In 1932 word Ons Vaderland, waarvan Gustav S. Preller eienaar en redakteur was, na ingryping deur genl. J.B.M. Hertzog om die koerant van finansiële ondergang te red, deur die Noordelike Drukpers Maatskappy oorgeneem en die naam word na Die Vaderland verander. Preller bly tot aan die einde van Februarie 1936 hoofredakteur, maar eintlik net in naam, aangesien sy besluitnemingsmag aansienlik ingekort is.
Ná Preller se uittrede het die gesin besluit om hulle huis in Blackwoodstraat te verhuur en permanent op Pelindaba te gaan woon waar Gustav as geskiedkundige navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargief kon voortsit. Lood Pretorius en sy seun was in daardie stadium reeds besig om die huis wat Gustav en Hannie in die Transvaalse styl ontwerp het, te bou. Aangesien die Prellers die huis op 19 Maart wou betrek, is Lood aangepor om vinniger te werk.
Die “Transvaalse styl” (kyk Holm, 2005a) is aangevoor deur argitekte W. de Swaan, F. Soff, J. Burg, G. Moerdijk en andere wat hul bewustelik deur die plaaslike klimaat, omgewing, materiaal, kultuur en tradisie laat lei het. Hierdie argitektuur het hom ook onderskei van die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl wat in die 1920’s mode geword het, asook van die Edwardeaanse en ander Europese style. Van die opvallendste kenmerke was:
■ Oriëntasie volgens die son en die landskap.
■ Stoepe en dakoorhange wat die mure in die somer koel hou.
■ Die gebruik van plaaslike materiale soos klip en gras en bosveldhout, maar ook vindingryke gebruik van eenvoudige materiaal soos papiervloere, klei van verskillende kleure, afvalhout, ensovoorts.
■ Handgemaakte detail eerder as fabriekvervaardigde detail.
■ Die afwesigheid van “klassieke” versierings soos byvoorbeeld Griekse, Romeinse, Toskaanse en ander kapitele, ensovoorts.
■ “Aardse” of natuurlike kleure eerder as witgekalkte mure en geverfde hout.
■ Die gebruik van rondawels of samevoegings van ronde geboue of geboudele.
■ Die groepering van geboue en die skepping van leefruimtes rondom en tussen geboue.
Laasgenoemde twee elemente asook stoepe en lapas is bewustelik afgelei van die boukuns van die swart volke. Baie van hierdie elemente is reeds vroeër deur die Voortrekkers en pioniers as “leengoed” in die blanke volksboukuns ingevoer.
In 1973 is die Preller-huis deur die Atoomenergiekorporasie (AEK) onder toesig van die argitek Hannes Meiring en die kultuurhistorikus Elize Labuschagne gerestoureer en as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die oorspronklike kaggel wat nog gesien kan word, het weer agter pleister te voorskyn gekom en is ooreenkomstig ‘n oorspronklike tekening van Lood Pretorius se seun herstel. Die leiklipblad voor die huis is ook herstel en die oorspronklike sinknok is op die grasdak teruggeplaas. Die kombuis is verander om aan die vereistes van ‘n restourant te voldoen, maar die kelder is ongelukkig toegegooi.
Volgens oorlewering is die trap na die dakkamer smal gebou om te keer dat Hannie Preller daar kan opgaan wanneer die mans daar gekuier het. Interessant is die wêreldkaart in die dakkamer wat deur J.H. Pierneef geskilder is en waarop Bob Preller, die vlieёnier, se vlugte aangemerk is soos wat berig van sy bewegings ontvang is. Bob het glo ‘n keer onderdeur die treinbrug oor die Krokodilrivier stroomop van die Hartebeespoortdam gevlieg.
Preller se vriendekring het invloedryke politici, digters, skrywers en kunstenaars soos Frans Oerder, Erich Mayer, Pierneef en Coert Steynberg ingesluit wat gereeld hier besoek afgelê het. Pelindaba het sodoende ‘n integrale deel van die Afrikaner se geskiedenis en kultuur geword.
Bron
Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.