Anachoreet
JdL
Koel herfs krakel die dag:
plante voor die deur biddende
monnike om die koue af te weer.
In die verbygaan boodskappe uit-
gewis op mweb: soveel (mense) verdwyn,
sommige dood; ander net onbereikbaar.
In drome die taal van glissant
op die daeraad se breek wagtend
soos vokale die voëls se oggendsang.
‘n Soloreis sonder paspoort of visum:
dieper dieper in teen die groot vergeet,
dáár waar letters en syfers smoeilig word.
Geen gedig, net ‘n kommerkraal in Lent
dié tyd van on-: voorlopig om iets af
te skryf, af te maak, af te ransel …
Met hierdie aubade dan: jy is presies
‘n jaar gelede weg so vir ewig en altyd
in ‘n ruimte van die alomteenwoordigheid.
© Joan Hambidge, 2026
