Die rondawelhuis op Pelindaba is in 1924 deur die Prellers in die Transvaalse styl as naweekhuis gebou. Eugène N. Marais het voor sy laaste verhuising hierheen heelparty kere hier gewoon. Dit is ook die plek waar hy sy laaste nag deurgebring het. Die argitek Albrecht Holm maak die volgende interessante opmerking oor hierdie huis:
“Die huis se vorm het ‘n interessante ooreenkoms met Eugene Marais se waarneming oor die termietnes (Siel van die Mier). Hy het vasgestel dat die geheel, naamlik die termietnes, die organisme is. Die enkele termite in die nes is slegs onderdeeltjies wat funsioneel gebind maar nie fisies saamgegroei is sodat hulle saam die eenheid vorm en alleen saam as eenheid kan bestaan maar tog nog visueel onderskei kan word. Met hierdie ontdekking het Marais wêreldgeskiedenis gemaak. Die rondawelhuis (en ander soortgelyke rondawelhuise) bestaan ook uit herkenbare rondawels, maar saam maak hulle die huis.”
Die rondawelhuis is in 1973 saam met die Preller-huis gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Bron
Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.