Marlies Taljard gesels met Johann Lodewyk Marais oor sy nuutste digbundel, Sirkelgang (Naledi, 2023)
Marlies Taljard (MT)
Johann, baie dankie dat jy bereid is om met my oor jou nuutste digbundel te gesels.
Sirkelgang is nie die eerste boek wat die afgelope twee, drie jaar uit jou pen verskyn het nie. Vertel so ʼn bietjie meer, asseblief.
Johann Lodewyk Marais (JLM)
Marlies, dankie vir die geleentheid om met jou oor SIrkelgang ’n gesprek te voer. Heelparty van die gedigte het die eerste keer op Versindaba verskyn en my die geleentheid gegee om afstand van die betrokke werk te kry. Ek het dikwels daarna verstellings aan die woordkeuse, punktuasie en selfs strofe-indeling gemaak.
Sedert 2021 het daar drie niefiksie werke van my verskyn waarin ek oor die geskiedenis van Harrismith en die omgewing daar geskryf het. Die Platberg van Harrismith: ’n Geskiedenis (2021) handel oor die besondere berglandskap van die Oos-Vrystaat, waar ek my kinderjare deurgebring het en nog gereeld besoek. Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n Kultuurgeskiedenis (2022) betrek in besonderhede drie nedersettings in die distrik Harrismith. My ervaring as leerling op Mont Pelaan se plaasskool was die oorspronklike inspirasie vir hierdie werk, wat die kollig op die landelike wel en wee van hierdie deel van die Vrystaat laat val.
Verlede jaar het Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022) verskyn, waarin ek oor my besoeke aan Kenia (en een hoofstuk oor die Sentraal-Afrikaanse Republiek) skryf. Die boek handel in hoofsaak oor my ervarings in Kenia terwyl ek aan my proefskrif oor “Internasionale reisliteratuur oor Kenia met spesifieke verwysing na die tydperk sedert onafhanklikheid in 1963” (2013) gewerk het.
My historiese benadering is sterk deur die Franse Annalesskool beïnvloed, wat in al die voorgenoemde publikasies duidelik behoort te wees. Hierdie benadering plaas die klem op die rol van die totaliteit van gewone mense, die klimaat, demografie, landbou, handel en tegnologie. Daarom benut ek ook verskillende genrevorme om my onderwerpe beter te verstaan. Voorts is my boek King Shaka (ca. 1781–1828): From shades of grey to fascination tans in produksie en sal dit in die lente die lig sien.
Intussen het ek ook die gasredakteur van die nuwe tydskrif Streek/Region uit die Plus 50 Media-stal geword. Die eerste uitgawe betrek die Oos-Vrystaat in 29 splinternuwe artikels deur bekende en ingeligte skrywers en joernaliste van die streek en is tans op die rakke. Dit was ’n ervaring en voorreg om hierdie streek van die Vrystaat nog beter te leer ken en meer daarvan te vertel. Ek is bevoorreg om deel van ’n span te wees wat die tydskrif voortbring, en aan heelparty van die deelnemers is die geleentheid gegee om hulle verskyning op KykNET te maak. Die volgende uitgawe, wat later vanjaar verskyn, sal oor die Waterberg handel en hopelik eweneens ’n nuwe en aanvullende mosaïek van die streek bied.
Aangesien Sirkelgang my vierde digbundel hierdie dekade is, is dit seker duidelik dat ek veral sedert Covid-19, daardie impasse in ons geskiedenis, begin het om my laaie leeg te maak, doelgerig nuwe verse te skryf en aan die afhandeling van manuskripte te werk. Volgens oom Jan Fourie, een van my jeugmentors, het dit in die Oos-Vrystaat een of ander tyd elke maand van die jaar behalwe in Februarie gesneeu. Ek het vroeg geleer dat sneeuballe ’n manier het om groter te word. Gelukkig bied “die vergete berge van my jeug” baie sneeu om sneeuballe en selfs soms daarvan figure van die verbeelding te maak. Kortom, ek sou graag vir my 70ste verjaardag oor ’n klompie jare sewe digbundels wil publiseer, en twee van hulle het nou die lig gesien.
