Stil gesprek
Jan Pretorius
Stil gesprek is ’n pragtige publikasie wat bestaan uit 24 oorspronklike ekfrastiese gedigte van die bekende opvoedkundige en akademikus Jan Pretorius, wat geskryf is na aanleiding van die internasionaal bekroonde natuurfotograaf Geo Jooste se natuurfoto’s wat in volkleur aan die keersy van die gedigte afgedruk word.
Die sirkelmotief van lewe en dood kom baie goed uit die gedigte na vore, wat eweneens bekragtig word deur die foto’s van die wilde diere. Die klankpatrone (half- en volryme) in die gedigte word uitstekend aangebied om die gedigte telkens treffend daar te laat uitsien.
Die stemgee aan stemlose dinge is een van die belangrike aspekte wat die bundel laat uitstaan. Telkens word die fokalisasie vanuit die betrokke dier/e se blik aangebied.
Nie net word die natuur in haar grootsheid deur die diere en landskappe voorgestel nie, maar word ook ’n oproep aan die mensdom gedoen om opnuut te herebesin oor ons plek in die wêreld en ons verantwoordelikheid teenoor die natuur.
Oor die outeur
Jan Pretorius is ’n mede-professor in Opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Hy was ook vir 20 jaar ’n Biologie-onderwyser. Sy akademiese navorsing fokus op kunstenaarskap in die onderwys, popmusiek, skilderye van kunstenaars soos Vincent van Gogh and Caravaggio, humor en die gebruik van rolprente om te onderrig. ’n Aantal van sy gedigte is deur Litnet gepubliseer. Die afgelope drie jaar eksperimenteer hy met poëtiese ondersoek, waar gedigte gebruik word in akademiese artikels. So is ’n ballade gebruik om die gebeure tydens die Beleg van Malta in 1565 uit te beeld, en is nege sonnette in ’n artikel oor die gepubliseerde dagboeke van die skrywer Hennie Aucamp ingesluit.
Geo Jooste was die Adjunkhoof van Sentraal Hoërskool in Bloemfontein en het onlangsafgetree. Hy is ’n bekende natuurfotograaf, bekend vir sy betowerende foto’s. Hy het internasionale kompetisies gewen, insluitend een vir sy foto van ’n slanghalsvoël wat uit water te voorskyn kom. Met ’n skerp oog vir detail en ’n groot waardering vir die skoonheid van die natuur, voer Jooste se werk kykers na eksotiese plekke en wys die diversiteit van wildlewe op ons planeet. Sy foto’s is in vooraanstaande uitstallings en publikasies wêreldwyd uitgelig en hy word wyd erken as een van die top natuurfotograwe van sy generasie.
[2024 Naledi. Formaat: SAGTEBAND. 245 mm x 168 mm. Prys: R260.00. ISBN: 978-1-991256-89-8]
