Die lewe as literêr-teoretiese probleem: ‘n Kort bespreking van Joan Hambidge se “Stasies”
Marlies Taljard
Joan Hambidge se “Stasies” is die derde deel van ʼn drieluik waarvan “Die Judaskus” in 1998 by Kagiso/Perskor verskyn het en “Kladboek” in 2008 by Protea Boekhuis. “Stasies” verskyn in 2023 eweneens by Protea Boekhuis.
Agtergrond
“Stasies” is die afgelope weke met heelwat belangstelling ontvang. Interessant wat elke leser in hierdie verhaal inlees. Daar word selfs beweer dat sekere kritici nie die boek gelees het voordat hulle geskryf het nie. Dit mag wel so wees, aangesien hierdie roman nie tipiese laataand-leesplesier is nie en heelwat selfdissipline vereis as mens eintlik net ʼn lekker moordstorie wou gelees het. Semioties gesproke is dit ʼn sogenaamde “oop” teks, dus ʼn teks wat meerdere en meerduidige interpretasie aanmoedig. Dit is ʼn teks wat heelwat aandag en kennis van die literêre teorie van die leser vereis – stiplees, tussen die lyne lees, interpretasie van metafore en simbole, kennis van Jungiaanse psigoanalise en akademiese leesvaardigheid. Dit is ʼn teks wat die leser telkens terugstuur en wat ek verskeie kere moes lees voordat ek hierdie beperkte sinopsis kon skryf.
Volgens die voorblad is “Stasies” ʼn speurroman. ʼn Speurroman is ʼn roman waarvan die plot of storie wentel rondom ʼn misdaad wat gepleeg is. Hoewel gewilde speurromans gewoonlik eindig met ʼn ontknoping en die vind van die misdadiger, is so ʼn slot egter nie ʼn vereiste wanneer gekyk word na definisies van dié genre nie. “Stasies” is eerder ʼn roman wat wentel om die naspeur van gebeure en emosies wat aan die gang gesit is deur ʼn bepaalde gebeurtenis, naamlik die verraad van ʼn geliefde. Dit is ʼn roman wat fokus op singewing eerder as die vind van oplossings – ek dink aan Opperman se reëls: “hoe klein maal die gedagtes van die mens al om sy pyn.”
ʼn Akademiese teks
Die skrywer van die boek, Joan Hambidge, is, benewens digter, ook ʼn literêre kritikus met ʼn verstommende kennis van die literêre teorie. ʼn Mens sou van so ʼn akademikus verwag dat sy in terme van die literêre teorie dink en (ten minste tot ʼn mate) oplossing deur middel van die aan haar bekende teorieë sal probeer vind. (Op p.11 wonder die verteller byvoorbeeld wat Sklovskij en Mukařovskij, twee Russiese Formaliste, van haar lewe sou maak.) My insig is dat hierdie aanname sigself leen tot ʼn bepaalde interpretasie van die roman. Indien ʼn mens die roman lees aan die hand van akademiese leesstrategieë, maak dit myns insiens sin. Daar sal uiteraard vele ander invalshoeke moontlik wees, en dit sal goed wees as ander skrywers dit ontgin.
Soos in ʼn akademiese betoog, begin “Stasies” met ʼn inleiding waarin die doelwit van die teks uiteengesit word:
- ʼn Lys van die dramatis personae soos in die drama gebruiklik is, word verskaf (pp. 8-9).
- “Dit is … ʼn boek waarin ek die verwagtingshorison róndom die skryf van ʼn teks op sy kop wil draai” (p. 10) Dit is dus ʼn metaroman, ʼn teks waarin die skryfhandeling belangriker is as die plot en/of simbolies raak van iets anders, soos die soeke na sin en betekenis.
- Die narratiewe bou en teorie van geykte vorme van die speurverhaal dien as metafoor aan die hand waarvan die lewens en optrede van belangrike karakters/personasies ondersoek gaan word (p. 11).
- “[D]ie lewe as literêr-teoretiese probleem” is ʼn verdere metafoor aan die hand waarvan die sentrale problematiek ondersoek word (p. 11).
- Die teks is ʼn “proses van terugkyk” of ʼn “[b]estekopname” (p. 11).
- Die teks word ʼn “binnewaartse reis” (p. 12), dus ʼn verkenning van die psige.
- Die verteller/skrywende instansie (die instansie wat die skrywerstem aanpas volgens behoefte en die teks beplan) sal stilstaan by die verskillende begrippe van “tyd” en die dood (p. 12) en die “opskryf van ʼn wêreld wat nie meer bestaan nie” (p. 13).
