Foto 5 – Skemeraand met volmaan.
granaat-gebed in die Karoo
ek vra nie meer
na die bewondering van die groen nie,
ook nie die aanraking van die middagson
met sy belofte van ’n vroeë blom
ek vra dat u, o God,
my sal stroop van hierdie somer –
laat die laaste hitte op die rante
my eersug en my skyn wegbrand;
skeur die diep donker van my hart
soos ’n granaatvrug oop,
sodat my lig kan skyn
voor die koue van die maan
ek wil kaal wees –
gestroop
in die harde eerlikheid
van die Karooland en sy stofpad
die pyn van u snoeimes
is ’n barmhartige hand
laat u herfs oor my siel voltrek word
sodat my lewe
aan u
die volle oes kan bied
© Pierce van Tonder, 2026
