Philip de Vos. Die dag toe Erna Sack soos Bing Crosby geklink het

 

 Die ander dag hoor ek ’n eenvoudige klavierweergawe van Brahms se wiegelied spesiaal vir kinders verwerk op my vriendin Tertia Visser-Downie se Tots in Tune CD en skielik wou ek huil. Die waarom was nie onmiddellik duidelik nie, maar skielik was dit of ek weer my ma dit kon hoor sing:

 

Slaap my kindjie, slaap sag

onder rose vannag

eers die armpies om my nek

en dan saggies toegedek …

 

En toe vat daardie eenvoudige wysie my sommer terug na my Cricketstraatdae toe in Bloemfontein en met my heel eerste kennismaking met musiek. Dit was nie tuis wat ek musiek leer ken het nie, maar by die skool en veral by Mary Ann Green (wat het van haar geword?) wat saam met haar ma en haar pa en haar broer Alec by nommer 11 gewoon het. Dit was haar pa en ma se huis-losieshuis met wonderlike mense – in elke kamer iemand anders. En in hierdie huis het ek, toe ek 8 jaar oud was, musiek ontdek.

Daar was Sweetie wat partykeer haar kêrel by ons huis kom opbel het. Ja, ons telefoonnnommer was maklik om te onthou: 1414 en dit  laat my nou wonder hoeveel inwoners daar destyds in Bloemfontein in die laat 40’s was. Miskien moet ek vir Karel Schoeman skryf en vra – maar weet goed hy sal nie terugantwoord nie, maar volgens dié nommer kon daar nie veel gewees het wat telefone besit het nie en dit was oor daai selfde telefoon wat ek eenkeer ’n skoolmaat gebel het en vertel het van ’n stoute vrou van wie ek in die Bybel gelees het – seker die los vrou van Gadara – of dalkies Ohóla en Ohóliba. In elk geval my ma het ’n gedeelte van my gesprek gehoor – my erg berispe en uitgevra en nou weet ek waarom ek so ’n bietjie seksueel geknak is.

Maar nou dwaal ek al klaar af, want dis eintlik oor musiek wat ek wil praat en nie oor die wulpse anties van die geskiedenis nie, behalwe as die Bybelse  Delila miskien ’n triomfantelike lied gesing het nadat sy Simson se pounietyl afgesny het.

Mary Ann-hulle het wonderlike dinge in hulle huis gehad – ’n klavier, maar nog wonderliker was die opwengrammofoon met sy pragtige wysies. Ek kan onthou hoe ek saam met Mary Ann op die sitkamermat gesit het omring van die grammofoonplate wat jy so een een uit hulle koeverte moes haal en versigtig op die draaitafel moes plaas en nie te hardhandig nie, anders breek daardie plaat middeldeur en dis die einde van die sublieme wysie wat in sy swart groewe weggebêre is.

En dan – voor die wonderwerk – sit jy eers ’n naaldjie in die grammofoon se kop en dan was daar die wonderlike slinger aan die kant van die staangrammofoon wat jy moes opwen totdat hy nie meer verder kon nie. En die grootste plesier vir my was, wanneer Mary Ann vir my toegelaat het om dit self te doen – g’n wonder dat sy een van my grootste maats van destyds geword het nie.

Dan sit jy die grammofoonkop op die swart plaat neer en jy luister: en dis Bing Crosby en die Andrews Sisters en Danny Kaye met sy tongknopers en die dansmusiek van Victor Silvester.

Maar die mees spesiale plaat was

 

Kleinjan skiet die kat,

in die middel van sy blad …

 

Ja, in daardie dae het musiek nog wysies gehad, en die belangrikste was daardie woorde wat jy na al die jare nog kan onthou.

En waarom was Kleinjan so spesiaal? Omdat die man wat dit geskryf het in kamer nommer 19 van die huis-losieshuis gebly het.

Wie hy was, kan ek nou glad nie meer onthou nie, maar waarom lui die naam Taffy Kikilus so ’n effense klokke uit die verre verlede? ..

En die grammofoon, ai die grammofoon – dit het twee deure gehad wat jy oop en toe kon maak sodat die musiek harder of sagter kon word en as jy ’n dieper klank wou hoor, druk jy sommer ’n paar kouse onder in die ding se bek waar die klank uitkom, en as jy die hoë note wou hoor soos wanneer die nagtegaal Erna Sack sing, haal jy weer die kouse uit.

En die snaaksste was, as jy vergeet om die slinger elke keer op te wen, dan loop die grammofoon al hoe stadiger en stadiger en klink Erna Sack later byna net soos Bing Crosby.

En dan was daar die musiek wat ek in die bioskoop gehoor het, of in die Plaza, of die Ritz of die Vaudette – ’n café-bio waar ’n prent oor en oor gedraai het – die hele dag lank.

En dan was daar die Grand – die mooiste van almal – dit was eintlik ’n teater, maar het lankal beter dae gesien. ’n Afrikaanse Musiekprent Kom saam Vanaand is vir ’n paar dae vertoon – en as jy daardie paar dae ’n film misloop, het jy nooit ooit weer ’n kans gehad om dit daarna te sien nie.

