Die sofa in die foto hier bo is in 1941 deur die Deense argitek Finn Juhl ontwerp. Die sofa se naam is “digter-sofa”, ook bekend as FJ41. Ek weet nie hoekom Juhl dit so genoem het nie. Dit was een van die eerste meubelstukke wat hy ontwerp het. Op hierdie spesifieke sofa (wat onlangs weer deur ʼn Deense meubelmaker heruitgereik is, nadat dit vir jare nie vervaardig is nie) sit Pauli Minnaar (links) en Gry Holmskov (regs).
Pauli is ʼn Deen van Suid-Afrikaanse afkoms. Ek het hom in 1991 in Grahamstad ontmoet, met die kunsfees daar. Beide van ons was voorgraadse studente. Hy was ʼn ingenieurstudent. Ek het nie verwag om ingenieurstudente by kunsfeeste raak te loop nie. Later is hy Engeland toe vir ʼn meestersgraad en toe Denemarke toe om ʼn doktorsgraad in akoestiese ingenieurswese te voltooi. Hy woon nou al twaalf jaar in Denemarke en slaan soms onwetend oor na Deens in die middel van ʼn gesprek wat in Afrikaans gevoer word. Dan sê ek of Irma: “Pauli, jy praat Deens.” In sy vrye tyd maak en ontwerp Pauli meubels. Een van sy stukke is al by die Kunsindustrimuseet – waarskynlik die naaste aan korrek vertaal as “Museum vir Industriële Ontwerp” – in Kopenhagen uitgestal. Hy dink Juhl se digter-sofa is die een van die mooiste meubelstukke wat nog ooit ontwerp is.
Gry (uitgespreek Ghruu – “gh” soos in ghoen, brei die “r”, en “uu” soos in “uur”) is ʼn argitek, maar is oorspronklik as kabinetmaker opgelei. Sy ontwerp ook meubels. In Denemarke is dit nie vreemd vir argitekte om meubels te ontwerp nie. Finn Juhl het wêreldberoemd geword vir sy meubels, nie geboue nie. Gry voel argitekte onderskat soms die waarde van handewerk en vakmanskap. ʼn Mens moet die vorm van hout met jou hande kan voel. Yuhl se styl word soms “organiese modernisme” genoem, omdat hy modernistiese ontwerp met die vloei en lyne van natuurlike vorme gekombineer het. Gry voel die feit dat baie argitekte nie kan teken nie (rekenaarprogramme doen dit mos), word in hul geboue gereflekteer.
Hier onder is een van Finn Juhl se sketse vir die ontwerp van ʼn stoel. Dis nie net die stoel wat vir my mooi is nie, dis ook die sketse self.
Oor Denemarke as ‘n land hoog op die geluksindeks skryf Irma du Plessis (2011-09-02:
“(…). Daar bestaan ook ander storievorme wat geluk sou skep. Op geluksindekse is lande soos Denemarke dikwels bo-aan die lys. Denemarke is ’n welvarende, ontwikkelde land en baie faktore dra tot sy burgers se geluk by. Maar alle Dene dink nie dieselfde nie en beskou hulself uiteraard nie as ewe gelukkig nie. Daar is dus nie iets soos ’n “Deense model” wat elders toegepas kan word nie.
Daar is egter heelwat te sê vir die klem wat Dene op die alledaagse, pragmatiese begrip van geluk eerder as op die klimaktiese vorm daarvan plaas. Die gaping tussen wat Dene verwag en wat hulle wil hê, is nie groot nie. Geluk bestaan in ’n konteks waar dit gedeel word – dit is ’n welsynstaat wat gratis dienste verskaf; dit sluit in wonderlike museums en skole, goed versorgde parke, ysskaatsbane en strande; dit bied uitstekende gesondheidsdienste en openbare vervoer.
Hierdie ruimtes is nie gekommersialiseer nie, en kan dus kreatief en relatief ongehinderd gebruik word. Boonop is dit veilig.”
Aangehaal uit haar artikel “En hulle het vir altyd gelukkig saamgeleef – ag, asseblief…”. http://www.beeld.com/By/Nuus/En-hulle-het-vir-altyd-gelukkig-saamgeleef-ag-asseblief-20110902
Foto’s van Juhl se huis:
http://www.flickr.com/photos/88017382@N00/5857652895/in/photostream/
Maria, soos ek dit verstaan het die Dene modernistiese ontwerp met goeie vakmanskap gekombineer, in teenstelling met die massaproduksie van standaardgoedere elders. Daar is egter mense wat beweer dis alles spin. Spin of te not, dis werklik besonders om te sien hoeveel aandag mense steeds kan skenk aan die ontwerp van alledaagse gebruiksgoedere. In die winter woon mense na werk aandklasse by. Pauli se volgende kursus gaan oor daardie vlegwerk wat jy vir stoele doen.
‘n Mens kan Finn Juhl se huis besoek – sy lewensmaat het dit na sy dood gelos soos dit is en aan die staat geskenk in haar testament. Dit word deur die Ordrupgaard kunsmuseum bestuur. Ongelukkig mog ek nie foto’s daar neem nie. Ek dink dis ‘n monument vir hoe mooi modernistiese ontwerp kan wees as jy dit op klein skaal pleeg.
Lieflike klein storietjie – ‘n skets? Want ek stem saam omtrent die skets van die stoele ook. Die foto is ook pragtig. “Organiese modernisme” klink vir my na ‘n goeie benaming.”Organiese modernisme” het ‘n soort sagte elegansie lyk dit vir my – lieflik!