koue afgrond
vir NPvWL
wanneer geweervuur roggelend knetter
en grofgeskut dreun teen die duister beur
die katafoniek soos ligflertse dans
en basnote knallend die nagwaak splyt
soos verskietende sterre staccato
vuurstrepe in die donker skroei
en skel die stilte sloop aan flarde skeur
word jy gestroop ‘n dier
kort voor die doodskoot leef jy jou laaste maat
as skrapnel jou klam oopvlek soos ‘n granaat
fyn beaar jou vel ‘n skilferdeeg membraan
soos vlerke van ‘n mot wat silwer skif en skei
word jy ‘n ding wat maklik vrek
en elke stotterende dwaling tot die been oopkloof
elke dwaalkoeël elke verworde idee dissekteer
en soos brand-ys vervlieg wegwasem
die afgryse
met geweld besete oorval die waansin jou
as die dun letselrige membraan
sou breek en die senu-omhulsel bloederig verweer
en jy redeloos (laggend) oor die afgrond stort
© Wynand J Booysen, 2026
