Vat Vyf, Carina van der Walt. René Bohnen in Hongkong

Vat Vyf, met René - foto 1

Goeiedag René,

Baie dankie dat jy ingestem het om ’n paar vrae oor jou poësie-optrede op 14 September in Hongkong hier op versindaba te antwoord. Maar eers: van harte geluk daarmee dat jou Afrikaanse gedig opgeneem gaan word in die bloemlesing van die Sol Plaatje Europese Unie Poësietoekenning van 2016.

1)      Wil jy vir versindaba se lesers meer van hierdie poësiekompetisie vertel?

Die kompetisie word geborg deur die Europese Unie.  Ek het ’n jaar of drie gelede deur Jacana Publishers daarvan gehoor. Dit vind jaarliks plaas. Al die gedigte op die langlys word binnekort in ’n bloemlesing opgeneem sáám met die Engelse vertalings van die gedigte. Die rede daarvoor is dat daar inskrywings in al elf landstale van Suid-Afrika aanvaar is. Ek het met my Afrikaanse gedig die aard en geskiedenis van die Sol Plaatje Foundation in ag geneem toe ek besluit het watter gedig ek wil instuur. Ek is ingenome om ingesluit te wees, omdat ek van multikulturele samekomste hou – of dit nou digters of gedigte is. Tale is musiek en al verstaan mens nie die woorde nie, kan jy die klanke hoor sing of marsjeer of ween. Die kortlys is intussen bekendgemaak. Drie Engelse gedigte het die paal gehaal. Op 9 Oktober  sal die wenner aangekondig word by die Mail & Guardian se Literêre Fees in Johannesburg.

2)      Kan jy vir die lesers vertel hoe jy in Hongkong beland het met poësie?

My reis na Hongkong was ’n geskenk uit die bloute en ek moes binne 24 uur besluit of ek kan gaan of nie. Terwyl ek sake oorweeg het, het ek lukraak “Hong Kong poetry” geGoogle en daar kom ek af op die Peel Street Poets, wat ook ’n Facebookblad het. Toevallig het hulle ’n voorleesaand op die Woensdag gehad wat ek in die stad sou wees. Ek het Henrik Hoeg, die huidige sameroeper, gekontak om vrae rondom die adres te vra, en voor jy kon sê mes, nooi hy ons toe om sommer daardie Woensdagaand te kom voorlees. Skielik het dit vir my dringend noodsaaklik geword om die aand by te woon.  Ek het toe reeds besluit dat ek iets in Afrikaans wil voorlees – miskien as ’n soort voortbestaansbevestiging, of iets, ek weet nie.  En wat ’n aand was dit nie! Die meeste digters het reeds gepubliseer en party van hulle het al TED Talks aangebied. Die kwaliteit van die verse asook die aanbiedings het my baie beïndruk.

Daar was geen vasgestelde tema vir die aand nie én ek het my pakkie verse wat ek gedruk gehad het by die huis vergeet. Daar sit ek toe met net ’n Afrikaanse kwatryn en slegs één van my Engelse gedigte. Daarmee sou ek in die taxi moes klim Peel Street toe. Daar was geen ander keuse nie.

Daar gekom, verwelkom Henrik Hoeg ons. Hy is van Deense afkoms en het as sogenaamde Third- Culture Kid in Hongkong grootgeword. Sy bundel Irreverent Poems for Pretentious People het in 2016 verskyn.  In 2015 het hy die HKELD (Hong Kong English Language Drama) Heart Award gewen. Hy is direkteur van die geletterdheidsprogram by ’n pediatriese geestesgesondheidspraktyk, waar hy spesialiseer in werk met dislektiese kinders. Ons is hartlik deur almal ontvang. Ek kan nie al die name onthou nie. Daar was Andy uit Ierland, wat lank oor ’n bier kom sit en gesels het. Vishal  Nanda, joernalis, kortverhaalskrywer en digter was bekoor deur die “pine trees” in my gedig en dit was sommer weer vir my ’n blitslessie oor ostranenie! Dat dennebome nou vir iemand so eksoties kan wees was ʼn herinnering daaraan dat ons tog maar moet bly streef om die bekende met nuwe oë te sien.

3)      Het jy internasionale digtersvriende gemaak?

