In 2010 het Facebook-digbladsye opgeskiet soos pawn shops ná inflasie. Of – soos tuindienste in Pretoria nadat pakkette uitgedeel is aan staatsdienswerkers. Die verskynsel het bly toeneem en daar is na raming 5000 Facebook-digters werksaam op die sosiale media. Hierdie informele kuberdigsektor is al so lank met ons dat dit deur generasies beweeg: ’n handjievol goeie digters het hul opwagting gemaak, sommiges het afgesterf en ander het handdoek ingegooi. Die term “Facebook-digter” verwys geensins na ’n literêre kategorie nie en moet beskou word as sosiale gedrag wat uiting vind op die sosiale media. Die grootste getal van hierdie digters is werksaam op Facebook. Ek het in die verlede oor dié verskynsel geskryf; klik gerus op die volgende skakels:
asook
Die term “hoofstroom”, op sy beurt, word oorwegend gebruik deur die informele kuberdigsektor of diegene wat hulself teenoor die sogenaamde hoofstroom posisioneer. In hierdie blog gebruik ek dié term om na die binêre spanning tussen die groep digters wat erkenning geniet en wie se uitsette deur erkende uitgewers gepubliseer is, en die amorfe gemeenskap wat die afgelope dekade of wat ontstaan het, te verwys.
Dit is seker onafwendbaar om te noem dat Facebook-resensente ondertussen hulle opwagting begin maak het. Facebook-digters is virtuele vriende en mede-aspirantdigters wat kollegiaal met mekaar verkeer en hulle digpogings op Facebook plaas vir die aanlyndiggemeenskap om te lees. Hierdie gemeenskappe leer mekaar se wel en weë ken en gee op ekspressiewe wyse uitdrukking aan hulle meelewing, wat die plaas en kommentaarlewering van poësie insluit. Heelparty van hierdie aspirante poog om ’n loopbaan te munt uit die gee en ontvang van kitserkenning – en wanneer ’n selfpublikasie verskyn, is die gedagte aan ’n resensie gesog. Ongelukkig is die selfpubliseerders en Facebook-“resensente” onkundig oor wat ’n resensie behels. Dit word verwar met ’n loftuiting – of lofpsalm – en die gewaande resensie pryk sommer kitsklaar op die agterflap van so bundel. Dit herinner nogal aan ’n heildronk op die digter.
Hierdie Facebook-resensies verskyn vanselfsprekend op Facebook en die resensent boots op paraplegiese wyse die jargon van hoofstroomliteratore na. Die “resensent”, in hierdie geval, skryf ’n lofpsalm oor die nuwe bundel en die volgende kriteria word gebruik: (1) Die selfpublikasie onder bespreking kom uit die hart en vergestalt daarom “ware” of “egte” poësie. (2) Poësie wat uit die hart kom, bevestig dan die digter se werk as deel van ’n lewensreis. (3) Die digter se lewe word verhef tot ’n morele lewensles en gevier op grond van die outobiografiese inhoud van die gedig of bundel ter sprake. Die leserskorps lees die verse en toon hul meelewing en medelye by wyse van adjektiewe en tussenwerpsels wat ontplof in die kommentaarkolom. Daar word doelbewus geen onderskeid getref tussen die digter en die spreker nie. Inteendeel, die gedigte moet juis die belydenisse, lyding en uiteindelike triomf van die digter in alle fasette van sy/haar lewe beklemtoon (gedigte word soms selfs vergesel van ’n kort anekdote van die omstandighede waaronder die gedig geskryf is).
’n Onlangse steekproef na hierdie uitroepe in die openbare domein toon die volgende as die mees gebruikte in hierdie sogenaamde resensies:
Hierdie uitroepe, wat emotief en geyk is, vorm dikwels die fondasie vir toekomstige Facebook-resensies.
