Atrium: Gedigte (1970–2025)
Marlise Joubert

Dit is vanjaar die bekroonde digter Marlise Joubert se 80ste verjaarsdag. Om die geleentheid te herdenk, het Karen de Wet ’n keuse uit Joubert se digbundels saamgestel. Die bundel bevat gedigte uit haar elf gepubliseerde bundels (gepubliseer tussen 1970 en 2023), asook ’n aantal nuwe, voorheen ongepubliseerde gedigte. Atrium is ’n versamelaarsitem wat op elke poësieliefhebber se boekrak hoort.
as ek tagtig word
wil ek ontwaak in ’n berg se hut
met net die son se oggendlamp
wat agt dekades moet verlig
teen die aand se kant sal daar sterre wees,
’n maan se skynsel troos, ook ’n kers
se flikkering met kitaar se ritmiese akkoord
maar dit klink té romanties vir tagtig jaar!
veel eerder moet daar waterstiltes wees
waarin naggeluide plons en brom
dan kan ek rustig slaap asof gesloop
in die windroos van ’n jare lange verblyf
en wag dat ek weer gebore word
OOR DIE OUTEUR
Marlise Joubert debuteer in 1970 met die digbundel ’N BOOT IN DIE WOESTYN. Sy het in haar leeftyd drie romans gepubliseer; Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Verder is sy die samesteller van In a burning sea, ’n bloemlesing met dertig Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Haar agtste digbundel, bladspieël, verskyn in 2015 en word genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Haar bundel grondwater is in 2020 met sowel die ATKV Woordveertjie vir Poësie as die Suid-Afrikaanse literêre toekenning vir digkuns (SALA) bekroon. Sy skryf en skilder tans voltyds, was die webmeester van Versindaba en vertaal soms kinderboeke.
[Protea Boekhuis 2025. PRYS: R320. FORMAAT: 213 x 137 mm. HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband. Aantal bladsye: 256. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1606-0]
