I
Films aktiveer dikwels gedigte van bekende digters. In Jim Jarmusch se Paterson (2016) sien ons dit.
Sophie’s Choice Alan J. Pakula se film uit 1982 werk ook met die digkuns. Die afgelope tyd is hierdie film driekeer besoek.
Meryl Streep (Zofia/ Sophie Zawistowska) met Kevin Kline (Nathan Landau) as die twee gedoemde geliefdes. Met Stingo (Peter MacNicol) wat ‘n roman skryf. Alles speel in Brooklyn af in 1947, gebaseer op William Styron se roman van 1979.
Die Brooklynbrug as ‘n baken met ‘n voice over van Stingo wat alles vertel vanuit ‘n agterna-perspektief. Hier vier hulle Stingo se sukses as skrywer op die Brooklyn-brug. Met Nathan wat sjampanje skink en ander gevierde digters oproep soos Hart Crane.
En Sophie wat Dickinson aanvanklik verwar met Dickens wanneer sy ná haar aandskool soek na die digter wie se naam sy as Dickens gehoor het. Met ‘n grimmige bibliotekaris wat haar veminder en verneder.
Die tragiek van die WOII en Sophie wat ‘n keuse moet maak watter kind sy sal offer. Eers vertel sy dat haar man en vader dood is in die kamp. Nathan het ‘n groot belangstelling in die Joodse uitwissing.
Stingo verneem die waarheid dat haar vader ‘n Nazi-simpatisant was. Sy erken dat sy gelieg het. Haar vader, ‘n professor en haar eggenoot is deur die Nazi’s in hegtenis geneem. Sy het ‘n minnaar Józef, wat deel was van die Poolse resistance. Hy versoek haar om Gestapo-dokumente te vertaal, maar sy vrees dat dit haar twee kinders, Josef en Eva in gevaar mag stel. Hier is die film in Duits en swart-en-wit.
Die minnaar word vermoor en sy word na Auschwitz gestuur. Sy word Rudolph Höss sekretaresse en doen vertaalwerk.
Nathan vertel dat hy navorsing doen vir Pfizer, maar sy broer, ‘n dokter, onthul dat hy ‘n paranoiese skisofreen is. Hierna beleef hulle weer ‘n woedebui van Nathan. Stingo en Sophie vlug na ‘n hotel waar sy die hele waarheid onthul: sy kan nie met Stingo trou nie, want sy sal ‘n slegte moeder wees. Sy het Eva na die gaskamer gestuur en Jan laat leef sodat daar ‘n nageslag sal wees …
Daar is ‘n nag van passie en die volgende dag laat sy ‘n brief vir Stingo oor waarom sy moes vertrek. Sy keer terug na Nathan.
Dan ontdek Stingo dat beide gesterf het aan ‘n sianied-oordosis in die bordienghuis.
Hy ontdek ‘n bundel van Emily Dickinson en lees “Ample Make This Bed” voor. Hy keer terug na die plaas wat hy geërf het in Virginia en skryf sy roman.
Die geheim wat sy uiteindelik met Stingo deel, verander sy lewe onherroepelik.
In die nag van passie word Sophie sy godin en ook sy muse.
II
Romans verwys dikwels ook na bekende digters.
In 1998 verskyn wyle Harry Kalmer se roman Kniediep by Human & Rousseau.
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/harry-kalmer-kniediep-1998.html Besoek 25 Maart 2025
Die titel verwys na Wopko Jensma se gedig:
kniejie pi ndi eka
kniedi ep ind iek
knied ie pin die
knie di epi ndi
kni ed iep ind
kn ie die pin
k ni edi epi
kn ied iep
k nie die
kni edi
kn ied
k nie
kni
kn
k
ak
kak
e kak
ie kak
die kak
n die kak
in die kak
p in die kak
ep in die kak
iep in die kak
diep in die kak
ediep in die kak
iediep in die kak
niediep in die kak
kniediep in die kak
uit: Gomringer variasies IV
https://gesellig.co.za/t/13839-gomringer_variasies_IV-_WOPKO_JENSMA/ Besoek 25 Maart 2025
Wie was Wopko Jensma? ‘n Digter-skilder, gebore in 1939 en iemand wat spoorloos verdwyn het in 1993. Hy word gelys as ‘n verdwene persoon. Wilma Stockenström het in die negentigerjare vertel dat wyle Phil du Plessis, die digter, hom gesien het in die Salvation Army. Maar was dit hy?
Delmore Schwartz (1913 – 1966), die bekende Amerikaanse digter, het vir dae in ‘n lykshuis gelê en is uitgeken. Oor sy lewe het Saul Bellow ‘n soort fiksionele verslag in 1975 geskryf in Humboldt’s Gift.
