Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
14 July 201911 July 2019

Resensie: Nuwe vrese (Willem S van der Merwe)

 

‘Nuwe vrese’ – Willem S van der Merwe

Resensent: Johan Myburg

 

Nêrens is ʼn mens veilig; gevrywaar teen ou óf nuwe vrese nie. Selfs nie waar jy vermoed jy tuis is nie – die plek wat jy tuiste (“home”) noem. Dikwels juis nié daar nie.

Tog is dié plek waar jy deur of venster dig kan trek, of gestaltes daarvan, die plek wat Willem van der Merwe in sy jongste bundel, Nuwe vrese, beskryf, en as’t ware in aanskyn skryf. “This is nothing to write home about, but it might make you feel like writing home,” lui die een motto voor in die bundel. Meer as net “huis toe” skryf kom die betekenis in sig van ʼn plek (vesting/skuiling) oopskryf of tot stand skryf. Dié gedaantes neem onder meer die vorm aan van “huis” (28), “vertrek” (24) en “kombuis” (1), maar ook van verblyf in voorstede, vergelyk “Suburbia” (5) en “Ek is moeg II” (14). Dit is veral in dié ruimtes waar die spreker ʼn venster dig kan trek (7) en derhalwe geborge kan voel, en terselfdertyd kan dig.

Dié tweërlei betekenis word ʼn soort leitmotief in die bundel. Dié van geborgenheid en om tog ook uitgelewer te wees; om sigself toe te sluit en terselfdertyd poreus (ondig) te wees; om met (nuwe) verse besig te wees wat verspringend net sowel (nuwe) vrese kan wees, soos die bundeltitel aandui. Maar, dit is die lot van die digter, waarsku die digter homself aan die hand van die Japanse Natsume Sóseki in die ander motto voor in die bundel.

Met “senses … much more acutely tuned”, volgens Sóseki, durf Van der Merwe sy leefwêreld met dié tweede bundel aan, en openbaar hy homself, soos Daniel Hugo hom op die rugkant van die bundel raak beskryf het, as “die troebadoer van die triestigheid, die hofnar van die huwelik, die digter van die droefheid en deernis, die filosoof van die suburbs, die bedrewe goëlaar met beeldspraak en meerduidigheid, die slinkse smokkelaar met intertekste”.

Met beleënheid wat net met tyd kan kom, is Van der Merwe 34 jaar ná sy debuut, Son-dig (1985), oortuig dat vrese nie wyk nie. Ou vrese plaas nuwes dalk net meer in konteks. En bied die geleentheid om hulle, oud en nuut, in gedigte hok te slaan: vrese soos “die eensamigheid van eensaam” (59), “angs” wat ʼn kanker is (51) en die feit dat “niks rym nie” (55). Ontgogeling dus.

In die openingsgedig koppel Van der Merwe nie net terug na sy debuut nie, maar plaas hy ook sy poëtiese arbeid (soos hy dit sien) in perspektief aan die hand van ʼn gedig wat “Impasse” van Martinus Nijhoff oproep:

.

ʼn vrou wat bliksem sê in die kombuis

.

teddiebeer op die rak

en digbundel ondig ekkerig

reëls wat die game weggee

soos: “ek knik net moeg

en tik nog ʼn gedig”

.

en hier’s ek weer hier’s ek weer

om jou siel te verson-dig

met kitsch, cliché en meer

.

ek wil jou dus waarsku

dat dit yl, met min

poëtiese digtheid, gaan wees

inderwaarheid is ek bevrees

dat ek jou vir ʼn ride gaan vat

indien jy verder lees

.

skakel liewer die fluitketel aan

.

Anders as die huiwering van wik en weeg in die Nijhoff-gedig konstateer Van der Merwe in sy gedig. En in plaas van die slotwoorde “ik weet het niet” het die leser hier te doen met ʼn vrou wat bliksem sê. ʼn Weter, met ander woorde.

Nietemin berus die gedig op aannames waarop die leser minstens self kan reageer: Of jy reg is vir die “game” en of jy bereid is om vir ʼn “ride” gevat te word.

Stem jy in is dit ʼn heerlike en digte ride van verwysings, subtiele oprakelings uit ʼn literatuurskat wat bydra tot die vaste voet wat die gedigte het, verwagse én onverwagse spelings, humor en sinisme.

Van der Merwe begrond talle van sy gedigte in verwysings na die soort kanon waarmee hy grootgeword het: Benewens Nijhoff onder meer ook TS Eliot se “The Love Song of J. Alfred Prufrock” (vergelyk “liefdesgedig vir ouma”), Eugène Marais se “Winternag” (vergelyk “ou koeie”), SJ Pretorius se “Pyn” (vergelyk “desré”) en NP van Wyk Louw se “Nagwaak” met verwysing na “Die nag is silwer buite, van lamplig en van reën…” wat word “die lug is koud / van wind en reën” in “platonies”.

Benewens begrond gee Van der Merwe ook eiesoortige vlerke aan dié woorde van sy gespreksgenote en sit hy ʼn intertekstuele spel aan die gang. Die “gesprekke” wat hy aanknoop sluit ook ʼn wyer register in – dié van die skilderkuns en musiek; met “dylan en lennon … dood / en neil never young again …”. Hoewel Dylan nog in die lewe is, is die strekking nietemin “where have all the flowers gone”.

Van der Merwe kom vorendag met ʼn woord soos “slaks” (“slaks maar seker”), ʼn woord wat die leser wil-wil herken, maar met geen benul van waar nie; ʼn woord wat in die konteks van dié gedig, een met ʼn erotiese ondertoon, soos ʼn handskoen pas. Woord- en klankgevoeligheid val op sonder om opdringerig te word. Reg deur die bundel word woorde en klanke herhaal, wat ʼn besonderse tekstuur aan die bundel gee. Is die “dopdier” in “uitgelewer” (47) ʼn verwysing na slak of gewoon net iemand wat ʼn dop steek, soos in “gebreekte kompas” (25)?

Nog ʼn nuutskepping is “wattekatte” (20), wat in die volgende gedig, “halleluja” (21) “duisend katte” word, maar ook in ander betekenisse deur die bundel prrr. Daar is meer sulke voorbeelde van woorde (en dubbelbetekenisse) wat oor en weer opduik: In “skildery” (17) kom die leser “waansin” teë, om later, in “die filosoof mymer II” (53) gekonfronteer te word met “waantoe”, ʼn sametrekking van “waarheen na toe”, maar met ʼn betekenis wat dié van “waan” aktiveer.

Wat Van Wyk Louw oor slotreëls gesê het, is seker ook van toepassing op slotgedigte: dat dit sleutels meer as slotte kan wees. Benewens die betekenis van die laaste gedig (waarin DJ Opperman se “Tot Siens!” aan die einde van Komas uit ʼn bamboesstok ook “reverbereer”) gryp die titel terug na “dig trek”, na in- en uitsluit.

Gebruik jy dié gedig as sleutel manifesteer die vrees luid. Jy hoor “metaaldeure skrikwekkend klap” en ruik daarmee saam “elke klankie onmisbaar”. Die realiteit van die vrese word nie onderskat nie, maar wel ironies betrag deur die heildronk daarop.

Is daar skuilplek teen vrese? Moontlik in woorde, in ʼn ride wat getuig van poëtiese digtheid. Dít is Willem van der Merwe en Nuwe vrese.

Willem S van der Merwe se Nuwe vrese word uitgegee deur Naledi (2019).

Johan Myburg

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

Digtersprofiel: Willem S van der Merwe →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d