Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 October 20147 November 2014

Heilna du Plooy. Ontmoeting


Ontmoeting

Aan die begin van Oktober was ons in die suide van Frankryk. Ons het verskeie daguitstappies gemaak na die binneland, na die klein en antiek-oue dorpies op die toppe van die heuwels of berge in die maritieme Alpe in die kusstreek van Provence. Een baie bekende dorpie is St Paul de Vence, wat veral vir kunsliefhebbers ’n gewilde bestemming is. In hierdie dorpie is die binneruimtes van die Middeleeuse geboue in die middedorp gemoderniseer en aangepas om kunsgalerye en restaurante te huisves. En hoe toeristies dit ookal is, die kunswerke in hierdie galerye is van hoogstaande gehalte, duidelik uitgesoek vir ’n uitgelese mark.

Mens stap dus in ’n steeg af op stokou trappe en tussen stokou gemesselde klipmure, maar as jy deur die glasdeure stap, staan jy keer op keer in ’n moderne goed verligte kunsgalery met kontemporêre werke van kunstenaars oor die hele Europa.

Stegies in St Paul de Vence

Dit was vir my hierdie keer, soos ook by ’n vorige besoek, opvallend hoeveel beeldhouwerke deel van die uitstallings vorm. In een galery stap ek in en kyk na die skilderye teen die agterste muur. Eers toe ek terugdraai in die rigting van die deur sien ek haar – ’n driekwart mensgrootte bronsbeeld van ’n vrou. En met ’n skok wat soos ’n rukwind deur my trek, herken ek haar. Sy is uit ’n ander land maar iets in my wat ekself is, ken haar al lank.

Ek doen navraag en hoor dit is ’n beeld van Sylvie Ramu, ’n Switserse beeldhoudster wat woon en werk op ’n wingerdplaas in die streek van Chafalet in Dardagny in Switserland.

Sylvie Ramu

In 2006 reeds het ek twee gedigte geskryf vir die Versindaba van daardie jaar. Die gedigte het in Versindaba 2006 (red. Marlise Joubert) verskyn, maar dit is ook die slotgedigte in my onlangse bundel Die stilte opgeskort.

Lemoene I

Sy pluk lemoene in die tuin.

Hoeveel lemoene, vra die vrou,

kan ek in my hande hou?

Sy wil vir almal van die vrugte vat.

Hoeveel lemoene, wil sy vra,

kan mens in jou arms dra?

Buite die tuin waai ’n woedende wind.

Hoe ver gaan ek kom? dink die vrou,

en sy buig oor haar vrag soos oor ’n kind.

Een lemoen val, dan val daar meer.

Vir hoe lank, wonder die vrou,

kan mens so teen die wind in beur?

Jare daarna kom die vrou

weer te staan voor ’n boom.

Sy dink oor haar lewe soos oor ’n droom.

Sy gee nie meer om oor hoeveel nie.

Waarheen, vra sy nou, waarheen?

Lemoene is padkos.  Die vrou pluk net een.

 

Lemoene II

Ga nu maar liggen liefste in de tuin

de lege plekken in het hoge gras, ik heb

altijd gewild dat ik dat was, een lege

plek voor iemand, om te blijven.

   – Rutger Kopland

Die kinders sou sy aan die hand moes neem,

dink sy wanneer die dwarrels duiwels draai

uit die vergange ouland en die sweem

van uitsig op die hoogtes haar verraai.

Die sagte kinders sal sy gou moet roep,

die tyd vir loop is klein en afgemeet,

maar in die leë plekke in lang gras

sal hulle rus en die lemoene eet.

Die vrugte sal sy oopbreek om te deel

en meededeel ver onder hoë wind.

Die son en hierdie aarde sal hulle neem

en eet, uit bekers sap sal hulle drink.

Vertel dán, hart van vlees, die stilte opgeskort,

van somergroei wat in die winter vrugte word.

My lemoenvrou hou verband met die besondere gevoel wat ek het vir lemoene. My pa het op ’n lemoenplaas in die omgewing van Rustenburg grootgeword en ons het menige wintervakansie in die warm bosveldomgewing deurgebring. Dan is die gras droog en wintergeel, maar die lemoenbome is donkergroen en sit vol skel oranje vrugte. ’n Lemoen is vir my die uiteindelike higiënies en  nuttig verpakte, heeltemal natuurlike padkos: ’n verruklike fles gepreserveerde sap en voedingstowwe.

In 2011 maak ek ’n skildery van ’n vrou met haar arms vol lemoene. Dit staan ’n tyd lank onvoltooid in my werkkamer en in 2012 voltooi ek dit. Hierdie vrou  staan in ’n landskap, kleurvol soos ons Suid-Afrikaanse landskap onder  helder sonskyn lyk, maar daar is baie wind om haar en die land word donker op die horison.

En op Donderdag 2 Oktober 2014 ontmoet ek my twee lemoenvroue se bloedsuster of oervriendin in St Paul de Vence.

Dit is onvermydelik om daaroor ’n brief te skryf.

Beste Sylvie Ramu

Tydens ’n onlangse besoek aan die suide van Frankryk het ek in St. Paul de Vence in die Galerie Vladimir Rustinoff et Joël Guyot ’n beeldhouwerk van jou gesien. Dit is die beeld van ’n vroutjie wat met haar arms vol appels staan. By haar voete lê  een appel wat geval het.

