Desembergedig
31 Desember 1997
ons hardloop op en af
langs die see op soek
na ’n pienk swembroek
die strand is gepak
en die kind –
my kleuter
is weg soos in Gauteng
se klerewinkels as jy omdraai
en jou hart sink en jou bloed
sak af tot in jou voete
en jou gesig raak spookagtig wit
soos ’n gesigmasker
terwyl die golwe swyg
en die vlak water om jou voete spoel
en alles net onmoontlik is;
in ’n splitsekonde was sy saam met
haar sesjarige suster in die vlak water
en nou weet niemand iets nie
die hand om my keel wurg my amper dood.
O, die pyngedagte van my weggedraaide oog!
Toe alle hoop saam met die branders
die diepsee intrek,
en ek soos ’n geknakte bamboes
op die strand neersak en omkyk,
kom sy saam met die sekelmaan
al laggend op haar “nuwe ma” se heup –
’n pienk klein dingetjie,
amper in die nuwe jaar in verskiet.
© Marthé McLoud, 2025
