Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 May 202211 July 2023

Onderhoud met Louis du Plessis: “Teen Helderberg”

 

Dirk Louw; Louis du Plessis

 

Die volgende is ‘n uittreksel uit en aanpassing van die opname wat op 2 Maart 2022 in die Rupertmuseum op Stellenbosch gemaak is.

 

Dirk Louw

Louis du Plessis word groot op ‘n druiweplaas teen Helderberg, leer een en ander van geskiedenis en politieke filosofie in Stellenbosch en doktoreer in 1988 in politieke wetenskap in Pretoria.

Na verskeie weermagposte en operasionele diens – sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon – doseer hy politieke wetenskap aan die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit Stellenbosch. As direkteur van ‘n US-navorsingsentrum onderneem hy feitesendings op alle vastelande en word in 2008 deur die President bekroon met die Dekorasie van die Goue Protea – iPhrothiya yeGolide.

Hy skryf intussen rubrieke, artikels en hoofstukke oor onder meer uitdagings vir Afrika; verhoudings tussen Europese tale; selfbeskikking van minderhede; en ontwikkelingstendense. Hy is mederedakteur van akademiese werke oor konflik en veiligheid, en redaksielid van die Verklarende Politieke Woordeboek / Explanatory Dictionary of Politics. Die NP van Wyk Louw-sentrum publiseer gesigspunte van hom as Die berge waaroor Afrikaners klim.

In die opvoedkundige gemeenskap dien hy onder meer as trustee van die Rapportonderwysfonds, as dagbestuurslid van die Afrikanerbond en as direksielid van die Afrikaanse Taalraad.

‘n Mens wonder onwillekeurig: Hoe het dit gebeur Louis dat jy begin dig het?

 

Louis du Plessis

Al het ek van jongs af nou en dan gediggies gegriffel, waarvan een selfs verskyn het in Paul Roos se koerant Semper, was die KKNK in Oudtshoorn waarskynlik ‘n grensverskuiwing. Toe ‘n span akademici ‘n paar jaar gelede gevra is om referate oor allerlei politieke, ekonomiese en kulturele tendense te lewer, moes ék iets sê oor verhoudings tussen Europese tale, soos tussen die Romaanse Portugees, die Germaanse Nederlands en die Slawiese Oekraïens. Ook oor waar pas eiesoortige tale soos Hongaars in. En waar loop die grense tussen die ampstale? En hoe werk taalregte? Omdat dit vir my duidelik was daardie vakansiegangers sal nie langer as vyf minute aandag gee aan my prosa nie, het ek die hele referaat – elke naam, aksie en datum – in versvorm begin skryf, met sterk klem op ritme, rym en beelde.

Wat my getref het, was die reaksie van die gehoor – en die media daarna. Ongeag hoe skerp of stomp my inhoud was – die strúktuur het die aandag geboei. Dit was iets wat hulle kon geniet en memoriseer.

Dit het my gestimuleer om skryfwerkswinkels by te woon – in Stellenbosch en Pretoria, Johannesburg en Potch – waar ek heelwat wys geword het van eietydse letterkundige vaktaal.

Voorts het ek begin om kort verse te skryf oor my persoonlike belewenisse, maar sonder om iets daarvan te publiseer.

‘n Keerpunt was dat ek ‘n ou vriend van Krugersdorp raakgeloop het – De Waal Venter, ‘n bekroonde Afrikaanse digter, wat onder andere van die Spaanse gedigte deur Pablo Neruda en Sweedse gedigte van Tomas Tranströmer vertaal in Afrikaans. En De Waal sê: Kyk Louis, dit help nie jy bêre al jou gedagtes op jou rekenaar nie. Moet nou nie ‘n slagoffermentaliteit hê nie. Stuur net iets daarvan in vir keuring.

Omdat ek nie seker was ander persone sal waarde heg aan my eksperimente nie, kon jy my met ‘n veer omtik toe LitNet dit publiseer. Naledi het iemand aangewys om kommentaar te lewer op die gedigte wat ek voorgelê het en het uiteindelik besluit om dit uit te gee. Opregte dank, Johan Coetzee vir die uitgee van die bundel en De Waal, vir jou vertroue.