MT
Soos ek verskeie kere deur jou bundel gelees het, het sekere indrukke by my opgekom: presisie, perfeksionisme, beplanning, selfbeheersing, byna bo-menslike dissipline … 59 gedigte, elke enkele een fyn en keurig afgerond, geen oortollige woord ooit nie, elke gedig op sy presiese plek binne die afdeling en die groter geheel van die bundel, bitter min gedigte langer as ʼn enkel bladsy …
Speel die muse, inspirasie, digterlike woorde wat soos getye op jou afrol en nie gekeer kan word nie, gedigte wat in hulle geheel perfek “ingegee” word, verhewe emosies en ontroering ʼn rol wanneer jy gedigte maak? Behoort goeie gedigte in hulle finale vorm, volgens jou mening, duidelike blyke daarvan te bevat? Wat is ʼn goeie gedig?
JLM
Ek skryf vanuit ’n redelik lang ervaringswêreld, en vroeë indrukke hou aan om in my gedigte op te duik en selfs herbesoek te word. Terugskouend is daar indrukke en belewenisse waarmee nog steeds en opnuut gehandel moet word. Op hierdie manier is geen tydperk in my lewe finaal belewe en toegelaat om in die vergetelheid te raak en afgesluit nie. My historiese navorsing en groeiende historiese bewussyn laat my ook ervarings en insidente deur middel van die skryfproses beter verstaan en verder deurskou.
Sirkelgang toon waarskynlik dat ek sekere bronne vir inspirasie het, wat deur leeswerk in ’n verskeidenheid velde gevoed word. Die tekste van ander skrywers help my om met ’n effens verrykte visie na die werklikheid te kyk. Min van my gedigte is uit die staanspoor vir my aanvaarbaar en min of meer bevredigend. Die inhoud van die gedig is telkens neergeskryf (en daar is heelwat sulke gedigte in my talle notaboeke), maar die afronding verg tyd en verdere besinning. Die gedig “Leroux op Onrus” is byvoorbeeld kort ná Etienne Leroux se dood op 30 Desember 1989 geskryf, maar nou eers in ’n bundel opgeneem. Enkel verstellings was nog nodig en ek het baie jare nodig gehad om daardie insig te hê om dit te kan doen; ook selfs om my sekere wysigings of toegewings in gedigte “toe te laat”. Maar goed, normaalweg word my gedigte wel deur ’n sekere bemoeienis met die gegewe gepuur tot ’n afgeronde, geslypte vorm wat vir my bevredigend en bevrydend is.
MT
Hoe dink jy oor die samestelling van ʼn bundel? Het jy byvoorbeeld ʼn minimale narratiewe lyn in gedagte wanneer jy gedigte vir publikasie in ʼn bundel uitsoek of is die struktuur van die bundel maar “net so min of meer”?
JLM
Die indeling van gedigte in ’n bundel is vir my baie belangrik en ek spandeer heelwat tyd daaraan. Meermale roep ek ook die hulp van raadgewers in om my te help om afstand te kry en tot ’n meer verbeeldingryke samestelling te kom. Gelukkig gee die keurders van my bundels gewoonlik ook raad in hierdie verband en is nog verstellings soms nodig. ’n Gedig kan baie laat op die proewe na ’n ander plek in die bundel skuif indien dit om chronologiese of inhoudelike redes nodig is. Soms skrik ’n mens jou yskoud wanneer jy besef dat jy die “gang” van jou gedigte verkeerd gelees het en dat gedigte uit plek is. In die verskillende afdelings moet gedigte oor min of meer dieselfde tema handel, waarin elke gedig in die betrokke afdeling iets byvoeg en/of aanvul. Op ’n manier sou ek wel wou hê dat die gedigte tematies of vormlik by mekaar hoort en die betekenis van die gedigte om hulle aanvul. Daarbenewens vul my gedigte en afdelings oor die grense van afdelings en bundels heen mekaar aan – so hoop ek altans en is dit ook my bedoeling. Intussen hou ek tog ook aan om oor onderwerpe te skryf wat reeds in vorige bundels aandag gekry het.
MT
Die titel van jou nuutste bundel, Sirkelgang, is veelseggend. Die sirkel is immers ʼn uiters komplekse en meerduidige simbool. Dit representeer byvoorbeeld heelheid, perfeksie, oneindigheid, tydloosheid, sikliese gang en, volgens Pythagoras, kreatiwiteit. Dit is ʼn geometriese simbool wat dikwels met lewe en lewegewing in verband gebring word: tyd en getye is siklies en die sirkel word beskryf as die simbool wat sy begin en sy einde in homself verenig – eintlik is dit ʼn simbool wat geen begin en geen einde het nie.
