Resensie: Vlindervreter deur Melanie Grobler en Christiaan Diedericks. Naledi. 2024. ISBN: 978-1-991256-64-5
Resensent: Marlies Taljard
I
Christiaan Diedericks se treffende omslagkunswerk van Vlindervreter, die minotourus en die sadhoe, suggereer die belangrikste kodes vir die interpretasie van hierdie interessante teks – 21 kunswerke van die drukgrafiese kunstenaar Christiaan Diedericks en gedigte van Diedericks en Melanie Grobler. Die eerste indruk wat ek aan die hand van die boekomslag gevorm het, is dat dit, benewens ’n digbundel, ook ’n pragtige koffietafelboek is wat stylvol en luuks deur Naledi uitgegee is.
Die minotourus van die omslag is enersyds die simbool van die skrikwekkende en vreesaanjaende monster, maar – vir die doeleindes van teksontleding – is hy ook die bewoner van die labirint. Trouens, verskeie mites plaas hom in die middelpunt van labirint. Die simboliese waarde van die minotaurus en die labirint is byna onuitputlik en kan maklik nageslaan word. Daarom konsentreer ek hier slegs op ʼn enkele aspek wat vir die ontleding van hierdie teks sinvol is en dalk nie so algemeen bekend is nie, naamlik die labirint as metafoor van die teks. Hierdie analogie is nie nuut nie en word algemeen deur letterkundiges en taalkundiges aanvaar. Ek verduidelik dit aan die hand van die teoretiese insigte van Umberto Eco en sy bekende roman The name of the rose, asook die bekende verhale van Jorge Luis Borges, onder andere in sy Labyriths: “The world is a book and the book is a world, and both are labyrinthine and enclose enigmas designed to be understood and participated in by man.” Addisioneel kan verwys word na die werk van Irene de Jongh oor wie Françoise Létoublon onder andere skryf in haar artikel “The Text as Labyrith” https://www.academia.edu/75324936/The_Text_as_Labyrinth
In The name of the rose beeld Eco die abdy-biblioteek as labirint uit. Aan die einde van dié roman sê William van Baskerville: “A book is made up of signs that speak of other signs, which in their turn speak of things” (1998:396). Eco beskou die skryf- én die leeshandeling as oneindig siklies. Volgens hom (Eco, 1984:81) het die labirint die eienskap dat “every point can be connected with every other point, and, where the connections are not yet designed, they are, however, conceivable and designable”. Die konsep van die sikliese (oneindige) aard van die labirint word deur Jorge Luis Borges uiteengesit in The Library of Babel waar hy die labirint-agtige biblioteek beskryf: “The Library is unlimited and cyclical. If an eternal traveler were to cross it in any direction, after centuries he would see that the same volumes were repeated in the same disorder (which, thus repeated, would be an order: the Order)” (Borges, 1983:58). Ook Borges se verhaal The Garden of Forking Paths resoneer as intertekstuele verduideliking van die labirint: “Ts’ui Pên must have said once: ‘I am withdrawing to write a book’. And another time: ‘I am withdrawing to construct a labyrinth’” (Borges, 1983: 25). In The name of the rose beweer die bibliotekaris Alinardo van Grottaferrata: “The library is a great labyrinth, sign of the labyrinth of the world” (Eco, 1998:158). Die geheim van die ontrafeling van die labirint lê, volgens William van Baskerville daarin dat “God knows the world, because He conceived it in His mind, as if from the outside, before it was created, and we do not know its rule, because we live inside it, having found it already made” (Eco, 1998:218). Die labirint-simbool vorm die spil van Eco se siening van die teks as oneindige web van intertekstuele verwysings: “… books speak of other books” (Eco, 1998:286). Wanneer Adso von Melk, na ʼn tweede besoek aan die klooster, slegs enkele fragmente van die groot biblioteek vind, die klooster afgebrand, skryf hy in ʼn brief aan die leser:
Poking about in the rubble, I found at times scraps of parchment … I collected every relic I could find, filling two traveling sacks with them, abandoning things useful to me in order to save that miserable hoard. Along the return journey and afterward at Melk, I spent many, many hours trying to decipher those remains (…) At the end of my patient reconstruction, I had before me a kind of lesser library, a symbol of the greater, vanished one: a library made up of fragments, quotations, unfinished sentences, amputated stumps of books (…) The more I reread this list the more I am convinced it is the result of chance and contains no message (…) (Eco, 1998:500-501).