 

DL

Heelparty van jou gedigte handel oor jeugdige ondervindings, soos die verhale wat jou ouers jou vertel het, in Dawid en Goliat (p 12), asook ervarings soos Agter daai skoolmuur (p 13) en Ou Hoofgebou (p 15). In twee ironiese erotiese verse – Die eerste keer (p 16) en Die ewige een (p 21) – verander liefdesverhoudings sonder dat die deelnemers eers agterkom wat gebeur. Jy skryf ook oor Boesemvriende (p 27) en hoe jy jouself innerlik ervaar, soos Nádenke (p 31) en Identiteitskrisis (p 32).

Wil jy dalk iets sê oor die eerste gedig in die bundel wat handel oor jou perd.

 

LDUP

Omdat die dorp Somerset-Wes die afgelope dekades die voetheuwels van Helderberg ingesluk het, is die wingerdplaas Heldersig, waarop ek teen Helderberg grootgeword het, tans die woonbuurt Helderrand. Desondanks speel ek in my verbeelding nog steeds daar:

 

Simpel ploegperd (p 11)

 

Vader regverdig jou koop:

“Hoe kan ons dag na dag

wingerdonkruid ontwortel

sonder perdekrag?”

Maar al wat jou laat runnik

is merries wat steier en vra

want mý kyk jy mis as ek soggens

jou mielies stal toe dra

 

As ek smiddae jou kop in die halter vang

is jy papnat, reeds klaar geploeg

en van trek aan jou kop en keer vir jou skop

is ook ek gou moeg geswoeg

Van jaarin en jaaruit deur wingerde beur

word jy al hoe minder werd

tot ons jou met die plaas en al verkoop –

eenvoudige simpel ploegperd

 

Vandag onthou ek: naweke

op jou saal was ék die kind

met wie jy teen Helderberg galop

teen die spoed van die suidewind,

en gaan ons vakansies noorde toe

bly my hart en hande leeg

tot ek weer jou wit bles borsel –

hartstog van my jeug

 

DL

Een van die temas wat jy in verskeie verse aansny, is die wyse waarop die omgewing die indiwidu omsingel, trouens, waarop die kosmos die enkeling oorweldig.

Van die skerpste kontraste in die bundel is tussen die magtige omgewing en die onvrye enkeling. In Toe oë (p 120) en Marionet (p 122) bevind die enkeling hom of haar byvoorbeeld heeltemaal in die mag van die natuur: enersyds van die son, wat elke asemteug van die lewe moontlik maak, tot sy eie biologiese en geneties bepaalde selstruktuur. Dit wil voorkom of jy baie navorsing moes onderneem om hierdie soort verse te munt, of hoe?

 

LDUP

Ek vermoed ons kan met enige komplekse verskynsel poëties omgaan. Vir gedigte oor hoe my breinselle en spierselle en longselle funksioneer, asook oor hoe my voorouers geleef het, moes ek uiteraard heelwat bronne raadpleeg en gesprekke voer. Een hiervan is die ironiese Onbenullige voorouers (p 137) wat, op ‘n paradoksale manier, die gebod in Eksodus 20 vers 12 weerspieël: Eér jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Soos ek teruggly tussen my voorouers in moes ek seker maak van byvoorbeeld die Australopithicus Africanus se prominente snoet en penregop rug. Ek moes ‘n besoek bring – veertig miljoen jaar terug  – aan my oupa Spectrum, wat gelyk het soos ‘n klein eekhoring, en – tagtig miljoen jaar terug – aan my boommuisouma, die Plesiadapis, wat blare stroop en wurms jag. Vir die skerp feite, gee ek hoë agting onder andere vir die toonaangewende paleontoloog, die grotman Francois Durand, wat waarskynlik ook dié week weer afklim in die grotte by Swartkrans en Sterkfontein! Die eerste konsep is meer as tien jaar ouer as die weergawe in Teen Helderberg.

 

DL

In ‘n ander ironiese natuurwetenskaplike gedig My vrye wil (p 140) onderstreep jy juis hoe ónvry jou wil is!

