Fourie Botha . Krap uit die see, Protea Boekhuis, 2017
Resensent: Gisela Ullyatt
Fourie Botha debuteer in 2011 met Donkerkamer wat op die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys (2013) verskyn. Die prys is daardie jaar aan Hennie Nortjé vir In die skadu van soveel bome toegeken. Ander aanspraakmakers op die kortlys was Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne) en Andries Samuel met Wanpraktyk. Op die keper beskou is Fourie Botha egter die digter uit hierdie groep wat eerste sy debuutbundel opvolg.
Donkerkamer het sowat agt swart-en-wit-foto’s ingesluit – o.a. van die akteur Owen Wilson wat ’n selfdoodpoging oorleef het (hy het sy polse gesny). Op die foto kan die leser net-net ’n litteken aan Wilson se linkerpols uitmaak. Daar is ook foto’s van jong manlike agterstewes (o, die fermheid van jeug…), xenofobiese geweld (‘n slagoffer is aan die brand gesteek en word deur ’n polisieman geblus) en die Namibiese Bosoorlog.
Die leser wat weer foto’s verwag met Krap in die see sal teleurgesteld wees. Dit kan egter, tot ’n meerdere mate, as ’n voortsetting van Donkerkamer se hoof-tematiek beskou word: die homoërotiek; gedigte wat handel oor gewelddadige gebeure in die media asook familie-problematiek. Die gedig-as-donkerkamer wat gedigte ontwikkel en aan die leser openbaar, maak nou plek vir nuwe metaforiek: die krap, spesifiek dan ook die reusespinnekopkrap. Die see wat in die titel na verwys word, verskyn as Laagwater (i) en Dryf (ii), titels van twee van die vier afdelings.
Die eiesoortige foto op die voorblad van ’n man (wat self effe ‘gebreklik’ of ‘stokkerig’ voorkom) skep ’n tipe freak show atmosfeer en roep Joseph Conrad se “fascination with the abomination” op. Soos die leser deur die bundel werk, word dit ook duidelik dat die toonaard van die gedigte ’n spieëlbeeld van die voorblad se groteskheid word: elke gedig is ’n mikrokosmos wat bydra tot die makrokosmos van die grillerige reusespinnekopkrap en sy godverlatenheid.
Die bundelmotto sluit aan by die onthutsende voorblad: “The world dies over and over again, but the skeleton always gets up and walks” (Henry Miller). In ’n onderhoud met Joan Hambidge (Woorde Wat Weeg. Besoek 11 Julie 2017) waarin hy oor dié motto gepols word, antwoord Botha soos volg:
Sy aanhaling praat oor gebeentes: dit wat die krap so anders maak as die mens. Die reëls herinner my ook aan Saint-Saëns se “Dance macabre”. Nie alles hoef morbied te wees nie. Daar is ook ’n klein kopknik – miskien net in my kop – na Yeats se “Second Coming” in die titel, wat saamwerk met die gedig “Die koms” wat hier onder aangehaal word.
Die nosie oor ‘gebeentes’ is ‘n belangrike motief in die bundel, veral omdat die krap ‘n eksoskelet het, wat uiteraard van die menslike skelet verskil. Die reusespinnekopkrap het, soos ander krapspesies, ook ‘n eksoskelet, maar nie slegs ter beskerming nie, maar ook ter kamoeflering: die knopperige karapaks smelt saam met die rotsagtige/klipagtige seevloer. Hierdie illusie van samesmelting deur vyande te fop word verder versterk deur die reusespinnekopkrap wat sy karapaks ‘versier’ met sponse en ander seediertjies. Die sentrale metafoor van die bundel word stelselmatig aan die kaak gestel deur die verskeie afdelings, maar word veral ten beste in die sonnet, “Reusespinnekopkrap”, (49) geïllustreer: die krap wil uitreik na ander, maar sy knypers en sy harde buitekant verhinder hierdie pogings en word as afskrikmiddel deur ander ervaar:
The truth is that we are born from stones
Hier in die akwarium beloer ek jou agter glas.
Kan jy my bespeur?
Jammerlik lelik: net ’n ma
sal dié gevreet kan liefkry.
Jy dra jou skelet op die mou,
knypers soos knuppels in die lug.
Skuins-skuins roer jy, hensop kastig,
lek jou kliplippe af.
Waarom krabbel almal so oor jou?
In jou pype is daar g’n murg –
jy is ’n bal gekoude papier,
maar ook ’n boodskap, ’n gedig –
my krapperige tweelingbroer.
Die programgedig, “Krappegesang” (7) swawelstert met bogenoemde gedig, maar dui ook op die homoërotiese tematiek van die bundel: “Hy met die rooi hakskene” tree in ’n vernuftige woordspel met die oorspronklike idioom. Verder wil die spreker die krap se “harde karapaks poets”; sy “knypers vryf”. Laastens is die jukstaposisie van die volgende twee reëls
Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed
’n tipe ambivalensie teenoor die krap: die spreker ervaar hom as ’n “bloedbroer”, maar ervaar eweneens ’n sterk erotiese begeerte teenoor hom.