In die inleidende gedeelte van die teks skryf Adso reeds oor die fragmente wat hy versamel het: “… as if to leave to those who will come after … signs of signs, so that the prayer of deciphering may be exercised on them” (Eco, 1998:11). Eco bely ook per geleentheid teenoor Cees Nooteboom dat hy die labirint by Borges as iets heiligs ervaar – dalk is dit God, dalk is dit God én die geskape wêreld – oneindigheid.
So beskou, sluit die minotourus/labirint aan by die sadhoe, wat ook op die buiteblad uitgebeeld word. Die sadhoe is ʼn godsdienstige askeet wat ʼn lewe van spirituele dissipline volg in ʼn poging om deur meditasie tot verligting te kom en aan die ewige sirkel van lewe en dood te ontsnap (vergelykbaar met die labirint).
Die Westerse mistiek sluit by hierdie praktyke aan deur die geloof dat eenheid met en opname in die Godheid of die Absolute óf belewenis van kennis wat andersins nie vir die intellek toeganklik is nie, bereik kan word deur (transendentale) meditasie en die onderwerping van die self aan die Oneindige. Die doelwit wat nagestreef word, is eenheid met God of die Absolute, maar dit kan ook verwys na enige vorm van ekstase of veranderde bewussynstoestande waaraan ‘n religieuse of geestelike betekenis toegeskryf word. Die teenwoordigheid van ʼn bykans ondeurgrondelike misterie wat deur geen dogma, filosofie of rituele beskryf kan word nie en wat talige formulering te bowe gaan, word deur verskeie mistici erken wanneer mistieke belewenisse beskryf word.
Wat in alle mistieke tradisies belangrik is, is respek vir alle vorme van lewe op aarde omdat mistici glo dat alle dinge manifestasies is van ʼn enkele Skeppingskrag en omdat dit die pad oopmaak tot ʼn lewe van volledige harmonie met die “transendentale orde”.
II
Beskou ons die gedigte in Vlindervreter, blyk dit dat die poging om die onsegbare te verwoord, asook die mistieke belewenis belangrike oorkoepelende temas van die bundel is. Die labirint as liminale plek aan die buitewyke van die geordende samelewing waar transformasie, soeke, geweld en pyn die liminale belewenis kenmerk, is ʼn verdere tema wat beslis verken moet word. Diedericks se Medicine Man-reeks wat as intertekstuele teenwoordigheid in die bundel funksioneer sluit by hierdie temas aan. Ek fokus egter in hierdie bespreking op die poëtikale aspekte van die bundel en nie op ʼn beskrywing of ontleding van die kunswerke nie.
Die bundel word oorhoofs verdeel in twee hoofdele, naamlik “die wond van stilte buk” en “verminkte flaminke”. Alwyn Roux skryf in die Verantwoording: “ʼn Gesprek word tussen die gedigte van Diedericks en Grobler bewerkstellig, maar ook ʼn parallelle vertelling waarin die gedigte in gesprek tree met Diedericks se kunswerke.” Dit mag inderdaad die bedoeling gewees het, maar hierdie gesprek kom volgens my lees van die teks nie duidelik genoeg uit die verf nie, dalk omdat, soos Roux tereg aantoon, geen instruksies vir die lees van die tekste verskaf word nie en die onus op die leser rus om sin te maak van die uiteenlopende tekstipes. Nietemin, dit het my nie té veel gepla nie. Dit is ook sonder ʼn duidelike narratologiese lyn moontlik om die gedigte én die kunswerke te waardeer.