 

LDUP

Inderdaad! Die omgewing, waarvan ons ‘n deel is, stuur ons in ‘n rigting so onbewus soos wat ons asemhaal. My eerste oogmerk was om vrae te rig aan myself en aan wie ook al belangstel, maar sonder om dit dadelik te beantwoord: naamlik om nege grondvrae te stel oor my eie herkoms. Die tweede oogmerk was wel om van die mees belangrike feite oor my bestaan te ontbloot. Terwyl my onvryheid al duideliker blyk, was die derde oogmerk om my innerlike verhouding met die kosmos te bely:

 

My vrye wil (p 140)

 

Watter ontploffing

kon dertien duisend miljoen jaar terug

eindelose sterrestelsels

wêreldwyd versprei?

Waar kon, tussen

ontelbaar ander sterre

in die Melkweg, ons eie son

sy ruitverwysing kry?

 

Hoe kon ‘n kokende klein massa

tot ‘n aarde stol

wat 365 maal moet draai

om een keer om dié son te tol?

Uit watter enkelsel

op hierdie grond

het drie duisend agt honderd miljoen jaar terug

die lewe begin vloei?

 

Hoe kon uit primate –

aapagtige soogdiere

soos gorillas en sjimpansees –

wat met storm en roofdier stoei

van ses miljoen jaar gelede af

voormense én oermense groei?

 

Hoe het die mens-met-verstand

– Homo sapiens –

gereelde katastrofes gemis

wat sewentig persent lewe

op dié tollende bal uitwis?

 

Terwyl hy die aarde deursnuffel

van hoek tot kant:

wie het vir dié kalant

leer hutte bou en vuur maak

leer praat en skryf

leer ploeg en plant?

 

Kan ek vrae beantwoord

oor waarheen en waarvandaan?

Is ek bewus genoeg

om selfs die vráé te verstaan?

Waar dertien duisend miljoen jaar

die ruimtetyd

beswaarlik kan begrens,

vorm die laaste dertien dúísend jaar –

skaars een miljoenste –

die bewussyn van die mens

 

Hoe volkome buig

my brein en lot

heelal

voor jóú gebod

 

Jy vorm my liggaam

om te eet,

om voort te plant,

op aarde rond te loop

Vir die skouspel

van die sterre

en die lewe

beur jy my oop

 

Één lyf, één blik

één kans gee jy

één keer vir my

om so ‘n paar maal

op die aarde

om die son te ry:

om te verskyn,

dan asemrowend

te verdwyn

 

DL

Een van die deurlopende temas van Teen Helderberg, is die nietigheid en die verganklikheid van die enkeling, wat jy pas in My vrye wil (p 140) met historiese voorbeelde benadruk het. In ‘n ander gedig illustreer jy dit met net een beeld, alhoewel ‘n véélkantige beeld. Sal jy asseblief iets sê oor hoe jy simboliek en beeldspraak benader.

 

LDUP

Enersyds is dit inderdaad moontlik om een verskynsel – die Wolgarivier, die Brandenburghek – te gebruik om ‘n ander een – onstuitbare beweging, die Duitse geskiedenis – te verduidelik, met ander woorde, om met ‘n beeld – ‘n simbool, ‘n metafoor, ‘n spieël – die kern van ‘n saak, soms onverwant, te verlig. Mens kom gou agter: die gebruik hiervan is ‘n kernelement van poësie, waarvan toonaangewende digters, soos De Waal Venter, meesters is.

Ek dink soms aan beeldspraak teen die agtergrond van die Nederlander Hayley se fassinerende psigopolitikologiese ontleding van wat hy noem die magpolitiek van Jesus. Hy vergelyk – wetenskaplik, kommunikasiekundig en sielkundig eerder as bloot religieus – die moraliserende abstraksies van die Fariseërs met die konkrete gelykenisse van die mees aangehaalde en invloedrykste skrynwerker die afgelope twee duisend jaar. Soos ander ontleders wys hy: Iemand lees algemeenhede Maandag, weet aanvanklik nie juis wat dit moet beteken nie en vergeet dit reeds Dinsdag. Konkrete simbole bly leef in jou verbeelding.

