Kaapse draai
[E]en kwaal […] waar de gehele mensheid onder gebuk gaat: het isolement […].
Streling kan […] pijn verminderen: het activeert zenuwbanen die de pijnsignalen afzwakken.
(Uit: Voelen, ruiken, proeven. Loflied op de vergeten zintuigen. Frank Bloem, 2026)
Ná dae hangwolk, stuifreën, kilte
raak die Kaap weer sonlands –
net mooi tyd om Sondagkuierkoers te vat
na die bejaardesorg-tehuis, die motorradio aan,
barokkig aan ’t kontrapunt en fuga.
By die verkeerslig waar mens stad toe swenk,
daar teen die aanwysbord,
kon die aanstaar-bedelaar hom weer kom sitmaak –
’n staande kind in elke arm vasgehou.
(WhatsApp-groepe skinder hulle’s nie eens syne nie.)
Langs die N2, tussen rommel voor ’n sinkplaatkaia,
dans ’n dogtertjie,
haar rafelrokkie
in die son
’n ligkostuum.
Vanwaar kom haar musiek?
Ek koop, soos aangevra, suikervrye Energade en tjips en pyntablette
by die winkelsentrum; gee dit by verswaktesorg se toonbank af
voor ek gaan hurk by Skoonsus – weduwee; kinders ver oorsee –
daar in die rystoelkring, om op haar hand en, as sy opkyk,
op haar wang ’n soen te plak. Oë omheen
demensiestrak op ons. En haar
gelaat wat wil-wil
glim en plooi
tot glim-
lag.
Totsiens-sê-tyd vertel die pleegsuster my van ’n oom,
al heengegaan, in die tehuis wat nooit besoek ontvang
het nie – behalwe eens per jaar, op sy geboortedag,
van een persoon:
sy seun.
Ná so ’n kuierslag vra sy die oom vanwaar die kind moet reis.
Hy wys sy moet hom rystoelstoot balkon toe;
beduie na ’n erf en huis, groen ge-teëldak,
onder in die buurt.
Oorgeërf van hóm.
“Toe verloor ek dit,” bely sy; “omhels die oom;
laat los weer, vra ekskuus oor die vrypostigheid …
Hy’t gesê: Toemaar, jy’t my laat voel
ek’s hier.”
Na die parkeerplek buitekant gestap,
hoor ek Handel speel: “Water music”, hornpipes en al.
’n Vrou kyk, stralend van gelaat, my aan
vanuit ’n kamervenster in die sorgsentrum.
“Oh! the music is enfolding me, is holding me,
taking me by CD back to England and to family,”
sê sy asof sy sing.
Met die N2 langs terug
bly Fine Music Radio afgeskakel.
Voor die kaia is dit rommelstil.
Handel was tog eintlik Händel? Dúíts?
Vir die kleingeld in my broeksak
is die bedelaar-met-kleingoed
voor die aanwysbord
nou soek.
Vanaand gaan my twee kinders uit Den Haag
soos altyd op ’n Sondag WhatsApp-bel.
© Bernard Odendaal, 2026
