het”.

In teenstelling met die gewone akademiese gedenkskrif, kry ons nou met In memoriam, Johann de Lange (Naledi, 2026) ’n jaar na sy dood, ’n voortsetting van die gesprek oor hom en sy werk met ’n baie persoonliker en intiemer huldiging van een van die belangrikste digters en Hertzogpryswenners in Afrikaans deur twee jare lange vriende, Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge.

Die voorblad, ontwerp deur Nathan van den Bergh, met ’n foto van Johann de Lange in sy huis geneem deur Jan du Toit, gee met die eerste oogopslag treffend iets weer van die intieme aard van die teks wat gaan volg. De Lange was so gesteld daarop dat die buiteblad ‘n onherroeplike deel van sy werk vorm en daarom saam met die woordteks gelees moet word dat hy geweier het om Nagsweet (1991) sonder sy keuse van die buiteblad deur Tafelberg te laat uitgee en dit deur Taurus laat doen het (Snyman 1994). Ek dink hy sou baie in sy skik met hierdie buiteblad gewees het.

Die foto toon die oorledene met een helfte van sy gesig skerp belig en die ander verskadu waar hy intens na die kamera tuur, omring deur kunswerke teen die muur met ’n spieël in goud omraam bo sy kop wat kosbare aandenkings van sy verlede in ’n kas agter glas weerkaats. Dit roep by my een van sy bekende sonnette “Weerloos” in Die meeste sterre is lankal dood, (2020) op waarin hy dig “Vandat jy weg is, het ek al my kosbare breek- /goed weggepak, al die snuistery van glas” en hy ook verwys na die vertoonkas en spieëls wat dan eindig met die elegiese klag in die slotkoeplet oor die minnaar wat weggegaan het en die eensaamheid wat agterbly: “Niks kosbaars oor om te steel, as smart; /niks wat kan breek nie, soos ’n hart.”

’n Monografie van Johann Lodewyk Marais, “Op pad met Johan de Lange”, lui die woordteks in. Dit bestaan uit dertien dele wat begin met die eerste ontmoeting tussen hulle waarin reeds ’n minder bekende feit oor De Lange na vore kom, naamlik dat hy effens gehakkel het. Marais vertel dan hoe De Lange kort daarna van sy gedigte aan hom gewys het en beskryf in besonderhede die Letterkundekring van die Universiteit van Pretoria wat Johann begin bywoon het. Hulle gedeelde belangstelling in die digkuns lei dan ook tot die uitruil van idees daaroor. Marais boekstaaf noukeurig die onstuimige sosiopolitieke en kulturele uitdagings rondom tydskrifte soos Perdeby, Vlieg en Ensovoort waarby hy en Johann betrokke was, asook talle ander bekendes soos Theunis Engelbrecht, Rachelle Greeff, Gerhard van den Heever en Johan van Wyk. Ensovoort het onder andere werk van Hennie Aucamp, Stefan Bouwer, Sheila Cussons, Daniel Hugo en Peter Snyders gepubliseer.

Die verdere verloop van Johann se lewe en werk word met die gesprekke tussen hom en Marais in ’n gestroopte styl aangebied. Die fokus val sterk op die wedersydse rol wat hulle in mekaar se digkuns en lewens gespeel het. Marais het byvoorbeeld sy bundel Nomade (2014) aan Johann opgedra vir sy redaksiewerk daaraan. Uit hulle gereelde kontak kom interessante feite oor vriende en kennisse wat in De Lange se lewe ʼn rol gespeel het na vore, soos oor Koos Prinsloo, Harry Kalmer, Theunis Engelbrecht, Joan Hambidge, Sheila Cussons en Wilma Stockenström. Marais se intieme kennis van Johann se persoonlike lewensomstandighede kom ook uit, soos sy saamwoon met en liefde vir twee haarlose Kanadese katte (bl. 43) wat uiteindelik verklaar wat Christili Muller se skets op die titelblad en tussen afdelings met die teks te doen het. Johann se geloofstryd en die tragiese aspekte van sy privaat lewe, soos sy toksiese verhouding met sy pa, talle mislukte verhoudings en substansgebruik word onderbeklemtoon, maar juis sonder die sensasie kry ons daardeur ’n gebalanseerde en tog aangrypende beeld van wie Johann de Lange werklik was.