- Die teks is ʼn “elegiese verslag” (p. 14) waarin absolutismes verruil word vir die onbepaalde (p. 12) en grense opgehef word, poreus word en binnegedring word (p. 14).
Tot sover die doel van die teks.
Hoe hierdie doel bereik word of die probleem opgelos word, speel in die res van die teks uit. Soos in ʼn wetenskaplike ondersoek, gaan die verteller van die roman doelmatig te werk. Sy neem verskillende aspekte van die “probleem” onder die loep – soos ʼn wetenskaplike byvoorbeeld sy navorsingsobjek aan verskillende toetse sal onderwerp en aan die hand van verskillende teorieë sal ontleed. “Stasies” vertoon interessante ooreenkomste met hierdie navorsingsmetode. Nadat die verteller haar probleem en werkwyse uiteengesit het, begin sy om verskillende aspekte van die probleem te analiseer deur dit te filter deur en doelmatig aan te pas by verskillende literêre genres. Volgens die tradisionele siening van die begrip genre het elke genre ʼn bepaalde “identiteit” en daaruit volg dat sekere genres meer geskik is om (byvoorbeeld) sekere handelinspatrone, temas en emosies weer te gee.
Wat die ordenende instansie (die konkrete outeur as beplanner van die teks-as-kunswerk) in “Stasies” doen, is om die sentrale gegewe (die verraad van die geliefde en alles wat daarmee verband hou) in verskillende genres te verpak sodat daar telkens nuwe lig op die basiese gegewe val en verskillende narratiewe strategieë, verskillende betekenisse, emosies en alternatiewe interpretasies aan die lig kan kom. Uit die aard van die saak word die narratiewe elemente (karakters, gebeure, ruimte en tyd) in verskillende genres verskillend uitgebeeld en dra dit telkens op unieke wyse by tot die narratiewe eindproduk. Wat uiteindelik deur middel van hierdie komplekse verhaalstruktuur bereik word, is om die storie of “plot” as’t ware deur ʼn groot spektrum van filters te beskou sodat niks wat belangrik is verlore gaan of onderbeklemtoon word nie – dink hier aan die vorm van ʼn Bach-fuga, of aan fotografiese beelde wat deur gebruik van verskillende kleurfilters telkens anders vertoon.
Begelei deur konstante metanarratiewe kommentaar wat dwarsdeur die roman aanwesig is en waarin die metodiek van vertelling en vormgewing telkens getoets, bevraagteken en verantwoord word, kom variasies van die basiese gebeure in kortverhale, kort kortverhale, dramas, operas en gedigte voor. Dit is egter nie die doel van hierdie teks om die struktuur van die roman te ondersoek nie. Die eerste 7 bladsye van die roman maak dit duidelik dat ons te make het met ʼn tipiese postmoderne teks, ʼn teks waarin verskillende literêre vorme vermeng en ondermyn word ten einde by ʼn vorm van sintese of waarheid of sluiting of kennis uit te kom (wat egter in postmoderne kuns onmoontlik is). Willie Burger skryf uitvoerig oor “Stasies” as postmoderne roman:
https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/die-verwerking-van-verlies-in-romanvorm-20230917
Liminaliteit
Die titel van die roman, “Stasies”, suggereer op die konkrete vlak ʼn plek op ʼn trein- of busroete waar mens kan op- of afklim – byvoorbeeld ʼn stasiegebou of ʼn busstop. Die kaart van Kaapstad impliseer dat die tema van reis vir die roman belangrik is – reise in ruimte en tyd, konkrete reise, maar vir die kundige leser sal reise na binne ook reeds hier as moontlikheid aanmeld. In die konteks van die roman verwys die titel egter beslis ook na die stasies van die kruis – die 14 belangrike gebeurtenisse tydens die passie van Jesus. Die gebruik in Christelike tradisies soos die Roomse, die Lutherse en die Anglikaanse, is om in die lydenstyd by elk van die stasies van die kruis stil te staan, te bid en te mediteer oor die lyding van die Heer (“smeek om genade en verlossing”, p.68) in voorbereiding op die Nagmaal wat absolusie, vergifnis en afsluiting simboliseer. (Die soeke na “closure” of sluiting is ʼn belangrike tema in die verhaal.) Mens sou dus kon aanneem dat reis, veral ʼn reis na binne (soos gesimboliseer en gejukstaponeer deur konkrete reise) een van die belangrikste temas van die roman is. Teksmatig gesproke impliseer “reis” ʼn plot wat vorentoe beweeg, maar dit is volgens die inleidende deel van die roman nie die doel van die vertelling nie. Die vertelling wentel eerder om die gedurige herbesoek van verwonding, vernedering, verlating en verlies, alhoewel ʼn sintese of sluiting duidelik die implisiete doel van dié verkenning of speurtog is. “Reis” impliseer egter ook ʼn onvaste toestand en ʼn inbeweeg in liminale sones, soos die dele van die reis tussen stasies, dele van die stad wat nie gesoneer is nie, vir uiteenlopende aktiwiteite gebruik word, deur misdadigers en vreemdelinge beset word, deur niemand besit of geëien word nie of – soos hier – reeds platgestoot is en nog net in die herinnering bestaan.