In die eerste afdeling is bloed, wonde en herstel verweef met mites en mitiese landskappe, soos dit reeds uit die openingsgedigte blyk:
bloedvlekblom
my lyf papawer
bloedrooi
by die geboorte
van jou breinkind
uit my
die litteken
van jou gewillige
inbraak in my
lê in seer
verdroom
die skrilskreeu
van ons breinkind
en jou teenwoordigheid
laat my smag
na jou
los my naak
die binneste binne
van ʼn perskepit
[CD]
Die wond van stilte
Toe tropiese wolke versplinter, die see opswel,
die bittereinders van afvlerkmotte
in jou huil, word jy die sout
wat oor die wond van stilte buk, ritselend,
suisend roep: verlaat die paradys.
Hier, waar ek vertoef teen die kussing van wolke,
sien ek die vallei van verlatenheid, herken ek die rotse
hoor ek die rooi berg se knaende klagtes,
die hemel en die dam,
ek, die vuur, wat stadig brand.
[MG]
Die papawer van die openingsgedig is ʼn simbool wat by herhaling voorkom en dui veral op bloedvergieting en wonde, byvoorbeeld in “Sanctorum” (p. 35), “Bloedbad van die onskuldiges” (p. 94) en “Huilende roos word sy genoem” (p. 95). Soos besering, is pyn ook ‘n deurlopende motief in die bundel, maar dit word dikwels gekombineer met beelde van pynverligting, herstel en medisinale plante. Hier is die invloed van die Medicine Man baie duidelik. Melanie Grobler se gedig “ʼn Duisend tatoes en sproete” (p. 28) roep die toneel in The name of the rose op waar Adso van Melk die fragmente van die groot biblioteek vind:
Dae lank versorg ek die stigmata aan jou handpalms.
Ek vra of jy die melkhoutbrief, gemaak van akasia,
fragmente van tekste, ook die
woorde van die ongeletterde boekversorger, ontvang het.
Volgens Adso van Melk verteenwoordig die fragmente wat hy gevind het, metonimies die hele biblioteek wat volgens die bibliotekaris ʼn labirint is. Sou ʼn mens dan ook in Grobler se gedig die labirint kon raaklees? Ten minste beslis ʼn liminale ruimte waarvan die geheel nie kenbaar is nie en die liminale persoon slegs fragmente kan waarneem. Hierdie ruimte word dan hier die ruimte van versorging en herstel – dalk verwant aan Kristeva se chora, veral as in ag geneem word dat die hele teks beslis ook psigoanalities gelees moet word (vgl. “dit is eensaam hier in die agterwêreld / van die onderbewussyn” [MG], p. 16).
Die tweede bundelafdeling word oorheers deur oorlogsgedigte en die lyding van mense, diere en die natuurlike wêreld in die oorloë wat tans elders in die wêreld woed. Die verskrikking van oorlog word onder andere verwoord in Diedericks se gedigte “gebed vir ʼn jong soldaat” (p. 64) en “Wat word van die hond?” (p. 69). In die gedig “Minotourus” (p. 74-75) word die Minotourus simbool van verskrikking, soos blyk uit die volgende strofes van Diedericks se gedig:
hier verf
die doodsengel
rye witkalkkruise
op deurkosyne
hoe onderhandelbaar
is menselewens
in goddelose geopolitiek?
(…)
op hierdie slagveld
wie is die Minotourus
en wie is ʼn man?
Melanie Grobler skryf meer metafories oor die oorlog:
Om te lewe is om te brand
– André Voznesensky
Dit was ʼn wilde nag toe ek weer luister
na die aanhoudende ritmes van jou tikmasjien.
Hoekom fladder jou hande deesdae soos vlerke,
luister jy al weer na kraaie se geritsel in die riete?
Engele stroom oor wilde heuwels
ʼn vreemdeling brand die vlerke van jou gedigte.
My weemoed vlug na herfs in die rietbos,
dra geel aan melancholiese aronskelke.