In verskeie gedigte, soos in Watter week! (p 134), is ek intens bewus van my kortstondige bestaan. Hier sit ek vanaand voor u. Binnekort sal ek nie meer leef nie. U ook nie. Mense kom en gaan.

Vir hierdie verskynsel van verganklikheid Dirk, het ek geworstel om ‘n simbool te kry wat verskeie elemente kan kombineer: ek as indiwidu wat nes medemense deur die lewe vorentoe beweeg, ek wat oënskynlik onkeerbaar is, koersvas en trots, ek wat dan geleidelik my vermoëns verloor en afgeleef raak, en wat, saam met almal, tot ‘n einde kom: ‘n simbool van onafwendbare kortstondigheid. As ‘n veelkantige beeld hiervoor het ek op die ou end ‘n vers oor ‘n brander uitgebewe.

 

Brander (p 136)

 

Ek golf tree vir tree

koersvas deur die see

om eendag as brander

te breek op die strand

waar afgeleef van my

net skuim oorbly

as ek soos ál die ander

verdwyn in die sand

 

DL

In byna al jou verse, Louis, kruip kontraste weg, soos tussen natuur en stad, jeug en veroudering, lojaliteit en vryheid, verstening en herlewing, konflik en vrede, en werklikheid en verbeelding.Voorts is daar kontraste tússen verse. Byvoorbeeld, in teenstelling met die invloed van die rigtinggewende omgewing in My vrye wil (p 140) en in Brander ( p 136), speel die kreatiewe enkeling ‘n sleutelrol in verskeie verse. Enersyds beklemtoon jy hoe die magtige kosmos, en selfs die invloedryke gemeenskap, die inwididu oorrompel. Hierteenoor is daar egter talle verse wat dui op verreikende keuses wat ‘n groep en ‘n indiwidu kán uitoefen, soos tussen veelsydigheid en doelgerigtheid in Troefkaart (p 69) en Só veelkantig (p 71) en tussen slagofferskap en veerkrag in Slagoffers (p 64).Een voorbeeld hiervan is Woudkastele of lugkastele (100).

 

LDUP

Inderdaad Dirk. Veral in die slotafdeling Grondpad kom die enorme heelal na vore, waarbinne ek maar ‘n vlietende entiteit is. Gedigte soos Swaartekrag (p 118) en Hy wéét hy weet (p 127) wys juis hoe onvry my wil is. Sulke gedigte weerspieël ‘n vorm van determinisme. Die indruk kan geskep word dat ons magteloos is. Maar daar is ook heeltemaal ‘n ander kant van die bundel, waar die klem val op die keuse van die gemeenskap en indiwidu.

Op die teenoorgestelde punt van die glyskaal van onvryheid, is byvoorbeeld die twee ironiese sketse Nóg ‘n kerkhof? (p 97) en Struikelblokke (p 106), wat die krag van die wil en kreatiwiteit demonstreer. Dit gee ‘n vorm van voluntarisme weer. En in die bundel is daar gedigte op verskillende posisies op hierdie spektrum.

Woudkastele of lugkastele? (p 100) kontrasteer boonop teenoorgestelde keuses: die keuse tussen dié wat net dink oor wat gebeur en dié wat ook iets dóén. Dis ‘n soort teenstelling tussen intellektualisme en aktivisme. Tussen ‘n praktiese Albert Schweitzer en ‘n dromende professor John M Bush. Elkeen van ons is soms die een en soms die ander. Die een genees toue siekes. Hy ontvang ‘n Nobelprys in Swede. Die ander een maak notas, maar hy maak nie eers sy skoene vuil nie.

 

DL

Kan jy dalk vlugtig iets noem oor die vyf afdelings waarin jy die bundel ingedeel het, Louis? Verskil die soort kontraste wat jy uitbeeld van afdeling tot afdeling?