Reis impliseer eweneens die voortdurende oorsteek en opheffing van grense. Op p.14 verneem die leser: “Die grense van die stad het ópgehef geraak” en dat die verteller se grense poreus was en die liefde van haar lewe haar bestaan binnegedring het. Hier kom die kwessie van grensoorskryding en betreding as aspekte van liminaliteit na vore. Liminaliteit as verhaaltema word op p.24 aangeraak: “Hierdie boek skryf ek in ʼn hotelkamer, ʼn ruimte van liminaliteit. ʼn Tydelike ruimte …” In Hoofstuk III word die kwessie van binne-buite, grense en liminaliteite ondersoek aan die hand van Kaapstad as plek en ruimte: “ʼn Stad wat liminaliteite en oorgange dramaties voorstel …” (p.53).
ʼn Aspek van liminaliteit wat dikwels in “Stasies” voorkom, is dié van tyd en tydloosheid. In die liminale toestand bestaan geen chronologie, geen horlosietyd of almanaktyd nie. “In hierdie dae dink ek na oor tyd (en die dood)” (p.12), beweer die verteller en haal Bertrand Russel se teorie aan oor relasionele tyd, asook sy konsep van absolute tyd en interafhanklike tyd waarin geen afsonderlike oomblikke bestaan nie (p.13). Die kortverhaal “4. Chronos” (p.18-19) is ʼn verdere verkenning van tyd. Vir die verteller in “Stasies” is tyd dikwels die ewige sirkelgang: “Die ewige sirkelgang van tyd. En hoe ons sekere ervarings nooit kan vergeet nie. Hoe jy en ander elke jaar terugkeer en klop aan my emosionele deur” (p.23). As metatekstuele kommentaar: “Die drama van my lewe in verskillende stasies uitgespeel: gespielte Zeit (gespeelde tyd) versus Spielzeit (die werklike opvoeringstyd) soos Günter Müller dit uiteensit” (p.33) en die jukstaposisie van “analepsis versus prolepsis” soos deur Mendilov beskryf (p.34). Daarom ook in die roman die ewige sirkelgang van gedagtes waarin hede en verlede saamsmelt om sluiting te probeer vind.
Liminaliteit en psigoanalise
“Dit [die roman] word opgeteken in ʼn hotelkamer, dáárdie ruimte wat Wayne Koestenbaum so pakkend beskryf het. ʼn Liminale ruimte. ʼn Tussenplek. ʼn Ruimte waarin bekende figure ʼn einde gemaak het aan hul lewens en waar ek jou nou probeer terugbring, oproep; helaas sonder geluk” (p.82).
Ook in Hoofstuk III word, benewens verskeie verwysings na liminaliteit en liminale plekke, ook eksplisiet verwys na Jung en Freud, na Susan Sontag en na Jorge Louis Borges wie se werk deurgaans belangrik is vir interpretasie van die roman. Op p.11 word verwys na Lacan en ander Franse psigoanaliste. Verkeer in ʼn liminale ruimte word op psigoanalitiese vlak verbind met die soeke na identiteit wat aspekte soos individuasie, interpretasie van argetipes, konfrontasie met die donker aspek van die psige en die vind van ʼn balans tussen “binne” en “buite” insluit. Op p.12 word Luce Irigaray aangehaal: “Verlaat absolutismes vir die onbepaalde …” en word daar deur die verteller verwys na “die binnewaartse reis”. Op plekke word eksplisiet verwys na identiteitsoeke:
“Is ek ʼn nabootsing? ʼn Emosionele versperring? Hoekom mag skilders en toneelspelers hulself tot objek verklaar en hulleself dissekteer? Maar wanneer skrywers dit doen, dan word dit sogenaamde selfkoestering, narcisme of selfbeheptheid. Dalk selfverlokking” (p.58).