Waarop moet die leser let en bedag wees by die lees en interpretasie van die gedigte in hierdie bundel?
JLM
Dit is nie ’n maklike vraag om te beantwoord of om selfs te wíl beantwoord nie. Die bundel verskyn weliswaar in ’n sekere fase van my lewe en oeuvre, en ek is bewus van terugkerende beelde, motiewe en maniere van skryf, wat ’n soort rondte maak. Die gedigte is selfs “aanvullend” tot of “kaats terug” na ander wat ek al geskryf het, terwyl reaksies op geopolitieke, ekologiese en klimaatskwessies by kontinentale en internasionale tendense aansluit. Die tydsgewrig waarin ek lewe, het ongetwyfeld ’n invloed op my werk om byvoorbeeld met die aktualiteit van kwessies soos klimaatsverandering en tendense in die natuurwetenskappe rekening te hou en op ’n manier die gesprek verder te voer. Die leser sal oplet dat ek op tydgenootlike tendense reageer en die gesprek oor diereregte en die gebruik van vleis effens verder probeer neem deur onder meer in te kyk waar beeste by die slagpale doodgemaak en geslag word.
Natuurlik sluit die titel aan by ander titels van digbundels waarin die sirkel voorkom. Willekeurige voorbeelde hiervan is N.P. van Wyk Louw se Die halwe kring (1937), P.J. Bosman se Ryp geel kring (1992) en De Waal Venter se Oop sirkel (2017). Ook ten opsigte van die keuse van ’n titel vir ’n bundel wil ek graag aandui dat ek deel is van ’n tradisie van skrywers, wat ek respekteer en subtiel in my werk betrek. Dit is ’n wonder van Afrikaans dat ’n skrywer deel van hierdie groot tradisie kan wees.
MT
Die motto van ʼn bundel is veronderstel om die kiemsel van die hele literêre teks te bevat. By Sirkelgang is dit vir my opvallend dat inderdaad elke gedig in terme van die motto gelees kan word (en gelees behoort te word). Dit is ʼn besonder goed gekose motto:
INTERTEKS
Na John Updike
’n Mens kan nie verhelp om meer te leer
wanneer jy die aarde in jou hand neem
en gebuk by die kleisloot ’n vorm,
oeroud én nuut, te voorskyn wil bring nie.
Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei
met miljoene vingerafdrukke op.
Jy het reeds bekendheid verwerf vir jou fokus op eko-poëtiese kwessies, jy skryf oor die aarde – dit waaruit sy bestaan, dit wat sy onderhou en wat op haar leef. Uit jou poësie spreek ʼn besondere deernis met alles wat geskape is. Ek dink hier aan talryke gedigte soos “Kevin” en “Bloedreuk”:
BLOEDREUK
Rustig, Duusman,
op dié vragmotor
wat nie terugdraai
weiveld toe nie.
Beweeg stadig af
en volg die gang
met die kurwe –
nou op jou eie.
Die propgeweer se slag
sal gou verby wees,
jy buite weste
as die haak jou ophys.
Ná die flits van ’n lem
gaan jy leegbloei
voor ons jou dele
vlymskerp opsny
Wat sou jy sê is die vernaamste temas wat in Sirkelgang aangeroer word? Hoe hou dit verband met jou vroeër werk – nie slegs poëtiese werk nie? Sou mens ʼn lewensfilosofie uit hierdie bundel kon aflei?