Die tweede afdeling “Orfeus in die buitenste ruim” bestaan uit 42 elegiese gedigte van Joan Hambidge wat sedert die tagtigerjare met hom bevriend was. Die gedigte toon duidelik watter hoë agting sy vir hom gehad en hoe goed hulle mekaar geken het. Die verwysing na Orfeus in die afdeling se titel impliseer dat sy hom soos die legendariese musikant, digter en profeet in die Griekse mitologie sien, maar as iemand wat nou onbereikbaar ver is. Sy is in die eerste gedig “Boondocks” dus assosiatief, soos in die tragiese Orfeus-legende, ’n Eurudike, Orfeus se vrou, wat van die onderwêreld bevry moet word, want sy is in die middel van nêrens, die boondocks. Die gedigtitel speel ook in op haar deeglike kennis van Johann se werk wat vanaf Nagsweet (1991) al hoe meer die Amerikaanse literatuur en kultuur opgeroep het. Hambidge het hom egter nie net deur sy skryfwerk of afstandelik deur briewe en foonoproepe geken nie, maar het regtig moeite gedoen met besoeke, selfs aan die Heldeakker en aan sy oom se plaas “sodat ek jou komvandaan beter kon verstaan” (bl. 55).

Haar gevoel van gemis omdat hy nie meer daar is nie, word pragtig verwoord in talle gedigte onder andere in “Lykdig” (bl. 59) wat skrynend ironies eindig met die bitter herhaling “So alles is wel in hierdie private hel”. Die hegte verhouding tussen hulle word belig met verwysings na gedeelde ervarings, boeke, films en kunswerke, selfs mallemeuleritte, met talle intertekstuele verwysings na Johann se werk soos Wordende naak en Miniatuur (bl. 72), Die algebra van Nood (bl. 80) en Akwarelle van die dors (bl. 93). Die massas verwysings na ook ander skrywers soos Calvino, Cussons, Dickinson, Kirsch, Krog, Lorca, Louw, Lucebert, Eugéne Marais, Johann Lodewyk Marais, Neruda, Opperman, Schoeman wat betrek word, verdig die tekste en maak dit ’n ryk leeservaring. Hambidge se ruim woord- en klankspel beïndruk soos gewoonlik wat opbou tot in die treffende slotvers met “Gelykenis Markus 4: 26” (102) waarin sy skryf:

 

Vroegoggend ’n brief aan jou,

Jy, ja, jy wat my geleer het:

“Poësie is ’n bloeiwyse.”

Eers die halm, dan die aar,

dan die vol koringaar.

…

Die apoteose (lees gerus

verheerliking) verloën

die spel se ware aard.

Eers die halm, dan die aar,

dan die vol koringaar.

Klinkklaar klink klik

die vers sy vele klinkers

kort voor sonsopkoms.

Eers die halm, dan die aar,

dan die vol koringaar.

 

L’envoi

Neem dit tog ter harte

daar is geen digters nie

seg onse Cussons en Neruda;

net ’n digkuns soos koljander

eerder as ’n kolokwint.

Skink ’n dubbel-whizza

op die digterlike daad.

 

Ek skink ’n dubbel op Hambidge se digterlike verwoording van die hartseer en pyn, maar ook vreugdevolle viering van ’n vriend wat weg is.

In memoriam Johann de Lange sal vir elkeen wat in die letterkunde sedert 1980 belangstel, beslis nuwe insig in sy werk en waardering vir hom as mens bied en is ’n waardevolle toevoeging tot ons digterlike uitdruk van herdenkings aan ’n oorledene.

 

Bronne

De Lange, Johann. 2020. Die meeste sterre is lankal dood. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Goede Foster, Ronel. 2020. “Welverdiende verering vir baanbreker.” Rapport 15 Maart .

Horowitz, Irving Louis. 1991. Communicating Ideas: The Politics of Scholarly Publishing. New Brunswick, N.J.: Transaction Publishers.

Snyman, Maritha. 1994. “Die buitebladkunswerk: kruispunt van die ikoniese en verbale teks met spesifieke verwysing na die werk van Johann de Lange.” Communicare: Journal for Communication Studies in Africa, Januarie 1994.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Marianne de Jong
Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer →

2e gedagtes oor “Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)”

  1. DIETLOFF VAN DER BERG says:
    28 August 2026 at 21:58

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van ‘Boondoks’ tot ‘Gelykenis’ is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

    Reply
  2. Soekie Vogel says:
    27 August 2026 at 17:36

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop

Nuutste bydraes

  • Gerrit Theron. Die vuurhoutjie
  • Digtersprofiel: Jennifer Pape
  • Nuwe Bundel. Erwin Rode: om ’n Melkweg te skep
  • Bekendstelling: om ’n Melkweg te skep
  • Miel Vanstreels. Die somer van

Nuutste kommentaar

  1. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  2. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  3. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  4. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

  5. Joan Hambidge on Ilse van Staden. Die Dans24 August 2026

    'n Verruklike gedig. 'n Gesprek op soveel vlakke.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d