(p. 63)
Grobler se gedig “Lamentasie by die verlies van die Jagger” (p. 82) – verwysend na die brand in die UCT se Jagger-biblioteek – staan veelseggend ook tussen oorlogsgedigte. Maar ook veelseggend, is die verwysing na helende aktiwiteite in hierdie afdeling, soos Diedericks se “bakhandkwepers” (p. 84):
bakhandkwepers
jy spin
wolkwit katoen
bottel dagbreekheuning
maal pypkaneel, gemmer, naeltjies, neutmuskaat en vars
kruisement
toor met rooswater
soen my swerwersiel
met geurkruid en roti
verbind jy versigtig my
woedende wond
jou goedhartigheid syfer sag
deur my gebarste mure
krummel in my erdebak
grondman
toe ons groet
bloei blomme in my ribbekas.
Melanie Grobler se slotgedig “Thymus capitanus” (103) sluit hierby aan en, as sterk gemerkte teksdeel, versterk dit die tema van versorging, heelmaking en heling.
III
Soos dit uit die inleidende deel van my resensie geblyk het, is die teks as labirint een van die belangrikste temas wat ek in hierdie bundel geïdentifiseer het. Simbole soos die eggo en die spieël sluit logies by die labirint-simbool aan. Die labirintale struktuur word byvoorbeeld gedemonstreer in die gedurige wisselwerking van gedigte en kunswerke: die gedigte “praat” met die kunswerke”, die kunswerke “praat” terug; die gedigte van Grobler en Diedericks “praat” met mekaar soos ʼn wisselsang, praat met die kunswerke: die eggo, die spieël, die labirint word hier geaktiveer.
Intertekstualiteit is een van die bekendste simbole van die labirint: tekste verwys na ander tekste, wat weer na verdere tekste verwys, en so voort – die leser ontsnap nooit aan die labirint van tekste wat soos in ʼn eggokamer steeds na mekaar bly roep en na mekaar verwys nie. Daarom is intertekstualiteit in hierdie bundel ook besonder sinvol. Diedericks se kunswerkte is waarskynlik die mees voor die hand liggende intertekste, maar daar is ook verwysings na die werk van ander digters, soos Ingrid Jonker in “Die donker hart van tyd” (p. 47). Sheila Cussons se bekende gedig “1945” resoneer veral in die hele tweede afdeling, byvoorbeeld in verskeie verwysings na engele en in strofes soos die volgende:
buite struikel ʼn katedraal
gebede tuimel straataf
hier is dit godsonmoontlik
om sening en siel
aanmekaar te hou
(p. 78)
Veral by Melanie Grobler is mites en ou verhale dikwels intertekste van gedigte, soos verwysings na die Turynse Kleed (p. 11) en die magiese eland in “ʼn Arto tussenganger neem jou na die magiese eland” (p. 21) en “Voëls van begeerte” (p. 98) met sy verwysing na Shiva. Ook verwysings na beeldende kunstenaars en kunswerke kom by haar voor, soos Vincent van Gogh se “Sterrenag” (p. 88). Die ooreenkoms met die biblioteek in The name of the rose en ʼn gedig soos “Lamentasie by die verlies van die Jagger” is opvallend: die brand in die “groot biblioteek” waarin die digter haar “swart linte verloor” en waarvan daar slegs “die fladdering van papier / en die ewig verlore apokriewe van ene Bleek” oorbly. Ook hierdeur word die labirint as simbool van (hierdie) teks versterk.
Die surrealistiese aard van gedigte wys ook heen na die labirint en na die onkenbaarheid en oneindigheid van die geheel. In baie gevalle is die betekenis van gedigte nie duidelik agterhaalbaar nie en raak die digter (veral Diedericks) as’t ware verstrik in die woorde. Dit het natuurlik ʼn impak op die kwaliteit van die gedigte. By Grobler roep gedigte dikwels droombeelde op, wat herinner aan Freud se droomverklarings wat natuurlik sy eie assosiasies met die labirint het!
Waarskynlik die mees opvallende kenmerk van die bundel as geheel is die mistieke aard van die digters se belewenis wat elke gedig in die bundel kenmerk. Hoewel pyn, lyding en verwonding deel is van ons aardse bestaan wat die sadhoe probeer oorstyg, vorm heling, meelewing en verskuiwing van die fokus na die transendentale belewenis die teenpool. Ek volstaan by ʼn enkele aanhaling:
Hamas
(Vir Noam Chomsky)
Die meisies se oë gloei soos
Palestynse herders,
soos dié in El Greco se skilderye,
asof hul blik gerig is
op iets wat ons nie sien nie.
