Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.
Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.
Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.
Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”
Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.
Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.
Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.