 

LDUP

Enersyds Dirk, pas die kontraste by my ervarings op elkeen van die vyf soort paaie wat die afdelings voorstel. Ek word groot op ‘n enkelpad teen Helderberg. Dit dek my eie worsteling en keuses. As vennoot, kollega en vriend beland ek hierna, saam met ander, op ‘n dubbelpad, voor ek kruispad na kruispad oorsteek sonder om te weet of ek links of regs moet swaai. Vanaf die een ingewikkelde kronkelpad na die ander, waar ek my verwonder aan vreemde draaie, soms in die natuur, keer ek, soos telkens, terug na ‘n grondpad toe, waar elke reis begin en eindig. Sommige van u sal dit skaars glo, maar al die roetes teen die berg, ook Parel Valleiweg waarlangs ons plaas geleë was, was destyds grondpaaie. In grondpad staan ek voor grondliggende keuses.

Die teenstellings bestaan nie net binne-in elke gedig nie, maar ook tússen gedigte en tussen áfdelings. Die voorblad wat Karen Cronjé en Christelle Cronjé so betekenisvol ontwerp het, simboliseer kontras: die gereeld vernuwende, maroen proteas, blom teen die duisende jare oue geheime blou Helderberg.

 

DL

Ten slotte wil ek geleentheid skep vir enkele opmerkings uit die gehoor.

 

De Waal Venter

 

De Waal Venter

Louis, jy is vandag ‘n beitelaar – soos in daardie bekende gedig van Van Wyk Louw oor die beiteltjie wat die wêreld oopkloof. Ek wens jou baie voorspoed toe – dat jy met jou gedigte al hoe meer waarhede sal oopkloof!

 

Basil May

In watter mate het jou sterk nadruk op struktuur en ritme die boodskap gerig? Voorts, in watter mate het jy, by die skryf van die gedigte, die leser in gedagte gehou?

 

LDUP

Enersyds was die boodskap deurgaans die wortel waarop die takke van die boom, soos die ritme, móés groei.

Wat die leser betref, het ek in Teen Helderberg my gewoontes en geheime, gevare en gevegte vir myself verwoord. Die verhouding met ‘n potensiële leser is ingewikkeld. Op ‘n skryfskool in Potchefstroom het verskillende deelnemers by geleentheid hierdie ingrypende vraag van jou aan die skrywer André P. Brink gestel, naamlik: In watter mate neem hy die potensiële leser in ag terwyl hy sy idees formuleer? In ‘n insiggewende antwoord het hy oor simbiose bespiegel: Die skrywer en die luisteraar of leser verkeer in ‘n nimmereindigende onophefbare wisselwerking. Met ander woorde: Al skryf jy hoe persoonlik, help dit nie jy praat net met jouself soos ‘n kluisenaar nie. Jou teiken moet met dieselfde soort kronkelpaaie as jy worstel.

 

Elsabé Brink

Oor baie jare ken ons jou as ‘n lid van 1 Valskermbataljon, as ‘n kolonel en as ‘n professor, en het ‘n paar van jou ander voorkeure ontdek soos dat Nietzsche jou boei, maar nou het ‘n bom gebars sodat jy nooit weer dieselfde sal wees nie. Jy sal nooit weer kan skuil agter krygskunde of politieke wetenskap nie. Dis ‘n ongelooflike dapper ding wat jy vanaand gedoen het. Jy is totaal oopgestel.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← G. Brits. ’n Gedenkstuk vir De Waal Venter, digter: ‘n Waardering 2007 – 2015

2e gedagtes oor “Onderhoud met Louis du Plessis: “Teen Helderberg””

  1. JOHAN COETZEE says:
    20 May 2022 at 16:47

    Watter belewenis was De Waal se herdenkingsdiens so drie Saterdagoggende gelede in Vishoek nie. Hy is ‘n bekroonde vertaler. Sy gees loop vry rond.

    Reply
  2. Joan Hambidge says:
    12 May 2022 at 18:12

    De Waal Venter, ‘n bekroonde Afrikaanse digter? Hy was ‘n bekroonde vertaler – heeltemal iets anders.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Gerard Scharn. kinderkruistocht
  • Dylan Allen. Ma
  • Hendrik J. Botha. Vir Joan op sewentig.
  • Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)
  • Vers-en-klank: Joan Hambidge

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  2. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

  3. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  4. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  5. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d