Nootvat. Kwashaal. Stapel.
Bernard Odendaal

In sy eerste bundel sedert hy in 2007 met Onbedoelde land gedebuteer het, besin Bernard Odendaal oor woordkuns, Afrikaans en die voortbestaan daarvan; gedenk hy die heerlikheid én verganklikheid van die mens, die natuur en die liefde; registreer hy maatskaplike verwording. ’n Verlore jeugwêreld en vriende word onthou; daar word gedink aan kinders wat in diaspora verkeer. Stemminge, toonaarde en digvorme wissel mekaar af.
respiratoriek
uit die lug gesnak, uit niks te sien of hoor:
asem: gees in vlees geword, deur fluite uitgevlegsel
en tot blydskap of verlange ontknoop – vlae, haarlokke –
of wat uitvaar, kordaat of klagend, bekkige kopergeskal die al in
en tot niet
uit die niet geslaak: die lied:
lýf gegee, longblasiediep
verinnig – wat, langs brongieë vereen
en strotwaarts opgewel, tril oor stembande,
plooi langs wange, tong en lippe, ’n verleigedaante
in versgewaad, in die arms van die melodie op die kadans
aan ’t asem uitblaas
Oor die outeur
Bernard Odendaal is die direkteur van die ATKV-Skryfskool in Potchefstroom. As digter debuteer hy in 2007 met Onbedoelde land, wat vir die Ingrid Jonker-prys benoem word. Sy gedigte is in verskeie bloemlesings opgeneem, onder andere die Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
[Tafelberg Uitgewers 2021]