Facebook-resensente beskou hulself as kenners, maar dra geen kennis van literatuurkritiek of die feit dat ’n resensie die letterkundige verslag van ’n opgeleide en erkende literator is nie. ’n Resensie is ’n kritiese bespreking en beoordeling van ’n teks deur ’n gekwalifiseerde letterkundige en dit verskyn in ’n dagblad, tydskrif, oor die radio, televisie, of op erkende aanlyn platforms. Vir die informele diggemeenskap is dit ’n geval van resenséér. Ja, resensies krap oningeligte lesers om. Volgens Joseph Shipley is elke leser ’n kritikus, maar nie elke leser se kritiek word mondeling of skriftelik oorgedra nie; dit het nie waarde vir ander lesers nie, met ander woorde dit vorm nie deel van die literêre kanonieke gesag nie.
Maar in Facebook-land (met apologie aan Daniel Hugo, met verwysing na sy vers elders in hierdie blog) werk dit anders. Op Facebook het elkeen ’n seepkis om op te staan. Dit blyk uit ’n legio aanlyn gesprekke dat ’n resensent ’n “opinie” of ’n “mening” het. ’n Opinie, ja. Die literatuurwetenskaplike onderbou verbonde aan die lewering van literêre kritiek is heeltemal afwesig. ’n Werklike resensent word beskou as ’n onredelike persoon wat opsetlik en ongekwalifiseerd kwetsende goed van ’n skrywer of digter se mooi of goeie boek sê. Hóé dúrf hy/sy? In die enkele gevalle wat een van hierdie bundels per abuis in die hande van ’n opgeleide resensent geland het, het die resensie tot ongekende persoonlike aanvalle op die karakter van laasgenoemde resensent gelei deur die ondersteuners van die betrokke digter.
Facebook-resensente skep graag bladsye waarin hulle hulself “onafhanklike -” of “inhuisresensente” noem. Ongelukkig is dit onduidelik na watter konteks “inhuis” of “onafhanklik” hier verwys. Diesulkes verwar resensies met persverklarings en/of ’n dokument wat deel vorm van ’n bemarkingsveldtog. Soos reeds genoem, word sommige resensies as deel van die lokteks aangebied. Facebook-resensente roem op hulle “eerlike” menings – met ander woorde eerlikheid verleen geloofwaardigheid aan só ‘n resensie. Sommiges vra dan ook ’n fooi vir hulle dienste, ’n rits akkolades wat met ’n dawerende gejuig in die kommentaarkolom ontvang word. Enige poging tot ware literatuurkritiek word met aggressie begroet en die skrywer se Facebook-volgelinge is bereid om in die voorste virtuele linies te veg om hul skryfheld(in) se mooi of goeie boek te verdedig. Trouens, dit herinner sterk aan die oproep tot “stryd” wat so dikwels in die Afrikaanse geskiedenis neerslag gevind het. Die resensiepraktyke op die sosiale media stuur die bestaande beskouings rondom metatekstualiteit en resepsie-estetika poer in hulle kanon in. Gewilde frases in hierdie tipe resensies is onder meer die gebruik van die woord “passie”. Die volgende Facebook-resensent se bekendstelling lui soos volg: “Bets Badenhorst het van kleins af ’n passie vir lees. Haar resensies is geloofwaardig en word deur menigte [sic] skrywers en kopers gerespekteer en hooggeag.”
’n Ander voorbeeld is “hierdie bundel is ’n MOET LEES.” [sic]. Op Facebook verwys die gewaande digters en kommentators na die selfpublikasies as hulle “werke”. Van die innoverende selfpubliseerders haal die kommentare van hulle Facebook-volgelinge op die agterflap van die bundel aan, en dié lokteks word geesdriftig verwar met ’n “resensie”.
’n Eienskap van vroulike Facebook-resensente is dat ’n keurige foto ’n resensie vergesel. Hierdie foto toon byvoorbeeld ’n altaartjie met die bundel (en potpourri-blare argeloos oor dié kosbare kleinood uitgestrooi). Die allerfynste porseleinkoppie rond die klikaas mooi af. Die resensent het waarskynlik meer moeite gedoen met die uitstal van haar ouma se erfgoed as met die skryf van haar resensie.