Die beeld het my diep aangegryp, maar nie net omdat dit ’n pragtige kunswerk is nie. Ek is ’n digter en het in 2006 ’n gedig geskryf oor ’n vrou wat lemoene pluk in ’n tuin. Hierdie gedig vorm een deel van ’n tweeluik en is een van my gedigte wat my baie na aan die hart lê. In my gedig loop die vrou uit die tuin uit om die lemoene met ander te gaan deel, maar buite die tuin waai daar ’n sterk wind. Dan begin die lemoene val. Jou beeld se voete lyk asof jou vroutjie ook probeer om meer te dra as wat sy kan behartig en jy kan jou voorstel hoe ’n diep gevoel van herkenning ek ervaar het toe ek jou beeld sien.

My naam is Heilna du Plooy en ek woon in Potchefstroom, ’n universiteitstad in die Noordwes-provinsie van Suid Afrika. Ek is ’n dosent en navorser in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die universiteit en in my vrye tyd skilder ek soms, maar slegs as amateur. Ek het ’n paar jaar nadat ek die gedig geskryf het, ’n skildery gemaak met dieselfde tema en ek het die vrouefiguur in die skildery met ’n rooi romp en ’n oorhangende ligblou bloes geklee. Jou beeld in St Paul dra ook ’n rooi romp en ’n ligte blouerige oorhangbloes. Dit het die herkenning net verder versterk.

Die ervaring bly my so sterk by dat ek graag vir jou wil skryf oor die merkwaardigheid daarvan dat dieselfde beeld in ons albei se werk voorkom. Dieselfde metafoor het uit die verbeelding vir ons opgekom, vir my hier op die suidpunt van Afrika en vir jou in Switserland. Dis vir my ’n vorm van sinchronisiteit, soos jou landgenoot Carl Jung dit beskryf het. Wat mens dit ookal noem, is dit vir my baie spesiaal dat daar ’n geestesverwantskap of geesgenootskap tussen kunstenaars kan bestaan wat geen vorige kennis van mekaar het nie en wat ver van mekaar in radikaal verskillende omstandighede lewe. Miskien is dit ’n argetipiese beeld wat ons uit die kollektiewe denke opgediep het.

Die beeld wat jy gemaak het, is vir my pragtig en ek het dit met groot bewondering en vreugde bekyk. Die herkenning van my eie metafoor in jou beeld het my ontroer en my verwondering daaroor sal ek nog lank in my herinnering koester.

Ek hoop dat jou beeldhouwerk steeds vir jou groot vreugde en vervulling sal bring en dat baie ander mense dit net soveel sal geniet en waardeer as wat ek het.

Met groot waardering en groete

Heilna du Plooy

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wicus Luwes. Op die spoor van die spoorsnyer
Digstring: Heilna du Plooy. Ouhoutfluit. →

8e gedagtes oor “Heilna du Plooy. Ontmoeting”

  1. Engela Geyer says:
    11 November 2014 at 21:33

    Lieflik – baie dankie, Heilna!

    Reply
  2. Marlies Taljard says:
    11 November 2014 at 17:45

    Ek kom weer en weer terug na dié pakkende verhaal. Op ‘n manier bring die heelal dinge bymekaar wat bymekaar hoort!

    Reply
  3. Evette Weyers says:
    29 October 2014 at 22:13

    PRAGTIG HEILNA! DANKIE DAT ONS KON SAAMREIS

    Reply
  4. Theresa Papenfus says:
    29 October 2014 at 18:00

    Wat ‘n verruklike ervaring, Heilna! Jou lemoene is ewe besonders in vers en in verf, en die kuns-band wat jy in Frankryk gevind het, maak dit nog ryker en dieper. Baie dankie vir die deel. Dis ‘n betowerende ervaring.

    Reply
  5. Annatjie says:
    29 October 2014 at 14:45

    Heilna, tydens ons besoek aan St. Paul de Vance, het ons ook die werk bewonder……telepatie?
    Baie geluk met Digwerke. Mag dit veel plesier in die lewe van baie mense gee.

    So bly dat jy jou hart so kan uitstort en deel….

    Liefde groete
    Annatjie Wijnbeek-Krüger

    Reply
  6. Joan Hambidge says:
    29 October 2014 at 10:46

    Inderdaad sinchronisiteit, maar ook die unheimliche, daardie skok-van-herkenning en die wete dat ons argetipes herken.

    Reply
  7. Everline van Dyk says:
    29 October 2014 at 10:21

    Lieflike vertelling. Het ook al die magiese ondervinding van sinchronisiteit ervaar. In my eerste digbundeltjie is ‘n gedig opgeneem met die titel “spore” en dit handel oor die 1997-ontdekking deur geoloog David Roberts van ‘n vrou se voetspore op die strand by Langebaan. Op ‘n dag was ek daar in ‘n klein galery in gesprek met die eienares. Ons gesels oor die plaaslike kunstenaars en ek noem dat ek gedigte skryf, pas my eerste bundel uitgegee het en geskryf het oor die spore daar ontdek. Sy glimlag en sê kom kyk hier. En ek ervaar dieselfde herkenning toe ek na die skildery kyk. Die vrou van my gedig, nes ek haar voorgestel het. Nee, ek het nie die skildery gekoop nie, maar vir haar ‘n bundel gegee. Miskien vir die persoon wat die skildery sou koop.

    Reply
  8. Marlise says:
    29 October 2014 at 09:43

    Dankie Heilna. Wat ‘n heerlike ontmoeting!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)
  • Ferdi Wheeler. Remissie
  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges
  • Miel Vanstreels. Siekebesoek
  • Digtersprofiel: Fransi Nieuwoudt

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d