Die persoon met wie ek die meeste tyd deurgebring het, is Keisha Siriboe. Sy is ’n produk van Nebraska Universiteit, het haar M.A.-graad aan die Universiteit van Beijing verwerf en is tans besig met ’n PhD aan Hong Kong University. Ons het mekaar later in die week weer besoek en lank gesels oor gedigte, geletterdheid, agtergeblewenes en kwalitatiewe navorsing.

Die verrassing van die aand was sekerlik hoe ons gedigte by mekaar aangesluit het. Daar was twee gedigte oor polisiebrutaliteit in die VSA en mans wat daardeur dood is. Toe lees Keisha haar gedig wat begin met:

 

My father died in silence

And in his passing

He left many things unsaid

Through that experience

He’s taught me

Not to die with secrets

That it’s better to have difficult conversations

While living

Than die

Misunderstood

 

Sowaar begin my gedig met ’n soortgelyke gedagte, maar Keisha was diep geraak deur die band van “sisterhood” wat uit hierdie gedig uit Afrika tot haar gespreek het. Ons wissel steeds gedagtes en emosies in ons briewe. Ons het vanuit verskillende kontinente in die Verre Ooste gaan ontmoet om oor tale heen hande te vat oor gemeenskaplike belewenisse.

Vat Vyf,-met René - foto 2

Wat my eie gedig betref was dit 52 jaar vanaf die ervaringsmoment tot die voorleesmoment en daarom ook nie ontdaan van betekenis vir my nie.

 

Girl talk

 

In the thin calabash of bone

neurons search like recyclers

for origamis of light

in the big remembering

 

For where can a little girl go

once she has kissed the face

of a dead man

 

See your pale daughters bathe

in the river at the rising

of the blue moon

 

Take your eldest and wrap her

in the soft skins of cattle,

let her sleep in the nest

of your stories

 

because where can a young girl go

once she has kissed

a dead man

 

See your daughters kneel

by the bruised mushrooms

on the forest floor

 

The white wings of butterflies move

in the early jasmine, they are pages

in the pine trees – let your voice

be your daughter’s bookmark

 

for she has read the sacred song,

she showed the scribe her breasts,

she has shown him the insides

of her wrists and her shrine

where she cuts

names

until they bleed

 

My Afrikaanse kwatryn (sommer uit my bundel) is baie goed ontvang, met versoeke vir nog, nog gedigte in Afrikaans! Henrik het gemeen hy verstaan so elke tiende woord. Dit herinner hom effens aan sy Deense moedertaal. Ek het die kwatryn laat aaneenloop met my Engelse vers.

 

kinders speel met skedels in die sand

die veerboot se boeg wys oos

woorde hang soos vlieë oor die land

afkop-uile dryf in die umfoloos

 

Gelukkig het Marie Bredenkamp ’n klein vertaling van Fernando Pessoa byderhand gehad wat sy kon voorlees. ’n Paar digters daar het Pessoa geken, maar dit was vir hulle interessant om te besef dat sy verbintenis met Durban lewendig gemaak is deur ons as Suid-Afrikaners se teenwoordigheid daar by hulle. Die strofe wat Marie vroeër die week vertaal het, het nogmaals “toevallig” perfek aangesluit by die multikulturele bande van die aand.

Ons het na middernag nog vir mekaar gesit en sê ons is nie vreemdelinge nie. Ons reis almal saam deur gedigte. Ons is broers en susters en hierdie Afrikanertjies moet maar weer kom kuier.

4)      Op sosiale media benoem jy ’n foto van jouself met ’n kamera in die één hand en ’n wierookstokkie in die ander hand as “the story of my life”. Wat is vir jou die verband tussen kamera en wierook?

Dit was sommer ’n grappige weggooi-opmerking, Carina, maar “many a true word is spoken in jest”. Dus het ek gaan nadink. Ek skat dit het te doen met my gunsteling Jean Cocteau aanhaling: “art is not a pastime, it is a priesthood”. Of dat ek maar deurentyd in die een of ander eteriese  dimensie probeer sin maak van die omgewing en gebeure. Ek vermoed die meeste digters ervaar alles meervlakkig. Terwyl die werklikheid hom afspeel, vertaal die onbewuste alreeds na poësie toe. Die kamera vang vas wat ek nog nie (of dalk nooit) in woorde kan sê nie. Of wil sê nie. Dit is ’n ander manier van emosies uitdruk en vir my besonder bevredigend. Die lens is persoonlik en hoogs selektief. Sáám vorm die twee skeppingsprosesse vir my ’n sinvolheid in my daaglikse bestaan. En dan betrap iemand ánders se lens my skelmpies wanneer ek nie kyk nie! Dit herinner my sommer om alles nie te ernstig op te neem nie.