Hy was die skrywer van ‘n bundel kortverhale met die pakkende titel In Dreams Begin Responsibilities and Other Stories wat in 1978 verskyn het.
Oor Jensma is daar insigryk geskryf deur Leti Kleyn en Johann Lodewyk Marais:
This article focuses on aspects of identity in the Afrikaans poetry of Wopko Jensma, published in three volumes of poetry, and in various magazines. Jensma apparently strove towards a new, “free” South African identity, which is clear from his idiosyncratic use of language, his perspectives on the sociopolitical circumstances of his time, and his visual art works. As the authors of this article have recently completed the most comprehensive study to date on Jensma’s life, this article contains singularly fresh and new perspectives on this significant South African writer and artist. The authors purport that the Afrikaans literary historiography has, since the 1960s, maintained a distorted representation of Jensma’s contribution not realising his importance.
https://www.researchgate.net/publication/262552049_Wopko_Jensma_and_his_quest_for_a_new_South_African_identity Besoek 27 Maart 2025
III
Psigiese buitestaanderskap vind ons ook in die werk van Robert Lowell. Ian Hamilton wys op die aftakeling in sy psige en die politieke opstand van die digter. By Jensma was dit waarskynlik sy veeltaligheid en afwysing van wit superioriteit wat hom vervreem het.
Kleyn en Marais merk tereg op:
Dit was egter Peter Wilhelm se uitspraak wat een geword het met die persona van Jensma: “Some have displayed uncertainty about his racial/religio/political background: after all, in the land of separate development, to have no official identity, to slot into no orthodox groove, is a very strange, disturbing thing […]. He is a terrifying, new sort of human. He is the first South African.”
En later spreek ook Jacques Alvarez-Pereyre hom oor Jensma se identiteit uit: “Before seeing his photograph, one could picture him as Cape Malay, or a Tswana from a township where everyone speaks Afro-American slang, or an Afrikaner who has broken with Afrikanerdom, or an English-speaking South African who has spent his childhood among black people. Yet he is white!”
En hier is ‘n heerlike politieke send up van Jensma:
Sondagoggend tien-dertig
halte een
dis sondagoggend skielik tien-dertig
tant sousie en tant spekkie
stap saam die kerk binne
en neem wigtig langs elkaar plek in
dominee haal sy teks ewe versigtig
uit efesiërs twee uit
mourits minaar steun ’n psalm
diep uit die karkas van die orrel
die djakens neem kollekte op
die armes sal altyd met ons wees
ouderling herklaas vanner merwe kug
halte twee
dis nou-nou sondagoggend tien-dertig
tant sousie en tant spekkie
glip sondermeer die jimmel binne
outa servaas en aia mieta
lê dronk in die tuin
die skaapkop en gebakte ertappels
wag gereed vir die groot eet
swingel breda sluk moses-innie-mandjie
lappies lawwerskagnie dut oppie stoep
halte drie
dis net-nou sondagoggend tien-dertig
tant sousie en tant spekkie
strompel stadig kerk toe
dominee haal sy das versigtig uitie kas
hy vloek orie oliekol op sy hemp
mourits pomp die orrel vol windgat
die djakens knoop hulle dasse
ouderling herklaas vee sy gat af
outa servaas donner mita
swingel breda soek sy hardehout
lappies pie teen sy oupa se portret
halte vier
sondagoggend tien-dertig het aangebreek
Kerk, kos, drank en geweld. Met spotname soos “swingel breda” en “tant sousie” en “tant spekkie”. Seksuele toespeling en twee vet tantes. “lappies pie teen sy oupa se portret” wat dui op ‘n debunking van die tradisie met ‘n vloekende dominee.
Efesiërs 2 handel oor die verlosiing uit genade. En mense wat dood was deur sonde en misdade.
Die gedig word aangebied asof dit haltes op ‘n stasie is.
IV
Die digter het glo sy pensioen in Augustus 1993 getrek. Hierdie artikel is ’n verwerkte weergawe van ’n referaat wat op 8 September 2008 by die Afrikaanse Letterkundevereniging-kongres op Maselspoort, Bloemfontein gelewer is. By hierdie geleentheid was die digter Johan van Wyk ook daar.
Die priemende blik van Wopko Jensma is opvallend.
Joan Hambidge
Kaapstad 30 Junie 2025
Bronne:
Hamilton, Ian. 1982. Robert Lowell: A Biography. Londen: Faber & Faber.
Jensma Wopko. 1973. Sing for our Execution. Johannesburg: Ravan Press.
– 1974. Where White is the Colour/Where Black is the Number. Johannesburg: Ravan Press.
– 1977. I Must Show you my Clippings. Johannesburg: Ravan Press.
