
Resensie: “Spiraal” deur Margaret Cordier-Biermann. 2026. Gansbaai: Naledi
Resensent: Marlies Taljard
Spiraal is die tweede digbundel van Margaret Cordier-Bierman. Haar eerste bundel, Buigbreek, het in 2021 by Cordis Trust verskyn. Die digter woon in New South Wales in Australië.
Die bundel is keurig deur Naledi uitgegee en bevat 51 gedigte wat in vyf afdelings gerubriseer word: Sirkelgang; In die oomblik; Gees van die tyd; Oorlog en vrede; en Dood. Besinning oor lewe en dood en ʼn lewe in geloof aan ʼn goeie God is die oorkoepelende tema van die bundel.
Die eerste afdeling, “Sirkelgang”, bevat 13 gedigte en open met ʼn belydenis van verbondenheid aan die land van herkoms:
Besieling
om te dig
moes ek vir eers Australië verlaat
om ʼn gedig te loop haal
uit die kultuurwieg
van my moedertaal
vir ʼn oomblik
waar konsonant en vokaal
nog gekoester
op my rooistoep lê
(p. 11)
Die gedigte in dié afdeling handel oor aspekte van kom en gaan, ontwikkeling, tydsverloop en selfs oor die gang van eeue en millennia. Die gedig “Tyd” (p. 17) staan uit as beskrywing van geologiese tydsverloop:
jare lê skulpe
teen hoog-
en laagwater,
verslyt
so mettertyd
tot sand
in die uurglas
van ewigheid
Heelwat van die ander gedigte in die afdeling is egter minder geslaagd. So sien ek byvoorbeeld nie ʼn logiese verband, in die gedig “Kwantumverstrengeling” (p. 14) waarin na die Schrödinger-vergelyking verwys word, en die inhoud van die gedig wat oor ʼn reis in die Pakhuispas handel nie. Hier moes die laaste strofe duideliker beredeneer gewees het (gedigte benodig wel ʼn basiese argumentstruktuur, hoewel dit van ander taalmiddele gebruik maak as byvoorbeeld die retorika). Met betrekking tot die gedig “Lewe” (p. 16) vra ek myself af wat “vlamdeursigte as” beteken; die woord “triomfanklik” kom in “Ontwaak” voor – bedoel die digter dalk “triomfantelik”? Die gedig “Water” (p. 18) verwys na “die vorm van water” en “die houers van klank”. Die probleem hier – soos ook elders in heelwat ander gedigte – is dat die gedigte eenvoudig té gedronge is, té bondig, en dan kom die argument agter die gedig nie duidelik uit die verf nie, óf die denksprong is eenvoudig te groot om sin te maak.
Die tweede afdeling, “In die oomblik” is myns insiens die mees geslaagde afdeling van die bundel waarin die digter haar seëninge tel en haar hartseer hart uitstort. Die gedig “Heuningmaan” (p. 30) is ʼn sprokiesagtige narratief; “Al een” (p. 31) steun op die Bybelse gegewe van Hagar in die woestyn en die volk Israel wat by Elim se waterfonteine en palmbome aankom. “Vroegherfs” (p. 34) steun op die gelyknamige NP van Wyk Louw-gedig:
(…)
laat hierdie jaar
heilig word
uit alle dood en wanhoop van ons tyd
nuwe lewe spruit
waar vol riviere loop
ʼn enkel jeug weer drome droom
U wind wat wolke waai
my op laat kyk na bo
In dieselfde gees staan “ʼn Nuwe jaar” (p. 58), ook ʼn gedig van hoop, gebaseer op Psalm 126:5-6 wat in die 1983-Bybelvertaling soos volg lui: “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra”.
(…)
sal hierdie grond
water vra –
nuwe are breek
waar snyers
ná trane
jubelend weer gerwe dra
In die laaste bundelafdeling, “Dood”, staan die gedig “Heling” (p. 72) uit. Daarin word die Australiese bosruigtes op klankmatige wyse uitgebeeld as ʼn troosryke ruimte:
Heling
wandelend oor voetheuwels
verby oorwoekerde bloekoms –
ʼn massakoor in groen togas
boomreste staan soos kangaroes
deur die struweel
teller ʼn stroompie afwaarts
uit die bors van ʼn boom
klokroep die inheemse kreet
“curr-a-wong”
sit koalagroot
die voël
Ten spyte van enkele juweeltjies, soos ek hierbo aangetoon het, is die bundel egter nog nie gereed vir publikasie nie. Hoewel die digter ʼn geoefende oor het vir die klank van ʼn gedig, is die vorm dikwels problematies, veral die strofebou en enjambemente wat selde bydra tot helderder betekenisgenerering. Ek sou ook aanbeveel dat die digter nie haar gedigte sentreer nie, aangesien dit ʼn gedigvorm genereer wat eweneens nie die betekenis ondersteun nie. Soms het ek mooi en klinkende ryme raakgelees en ek wil aanbeveel dat die digter gerus meer kan maak van haar natuurlike aanvoeling vir ritme en klank.
