Die lees van gedigte lei dikwels tot die skryf van gedigte. Dit is ’n verskynsel wat by feitlik alle versemakers voorkom. Ook by die “spontane volksdigter” Boerneef.
Izak Wilhelmus van der Merwe (1897-1967) is op Ceres gebore en was vanaf 1922 tot 1961 ’n lektor en medeprofessor in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Sy verse is uniek omdat hy daarin kon slaag om die Koue Bokkeveldse spreektaal naatloos te laat voeg met die Nederlandse Bybel- en Gesangetaal. En van tyd tot tyd duik ook verwysings na die Nederlandse digkuns, sy akademiese vakgebied, op. Soms haal hy direk aan en soms is die verband met sy leeswerk baie goed verbloem.
In sy Boerneef-boek Tromboniusdagboekenkaart (Tafelberg, 1981) skryf C.N. van der Merwe: “As dosent was hy iemand met besliste voorkeure vir bepaalde digters. Onder die Nederlandse digters het hy veral gehou van die werk van die groot romantici soos Bloem, Holst en Slauerhoff […] Hy het lang stukke poësie gememoriseer en dit dan graag aan ander voorgedra ..”
In sy bundel Op die flottina (1967) verwys hy regstreeks na die Nederlandse digter en tydgenoot J.C. Bloem (1887-1966). Boerneef verplaas ’n Nederlandse herfsdag na Kaapstad. Hy loop deur die strate van sy voorstad (Oranjezicht) en sê vir homself ’n Bloemgedig op:
Die najaarsrooiengeel hang weer die wêreld vol
ek loop op straat en dink aan J.C. Bloem
aan Het Verlange en De Nederlaag
en aan sy nooit volprese herfsmusiek
(Uitkyk se blare wiploop teen die skuinste af)
deze najaarsdag is schoon als nooit tevoren
die herfste wat verby is hoop nou op
dit word die ene rooi en geel en bruin
en najaar in die hartjie van die stad
(op Uitkyk warrel blare teen die helling af).
Die aangehaalde versreël kom uit Bloem se gedig “Najaarsdag” en staan in sy bundel De Nederlaag (1937). Het Verlangen is Bloem se debuutbundel van 1921.
Boerneef kon egter ook op ’n gedempte wyse ’n bekende Nederlandse gedig in een van sy verse eggo. Ek dink veral aan die volgende een – eweneens uit Op die flottina:
Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê
wie kan dit mooier assie tortel sê
wie roerender as die bladstil bome
assie skewe verwaaide damwalbome
innie stilvroemôre as Sedoos gaan lê
hoe om ’n stilte in die hart te vind
genadig soos wanneer Sedoos gaan lê.
“Sedoos” is die Kaapse benaming vir die berugte suidoostewind wat in die somermaande dikwels stormsterkte bereik. Die natuur kom tot rus wanner die Suidoos homself oornag uitgewoed het, maar die spreker in die vers smag nog na genadige “stilte in die hart”. Die storm duur dus nog voort in sy gemoed. Dit is ’n tipiese stylmiddel uit die Romantiese digkuns: die natuur in simpatie of antipatie met die digter se gevoelens.
Elke keer wanneer ek hierdie gedig lees, kan ek nie anders as om aan die Nederlandse Tagtiger Willem Kloos (1859-1938) se beroemde sonnet te dink nie:
Nauw zichtbaar wiegen, op een lichten zucht,
De witte bloesems in de scheemring – ziet,
Hoe langs mijn venster nog, met ras gerucht,
Een enkele, al te late vogel vliedt.
En ver, daar ginds, die zacht-gekleurde lucht
Als perlemoer, waar ied’re tint vervliet
In teêrheid … Rust – o, wonder-vreemd genucht!
Want alles is bij dag zóó innig niet.
Alle geluid, dat nog van verre sprak,
Verstierf – de wind, de wolken, alles gaat
Al zacht en zachter – alles wordt zoo stil …
En ik weet niet, hoe thans dit hart, zoo zwak,
Dat al zóó moe is, altijd luider slaat,
Altijd maar luider, en niet rusten wil.
Dit is ’n aandgedig, waar Boerneef se vers in die “vroemôre” afspeel, maar die sentiment is dieselfde. Die natuur – die geluide, die wind, die wolke – kom tot rus terwyl die digter se hart al “luider slaat”.
Al wat nog freneties aktief is, is die ongespesifiseerde “al te late vogel” wat “met ras gerucht” (’n vlugtige gedruis) by sy venster verbyvlieg. Dit loop die spreker se wild kloppende hart in die slotstrofe simbolies vooruit. By Boerneef word die voël nie net pertinent as ’n tortelduif geïdentifiseer nie, maar is dit juis die aankondiger en lofsanger van die stilte.
Die Nederlandse digter gebruik die gesofistikeerde Italiaanse sonnetvorm, teenoor Boerneef wat die veel eenvoudiger paarrym aanwend. Die enigste rymlose versreël beklemtoon juis die onrustige hart.
Die “flottina” van die bundeltitel is ’n konsertina – ’n tipiese volkse musiekinstrument. Boerneef se versmusiek is veel aardser en “primitiewer” as dié van Kloos, maar die emosie wat hy verwoord is ewe kompleks en diep gevoel.