Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
23 April 20104 September 2013

Andries Bezuidenhout. Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate

Vlieswolke vanoggend, regte Hoëveldherfs. Iemand stuur ʼn link aan na ʼn video van Leonard Cohen – ʼn lied oor die Chelsea Hotel in New York wat hy vir Janis Joplin geskryf het.

Ek dink weer oor die Chelsea Hotel waaroor Johannes Kerkorrel geskryf het. Die een in Hillbrow. Ek het onlangs daaroor in ʼn rubriek geskryf:

Reg van onder lyk die Hillbrow-toring spookagtig vreemd.

Dis skemer en dit reën onophoudelik. ‘n Mens kan wilde reënvlae sien in die spreiligte se strale wat die groot sokkerbal om die toring se skag verlig. Dit lyk soos iets uit ‘n futuristiese fliek.

Ek wou my vriend Denver, wat op besoek is van Namibië, wys hoe lyk Hillbrow; gedink ons kan vinnig deur ry op pad Melville toe. Johannesburg se donderbuie het egter ander planne gehad.

Iewers het afvoerpype verstop en kitsriviere het van die strate onbegaanbaar gemaak. Nou sit ons in die verkeer vas tussen toetende taxi’s se aggressie en luierende busse se dieseldampe. Niemand beweeg nie, slegs voetgangers wat deur stilstaande voertuie vleg.

Die petroltenk se liggie begin flikker. Ek skakel die kar af om brandstof te bespaar.

“Weet jy darem waar ons is?” wil Denver weet. “Ja,” lieg ek, “moenie bekommerd wees nie.”

Dis dié dat ek die toring soek. As jy in Johannesburg verdwaal sê die torings vir jou waar jy is. Wel, dink ek, ons is iewers rég onder die toring.

Hillbrow voel soos ‘n vreemde land. So min van die ou landmerke is oor. Fontana is ‘n franchise in die voorstede. Estoril Books het elders heen getrek.

“Die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel en stemme en musiek klink in elke woonstel,” hoor ek Johannes Kerkorrel in my kop sing. “Gee jou hart vir Hillbrow…”

Ek dink aan ‘n tydjie gelede toe ek en Irma ná ‘n begrafnis in Venda te kapot was om terug te ry Johannesburg toe. Net noord van Louis Trichardt het ons ‘n ouwêreldse hotel opgespoor en besluit om oor te bly.

Die kamers het ‘n mens laat voel of jy steeds in die 1970s is. Kelners in outydse uniforms het maaltye in die eetsaal bedien. Aandete het uit vyf gange bestaan: Sop, vis, ‘n hoofgereg met groente uit skottels van vlekvrye staal, nagereg, en dan kaas, beskuitjies en koffie.

Ons het gelag en gewonder of hierdie tradisionele benadering nog in Engeland bestaan. In Londen eet meer mense Sondae Indiese hoender tikka as die tradisionele “roast beef”. ‘n Mens moet deesdae Louis Trichardt toe kom vir ‘n outentieke Engelse hotelaandmaal, of dalk vele ander plekke in die voormalige kolonies.

Een van die kelners wou weet waar ons vandaan kom. Hy’t ook in Johannesburg gebly, het hy gesê. Hy’t sy oë gerek toe hy oor Hillbrow praat: “Yes, Hillbrow, that’s where all the ducktails are…”

Denver pomp my met sy elmboog. Die verkeer het weer begin beweeg. Ek skakel die kar aan en ons ry verby die Chelsea Hotel, waaroor Johannes Kerkorrel gesing het. Ek kan onthou hoe ek in die vroeë 1990s bier op die stoep gedrink het.

Vir ‘n tyd lank was die gebou stukkend; slierte verf het aan die mure gehang en die vensters is met plate saamgeperste hout toegespyker. Nou is dit weer in mooi skakerings geel en beige oorgeverf. Dis nie meer ‘n boheemse hotel nie, maar ‘n gewone woonstelblok. Die art deco-styl het darem behoue gebly.

Dinge verander so vinnig. Daar is soveel wat verval, of sommer in duie stort. Soms word daar weer opgebou, oorgeverf. Ek slaan my oë op na die sokkerbal teen die toring. Hel, dink ek, is dít waar ons hulp vandaan moet kom?

Op die sypaadjie stap ‘n vrou met ‘n baba op haar rug. Haar gesig blink in die reën. Sy weet dit nie, maar iewers is daar nog ‘n Hillbrow met ducktails. Hulle herkou steeds aan taai stukkies kougom en spin wheelies met Sheilas agterop hulle motorfietse.

Maar dis nie in Hillbrow nie. Dis in die geheue van ‘n kelner by ‘n hotel net noord van Louis Trichardt.

Lees die oorspronklike rubriek hier.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Andries Bezuidenhout. Die Johannesburg wat ek verloor het
Andries Bezuidenhout. Die spanning tussen blow en puff →

4e gedagtes oor “Andries Bezuidenhout. Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate”

  1. Desmond says:
    23 April 2010 at 13:38

    Ek hou van die song oor Elvis, en Die Boogskutter. En My ewig ontwykende beminde. Het aanvanklik nie van Net ‘n bietjie liefde gehou nie, maar dit het op my gegroei.

    Reply
  2. Andries Bezuidenhout says:
    23 April 2010 at 13:02

    “Europhobia” staan vir my bo die ander uit. Ek hou ook van die covers van “Snor city” en “Onder in my whiskyglas”, waarskynlik weens sentimentele redes. Maar ek weet nie so mooi oor die baie van die res van die album nie. “Wanhoop in die Vrystaat” irriteer my dalk net omdat ek so van die Vrystaat hou. Voel soos cheap shots oor ‘n neus vol sneeu uit Rosebank of Kaapstad. Dalk moet ek die CD weer ‘n kans gee.

    Reply
  3. Desmond says:
    23 April 2010 at 12:42

    Sy Snootles is korrek: Ge-trans-for-meer bly staan as een van die mees onderskatte Afrikaanse albums. Ek dink Afrikaanse gehore was op ‘n stadium in die 90s oorhoops met daardie Amerikaanse ‘heartland’ klank, en dus het hulle dalk neus opgetrek vir Kerkorrel se gesofistikeerde spel met ander pop-idiome, insluitende verskillende soorte dansmusiek. Dit is ‘n album waarna ek dikwels terugkeer. Mense het veral die ‘covers’, soos Dawid Ryk en Net ‘n bietjie liefde, onderskat dink ek.

    Reply
  4. Sy Snootles says:
    23 April 2010 at 12:11

    Kerkorrel sing ook van “die plek waar Janis Joplin haar volstruisve^re verkoop het” in sy lied ‘my ewig ontwykende beminde’ op sy album ‘ge-trans-for-meer’—uitstekende song vanaf `n briljante plaat wat dikwels krities onderskat word.Baie dankie ook vir die pragtige fotos van Janis.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d