Liminaliteit as die psigologiese proses van transformasie het sedert die begin van die twintigste eeu ʼn belangrike aspek in die interpretasie van literêre tekste geword. Die term is oorspronklik deur die antropoloë Arnold van Gennep en Victor Turner gebruik om die toestand van verwarring en ambivalensie uit te druk van mense wat hulle tydens inisiasierites in ʼn oorgangsruimte tussen twee toestande bevind – nóg vis nóg vlees is. Op literêre vlak manifesteer liminaliteit dikwels in ‘n sug na die primordiale en die numineuse. Liminale kunswerke het dikwels ‘n hibriede en intertekstuele aard en lê klem op nie-linguïstiese signifikasiemetodes, soos Kristeva se “semiotiese aspek” van taal. Die ontleding van liminale kunswerke herinner dikwels sterk aan die psigoanalitiese uitlê van drome en as sodanig word deur hierdie handeling ook die grense van die suiwer teksontleding oorskry. Dit is my mening dat ʼn psigoanalitiese aanpak van die roman “Stasies” belangrike insigte mag blootlê, veral as dié roman met sy voorgangers “Die Judaskus” en “Kladboek” saam gelees word. Verwysings na bekende psigoanaliste dwarsdeur die teks behoort die leser op so ʼn interpretasie bedag te maak.
“Stasies” en Jungiaanse teorie
Verskeie verwysings na Jung, sy navolgers en Jungiaanse teorie in die tersaaklike roman verskaf ʼn duidelike interpretasiesleutel tot die roman. “Stasies” wil beslis Jungiaans gelees word. Uit die aard van die saak is ʼn kort artikel soos hierdie nie geskik om ʼn volledige Jungiaanse lesing van die roman te verskaf nie. Daarom slegs enkele aanduiders.
Jungiane beskou dikwels die liminale sone as ʼn ruimte waarheen “soekers” hulleself onttrek ten einde tot individuasie of selfkennis te kom – ʼn proses waarin die persona “opgebreek” en “hersaamgestel” word. Carl Gustav Jung het oorspronklik die woord “liminaliteit” (ook “temenos”, ʼn houer of magiese sirkel) gebruik om ʼn proses te beskryf waartydens die persoon wat hom-/haarself in ʼn toestand van liminaliteit bevind nie kan teruggaan na ʼn vorige toestand nie, maar ook nog nie seker is hoe die toekoms gaan uitspeel nie. Die liminale sone is ʼn sone van transformasie, ʼn soort wagkamer tussen een punt en die volgende. Plekke soos stasies, lughawens, trappe, hotelle en leë ruimtes is tipies simbolies vir liminale toestande. Kyk maar hoe dikwels sulke ruimtes in “Stasies” voorkom! Skielike veranderinge wat spanning by die individu veroorsaak, lei ook tot die gevoel van afsondering en liminaliteit – die dood, die verlies van ʼn geliefde. Skeiding van ʼn geliefde persoon voel dikwels asof ʼn mens jou pad byster geraak het en die roete na ʼn eindbestemming verloor het. In psigoanalitiese teorie is skrywers permanent in ʼn toestand van liminaliteit, omdat hulle na betekenis soek. (“Alle biograwe wys daarop dat skryf die enigste manier was waarop hy sy demone kon besweer en toe hy nie meer kon skryf nie, was die dood waarskynlik die enigste uitweg” – verwysend na Hemingway, p.61). Daarom bevind die verteller haar aan die einde van die roman in ʼn kliniek vir skryfverslaafdes!