JLM
Sirkelgang probeer na alle waarskynlikheid wel om iets van ’n lewensfilosofie na vore te bring. Vir my as digter is dit nietemin nie gewens om eksplisiet uit te spel wat dit sou behels nie. Ons verbintenis met die aarde en die aardse en veral biologiese lewe behoort duidelik wel as ’n faset van my poëtiese bemoeienis en lewensbeskouing gesien te word. Ek wil ook graag méér weet van waar ek as spesie vandaan kom en hoe ver terug in die geskiedenis dit agterhaalbaar is. Die ongevoeligheid vir die betekenis van ons biologiese bestaan is vir my problematies en onderliggend aan die wyse waarop die mens bydra daartoe dat spesies uitsterf. Hoe kan ons toelaat dat van ons bloedbroers en -susters in die klas Mammalia totale uitwissing as spesies in die gesig staar of reeds vir altyd van die aangesig van die aarde af verdwyn het? Verder is ons stof wat tot die aarde terugkeer, en waaraan die laaste gedig in die bundel, ”Die uur”, ’n faset toevoeg: Is daardie kerkhof op Sans Souci in die distrik Harrismith dan nie ook my laaste bestemming “in bestrede en belaste aarde” (r. 9) nie? Nie ver daarvandaan nie het ek klei (in Sesotho het ons die mooi woord “letsopa” gebruik, wat altyd lekker oor my tong gekom het). In die agrariese wêreld waarin ek grootgeword het, het ons graag beeste uit die klei gemaak (was die vaardigheid nie dalk instinkmatig in ons nie?), en ook ander lewende diere, soos ’n lank uitgerolde slang met gevurkte tong en potsierlike figure wat soos troglodiete gelyk het. Onwillekeurig het ons ook in ’n groot primordiale tradisie voortgewerk, want ons het ons vingerafdrukke op die materiaal gelaat (soos my gedigte eweneens vingerafdrukke van baie mense bevat en só op een of ander manier betrokke is).
MT
KARKAS
Nek
Skof
Borsstuk
Kruis
Dikrib
Platrib
Primarib
Voorrib
Filet
Lende
Binneboud
Diklies
Skenkel
Stertstuk
Hierdie sonnet is die slotgedig van Afdeling V waarin verskeie gedigte oor beeste staan. Ek dink ook aan die kort gedigte in Afdeling VII, aan gedigte soos “Lucy”, “Platrand, Ladysmith” en talryke ander in die bundel onder bespreking. Jou gedigte is op die oog af eenvoudig wat vorm en inhoud betref. Dit is egter oëverblindery, en in werklikheid lê daar dieptes en dimensies agter dié eenvoud verskuil. Ek dink aan iets wat Alan Perlis gesê het, naamlik dat eenvoud nie kompleksiteit voorafgaan nie, maar daarop volg. En dat Dürer gesê het dat eenvoud ʼn kenmerk is van groot kuns. Is die gedigte wat in Sirkelgang opgeneem is tot ʼn mate die produk van ʼn lewenslange slyp- en minimaliseringsproses wat soos klippe in ʼn rivier geslyp word en al kleiner en gladder gevorm word? Kan jy iets sê oor jou ars poetica – jou skryffilosofie en die proses van vormgewing? Oor die feit dat die meeste van jou gedigte aan klassieke vormbeginsels voldoen – is die vrye vers nie tans die mode nie (met die klem op regtig vry)?
JLM
Marlies, dit is vir my ’n refleks dat ’n gedig ’n titel moet hê, met ’n hoofletter moet begin, sillabies opgebou moet word, behoorlik gepunktueer moet word en met ’n punt moet eindig (sic). Dit is die soort vers wat tydgenootlike digters soos Johann de Lange en Lucas Malan in die tagtigerjare begin publiseer het en duidelik van die vormgewing van voorgangers soos N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, D.J. Opperman, Peter Blum, Wilma Stockenström en T.T. Cloete bewus was. Daar was iets van ’n wending weg van die avant-garde en die Sestigers wie se werk soms deur in die vrye vers minder noukeurige vormbeheer toegepas het (soms darem net oënskynlik!). Nietemin, heelparty van my mededigters kan dit nog nie oor hulle hart kry om ’n gedig met ’n hoofletter te begin en met ’n punt of en of ander leesteken te eindig nie. (Ek wonder byvoorbeeld of Antjie Krog se Plunder (2022) nie by ’n mate van punktuasie sou baat en só die leser help om ook daardie ruspouses, wendings en beklemtoning beter raak te sien nie, soos wanneer Krog self haar gedigte so voortreflik voorlees.)
Ek probeer om my gedigte so goed moontlik af te rond en dit kan ’n lang proses wees voor hulle winddroog is en hulle finale beslag kry. Die vrye vers sou ten opsigte van sommige van my gedigte toepaslik wees, maar my gedigte het ’n eie karakter, of selfs idiolek, waarin ritme, sillabes, afronding (dalk selfs gestrooptheid) en suggestie skering en inslag is. Hopelik is my gedigte desnieteenstaande wél tydgenootlik.
