om te asem
in my kop is daar ‘n doodskissie
lig in gewig, klein in omtrek
maar binne blykbaar
onbeperk
soms lek die see daaruit
dan teen die middag staan ek
in ysige nat wolke
halflyf
om middernag eindelik
trek die wolke weg, en laat
‘n soutspoor
oor my koue skelet.
onder die donker vlies
vloei die naamlose vis
wat nie oppervlak toe kom nie :
teen dagbreek
met die draai van die gety
in die eerste lig
oor die rand van die aarde
word die water stil
en ek is terug
selfs die dood moet om
godensnaam asemhaal
© ND Cronjé, 2026