“Vuisneste”, die tweede afdeling, vervat die gay-tematiek. Die toonaard is sardonies en dikwels is daar ’n ironiese afstand tussen titel en inhoud soos gesien in “Domestic bliss”, ’n reeks wat uit kwatryne bestaan (33):
I
Vanaand is jy onstuimig:
die fronse blits, jou oë stroef.
In die sneeustolp van jou buie
is ons twee vasgeskroef.
“Might he but moor tonight in me” spreek Emily Dickinson aan:
Glo my, Emily D, ek kén wild nights –
die spulse luuksheid daarvan; later ook
die plain sailing troos van huis-huis speel […]
Die vierde afdeling, “Dryf” bevat gedigte van ’n ekfrastiese aard, alhoewel Botha nie hierdie gedigte soseer as tradisionele beeldgedigte beskou nie:
Maar ek dink nie die gedigte wat ek oor kunswerke skryf wil die kunswerk noodwendig belig nie. Die kunswerk raak ’n vastrapplek om by iets anders uit te kom. Baie keer draai hierdie gedigte as ars poëtiese verse uit. Ek raak opgewonde oor die oënskynlike toevallighede of ironieë tussen verskillende kunswerke, soos byvoorbeeld Opperman se “Kroniek van Kristien” en Mason se skildery oor die wildehond waaroor ek in “Die onpaar paar” skryf. Die beeld van ’n sterrehemel waarbinne al hierdie kunswerke ’n hangplek kry soos Eliot skryf in sy “Tradition and the Individual Talent”, is ’n vertroostende idee waarna ek dikwels terugkeer (Woorde Wat Weeg. Besoek 11 Julie 2017).
’n Tersaaklike gedig in hierdie afdeling is “Die onpaar paar” (57). Nie net is die gedig geskoei op Judith Mason se skildery, Wild dog nie, maar ook word D.J. Opperman se gedig, “Kroniek van Kristien” (Blom en Baaierd) as interteks gebruik. Leitmotiewe soos onder andere die papajabos, die tepellyf van die teefhond en Kristien se selfgeseling word met ragfyn noukeurigheid verwerk tot nuwe gedig. Verder wys Botha sy poëtiese staal: behendig behou hy Opperman se rymskema (aa bb cc, ens.) en al is die aantal reëls van die gedig nie presies dié van die agt gedigte binne Opperman se gedigreeks nie, is dit soos die Amerikaners sou sê, “pretty damn close”. Verdere voorbeelde van uitstekende vormbeheer en poëtikale seggenskap is die aantal gedigte in die bundel wat die sonnet-vorm utiliseer soos “Homing” (33); “Die hart van die huis” (34), en “Born-again” (43).
Soos in Donkerkamer ontgin Krap die uiters verwikkelde familiekonstellasie. In laasgenoemde bundel vervleg die digter surrealistiese droombeelde en pynlike herinneringe. Daar is ’n onderliggende woede wat deur hierdie gedigte syfer (soos met die queer gedigte), alhoewel die digter kennelik die nodige afstand van die persoonlike gegewe verkry het. Die familiale disfunksie word veral verbeeld in die persona van die vader: “Naby Misverstand was daar woorde/tussen seun en pa, toe bloed aan ’n sens” (“Bokkeveld”:14) en in die gedig, “ek droom van my pa” (15). Laasgenoemde is een van die sterkste gedigte in die bundel wat aansluit by Johann de Lange se “petidiendroom” waarin hy ook droom-tematiek benut om oor die disfunksionele vader te skryf. In Botha se geval word die kerk-metafoor binne die droom vernuftig ingespan saam met die moederfiguur wat “god-gee-my-krag toornig/na bo drup”.
Nog ’n gedig wat die verwonding van ’n kind wat uit ’n disfunksionele gesin kom uiters behendig metaforiseer, is “Rok”, veral in die tweede strofe (12):
Die ogies in die lap bly knipper
soos my ma se hekeltafeldoek.
Ek sou my vingers deur die gate druk
wanneer my pa en sy baklei […]
Daar is nog veel te sê oor die krapperigheid van gesinsverhoudings gesien vanuit ’n Jungiaanse perspektief; die intertekstuele aspekte (o.a. Emily Dickinson en Margaret Atwood); die Freudiaanse aspekte van die krap-metafoor en verdere ontginning van die meer makabere toonaard van die bundel. Helaas is die spasie van ’n resensie beperk.
Met Krap uit die see het Fourie Botha inderdaad die intensiteit van sy debuut volhou en selfs plek-plek oortref. Dit is ’n intensiteit wat herinner aan die onthutsende versugting in T.S. Eliot se “The Love Song of J. Alfred Prufrock”:
I should have been a pair of ragged claws
Scuttling across the floors of silent seas.