MT
Gedigte oor historiese figure en oor die Geskiedenis is volop in jou oeuvre. Dink maar aan gedigte soos “Mohammed Abdullah Hassan” in Ondertussen (2020), die gedigte in Afdeling VII van Veldboek (2020), byna die hele bundel Nomade (2014), Afdeling IV van In die bloute (2012), Afdeling VI van Diorama (2010) met “Thomas Baines” een van jou beste gedigte ooit, en in Sirkelgang is daar die gedigte in Afdeling II en Afdeling VII wat handel oor historiese figure, geografiese plekke en geskiedkundige gebeure. Jy is ook ʼn bekende historiese navorser.
Hoe sien jy die verskille/ooreenkomste tussen geskiedskrywing, geografiese optekening en die poësie?
JLM
Die afgelope jare het geskiedenis as dissipline ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek het egter van vroeg af daarin belanggestel om gebeure en kultuurhistoriese gebruike op te teken. Onlangs het ek afgekom op ’n dokument waarin ek as laerskoolkind opgeskryf het wat my pa my oor gebruike rondom Kersdag, skyfskiet en Boeresportbyeenkomste vertel het. Ek het dit so netjies moontlik met ’n Bic-pen oorgeskryf en my pa gevra om die dokument saam met my te teken en ’n datum daar by te skryf. Op hierdie manier het ek dus probeer om ’n geloofwaardige dokument oor die geskiedenis te skep. In my gedigte probeer ek om so na as moontlik by die feitelike te bly, hoewel ek tog ’n mate van “verwringing” of “aanpassing” in my gedigte toelaat. Ek is versigtig en bly verkieslik weg van die gebruik van willekeurige beelde en beelding. Hoe ook al, dit was ’n uitdaging vir my om ’n soort gedig te skryf waarin ek my verskillende belangstellings en ervaring laat neerslag vind. Gewoonlik is daar dan ook ’n noue wisselwerking tussen my reisliteratuur, geskiedkundige boeke en gedigte. Letterkundiges soos Joan Hambidge, Erika Lemmer en Linda Maree het reeds insiggewend daaroor geskryf.
MT
Soos identiteit deur taal en taalgebruik vasgelê en bevestig kan word, is geskiedskrywing insgelyks ‘n manier wat bepaal wie/wat is. In sy boek Postcolonial Transformations (2001) wys Bill Ashcroft (p. 92) daarop dat “(t)he story that decides ‘what happened’ is a story that determines ‘what is’. For this reason, history is of crucial importance in constructing a sense of identity.” Dit impliseer dus dat diegene wat geskiedenis het, bestaansreg het en dat diegene wie se geskiedenis nie gedokumenteer is nie, nie bestaan nie. Die skryf van klein geskiedenisse is een manier om gemeenskappe en mense wat voorheen gemarginaliseer was of bloot nie belangrik genoeg was om in die meesterdiskoers van die geskiedenis opgeneem te word nie, ʼn stem te gee.
In watter opsigte stem jou praktyk (poëties én in prosa en navorsing) met hierdie standpunte ooreen of verskil dit daarvan?
JLM
Ek kan my baie daarmee vereenselwig. Daar is ’n groot behoefte om meer oor ons geskiedenis te skryf, ons argiewe te benut en moeite te doen om in argiewe of waar ook al in private versamelings inligting te bekom. Leer kan net help om ons meer oor die verlede te laat verstaan, die sorg waarmee met dokumente gewerk moet word om met verskillende metodes sulke dokumente geloofwaardig te lees, wat mense meer van hulleself, hulle rol in die geskiedenis en by allerlei aktiwiteite wakker maak. Soms gaan Pandora se boks oop en is daar allerlei verrassings, maar meer kennis en insig lei tot meer begrip, insig en dikwels ook vrede. Poësie dra by tot die skep van identiteit soos ons dit op baie maniere sien.
Of al hierdie dinge en/of bemoeienisse by mekaar uitkom, is ek nie heeltemal seker nie. Daaroor kan lesers maar oordeel. Die wêreld waarin ek my bevind, het toenemend onoorskoulik geword, sodat verskillende benaderings, invalshoeke en genrevorme, ook oor dissiplines heen, nodig is om meer van hierdie wêreld(e) te verstaan en deelnemend deel daarvan te wees. Ek het probeer om in ’n sin balans te bewerkstellig tussen indringende navorsing, die skryf daaroor, kommunikasie daarvan op verskillende maniere met mense, en pogings om uiteenlopende lae van die samelewing te betrek. By my is daar iets van ’n spanning tussen die studeerkamer, kantoor, lesinglokaal, biblioteek en argief, en die belewing van mense, lande, landskappe en die natuurlewe daarbuite. As kind het ek weliswaar in ’n voorwetenskaplike milieu grootgeword en min gelees, maar is ruimskoots deur my sintuie gevoed. Hoe ouer ek word, hoe meer verlang ek terug na so ’n voorwetenskaplike soort bestaan en die aanvaarding dat alles voldoende is. Die besef dat ek die geleentheid gehad het om my lewe en die dinge om my verwonderd te ervaar, word ook sterker.