5)      Jy het pragtige foto’s van Hongkong geneem, René. Kon jy deur jou lens die onderliggende spanning of verskille tussen arm en ryk  in hierdie stad vasvang?

My indrukke van Hongkong was dat dit beslis nie (meer) ’n Engelse stad is nie. Daar is ’n merkbare verdeeldheid tussen die “mainlanders” en die gebore Hongkongers wat volgens laasgenoemde groep die stad binnegestroom het. Dit is nou twintig jaar ná oorhandiging aan Sjina en die politieke en sosiale kwessies wat ontstaan het, herinner dikwels aan ons eie. Dink maar aan die opstande van 2014, wat nou aktueel in Honkong is en die Umbrella Movement gedoop is. Daar is kommer oor die taaloorheersing (Mandaryns wat Kantonees bedreig) en al hoe minder mense is die ander amptelike taal, Engels, magtig. Toerisme het blykbaar dramaties afgeneem en die landskap begin die tekens daarvan wys. Markte en stalletjies het plek gemaak vir konstruksiewerke en wandellane, maar ook markte met sy-produkte moes byvoorbeeld plekmaak vir plastiek tierlantyntjies.

Hongkong is hard aan die veg vir ’n “een land – twee stelsels” beleid. So staan hulle byvoorbeeld nog nie onder die een-kind-per-gesin bedeling nie. Ek het al op internet gelees en foto’s gesien van mense wat eintlik in draadhokkies woon in Hongkong, met ongeveer ’n meter deursnee tot hulle beskikking. Alhoewel ons een aand ’n verkeerde bus geneem het en na taamlike donker plekke toe gery het, het ek nie daardie tonele gesien nie. Daar is in die stad natuurlik ’n sigbare kontras tussen die hoogsmodieuse mense en diegene wat sonder hemde loop, met verslete plakkies aan die voete. Die desperaatheid waarmee sommige handelaars ’n mens na hulle stalletjies dwing, is ook sprekend. Ek het wel enkele ooglopend hawelose mense gesien, asook duidelik onversorgde groepe op sekere busstasies. Hongkong is ’n duur stad, vertel al sy inwoners ons. Daar is hewige kompetisie en ambisie met kinders wat so vroeg as graad drie reeds aan prestasie-angs lei en selfdoodrisiko’s is.

Vat Vyf, met René - foto 3

Baie dankie vir hierdie insiggewende antwoorde, René. Jou laaste bundel was in die niks al om in 2011. Ek is seker dat jou lesers nou sommer baie nuuskierig is oor jou volgende bundel en wanneer dit sal verskyn. Sterkte verder met al jou digwerk tussen kamera-oog en wierookdamp.

Dankie, Carina, ook omdat jy met ʼn fyn oog raakgesien het dat een Google soektog gelei het na spontane kontak tussen digters wat vir almal verrykend was. Ek glo daar  vind meermale sulke ontmoetings plaas en ons weet maar net nie daarvan nie. Ek wou as eerste besoeker aan Hongkong iets anders as net die gewone toeristebedrywighede ervaar. Die digkuns het, soos altyd vir my, die ideale geleentheid geskep. So het ʼn klein geleentheid ʼn groot herinnering geword.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Vat Vyf, Carina van der Walt. René Bohnen in Hongkong”

  1. Marie Bredenkamp :

    Ja, en ek kan getuig van ‘n baie besondere reis na Hong Kong – ánders as elke ander reis wat ek oor ‘n periode van bykans 43 jaar na daardie deel van die Ooste gedoen het. Anders omdat ons deur ander oë en ander se oë gekyk het na alles, én in die verhelderende lig van lens en ondersoekende digtersiel saam met ander ontgin het aan dieper lae van die milieu, gemeenskap en aktiwiteit. Dankie René dat jy dit so goed opgesom het, en dankie aan Carina vir die vaslegging in paslike woorde.

  2. Rene :

    Merkwaardige onderhoud. En die gedigte is asem wegslaan treffend

  3. Rene Bohnen :

    Dankie, ander Rene.

  4. carina :

    Ek hou van die manier waarop René in “Girl talk” die fenomeen van jong tienermeisies wat bietjie ondermekaar skinder en net oor kêrels, grimering en klere gesels, ondergrawe: “For where van a little girl go / once she kissed the face / of a dead man”

  •