Sal die spierwit amandel ooit weer blom?
[MG]
(p. 101)
ʼn Mens sou selfs die onsamehangende verse wat deurgaans voorkom, kon beskryf as deel van die meditasieproses waarin logiese denke doelbewus ondermyn word, byvoorbeeld deur die preweling van mantras. Nietemin, as poëtiese praktyk werk dit nie op die lange duur nie. Wat egter in dié verse opval, is die melodie, die ritme, die fokus op kleur, detail en dikwels sinestetiese ervarings. Hoewel daar in die gedigte dikwels verwys word na stilte (een van die belangrikste aspekte van ʼn pad na verligting deur meditasie), druis die woordrykheid (ek wil amper sê woordruigheid) van die bundel direk in teen die praktyk van stilte en eenvoud wat deel is van die transendentale praktyk.
IV
Die bundel Vlindervreter is ʼn komplekse bundel waaraan ek nie in die bestek van een resensie reg kan laat geskied nie. Vir my is dit eerstens ʼn koffietafelbundel waarin Christiaan Diedericks se Medicine man-kunswerke pragtig op glanspapier afgedruk is. Wanneer ʼn digter (of twee digters) besluit om sy/hulle gedigte saam met kunswerke soos hierdie van ʼn veelvuldig bekroonde visuele kunstenaar te publiseer, hou dit bepaalde risiko’s in. Die gevaar is dat die gedigte met die visuele kunswerke vergelyk sal word en nie tot hulle reg kom nie of selfs teen dié werk afsteek. Wanneer daar só baie visuele werke afgebeeld word soos in hierdie bundel, is dit byna vanselfsprekend dat die gedigte tweede viool speel en die kunswerke die fokus van belangstelling word terwyl die gedigte in die skadu gestel word.
Wat gedigte self betref, het ek Melanie Grobler se gedigte as ʼn ervare digter se laatwerk geniet. Die metaforiese rykdom en die meervoudig gelaagde inhoud bied ryke stof tot nadenke en interpretasie. Diedericks, as minder ervare digter, se gedigte neig dikwels na vaagheid, maar sy sterkpunt is die trefseker beeldgebruik, sy bewustheid van metrum en ʼn ironiese ingesteldheid. Wat my nié beïndruk het nie, is die gedigte wat deur albei digters saam geskryf is. Dit is ʼn praktyk wat eweneens risiko’s inhou, soos dat nate sigbaar word en die twee stemme nie in harmonie bly nie.
Ongeag kleiner ongemakke, kan ek hierdie bundel met die grootste vertroue aanbeveel as genotvolle ervaring vir iedere leser.
Bibliografie en addisionele inligting
Borges, Jorge Luis. Labyrinths, Modern Library, New York, 1983.
Eco, Umberto: The Name of the Rose, Vintage, Berkshire, 1998.
Eco, Umberto (Red). On the Medieval Theory of Signs, John Benjamins Publishing Company, Amsterdam/Philadelphia, 1989.
Eco, Umberto. The Role of the Reader, Indiana University Press, Bloomington/London, 1979.
Eco, Umberto. Semiotics and the Philosophy of language, Indiana University Press, Bloomington, 1984.
Létoublon, Françoise. The Text as Labyrith https://www.academia.edu/75324936/The_Text_as_Labyrinth
Lloren. Gregg. 2008. Finding One’s Way Through the Labyrinth of Words, Signs, and Symbols: The Semiotics of Fiction and Reality in Umberto Eco’s The Name of the Rose https://www.researchgate.net/publication/299578726_Finding_One’s_Way_Through_the_Labyrinth_of_Words_Signs_and_Symbols_The_Semiotics_of_Fiction_and_Reality_in_Umberto_Eco’s_The_Name_of_the_Rose
Qasi, K.A. Mysticism and English Literature: An Overview.
https://www.academia.edu/61992183/Mysticism_and_English_Literature_An_Overview