MT
Soos die meeste van jou ander bundels, wy jy in Sirkelgang ook een afdeling aan ’n bepaalde spesie. Hier is dit slange (Afdeling IV). Daar is pragtige gedigte oor die swartmamba, die boomslang, die rinkhals, die molslang en die pofadder. Wat fassineer jou aan slange, en hoe vind dié fassinasie gestalte in die gedigte in Afdeling IV van die bundel?
JLM
Ek is gefassineer deur slange, lank reeds sedert ek op ’n plaas grootgeword het. Die slange in Afdeling IV is ’n handvol wat ek in verskillende tye in my lewe ervaar het en waarop ek op verskillende maniere gereageer het. Heel dikwels was dit skokreaksies en was ek bewus van die gevaar wat die slang potensieel inhou. Op Mont Pelaan het ons in Natuurleer (later Biologie) geleer om die byt van slange op ’n sekere manier te versorg en te behandel. Deesdae herinner my naamgenoot, die herpetoloog Johan Marais van die African Snakebite Institure, dat die slagoffer van ’n slangbyt so gou moontlik deur kundiges by die naaste hospitaal of kliniek behandel moet word. Tans is daar ’n groot tekort aan slangserum en is daar allerlei pogings om meer effektief en gekoördineerd in hierdie verband te werk te gaan om meer mense en diere (ook honde en ander plaasdiere) se lewens te red. Volgens einste Johan Marais gaan Eugène N. Marais se geskrifte oor die slange wat hy in die Waterberg raakgeloop het, ernstig mank aan oordrywing, wanvoorstellings en verkeerde afleidings ten opsigte van die slange se gedrag en groottes. My sewetal gedigte oor “Die siel van die slang” maak ’n beskeie bydrae tot hierdie gesprek.
MT
Die voorlaaste afdeling van Sirkelgang bevat gedigte oor mag en maghebbers; magsmisbruik en verset. Dink aan Gretha Thunberg, Mahatma Gandhi, Wladimir Poetin, die AK-47. Laasgenoemde gedig eindig met dié ysingwekkende reëls:
Maar die skuld vir die bloed wat vergiet is
en ’n klad op nagedagtenis laat:
Kan ’n digter se verse dit uitwis?
Kan digters ʼn verskil maak? Daar bestaan die siening dat dit digters se plig is om (polities) betrokke te wees. Stem jy saam?
JLM
Die gebruik van ’n wapen soos die AK-47 wat tot die dood van letterlik miljoene mense en diere in Afrika en elders in die wêreld gelei het en tans nog in die gruwelike en besete oorlog tussen Rusland en die Oekraïne aangewend word, is ’n verskriklike realiteit. Dat Victor Kalashnikov (1942–2018), ’n gerekende Russiese digter van nie minder nie as ses digbundels, iets geskep het wat soveel bloed vergiet, verbyster my. Maar dan ook: Kan die bloed van diere wat ons op so baie maniere vergiet vergoeilik word, dalk omdat ons hulle as van mindere belang as die mens en ander lewe beskou? Ek dink die digter het ’n plig om sulke vergrype en onreëlmatighede aan die kaak te stel. Ek hoop dat my ekogedigte en enkele aktuele gedigte oor aardverwarming ’n verskil sal maak in die sin dat die poësie as genre en selfs hulpmiddel gesien sal word wat in dié verband tot mense se harte sal spreek, ons van ons verantwoordelikhede bewus sal maak en dit duidelik sal maak dat ’n standpunt ingeneem is.
MT
Is daar één besondere gedig in Sirkelgang wat jy met Versindaba se lesers wil deel?