As kind, en nou nog, was ek baie nuuskierig, en Kom saam Vanaand was die een film wat ek móés sien. En toe kom die ramp: Daar was ’n skielike polio-epidemie – of liewer kinderverlamming. Geen kinders is in die bioskope toegelaat nie – om die waarheid te sê – my skool se kinders moes rondloop met ’n sakkie om die nek waarin ’n huisie knoffel versteek is. Ewenwel, ek het later gehoor, dat die sopraan Betsy de la Porte die gehoor aan die slaap gesing het met haar arias wat g’n mens op aarde kon verstaan nie, en die enigste beelde waarin jy kon vaskyk was watervalle en nogmaals watervallle. Toe voel ek nie meer heeltemal so sleg nie, want Singin’ in the Rain het veel groter plesiertjies in gehou met wysies en woorde waarmee mens kon saamsing:

 

Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes erroneously,
Moses he knowses his toeses aren’t roses,
As Moses supposes his toeses to be!
Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes erroneously,
A mose is a mose!
A rose is a rose!
A toes is a toes!
Hooptie doodie doodle
Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes Erroneously,
For Moses he knowses his toeses arent roses,
A Rose is a rose is a rose is a rose is
A rose is what Moses supposes his toes is
Couldn’t be a lily or a daphi daphi dilli
It’s gotta be a rose cuz it rhymes with mose.

 

Ja, toe reeds het verspotte woorde in my kop bly vassteek, meer nog as ernstige goed soos Totius se doringboompie wat ’n knak gekry het as gevolg van sy langs die pad stanery .

En by my niggies Sophie en Chrissie het ek later ander musiek gehoor Ketelbey se In a Persian Market of In a Monastery Garden. Te wonderbaarlik.

En as ons nie na plate geluister het nie, het ek en Chrissie in die kombuis gesit terwyl die grootmense in die sitkamer gesels.

Dan het Chrissie haar oefeningboekie uitgehaal waarin sy allerhande mooi woorde uit die films neergeskryf het en dan het ons twee heerlik saam gesing. En Indian Love Call was ’n gunsteling:

 

When I’m calling joe hoe hoe hoe hoe hoe hoe …

wil you answer toe hoe hoe hoe hoe hoe hoe hoe.

 

Dan was Chrissie Jeannette MacDonald en ek was haar kêrel Nelson Eddy.

Maar … die Cricketstraatdae en die kuiers by Chrissie en Sophie by Vantonderstasie het verbygegaan. Die 78-spoed grammofoonplaat is vervang met langspeelplate en geen slingers was meer nodig om die musiek aan die gang te kry nie.

Die huise in Cricketstraat is almal afgebreek, self die denneboom voor nommer 13 is afgekap.

Niemand het geweet wat om met hulle ou plate te maak nie, en sakke vol is partykeer sommer in die plaaslike dam of rivier gegooi.

Dié dae is vir goed verby, maar die woorde bly in my gedagtes vassteek, of selfs partykeer vashaak net soos daardie wonderbaarlike plate wat met soveel sorg hanteer moes word:

 

 Way down in the Congo land
Live a happy chimpanzee
She loved a monkey with a long tail
Lordy how she loved him
Each night he would find her there
Swingin’ in the coconut tree
And the monkey gay
At the break of day
Like to hear the chimpie say

 Aba daba daba daba daba daba dab
Said the chimpie to the monk
Baba daba daba daba daba daba dab
Said the monkey to the chimp
All night long they’d chatter away
All day long they were happy and gay
Swingin’ and singin’ in their
Honky tonky way

Aba daba daba daba daba daba dab
Means monk I love but you
Daba daba dab in monkey talk
Means chimp I love you too
Then the big baboon one night in June
He married them and very soon
They went upon their aba daba honeymoon.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Philip de Vos. Die dag toe Erna Sack soos Bing Crosby geklink het”

  1. Anton Stoltz :

    Ai, dis darem so jammer die dae van die grammofoon is verby! Ek sit met so 200 plate en nou na byna 10 jaar se stilte gaan ek hulle uiteindelik weer kan hoor. My broer het ‘n wonderlike nuwe draaitafel wat by jou rekenaar inprop gekry! Dit beteken heerlike luistergenot en kan ons plate sommer so met die luister op kompakskywe opgeneem word. Tegnologie!! Herken ek daai ou grammafoon in die kiekie??

  2. Danie Garner :

    Jislaaik, jou moeder was pragtig jonk. Sy het nie veel verander toe sy oud geword het nie.
    Môre vroeg as Gog wil,
    word my kindjie gewek.
    Is dit hoe daai liedjie verder gaan.
    Dankie vir die “memories”(kon nie die Afrikaanse woord spel nie!)

  3. Lona Gericke :

    Liewe Philip – Dink tog asseblief daaraan om ‘n autobiografie te skryf! Sal so ‘n lekker leeservaring wees. Pragtige ma en seun. Lona

  4. Braam Muller :

    Ai, jy krap ook hier herinneringe los. Ons het ook van Kleinjan gesing wat die kat skiet, maar wel “in die middel van sy blad”. Is dit ‘n ander versie of het ek die kat aan die stert beet? Mens het mos gesing wat jy dink jy hoor!

  5. Philip de Vos :

    Dankie Braam – Ja, jy is reg, dit is definitief:
    “In die middel van sy blad.” Dan was daar natuurlik die ander liedjies met hulle onthoubare woorde, veral “Hasie hoekom is jou stert so kort?” en “Daar onder in die vlei stap ‘n mannetjie.”

  6. Damaris Loubser :

    Ons het ook op Loeriesfontein grammofoonplate oor en oor gepeel en saam gesing. “Pappie lief paapie kom huis toe vannand , die klok in die toring slaan een…….” en darem ook Erna Zack en Nelson Eddy (ek was tog sooo verlief op daai man met die mooi stem)Geniet elke woord wat jy skryf.

  •