Die kloof tussen die gevestigde hoofstroom en informele kuberdigsektor is inderdaad so diep soos Moses se Skelfsee. ’n Wanbegrip, gebore uit onkunde en ’n weiering om kennis te neem van die basiese beginsels van resensiekunde is aan die orde van die dag. Om gedigte op Facebook te plaas is allereers ’n aksie wat die ego streel: die likes word ingewag en getel, die gawe comments word gelees en herlees – en die logiese volgende stap is om te “publiseer” en “geresenseer” te word. Met een verskil: in Facebook-land bestaan daar geen literêre kritiek nie, slegs kanonisering op die sosiale media. Die hoofstroom word venynig bejeën as ’n spul “snobs” (’n woord wat uitgespreek word as “snôps”).
Doggerel
Emily Dickinson, ons hond
(soos die digters van Facebook-land)
is literêr maar ongeletter
sy knor bang vir elke leiband
en kef oor daardie slinkse setter
wat weet haar drukwerk ruik na stront
Versindaba. © Daniel Hugo, 2021
Oscar Wilde het op ’n kol beweer “all bad poetry springs from genuine feeling.” Omdat Facebook-resensente die selfpublikasies onder bespreking as outobiografiese uitinge lees, word die digters – heel familiêr – moed ingepraat. In een so’n geval het ’n resensent selfs haar resensie afgesluit met ’n gebed vir die digter, wat klaarblyklik deur ’n deur donker tyd gegaan het.
Dit raak duidelik dat daar ’n hele pseudoliterêre gemeenskap op Facebook ontstaan het wat hoofstoomgebruike op ’n misplaaste wyse emuleer. Facebook-poësie het gegradueer tot die onstaan van selfpubliseerders wat gediversifiseer het na die uitgee van erotika, jeugverhale, selfhelpboeke of godsdienstige werke, waarin die skrywer se uitverkorenheid onder die wakende oog van God beskryf word. Die ekstreme lyding wat gelei het tot die skrywer of digter se nuutverworwe verhewe status is waarskynlik in digvorm én as narratief beskikbaar, mét of sonder spelfoute. Boeke oor depressie en die outobiografieë van onbekende pensionarisse is gewild. Hierdie outobiografieë word soms verwerk tot genealogiese leesstof.
Tussen Bitcoin-advertensies deur tree die rasieleiers na vore wat die hoofstroom uitdaag en met moed en oortuiging ’n wankelende selfpublikasie sal verdedig. Vyandskappe word vinnig en driftig gesmee, Facebook-settings word verander, gevegte bons van inboks tot inboks en die ongewensde kritici word summier “geblok”. (Facebook-digters spel dié woord as “geblock”.) Helaas; daar word verontwaardig na hiérdie konflik verwys as “Facebook-politiek”. Daar bestaan ook protokols vir die lewering van kritiek op kuberdigblaaie. Digters vra graag om “gekrit” te word – maar die kritiek móét positief wees en gelees word as ’n antisipasie op ’n seëngroet en lofsang. Die ontstaan van ’n hele hiërargie onder Facebook-digbladsye gee uiteindelik geboorte aan die sogenaamde “hoofstroom-Facebook-blaaie”, ’n skeut semantiese bedrog wat die kuberdigters aanmoedig om hulle werke met nuwe erns met die aanlynwêreld te deel.
Gewilde temas onder hierdie digters, wat ook hulle diepste emosies verwoord is erotika, patriotisme en godsdiens wat gemoedelik om dieselfde tafel saamkuier. Die gedigte is moralisties, maar teenstrydig tot hul motgevrete konserwatiewe kompas word erotiese verse met ope arms ontvang. Facebook-digters hou van grafika by hulle gedigte en prente van halfgeklede vroue haal seker die topdrielys. Van die digters verkeer onder die wanindruk dat Christelike tematiek die standaard van hulle verse lig, soos dit drie of meer dekades tydens die apartheidskoolkurrikulum die geval was. Hou in gedagte dat die gemiddelde ouderdom van Facebook-digters 50 jaar en ouer is. Dan is daar middeljarige manlike digters wat graag met groot nostalgie dig oor hulle army-dae. Almal ly skynbaar aan PTSS en digters word nou oorlogshelde, al het die meeste van hulle waarkynlik gelê en ballas bak op kleindorpse basisse.
