Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 September 2026

Joan Hambidge. Cussons en “Verlief in Venesië”

 

I

Verlief in Venesië

Eenmaal in ‘n hooglied-eenmaal
het ek in ‘n flikkerende stad gekom
toe net nog ‘n laaste swaard van lig
in ‘n laataand water vlam
en swymelend van son en jeug en vaak
gaan slaap op ‘n ou matras gestop met drome:
en kuis maar rusteloos soos Sint Ursula
van al sy vergeefse minnaars gedroom:
en wakker geword in die baldakyn-bed van ‘n vreugde
en ‘n roosrooi marmer môre
gebeeldhou deur Bernini tot son en gewreekte vlees:
en doof vir die engele wat Ursulas roep
my spykerbroek haastig oor die warm marmer
van my dye getrek en uitgehardloop
in die hooglied-stad
met my vingers in my ore, want:
die hooglied van Sint Ursula sing nie in marmer nie.

 

In hierdie stad kom die spreker eenmalig aan. Dit word verbeeld as ‘n flikkerende stad met ‘n matras wat droom (personifikasie).

Die laataand word ‘n roosrooi marmer môre.

Die gedig betrek die Hooglied van Salomo, die boek in die kanon van Hebreeuse geskrifte, bekend vir die liefdesliedere (3e eeu v.C. / 10e eeu v.C.).

Ook word St Ursula én die skilder Bernini geaktiveer. St Ursula was die dogter van ‘n Christelike koning in Brittanje wat haar maagdelikheid wou behou. Sy is beloof aan ʼn paganistiese prins en reis met 11 000 maagde. In die oorspronklike teks is dit egter net 11: undecim virgines martyres. Met die terugkeer van Rome, word hulle in Keulen deur die Hunne voorgekeer, ongeveer 383 n.C. en vermoor. Ursula is met ‘n pyl doodgemaak, omdat sy nie met die leier wou trou nie. En dan lees ons van die meesterskilder Bernini (1598 – 1680). Die ekstase van St Theresa word in hierdie gedig opgeroep. Die Renaissance skilder, die umo universalis, geplaas teenoor die Bybel én die verhaal van St Ursala.

II

‘n Seksuele ervaring in Venesië (‘n baldakyn-bed van vreugde) geplaas teenoor die historiese gegewe.

Kennelik ‘n vers van ‘n reisende besoeker wat Venesië beleef (het) en met al my besoeke aan hierdie stad bewus van die feit dat Bernini nie in hierdie stad se museums te siene is nie. Die belangrikste kunswerke is wél in Rome en in die Metropolitan Museum of Art in New York. Ook in die Prado in Madrid.

Die leser word bewus van die seksuele dimensie: swaard, spykerbroek, dye wat onbewustelik iets aktiveer.

Hoekom dink sy aan Bernini se “gewreekte vlees”? Die seksuele ekstase gaan oor in tekstuele ekstase. Die gedig word benewens ‘n beskrywing van ‘n liefdeservaring, ‘n besinning oor die verskil tussen werklike ervarings – selfs hier die verkragting van St Ursula – en die skep van ‘n beeld soos Bernini dit gedoen het.

Dalk ook die verskil tussen die digterlike kunswerk (ars poetica) en die beeldhoukuns?

‘n Baldakyn is ‘n troonhemel of ‘n dak waaronder ‘n egpaar staan tydens ‘n trouseremonie. Gaan die spreker dus trou met die geliefde? Is dit waaroor haar blydskap handel?

Of is dit dalk die gedig wat sing in haar ore?

Ons dink hier aan Gayatri Chakravorty Spivak se stelling waar sy verwys na die “mobile marching of metaphors, metonymies and antromorphisms” én die ervaring van illusies. Alles te lese in die inleiding tot Jacques Derrida se Of Grammatology, xxii. Spivak is Derrida se vertaler; nes ‘n gedig emosies probeer vertaal …

III

Hierdie gedig is kompleks. Dit word ‘n besondere ver-beelding van die liefde wat oorgaan in woorde. Cussons was ook skilder en sy was volledig bewus van die verskillende dimensies wat kunsuitinge opeis.

Die gedig is opgeneem in Verf en vlam (1978).

‘n Flikkerende stad. ‘n Stad van water.

Die stad waar verwondes glo weer genees, soos ons weet uit Henry James se besoeke aan die stad, die gas van Katherine Bronson. Die stad van repository consolations. Van die Casa Alvisi kyk James af op die Groot Kanaal in die laat 188O’s.

Die stad wat deur etlike filmmakers uitstekend ópgevang is: Visconti se film uit 1971: Death in Venice; Nicholas Roeg Don’t look now uit 1973, o.a. en die lang studie van Peter Ackroyd oor hierdie stad het in 2016 verskyn.

Die stad van maskers.

Swymelend is die uwe oor hierdie stad en die digkuns van Sheila Cussons.

 

Joan Hambidge

Kaapstad

1 September 2026

 

Bron:

Derrida, Jacques. 1977. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press. Vertaal deur Gayatri Chakravorty Spivak

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Cussons en “Verlief in Venesië”
  • Driekie Grobler. Reisiger
  • Gerrit Theron. Die vuurhoutjie
  • Digtersprofiel: Jennifer Pape
  • Nuwe Bundel. Erwin Rode: om ’n Melkweg te skep

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d