

Dana Snyman

Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2026
Wenner: Dana Snyman vir Wie de hel is Johnny Joubert? (Tafelberg)
Commendatio: Frederik de Jager
Hierdie boek is seker die persoonlikste en intiemste portret van rugby – of enige sport – wat daar in Afrikaans is. Dit is ’n deurleefde geskiedenis van die sport in die laat twintigste eeu, deurspek met vinjette wat dikwels ver van die hoofweë af ingesamel is. Of, beter gestel, opgedoen is. Dit is net soveel ’n uiterlike reis deur Suid-Afrika as wat dit ’n innerlike reis van die gemoed is.
Rugby is vir hierdie skrywer ’n weg tot selfverstaan, ’n weg waarop hy vasberade hou sonder om weg te skram van eie vertroebeling en eie aandeel aan wat verkeerd geloop het. Want die boek is ook ’n reis deur Suid-Afrika se onlangse geskiedenis van onreg en skade.
Op sy ingeslane pad neem die skrywer as wegwysers ’n hele rolverdeling van kleurryke figure. Kleurryk nie van flambojansie nie, maar omdat die skrywer sonder versuim dieper as veldiep waarneem, daar waar hy mense in hul egtheid en kwesbaarheid vind.
Hy skep ’n spieël vir die leser wat so goed as wat dit moontlik is die eerlike waarheid vertel. Wie is ons? Wat is manlikheid? In sy soeke na antwoorde op hierdie vrae is Snyman se instinkte so suiwer as wat sy vingervaardigheid virtuoos en sy instrument ingestem is. Hy bespeel dit met ’n rare musikaliteit.
Hoeveel onuitspreekbare emosie daar ook al onder die oppervlak hou, dit wel nooit op in sentimentaliteit nie. En ewe sterk as wat die skrywer se beheer oor inhoud is, is dit oor vorm. Die gedrae opbou in meer as een storieboog na selfs die mees beskeie klimaks, die tersyde anekdotes, die onsensasionele stilhouplekke vir die viering van die vergetenes, is niks minder nie as meesterlike drama. So knap, trouens, dat selfs prosaïese inligting oor rugby – indrukwekkend soos die skrywer se kennis is van watter beweging tot watter drie gelei het in watter wedstryd met watter eindtelling – verhewig word en menslike belang kry.
Dit is nie die eerste keer dat, by wyse van hierdie prys, die onderbeklemtoonde en onopsigtelike van hierdie skrywer se werk geëien en erken word nie. Vir die gehalte van die inhoud en die vakmanskap van die skryfwerk word Wie de hel is Johnny Joubert? met 2026 se Netwerk24 kykNET Rapport Niefiksieprys bekroon.