Kuberdigters is net so geïnteresseerd in mekaar se selfies as in die kommentaarlewering op gedigte. Die selfies word gekenmerk deur arms wat grotesk uitgroei soos wat die foon vasgehou word en genadiglik deur die lens geamputeer word – en die kyker noop om in die persoon se oksel vas te kyk. Hierdie subjekte, wat hulself ywerig fotografeer se gesigte is blink gepoleer met die hulp van verskeie selfoon-apps.
Watter digters lees Facebook-digters? Ingrid Jonker. Heel bo aan die lys. Dis nou afgesien van ’n ou glimmering aan die voorgeskrewe werk van Jan F.E. Celliers, Totius of Leipoldt. Uiteraard lees Facebook-digters ook ánder Facebook-digters se (komplimentêre) kopieë van hulle selfpublikasies. Kuberdigters glo vas dat hulle leer om te dig deur te vertoef op hul onderskeie Facebook-bladsye; en met soveel positiewe comments wat hulle digsels vergesel word ’n wanvoorstelling van grootsheid geskep en glo die digters dat hulle die nuwe (miskende) Vissers, Louws of Jonkers van die moderne generasie verteenwoordig. Met juigkommentare wat soms tot in die honderde deur kommentaarkolomme rol, kan soveel lesers seker nie verkeerd wees nie. Ongelukkig stel hulle nie belang in onderrig of substantiewe kritiek nie en grens die plaas van Facebook-gedigte aan ’n verslawing, soortgelyk aan kokaïene, ’n quick fix vir die ego.
Facebook-digters (en -digbladsye) volg al vir jare dieselfde patroon. Hierdie kuberdigters bou ná ’n ruk ’n following op en skep hulle eie fan-pages. Die woorde “skrywer” of “digter” verskyn gewoonlik ná die naam: “Johannes C. Beeslaar Digter.” Van hierdie digters versamel ’n reuse gevolg van fans langs die kuberpaaie, siele wat saamlees aan hierdie gedigte.
Troebadoere, oorlogshelde, gypsies, woordtowenaars, taalstryders, woordmoeders, prikkelpoppe, predikers en kaalvoetdigters tree na vore. Hierdie beskrywings is gewilde benaminge vir aspirante wat geesdriftig ontvang word in die groeiende popkultuur wat Facebook-poësie beliggaam. “Kaalvoet-“ is ’n deurwinterde cliché, vergesel van goue strande en die voetspore wat hierdie kaal voete agterlaat. “Kaalvoetdigter”, “kaalvoetdigterkind” of “Jesus se kaalvoetdigter”. Maar waarom is laasgenoemde so gewild? Dit eggo waarskynlik Margaret Fishback Powers se gedig, “Footprints” (ook beskikbaar as “Footprints in the sand”). Hierdie gedig het egter ’n eienaardige geskiedenis. Ongeveer ’n dosyn outeurs het na vore getree en beweer dat elk van hulle die oorspronklike digter van dié vers is. Na ’n paar uitmergelende hofsake het Margaret Fishback Powers geseëvier en berus die kopiereg skynbaar by haar, alhoewel die gedig oorwegend as allemansgoed en sonder naamverwysing aangehaal word. Nou ja, mens kan seker bespiegel of dit ’n vorm van digterlike muitery is… Dan, die volgende punt: Vir jare aaneen is Antjie Krog se gedig, “Ma” as voorgeskrewe gedig op skoolvlak aan leerders voorgeskryf: “Ma, ek skryf vir jou ’n gedig /…/ net sommer / ’n kaalvoet gedig /.” Die meeste Facebook-digters is onbekend met hoofstroompoësie, maar hulle onthou vaagweg hulle voorgeskrewe skoolgedigte. My raaiskoot is dat Powers se “Footprints” en laasgenoemde vers van Krog gemuteer het en gelei het tot die ontstaan van nuwe clichés. Die nabootsing van gedrag op die sosiale media speel uiteraard ’n rol in die gewildheid van hierdie versuikerde uitinge. Ongelukkig is dit só dat mens met ’n hele polisiemag, wat hierdie clichés onderhou, sou bots indien enige kritiek op Facebook-digblaaie daaroor gelewer word.
Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden
Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?
Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.
Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …
Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.
Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.
Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
Versindaba. © Danie Marais. Feb. 2010
Facebook-digbladsye volg progressief dieselfde ontwikkeling met verloop van tyd. Daar word gevry na die hoofstroom en die kuberwerke word onbeskaamd geproklameer as groots en vernuwend. Laasgenoemde bladsye toon ooreenskomste met kultusbewegings. Wanneer hierdie digitale platforms besef dat hulle geen jota of tittel gaan verander aan die bestaande kanon nie, word die hoofstroom met suspisie en argwaan bejeën. Facebook-digters glo om die een of ander rede dat die hoofstroom lank reeds gruwelik ontspoor het; ’n wanpersepsie oor die werkinge van die kanon gee nou aanleiding tot ’n vorm van rebellie. Die hoofstroom moet drasties gerewolusionaliseer word, soortgelyk aan die Afrikaanse musiekbedryf sedert die vroeg negentigs. Die bestaande kanon is wreed, onredelik en gee niemand ’n kans nie, ’n siening wat aangevuur word deur die demokratiese digpraktyke op die sosiale media.
En, natuurlik binne hierdie hibriede klimaat tree daar “mentors” na vore wat “slypskole” aanbied, al beskik hierdie mense oor geen literêre agtergrond nie. Raad en wenke met die skryf van gedigte asook ander skryfgeheime, geplunder uit ou skoolhandboeke en die Wikipedia-blaaie van die onderskeie subgenres word saamgeflans en die bronverwysing lees kort en bondig as “Google”.
Regse taal- en digbewegings, wat hulself beskou as alternatief tot die hoofstroom wat (aldus hulle) óók lankal reeds ontspoor het, loods gereeld kompetisies met ’n Pro Patria-inslag. Vet kontantpryse en die digter Eugène Terre’Blanche word as rolmodel voorgehou.
Selfaangestelde eksperts in die veld van woord- en digkuns tree vervolgens na vore en pryse en toekennings word oorhandig; nie-kanonieke bekronings wat kuberdigters verder op die breë weg van sukses plaas met finansiële insentiewe wat ten doel het om hulle aanlyninisiatiewe te bevorder. Vandag, ongeveer 11 jaar nadat Afrikaanse kuberdigkuns posgevat het in Suid-Afrika, is daar ’n groei in die rigting van Gesamtkunstwerk. Facebook-verse word getoonset deur musikante, of die verse lei tot skilderye deur óf die oorspronklike digter, óf die digter se geesdriftige volgelinge. Ook videograwe laat nie op hulle wag nie en die voorlesings van poësie, onderhoude en boekbekendstellings word verfilm en op YouTube of spesiaal ontwikkelde internetradiostasies geplaas. Dit is wel waar dat digters op die sosiale media die hoofstroom vóór is in die gebruik van multimediafunksies en die verskillende hulpmiddels binne die groeiende tegnologiese klimaat van die dag. Afrikaanse aanlynpoësie is uniek en nie vergelykbaar met die tendense van oorsese modelle byvoorbeeld die skryf van Twitter-poësie nie.
Soos reeds genoem verteenwoordig die digkuns op digitale platforms nie ’n literêre kategorie nie. Dit is ’n vorm van sosialisering en selfterapie en ’n mens kan kuberdigters nie die reg ontsê om hulle digwerk aanlyn te plaas nie. Kubergedigte verbreed die belangstellingsveld in poësie en bring die kuberdigters hopelik in aanraking met suiwer literêre praktyk, hoewel hierdie ervaring erg traumaties vir beide die hoofstroom en die kuberdigters mag wees. Dit is egter belangrik om te noem dat die kuberdigters nie werklik enige digbundels van bekende digters besit of lees nie en eerder versamelings van mekaar se selfpublikasies op spesiale plekke in hulle huise koester.
Goeie artikel, veels geluk Nini.
Dankie.
Nini, baie dankie dat jy hierdie turksvy takel. ‘n Resensent is ‘n professionele persoon met ‘n nagraadse kwalifikasie in die Letterkunde (soos ‘n MA of ‘n PhD). Iemand sonder so ‘n kwalifikasie wat hom-/haarself ‘n resensent noem, is soos ‘n ongekwalifiseerde persoon wat homself ‘n dokter noem en onwettig praktiseer.