Waarom is die liminale sone belangrik? – Omdat dit ʼn ruimte is waar die liminale persone (liminal personae volgens Van Gennep) verandering moet leer hanteer, moet leer hoe om die lewe as’t ware as nuwe mens met nuwe ervarings aan te durf. Die “nuwe mens” wat die drempel ʼn tweede keer oorsteek (uit die liminale sone uittree) is iemand met ʼn breër ervaringsveld, iemand wat hom-/haarself beter leer ken het en dieper insig in die lewe en die eie psige gekry het. Die liminale sone is veral ʼn ruimte van krisis, mislukking, seerkry, konfrontasie en vernedering waar gekoesterde indrukke van die self en die ego versplinter raak en ʼn nuwe selfbeeld “uit die as van die verlede” opstaan. (“Met die wete dat hierdie vertelling ʼn droom-binne-in-ʼn-droom is om die liefde se vernedering te ondersoek”, p.33). Dit is die “vrees om verlaat te word” (p.34). Dit is ʼn donker plek (das Unheimliche, volgens Freud, ook p.70) waar die siel met sy eie donkerte gekonfronteer word (die Skadu, die Id, die Animus/Anima, sien ook p.77) en dit wat verborge is aan die lig moet kom. Dit is ʼn plek waar argetipiese en droombeelde geïnterpreteer moet word om ʼn nuwe identiteit te konstrueer en alternatiewe bestaanswyses en -ruimtes te verken (die indiwiduasieproses). Die verteller beweer (p.78): “Onder die glasblad van my lessenaar is daar ʼn foto van Iris Murdoch, filosoof en skrywer. Sy wat skryf oor die mag van die bose, seksuele verhoudings en die impak van die onbewuste. Volgens Jung is dit ʼn plek van teenstrydige tekens waarin niks meer deur die intellek sin maak nie” (p.63). Dit is ʼn tyd waarin die liminale persoon broos is en dus oop is om te leer. Ek kan nie onthou watter sielkundige gesê het dat dit die plek is waar die genie nie teruggesit kan word in die bottel nie.
Daarom die wroeging van die verskillende vertellers in die roman rondom die verlies van die geliefde, die verlies van ʼn plek in Kaapstad wat sy met bepaalde persone en gebeurtenisse assosieer, die dood en verdwyning van die mense van dié plek, die vernedering deur die geliefde en die dekaan. Dit is nie ʼn proses wat versnel kan word nie. Ons moet wag, nooit gemaklik raak nie. Ons moet nuuskierig wees en speel en kreatief dink. Ons moet weer en weer die verlede herbesoek, telkens vanuit ʼn ander rigting. Ons moet nuut kyk na mense wat “liminale boodskappers” of argetipes (soos die dekaan, p.50 en p.73) kan wees en iets uit die donker aan die lig bring of verandering voorafgaan. Hiervoor is psigoanalise inderdaad ʼn teoretiese meesterdiskoers. In die verhaal “1 Oorgang” word dit soos volg verwoord: “Metempsigose is Jung se woord vir hergeboorte of transmigrasies. Gaan ons deur verskillende liggame in hierdie proses of het elke ervaring ʼn psigiese hergeboorte tot gevolg?”
Die liminale ruimte is ʼn gevaarlike ruimte, ʼn ruimte wat nié noodwendig tot uiteindelike geluk lei nie:
“Sluiting, weliswaar met pyn wat nooit afgehandel word nie” – dit is een van verskeie “eindes” van die roman (p.83).
Ten slotte
“Stasies” is nie ʼn gedig nie, maar wel ʼn poëtiese teks – dit bevat ook verskeie gedigte. Soos baie ander postmoderne tekste kan dit baat by ʼn lees en interpretasie aan die hand van poëtiese interpretasiemetodes. Dit is – soos ʼn goeie gedig – ʼn meervoudig gelaagde teks, ʼn teks met meerduidige betekenisse wat op mekaar inspeel terwyl dit ook gedurig in gesprek is met tekste uit alle tydvakke en kunsgenres.
Bronne
Hambidge, Joan. 2023. Stasies. Pretoria: Protea Boekhuis.
Jung. C.J. 1963. Erinnerungen, Träume, Gedanken von C.J. Jung. Olten und Freiburg im Breisgau: Walter Verlag.
Jung. C.G. 1993. Das symbolsche Leben. Einbeck: Walter Verlag.
Kristeva, Julia. 1987. Freud and love. Oxford: Basil Blackwell.
Taljard, Marlies. 2008. Kladboek: ’n Hibridiese roman deur Joan Hambidge. Beeld (Datum onbekend).
Turner, Victor W. 1969. The ritual process. Structure and anti-structure. London: Routledge & Kegan Paul.
Turner, Victor. 1974. Dramas, Fields, and Metaphors. Ithaca: Cornell University Press.
Van Gennep, Arnold. The rites of passage. 1909. Chigaco: University of Chicago Press (1960).
Dankie vir hierdie verhelderende resensie, Marlies. Hoe spyt is ek nou dat ek die boek nie op die afgelope Woordfees gekoop het nie . Ek gaan dadelik vir my ‘n eksemplaar bestel.
Uitstekende resensie.