Resensie: aalmoes vir die bootman deur Andries de Beer. Turksvy Publikasies, 2024. ISBN: 9780796151810
Resensent: Amanda Swart
De Beer se debuut is inderdaad meer as ’n aalmoes
In ’n land waar ons toenemend elke dag met die dood op ons skouers leef, is dit sekerlik nie vreemd dat daar literêre werke verskyn met die dood as een van die deurlopende temas nie. Suid-Afrikaners se kennismaking met die dood gebeur op ’n al hoe jonger leeftyd.
Andries de Beer, ook bekend as Andries van Pretoria, al woon hy deesdae in Durbanville en werk in Wellington, se eerste gedig het in 1993 verskyn, gevolg deur publikasies in Poort. Tydens interkulturele musiek-en poësie-aande staan hy voor die mikrofoon en begin hy oop-verhoog aande vir ongepubliseerde digters. Hy raak betrokke by die Oopmond-bekgeveg- aande en hy publiseer van hierdie gedigte in Ons Klijntjie. Hierdie manier van dig en musiek maak, wat gemunt is as Slam-poetry (ook verwant aan punk poetry), het ’n populêre manier van veral jonger kunstenaars geword om op ’n ander manier kommentaar te lewer oor die samelewing, politiek, korrupsie, en vele ander temas.
De Beer het sy gedigte gebundel met die titel aalmoes vir die bootman. Die titel herinner aan die verhaal van Charon, die Griekse bootman in die mitologie, wat die siele van dooie mense oor die Acheron- en Styx-rivier, wat die wêreld van die lewendes en die dooies van mekaar skei, vervoer. Geld van min waarde (ʼn aalmoes, bekend as Charon se obool) word naby of in die monde van dooies gesit, of langs die urn van mense wat veras is. ʼn Aalmoes is ook die klein liefdesgawe wat jy aan ʼn bedelaar of behoeftige gee, iets wat dikwels ʼn vernederende ervaring kan wees.
Die digter skryf gedigte aan en oor bekende mense wat reeds oorlede is, soos Ollie Viljoen (die titelgedig op p. 25), of Piet Botha, Ian Raper, of aan mense wat persoonlik aan die digter bekend is. Hoe het hierdie mense hul reis na ʼn anderkant ervaar, het hul ʼn aalmoes gegee aan die bootman? Om iets in ruil te gee, word die viatikum van die Laaste Nagmaal, die laaste rite waar voorsiening gemaak word vir die reis na die doderyk. Vergelyk byvoorbeeld die volgende fragment uit die gedig wat ook die titel van die bundel is:
die bootman sal ʼn deuntjie vra
om vir jou en jou trekklavier
na ʼn anderkant te dra
jy sal saggies begin speel
ʼn ou wysie, dalk een wat hy ken
hy sal saamneurie
en sy voet ritmies klap
(…)
Ollie Viljoen betaal sy reis na ʼn anderkant (nie die anderkant nie) met sy musiek en talent. Die doderyk en die reis na die dood word verbeeld met verwysing na byvoorbeeld Piet Botha se “suitcase van ons winter is nou vol musiek” (p.26) en “Breyten sal sterf”, Ingrid het seewiere en “in die donker word ek jonker/skerwe spieëls jou paspoort na lag”.
Die tema van die dood word ook aangeraak deur gedigte soos “memento mori” en “mortem obire”, waarin die terugkerende simbool van die laksman die ek-spreker aan sy eie geveg teen en met die dood herinner.
Die bundel bestaan uit 5 afdelings wat geskei word deur skilderye deur die digter self. Met hul kleurvolheid, abstraktheid, ekspressionistiese uitbeelding en die duidelike simboliek word die leser goed voorberei vir die gedigte wat in daardie betrokke afdeling volg. Hierdie visuele uitbeeldings versterk die temas en die intertekstualiteit van die gedigte wat voortdurend met mekaar praat – woord en beeld in konstante interaksie. Diere word uitgebeeld in gevangenskap, mense loop op skedels rond, die mens kyk in die spieël en sien ʼn dier, die metaforiese betekenis kan nie gemis word nie. Dit is jammer dat die titels van die skilderye nie gegee word nie.
Die gedigte handel ook oor pa en minnaar-wees, oor menswees, jonk wees, politiek, die skepping, tyd en tydloosheid, ewewig, die seksdaad as vorm van kreatiwiteit en elke keer ʼn vorm van sterf. In “post mortem” (p. 52) byvoorbeeld:
die kleindood
wat ons sterf
loop hand aan hand
om die blaas
oor die bors
in die gleuf
met ʼn godkomplot
vermurwing
van vlees
gees
wêreldse vrees
en
as die offer rein is
ook soms
sommer net
menswees
Hy wonder oor geloof en die verlies daarvan. In die donker verse beeld hy die angs van ons menslike bestaan uit. Daar is verwysings na waansin-as-dood-wees en die waansin-van-die-dood self, ook sy eie. Die verskrikking van dinge wat gebeur, word parallel geskryf met die Kersverhaal, ons skuld aan die verval van die wêreld word op hierdie manier ʼn aanklag teen die mensdom, soos bv. in “genade” (p.67):
stille nag heilige nag
ʼn kind word gebore
sy ma was verkrag
Jesus-kind lank verwag
lig uit lig uit die Vader se ryk
die kind word ontvang
met kanker en vigs
word uit lief aan mense gelyk
die welsyn het hom kom haal
hulle sê sy ma het hom weggesmyt
Heer gebore vir ons
Jirre hoekom vir ons?
Ons is immers slawe van onsself en ons eie lewens. In “slaaf” (p. 76) skryf hy
van agt tot vier
loop ons soos primate
geskool en gedas
evolusionêr aangepas
ʼn model van struktuur
die volmaakte sirkusdier
Die bundel bestaan uit vrye verse. Dit is insiggewend om na die tipografie van die gedigte te kyk binne die temas wat aangeraak word, en die woordspelings wat gebruik word. Die lewe van die “ek” binne ons verworwe wêreld, die middelklas bestaan, verwysings na die Voëlvrybeweging en die ironiese vrywording daarna, binne die slaaf-word en slaaf-wees van ons huidige bestaan word deur struktuur verder uitgebou. Die verse het selde hoofletters en leestekens, want die vrywording word deur niks en niemand anders as onsself aan bande gelê nie.
Dalk lê ware vrywording in die betaling van die aalmoes vir die bootman, want een of ander tyd kom hy ons haal om te betaal.
ʼn Ernstige bundel wat ook humor bevat, ons eie weerloosheid uitbeeld en ons onvermoë om alles te verstaan. Want …
die Here is ʼn hond
een met ruwe pels
vol littekens
van mishandeling
ʼn straatbrak
sy is ʼn teef
haar naam is Ragel
en sy lek
trane op
(Uit: vir my seun, p. 13)
Voorwaar meer as ʼn aalmoes deur hierdie digter! Ons sien uit na die volgende een.
n Debuut met verse wat talm in die gedagtes en vra vir weer lees. Geluk met n uitstekende punk versameling!