Saterdagaand
Plettenbergbaai
Sy vra ek moet vir haar ’n sonnet skryf
vir ’n Saterdagaand en die opdrag
laat bespiegel en swoeg my dag en nag,
en wil my amper tot raserny dryf.
Die vorm is aan my grootliks onbekend
– iets waaraan die grotes hulle kon meet
en my geslag bitter weinig van weet:
’n gesjou waartoe ék my selde wend.
Oor die inhoud van my danige vers
het ek helaas min twyfel, want ek sien
haar oë blink oorkant my by ’n kers.
Terwyl golwe teen die swart rotse breek
en ’n kelner die vis en rys bedien,
gedenk ons die mooi van ’n eerste week.
© Johann Lodewyk Marais, 2026