JLM
Die onderwerp van die gedig, “Geel Nyl”, het nogal onverwags opgeduik. Ek was verras om te hoor van die bestaan van hierdie rivier wat vroeër in die Sahel voorgekom en as gevolg van klimaatsverandering verdwyn het. Dit is ’n vroeë voorbeeld van hoe die landskap deur allerlei faktore omskep is. Dit het tot groot verskuiwings van mense in Tsjad en Soedan gelei en daardie deel van die kontinent verander. Om hierdie gegewe na te vors, was besonder stimulerend, en my kartograaf by die Departement Geografie van die Universiteit van Pretoria, Lourens Snyman, het vir my ’n kaart van die historiese vloei van die rivier gemaak, wat saam met die gedig in die internasionale Nederlandse tydskrif Armada gaan verskyn. Die gedig lui soos volg:
GEEL NYL
Die Quaddaï-hooglande in Oos-Tsjaad
was die gebied van die eens bestaande
Geel Nyl wat opgedroog en verdwyn het.
Met die dood van dié rivier het panne
en moerasse oorgebly en mense
metterwyl na die suide weggedryf.
Maar oorlééf in die verspreide tale
van die sprekers van die Sahel en bly
as Iteru en Aman Dawũ voort –
die name vir “rivier” in Oud-Egipties
en in Nubië in die Noord-Soedan,
’n kopknik na die voorheen groot waters.
Op die grenslyn tussen die dor woestyn
en die doringstruike van die savanne
lê die tekens van vroeër in die sand.
In 1992 het ek bygedra tot ’n multidissiplinêre verslag vir die United Nations Conference on Environment & Development wat van 3 tot 14 Junie 1992 in Rio de Janeiro in Brasilië plaasgevind het. My bydrae het oor die transformasie van die landskap gehandel, wat in die konteks van Afrika op velerlei maniere geskied en toenemend deur menslike aktiwiteite beïnvloed word. Ek onthou hoe moeilik dit was om bydraes vanuit die geesteswetenskappe in die verslag te laat opneem. Hoe ook al, van vroeg af het geleidelike én dramatiese verandering in die landskap my geboei omdat dit groot gevolge vir lewe op aarde het.
’n Spesifieke onderwerp op die vasteland wat my belangstelling geprikkel het, was die eens bestaande Geel Nyl waarvan min mense weet. Oor die Blou en die Wit Nyl het ek veral die Australiër Alan Moorehead se boeke insiggewend gevind, maar van die bestaan en verdwyning van die Geel Nyl het ek eers later te wete gekom. Hierdie rivier het 9 500 tot 4 500 jaar gelede bestaan en uit ’n moeras in die eertydse Wadai-sultanaat in die omgewing van die teenswoordige Tsjad en Sentraal-Afrikaanse Republiek ontspring en later die grens tussen Tsjad en Soedan gevorm. Nog water het van die Kapla- en Ennediplato na die Geel Nyl gevloei.
As gevolg van minder reën en menslike druk op die water- en hulpbronne het die Geel Nyl verdwyn, en net panne en moerasse dui aan waar daar voorheen ’n rivier was. Die mense daar moes noodgedwonge wegtrek. Vandag word oor die name van die rivier bespiegel, wat ook gedeeltelik die onderwerp van my gedig oor dié befaamde rivier is. In dié verband is bevind dat Iteru in Oud-Egipties rivier beteken en in Nubië is rivier Aman Dawũ (groot water) genoem. (Ook die name vir die Blou en Wit Nyl het ’n lang geskiedenis [soos dit ’n lang rivier betaam!], wat teruggaan na Arabies, Grieks, Sanskrit en Hebreeus.)
“The transformation of the incidents of ordinary life through the colouring of imagination: this was the essence of Wordsworth, of Hughes and of Heaney,” skryf Jonathan Bate in Ted Hughes: An Unauthorised Life (2015, p. 14) oor dié drie belangrike omgewingsbewuste skrywers. Hierdie woorde kom by my op ten opsigte van wat die verdwyning van die Geel Nyl vir ons beteken en hoe ek die gegewe in my verbeelding kan inkleur. In die hedendaagse gesprek oor klimaatsverandering is daar opmerklike spore wat reeds in die verre verlede lê. Die afgelope dekades se menslike aktiwiteite het tot ongekende klimaatsverandering gelei, wat opnuut migrasie, die bedreiging van kulture en transformasie van die landskap meebring.
MT
Johann Lodewyk, baie dankie vir ‘n besonder insiggewende gesprek en dat jy bereid was om soveel interessante besonderhede met ons te deel!